Vinnige feite

  • Coert Steynberg was die eerste Suid-Afrikaner om lid van die Britse Royal Society of Arts te word.
  • Maggie Laubser is ʼn bekende Suid-Afrikaanse skilder waarvan Steynberg ʼn portret geskilder het.
  • Naas Anton van Wouw was Coert Steynberg die bekendste beeldhouer in Suid-Afrika.
  • Hy het die meeste van die tyd realistiese beelde gemaak, maar later in sy loopbaan het sy werk meer abstrak geraak.

Coert Laurens Steynberg is ʼn Suid-Afrikaanse beeldhouer waarop ons baie trots kan wees. Hy is nie net in Suid-Afrika baie bekend nie, maar die res van die wêreld weet ook van die wonderlike beelde wat hy gemaak het, en van sy beelde staan ook in museums in die buiteland.

Louis Botha, Eerste minister van Transvaal 1907-1910, gedenkplaket, Uniegebou

Agtergrond

Coert Steynberg is op 7 Januarie 1905 in die omgewing van die Hennopsrivier by Pretoria gebore. Hy was die oudste van vier kinders. Sy pa was Johannes Lodewikus Steynberg en sy ma Magdalena Susanna Hamman. Sy pa was die agterkleinseun van Bart Pretorius – die broer van die Voortrekkerleier A.W.J. Pretorius. Hy was vier jaar oud toe hy saam met sy gesin na Bethal in Mpumalanga getrek het waar hulle op ʼn plaas gebly het.

In 1940 is hy met Elize Bosman getroud. Hulle enigste kind se naam is Isa, en sy het ook ʼn beeldhouer geword net soos haar pa. 1

Hy was 77 jaar oud toe hy op 28 Julie 1982 in Pretoria oorlede is. 2

Studiejare

Hy het sy matriek aan ʼn plaaslike hoërskool in Bethal geskryf. Ná skool het hy kuns aan die Rhodes Universiteit in Grahamstad gaan studeer. Ná sy studies aan Rhodes het hy in 1928 aan die Royal College of Art in Londen begin studeer. Sommer in sy heel eerste jaar het hy die kollege se August Spencer-trofee vir klipsnywerk ontvang. Hy het vir ses jaar in Europa gebly en oral heen gereis om kunswerke te bestudeer en kunsmuseums te besoek. So het hy al hoe meer van sy vak geleer.

Hy het in ʼn hele klomp verskillende mediums gewerk, maar sy gunsteling was graniet. 3 Van die ander materiaal waarmee hy gewerk het om sy kunswerke te maak, is klip, marmer, brons, hout, draad, keramiek en gekleurde glas. 2

Enkele voorbeelde van sy werk

Belangrike beelde en monumente en die plekke waar dit aanvanklik opgerig is

Die Bloedriviermonument was sy eerste monument, en dit is waarskynlik ook die belangrikste monument wat hy gemaak het. Die monument is tussen 1936 en 1938 ontwerp en gemaak. Dit is opgerig op die plek waar die Slag van Bloedrivier plaasgevind het, in die Utrecht-distrik in KwaZulu-Natal. Die monument bestaan uit ʼn beeld van ʼn ossewa met vyftien trappies wat aan die voorkant van die wa is.

Bloedriviermonument

Ander belangrike beelde en monumente wat hy gemaak het, sluit in:

Genl. Louis Botha ruiterstandbeeld in die park voor die Uniegebou
Standbeeld van Christiaan de Wet, Bloemfontein
  • ʼn Beeld van Sarel Cilliers langs die NG kerk op Kroonstad.
  • Die borsbeeld van advokaat J.G. Strijdom. Hierdie beeld het op die Strijdomplein in Pretoria se middestad gestaan. Die beeld is in 1966 voltooi. Ongelukkig is dit beskadig toe die parkeerterrein onder die beeld inmekaar gestort het en die beeld is toe verwyder. 2
  • Hy het uit Portugal ʼn opdrag ontvang om ʼn beeld van Vasco da Gama te maak. Hierdie beeld is opgerig in die stad Evora in Portugal. 3

  • Sy laaste volksmonument was die Vegkopmonument by Heilbron in die Vrystaat. Hierdie monument was nie heeltemal voltooi toe hy gesterf het nie. Sy dogter het dit voltooi, en die monument is in 1984 onthul. 1
H.F. Verwoerd en Coert Steynberg staan en kyk na die Vrede van Vereeniging-gedenkteken

Portrette

Hy het baie portrette in opdrag van persone of regerings gedoen. Voorbeelde is onder andere ʼn portret van J.B.M. Hertzog en portrette van die verskillende staatspresidente. Hy het ook portrette van sommige van sy vriende gemaak. Hy het byvoorbeeld ʼn portret van Maggie Laubser vir die Pretoriase Kunsmuseum gemaak. 1

Dierestudies

Sy kunswerk van ʼn Springbok wat in die Karoo staan, is op twee Suid-Afrikaanse munte gebruik – die kroon (dit was ʼn soort munt in daardie dae) van 1947 en die randstuk van 1965. In 1967 het hy ook ʼn werk van twee basterwaterbokke vir die nuwe lughawe by Lusaka gemaak. 1

Hy het ook opdragte uit die buiteland ontvang om dierestudies te maak. Van sy kunswerke kom voor op munte van Frans-Kameroen, Frans-Ekwatoriaal, Afrika en Madagaskar.

Uitstallings

Hier onder is enkele van die geleenthede en plekke waar sy werk uitgestal is.

  • 1949: Vier van sy werke word saam met werk van ʼn hele paar ander Suid-Afrikaanse kunstenaars in die Verenigde State van Amerika (VSA) en Europa uitgestal.
  • 1952: Van sy werk word uitgestal by ʼn internasionale opeluguitstalling in Arnhem in Nederland.
  • 1961: Hy hou ʼn opeluguitstalling in sy tuin in Pretoria-Noord wat deur ongeveer 2 000 mense bygewoon is. Dit was die eerste keer dat ʼn Suid-Afrikaanse beeldhouer so ʼn uitstalling gehou het. 1

Enkele toekennings

1950: Hy ontvang ‘Life Fellowship’van die Britse Royal Society of Arts.

1953: Hy ontvang ʼn erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. 4

1955: Hy word aanvaar as lid van die Internasionale Kunsvereniging.

1970: Hy ontvang ʼn medalje by die Portugese Admiraliteit tydens hulle herdenking van die vroeë Portugese seevaarders.

1972: Hy ontvang ʼn eredoktorsgraad by die Universiteit van Pretoria (UP). 1

Hoe word Coert Steynberg onthou?

Steynberg is veral bekend vir sy beelde wat “volksmonumente” genoem word, en sy werk is in al die groot kunsmuseums in Suid-Afrika te sien. Sy werk kan ook gesien word in museums van stede in die buiteland soos Londen, New York, Parys, Sydney en San Francisco.

Sy huis in Pretoria-Noord is ʼn nasionale gedenkwaardigheid. 1

Standbeeld van J.H Marais

Woordbank

abstrak Wanneer ʼn kunstenaar ʼn beeld maak van byvoorbeeld ʼn bok wat nie heeltemal lyk soos ʼn bok wat ʼn mens in die veld sien nie. Dit hou met ander woorde nie direk verband met die sigbare werklikheid nie.
nasionale gedenkwaardigheid Iets wat vir die geskiedenis van ʼn land die moeite werd is om onthou.
volksmonument ʼn Monument wat gemaak word om iets wat in ʼn volk se geskiedenis gebeur het, te onthou en herdenk.

Kyk na hierdie skakel om nog meer te leer oor Coert Steynberg

By hierdie skakel kan jy na ʼn klompie van Coert Steynberg se beelde kyk.

Voorbeelde van munte met sy ontwerpe. 4:34 min

Gepubliseer op: 5 November 2022 | Bygewerk op 22 Februarie 2024