Vinnige feite
- Goethe se huis op Frauenplan in Weimar is vandag die Goethe Nasionale Museum.
- Goethe het nie net in Duits gedig nie, maar ook in Engels.
- Hy het een van die grootste mineraalversamelings in Europa besit en het baie in wetenskap belanggestel.
- Goethe het saam met Alexander von Humboldt die anatomie van die mens bestudeer.
- Hy het ’n groot bewondering vir die antieke Grieke en Rome gehad en hul kuns en argitektuur as die beste beskou. 3
- Hy was op 17-jarige ouderdom vlot in Grieks, Frans, Italiaans, Latyn en Hebreeus.
- Goethe het op 24-jarige ouderdom sy bekende boek Die Leiden des jungen Werther in net ses weke klaargeskryf!
- Hy het omtrent sy hele volwasse lewe aan Faust Die storie van Faust gaan oor ’n Duitse astroloog en alchemis. Hy was maar ʼn luierige akademikus, en het ’n ooreenkoms met die duiwel gesluit in ruil vir kennis en mag.
- Sy boek Zur Farbenlehrehet al baie kunstenaars geïnspireer.
- Goethe was nie net bekend in Europa nie, maar selfs in Amerika. Nadat die bekende Napoleon Bonaparte hom ontmoet het, het hy gesê: “Daar is ’n man!”
- Goethe is langs Schiller in Fürstengruft (in Afrikaans: “Die grafkelder van prinse”) in Weimar begrawe.
Vanaf die vroegste tye tot vandag is daar in elke land ʼn paar uitsonderlike en talentvolle mense wat uitblink op die een of ander gebied. Van navorsers, ontdekkers, kunstenaars, musici, wetenskaplikes, staatsmanne tot digters, skrywers, en so meer. In 1749 is daar ʼn seun in Duitsland gebore wat wêreldberoemd sou word op die gebied van literatuur.
Johann Wolfgang von Goethe (1749-1832) was ’n Duitse digter, dramaturg, skrywer, wetenskaplike én staatsman wat as die bekendste Duitse literêre figuur van die moderne era bekend staan.
Goethe het een van die langste dramas ooit geskryf. Die drama Faust (in Afrikaans: “Vuis”) is só lank (hy het jare en jare daaraan gewerk) dat as dit aaneen opgevoer sou word, jy vir 13 uur daarna sal kyk!
Goethe se grootwordjare
Goethe is op 28 Augustus 1749 in Frankfurt am Main in Duitsland gebore.
Sy pa se naam was Johann Caspar Goethe (1710-82) en hy was welvarend, het regte studeer en graag gereis om boeke en skilderye vir sy private versameling aan te skaf. Sy ma se naam was Catharina Elisabeth Textor (1731-1808) en haar pa was een van Frankfurt se senior regeringsamptenare.
Goethe was die oudste van sewe kinders, maar vyf kinders het jonk gesterf, en slegs Goethe en sy suster, Cornelia, het volwassenheid bereik.
Goethe se pa het baie tyd aan sy seun se opvoeding bestee en hy het al op agtjarige ouderdom Latyn, Grieks, Frans en Italiaans begin leer! 1
Hy was ’n vinnige leerder en baie intelligent. Goethe se pa wou gehad het dat hy in sy voetspore moes volg en regte studeer. Sy seun het ingestem en het in 1765 regte in Leipzig gaan studeer. Hy het in daardie tyd verlief geraak op ’n meisie en ’n bundel gedigte, Annette, aan haar opgedra. Sy het egter ’n ander regsgeleerde bo hom gekies en sy hart gebreek. Uit wraak het Goethe ’n dramateks genaamd Die Mitschuldigen (in Afrikaans: “Die medepligtiges”) geskryf oor ’n vrou wat spyt is nadat sy met die verkeerde man getrou het. Hy het in daardie tyd siek geword (moontlik tuberkulose) en moes in 1768 terugkeer huis toe. 2
Sy studies en vroeë loopbaan
Goethe het herstel en in 1770 aan die Universiteit van Strasbourg gaan studeer om sy graad in regte te voltooi. Hy het hom daar met die filosoof Johann Gottfried Herder bevriend. Herder was een van die leiers van die storm-en-drang-beweging (in Duits: Sturm und Drang). Dit was ’n intellektuele beweging in Duitsland in die 18de eeu waar mense die natuur, gevoelens en individualisme voorgestaan het.
Herder het ’n groot impak op Goethe se ontwikkeling as skrywer gehad en hom ook aan Shakespeare se werke bekendgestel. Goethe het vanuit ʼn nuwe perspektief na taal en letterkunde gekyk en dit as die uitdrukking van ’n nasionale kultuur gesien.
Herder het Goethe so geïnspireer dat hy na die Rynvallei gereis het om volksliedjies te kry om die Duitse kultuur in sy suiwerste vorm te ervaar. Daarna het hy toe sommer self sy hand aan volksliedjies gewaag.
Hy het in 1771 die toneelstuk Geschichte Gottfriedens von Berlichingen mit der eisernen Hand (in Afrikaans: “Die geskiedenis van Gottfried von Berlichingen met die ysterhand”) geskryf. Dié stuk het hom gevestig as een van die bydraers tot die storm-en-drang-beweging.
Goethe het baie gedigte in hierdie jare geskryf en het ook ’n klein regspraktyk in Frankfurt begin. In 1772 het hy na Darmstadt gereis om daar by die hof van die Roomse Ryk ervaring op te doen. Hy het ook geskryf en onder meer die toneelstuk Götz von Berlichingen geskryf. Sy boek Die Leiden des jungen Werther (in Afrikaans: “Die smarte van jong Werther”) wat in 1774 gepubliseer is, het van Goethe ’n bekende naam gemaak. Die boek was baie gewild en is amper onmiddellik in Frans en Engels vertaal. Dit vertel die verhaal van ’n man wat op ’n getroude vrou verlief raak en dan selfdood pleeg. Die boek het ook ongelukkig ’n golf van selfdoodgevalle in Duitsland geïnspireer, en is later in sekere lande verbied.
Die jare van 1773 tot 1776 was baie produktief vir Goethe en hy het talle gedigte, dramatekste en ander werke geskryf. 1
Goethe in Weimar
Goethe was op 26 verloof aan Anne Elisabeth (Lili) Schönemann, die dogter van ’n Frankfurtse bankiersfamilie. Die hertog van Weimar, Karl August, het hom egter na Weimar genooi en Goethe, wat nie mal oor die idee van ’n huwelik was nie, het wel besluit om die verlowing te beëindig en in Weimar te gaan bly.
Weimar is vandag ’n stad in Duitsland, maar toentertyd was dit soos ʼn selfregerende land.
Die hertog het vir Goethe ’n huis net buite die stadsmure gekoop en Goethe ’n lid van sy regering gemaak. Goethe was een van die hertog se raadgewers en het hard gewerk om Weimar suksesvol te maak.
Hy het selfs vir twee en ’n half jaar as kanselier van die land opgetree en het die hertog in diplomatieke aangeleenthede verteenwoordig. Dit beteken hy was omtrent soos die president van die land, dus ’n baie belangrike staatsman.
Produktiewe skryftyd
Tussendeur al sy werk vir die regering hy nog kans gemaak vir skryf, en het onder meer Die Geheimnisse (in Afrikaans: “Die geheimenisse”) en sy bekende gedigte “Wandrers Nachtlied” (“Die wandelaar se aandlied”) en “Über allen Gipfeln ist Ruhe” (in Afrikaans: “Oor alle kruine is daar rus”), geskryf.
Hy het in 1779 ’n prosadrama Iphigenie auf Tauris (In Afrikaans: “Iphigenia in Tauris”) geskryf en het ’n reeks boeke Wilhelm Meisters theatralische Sendung (in Afrikaans: “Die teatrale sending van Wilhelm Meister”) uitgegee.
Goethe het van 1786 tot 1788 Italië besoek en dit het sy belangstelling in klassieke Griekse en Romeinse kuns hernu. Hy het geglo dat die antieke meesters baie beter as sy tydgenote was. Hy het tydens sy reis ook die vrou ontmoet wat sy lewensmaat sou word, Christiane Vulpius. Vulpius het saam met hom na Weimar teruggekeer.
Goethe was egter gekant teen die idee van ’n kerkseremonie en daarom wou hy nie met haar trou nie. Hul seun, August, is op 25 Desember 1789 gebore.
Goethe wou graag meer tyd aan sy skryfwerk wy en die hertog het sy regeringstake van hom weggeneem sodat hy hom net op sy werk kon toespits.
Hy het met sy terugkeer die toneelstukke Egmont en Torquato Tasso (1790) voltooi.
In 1789, die jaar toe Goethe 40 geword het, het hy aan ’n versameling van al sy werke gewerk. Dit het 16 toneelstukke en ’n bundel van gedigte ingesluit.
Hy was toe al besig om aan sy groot drama Faust te werk en ’n gedeelte daarvan is in 1790 as Faust: Ein Fragment gepubliseer. Goethe het in 1795 die versameling Venetianische Epigramme (in Afrikaans:” Venesiaanse epigramme“) uitgegee.
Ná die Franse Revolusie vereer
Dit was die tyd van die Franse Revolusie en Goethe het Weimar se hertog in 1792 en 1793 tydens sendings na Frankryk vergesel. Goethe het die gevegte oorleef en het in Desember 1792 na sy huis teruggekeer. Hulle het in 1793 weer na die oorlogsfront teruggekeer.
Die hertog het Goethe vereer deur van hom ’n adellike te maak en in 1782 is hy “Von Goethe” genoem. Die hertog het ook aan hom ʼn huis vir sy lojaliteit geskenk en hy het in ’n groot huis op ’n plein (Frauenplan) ingetrek. Hy het daar vir die res van sy lewe gebly.
Goethe het nie in daardie tyd veel literêre suksesse behaal nie en hy het hom toe op een van sy ander belangstellings toegespits: wetenskap. Hy het ’n teorie oor die struktuur van plante geformuleer en ook oor optika. 2
Goethe en Schiller
Die digter en dramaturg Friedrich Schiller het aan Goethe voorgestel dat hulle aan ’n nuwe joernaal, Die Horen / The Horae (in Afrikaans: “Die godinne van die seisoene”) moes saamwerk om in tye van oorlog en politiek die letterkunde ’n stem te gee. Die joernaal was soos ’n tydskrif wat elke nou en dan uitgegee is en Goethe was baie opgewonde daaroor. Hy het daarin ’n versameling kortverhale Unterhaltungen deutscher Ausgewanderten (in Afrikaans: “Gesprekke van Duitse vlugtelinge”) gepubliseer. Schiller het mettertyd belangstelling daarin verloor en op die ou end het hulle dit net vir drie jaar uitgegee.
Die twee digters het egter baie goeie vriende geword en hulle het mekaar se werk gelees en oor en weer raad gegee. Hulle het ywerig gekorrespondeer en oor ’n dekade se tyd meer as ’n 1 000 briewe aan mekaar gestuur waarin hulle hul werk bespreek het.
Goethe het met Schiller se kommentaar sy roman wat hy amper 20 jaar tevore begin het, voltooi, naamlik Wilhelm Meisters Lehrjahre (in Afrikaans: “Wilhelm Meister se vakleerlingskap”). Hy het ook in 1796 met ’n nuwe reeks elegieë begin wat van sy beste gedigte, Alexis und Dora, insluit. Hy het ook ’n epos Herrmann und Dorothea geskryf wat in 1797 gepubliseer is. Hy en Schiller het saam ’n paar satiriese epigramme geskryf wat opslae gemaak het en hulle vir ’n rukkie ongewild gemaak het.
Goethe en Schiller het in 1797 ’n reeks verhalende gedigte geskryf en Goethe het weer verder aan Faust gewerk. Hy het ook nog ’n drama Die natürliche Tochter (in Afrikaans: “Die natuurlike dogter”) in 1803 gepubliseer.
Goethe het in 1791 die bestuur van die Weimar-teater oorgeneem en dit laat herbou. Hy het sewe toneelstukke van Schiller laat opvoer.
In 1805 het Schiller en Goethe ernstig siek geword. Goethe het herstel, maar Schiller is dood. Dit was ’n groot slag vir Goethe, want Schiller was sy beste vriend en klankbord. 2
Goethe en Napoleon
Goethe het hom in hierdie tyd besig gehou om ’n nuwe versameling van sy literêre werke op te stel en die publiseerder Johann Friedrich Cotta het dit uitgegee. Cotta het toe ook Goethe se groot werk Zur Farbenlehre (in Afrikaans: “Die teorie van kleur”) uitgegee. Goethe het in 1806 die eerste gedeelte van Faust ingestuur en dit laat publiseer.
Dit was ’n tydperk van politieke woelinge met Napoleon Bonaparte wat Duitsland ingeneem het. Bonaparte se troepe het selfs in 1806 Weimar ingeval en amok gemaak in Goethe se huis. Goethe het toe besluit om met sy lewensmaat te trou sodat sy meer beskerming kon geniet.
Hy het in hierdie tyd met Wilhelm Meisters Wanderjahre (in Afrikaans: “Die swerfjare van Wilhelm Meister”) begin, asook met ’n roman en toneelstukke.
Goethe het in 1808 Napoleon Bonaparte, wat ’n groot bewondering vir Goethe gehad het, ontmoet en Goethe is tot ridder geslaan. Hy het daarna die eerste drie gedeeltes van sy outobiografie voltooi. 2
Sy laaste jare
Goethe se vrou het in Junie 1816 gesterf, hul seun het die volgende jaar getrou en Goethe het uit sy pos by die Weimar-teater bedank.
Hy het in dié tyd tot 1823 nog ’n versameling van sy werke saam met Cotta uitgegee. Hy het ook in 1830 sy memoires, Tag- und Jahreshefte (in Afrikaans: “Dag- en jaarverslae”) uitgegee en sy militêre ervarings neergepen. Laasgenoemde was Campagne in Frankreich, Belagerung von Mainz (in Afrikaans: “Die veldtog in Frankryk, beleg van Mainz”). Hy het ook sy volgende Wilhelm Meister-boek klaargemaak en oor die wetenskap geskryf.
Nog ’n liefdesteleurstelling het tot sy gedig “Elegie” gelei.
Goethe het teen hierdie tyd drie kleinkinders gehad en het besluit om nog ’n werk te publiseer om hul finansiële toekoms te verseker. Hy het dus ’n finale versameling van sy werke saamgestel en dit Ausgabe letzter Hand (in Afrikaans: “Laaste uitgawe”) genoem. Hy het ook die vierde gedeelte van sy outobiografie en nog ’n gedeelte van Faust voltooi. Faust is in 1831 voltooi, maar die finale gedeelte daarvan is eers ná Goethe se dood gepubliseer. Dit was amper 60 jaar nadat hy die eerste keer daaraan begin skryf het!
Goethe se 80ste verjaardag is landwyd gevier. Sy gesondheid het egter ’n knak gekry toe hy die nuus kry dat sy seun in Rome gesterf het. Hy het herstel en het die tweede gedeelte van Faust net voor sy 82ste verjaardag klaargemaak.
Hy het in 1832 verkoue opgedoen en het op 22 Maart 1832 in sy leunstoel aan ’n hartaanval gesterf. 2
Goethe se werke
Romans
1774 – Die Leiden des jungen Werther
1796 – Wilhelm Meisters Lehrjahre
1809 – Die Wahlverwandschaften
1821 – Wilhelm Meisters Wanderjahre
Dramas
1773 – Götz von Berlichingen
1787 – Iphigenie auf Tauris
1788 – Egmont
1790 – Torquato Tasso
1808 – Faust Deel 1
1832 – Faust Deel 2
Gedigte
1773 – Prometheus 1
1782 – Der Erlkönig
1790 – Römische Elegien
1794 – Reineke Fuchs
1797 – Der Zauberlehrling
1798 – Hermann und Dorothea
Niefiksie
1790 – Versuch die Metamorphose der Pflanzen zu erklären
1810 – Zur Farbenlehre
1811-33 – Aus meinem Leben. Dichtung und Wahrheit
1817 – Italienische Reise 3
Woordbank
adellike | Wat tot die adelstand behoort; edel/indrukwekkend; van ʼn hoë familie afkomstig. |
akademikus | Geleerde. |
alchemis | ’n Persoon wat alchemie (skynwetenskap) gebruik, of blykbaar gebruik, om gewone metale in goud te verander; alchemiste het duisende jare lank probeer uitvind hoe om lood in goud te verander. |
anatomie | Studie van die liggaam. |
astroloog | Sterrewiggelaar; iemand wat die toekoms probeer voorspel deur na die stand van die sterre te kyk. |
bankiersfamilie | ’n Persoon wat ’n bank of groep banke bestuur of besit. |
beleg | Militêre insluiting/oorname van ‘n stad of vesting; beleër. |
diplomatieke | Internasionale betrekkinge, onderhandelings met ander state. |
dramaturg | Iemand wat toneelstukke skryf. |
elegie | Treurdig, klaaglied. |
epigramme | ʼn Skerp uitdrukking/gesegde. |
epos | Epiese/verhalende gedig; heldepoësie of heldedig. |
filosoof | Beoefenaar van die wysbegeerte, wysgeer. Iemand wat die wetenskap en die betekenis van die lewe ondersoek. |
sy hand aan | Probeer. |
individualisme | Wat met die regte van die individu te make het. |
intellektuele | Wat met die verstand te make het. |
kanselier | Hoof van finansies (in hierdie geval). |
klankbord | In hierdie geval het dit niks met musiek te doen nie, maar met ʼn persoon wat sal luister wanneer iemand sy/haar bekommernisse of idees aan daardie persoon vertel. |
literatuur | Letterkunde; alles wat oor ʼn bepaalde onderwerp geskryf is. |
literêre figuur | Iemand wat in letterkunde uitstaan. |
mineraalversamelings | Stof wat uit die aarde ontgin word. |
memoires | Lewensverhaal. |
optika | Wetenskap van lig. |
outobiografie | Iemand se lewensverhaal. |
tot ridder geslaan | Iemand tot die adelstand verhef. |
satiriese | Spottend. |
staatsman | ’n Politikus. |
teatrale | Dramaties, asof jy toneelspeel. |
tuberkulose | ’n Aansteeklike siekte wat ook longtering genoem word. |
welvarend | Ryk. |
Lees die volgende artikels om meer oor Goethe te leer
- Wie was Goethe?
- Alles wat jy moet weet oor Goethe
- Vind meer uit oor ‘Faust’
- Lees die lys van al Goethe se werke
Kyk na hierdie video’s om meer oor Goethe te leer
Goethe se huis is vandag ʼn museum
Goethe en Schiller