Vinnige feite

  • Claerhout se reeks “Christ and the Other Person” is in 2015 by die Oliewenhuis-kunsmuseum in Bloemfontein uitgestal. Die reeks bestaan uit 21 skilderye.
  • Claerhout het baie daarvan gehou om donkies te skilder en gesê ’n mens kan nie ’n perd snaaks skilder nie, maar donkies kan ’n mens selfs blou of geel skilder.
  • Hy het as jong priester graag die lewe om hom geskets en die sketse vir sy ma in België gestuur. Die sketse het later tot skilderye gelei. 6
  • Claerhout het ’n paar kunstenaars opgelei. Kunstenaars John Selesho en Whyttey Khabele is twee kunstenaars wat van hul kinderdae af deur Claerhout opgelei is. Claerhout het hulle opgelei om met pastelle, olie, akriel en klei te werk.
  • Claerhout het in Thaba ’Nchu ’n kerk, geskoei op die volkstradisie van die Sesotho’s, gebou. Dit staan as Thabo ya Kreste (blydskap van Christus) bekend. 7
  • Die hoogste bedrag wat al vir sy werk betaal is, is ongeveer R394 000 in 2009. Die bedrag vir sy skildery “Bruidspaartjie in ’n donkiekar” is by Strauss & Co in Johannesburg betaal.
  • Claerhout het ook die illustrasies vir Mardene Marais se 1992-boek, Woordpalet, gedoen.
  • Claerhout het in 2000 ’n goue voël op die binneblad van ’n boek geteken en dit vir die skrywer Zakes Mda gegee. Mda het sy boek, The Madonna of Excelsior, aan dié voël opgedra. 8
  • Claerhout het in 2002 aan die koerant Rapport vertel dat honderde van sy skilderye nagemaak en verkoop is. Volgens hom het ’n Bloemfonteinse kunshandelaar van sy skilderye gedruk en as oorspronklike werke verkoop. 9
Foto: iStock

Mense en diere in helder, warm kleure … Dit is wat die kunstenaar, skrywer en digter Frans Claerhout graag geskilder het. Die man, wat ook as Vader Claerhout bekend gestaan het, is in België gebore, maar het as ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar beroemd geword. Hy was veral bekend vir sy olieskilderye wat in kunsuitstallings om die wêreld heen verskyn het. 1

Wie was Claerhout?

Hy is as Frans Martin Claerhout op 15 Februarie 1919 in Pittem, Vlaandere, in België gebore. Die Claerhouts was ’n kunssinnige gesin en hy het al as student aan ’n plaaslike kunsvereniging behoort.

Hy het as ’n jongman ’n Rooms-Katolieke priester geword en daar is besluit om hom vir sendingwerk te stuur. Claerhout kon tussen Brasilië, die Kongo en Suid-Afrika kies en het op Suid-Afrika besluit. Hy het in 1946 na die land gekom en moes eers taalkursusse loop voor hy onder die swart gemeenskappe begin werk het. Hy het aanvanklik in die destydse Transvaal (nou Gauteng) gewerk. In 1948 is hy na Bloemfontein in die destydse Oranje-Vrystaat en het daar by ’n sendingstasie gewerk en later ook by ander sendingstasies in dié provinsie. 2

Hoewel hy altyd lief was vir kuns, het hy eers in 1957 ernstig begin skilder. Hy het België besoek en daar ’n toer van die museums onderneem. Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy voluit begin skets en skilder. Hy het ook toe by die Saint Francis-sendingstasie in die Vrystaatse dorpie Thaba ’Nchu begin werk en dit ’n ware “kunstenaarsparadys” genoem.

Hy het toe meer tyd vir sy kuns gehad omdat hy nie, soos by sy ander sendingstasies, baie moes reis nie.

Sy kuns

Claerhout het geen formele kunsopleiding gehad nie en homself geleer hoe om met olieverf te skilder. Hy het gewoonlik mense, diere en tonele wat hy teëgekom het, geskilder.

Sy werk word ekspressionisties genoem. Hy is veral deur die Vlaamse ekspressionisme beïnvloed. Hy het aan die begin meer gedempte, somber kleure gebruik, maar sy werk het deur die jare al hoe helderder geword. Hy het daarvan gehou om die kleure van sy nuwe land in sy werk weer te gee – die goudgeel son, diepblou lug, groen van die veld en bome en die helder kleure van mense se klere.

Hy het die skildertegniek impasto en groot menslike vorms gebruik om emosies uit te lig. Hy het ’n unieke styl gehad en het graag donkies, mense, die son en groot sonneblomme geteken. Hy het daarvan gehou om gewone mense in sy skilderye uit te beeld.

Baie van sy skilderye was van godsdienstige tonele wat deur die Bybel geïnspireer is. Hy het verskeie muurskilderye by sendingstasies in Bloemfontein, Schweizer-Reineke, Thaba ’Nchu, Potchefstroom en Witsieshoek voltooi.

Hy het later in sy lewe ook pastelle gebruik en ink en potloodsketse gemaak. Hy het ook met houtskool, kryte, ink, klei en brandskilderglas geëksperimenteer en beeldhouwerk gedoen. Hy het ook sy hand daaraan gewaag om beelde uit hout te kerf.

Sy werk brei uit

Claerhout was ’n stigterslid van ’n groep van kunstenaars wat die Bloemfontein-groep genoem is. Hy het vanaf 1960 aan vele groepuitstallings deelgeneem en sy eerste solo-uitstalling is in 1961 in Johannesburg gehou. Dit is deur baie ander uitstallings in Suid-Afrika, België, Kanada, Amerika en Duitsland gevolg.

Hy het in 1979 ’n hartaanval in België gehad en het later die jaar ’n hartomleidingsoperasie in Bloemfontein ondergaan. Hy het herstel en dit sy tweede kans op die lewe genoem. Sy werk het selfs nog meer kleurryk geword en was tekenend van sy liefde vir Suid-Afrika.

Voorblad geskilder vir Fanie Marais se digbundel

Claerhout het in sy laaste jare steeds daagliks geskilder en by ’n tehuis vir afgetrede Katolieke priesters gebly. Hy het wel later hoofsaaklik met houtskool en akriel gewerk. 3

Benewens etlike skilderye en sketse, het Vader Claerhout ook boeke geskryf, onder meer digbundels. Van sy boeke is Reconciliation Versoening, Rendezvous, It Could Happen Here, Christus en die ander persoon, Kromdraai, en Blomme sonder grond.

Christus en die ander persoon

Hy het ook 22 beeldhouwerke in sy lewe gemaak.

Liefdadig tot die einde toe

Claerhout het met die geld wat hy uit sy skilderye gemaak het ongeveer 20 kerke, kapelle en kerksale gehou. Hy het agt voertuie gekoop vir die vervoer van siek mense, skoolkinders en pensioentrekkers. Hy het ook huise in Botshabelo in die Vrystaat gebou, kinders gehelp om te gaan studeer en priesters finansieel met hul kerke gehelp. 4

Hy het altyd gesê hy is nie ’n kunstenaar of ’n priester nie, maar liewer ’n priester en ’n kunstenaar en dat hy altyd die twee met mekaar gekombineer het. Hy het gesê dis nie “twee kante van ’n stuk brood nie, maar die hele stuk.” Hy het in albei sy rolle die evangelie van God probeer uitdra.

Claerhout is in 2006 op die ouderdom van 87 in ’n Bloemfonteinse hospitaal dood nadat hy longontsteking opgedoen het.

Huis in Tweespruit, waar Frans Claerhout gewoon het

Sonvanger

Claerhout het baie daarvan gehou om die son en sonneblomme te skilder en dit is ’n tema wat kort-kort in sy skilderye en poësie opgeduik het. “Catching the sun” is ’n frase wat hy dikwels gebruik het en hy het dit ook gebruik om die warmte en lig wat hy in Jesus gevind het, te beskryf. Hy het gesê dat die geheim tot die lewe is om die son te vang en sy hitte met ander te deel, en dat die son in ’n mens se hart sal skyn as jy iemand wat struikel, ondersteun.

Dit was so deel van Claerhout se lewe en werk dat ’n boek deur hom en Leon Strydom Die sonnevanger genoem is. 5

Woordbank

akriel ʼn Soort verf.
beeldhouwerk Dis die kuns om soliede driedimensionele voorwerpe te vorm wat ’n ding, persoon, idee, ens. verteenwoordig. Materiale soos klip, hout, metaal, klei, ens. kan gebruik word.
brandskilderglas Glas word gekleur en geset en kunstige vorms mee gemaak.
ekspressionisties Dis ’n kunsrigting waar die kunstenaar emosionele ervarings probeer weergee eerder as indrukke van die vorms van dinge.
evangelie Die boodskap van Jesus Christus.
gedempte Dof, glansloos.
hartomleidingsoperasie Die bloedsomloop van die hart word tydens so ’n operasie deur ’n ander gang/aar gelei.
impasto Dis ’n skildertegniek waar kunstenaars verf met dik hale aanwend, dikwels met ’n paletmes.
kunssinnige Met ‘n aanleg/begaafdheid vir kuns; met liefde vir kuns.
paletmes ʼn Werktuig met ’n dun staallem om kleure op ’n verfbord te meng of op ’n verfdoek te stryk.
poësie  Gedigte/verse.
sendingwerk Om die evangelie aan niegelowiges te verkondig.
somber Duister, donker; droewig, treurig, swaarmoedig.
tekenend Kenmerkend/tiperend.
unieke Eie is sy soort; kenmerkend, tipies.

Lees die volgende artikels om meer oor Claerhout te leer

Video’s oor Claerhout se unieke styl

Claerhout se werk by die Kotze-kunsgalery

Huldeblyk aan Claerhout by die Alice Art galery

Die plek waar Claerhout jare lank gebly het

 

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 24 Oktober 2023 | Bygewerk op 7 November 2023