Vinnige feite

  • Wilna was net 19 jaar oud toe sy in 1955 by die Laerskool Raymond in Maitland in die Kaap begin skoolhou het. 1
  • Haar ma het haar ingeskryf vir naaldwerkklasse en daaroor was sy later baie dankbaar toe sy ook vir haar kinders en vir haarself klere kon maak. 1
  • Haar oupa aan moederskant se van was eintlik Cillié, maar die senior Engelse amptenare by die Spoorweë kon sy van nie uitspreek nie en het hom “Silly” genoem. Daarom het hy sy van by die departement van binnelandse sake laat verander na “Du Cellier”, amper soos “Du Preez” of “Du Plessis”. 1
  • Wilna se man, Jaap, het in die 1960’s agtsteman gespeel vir die Oostelike Provinsie-rugbyspan. 1
  • Wilna het in 1981 tydens die inwyding van die Staatsteater in Pretoria opgetree in die toneelstuk Kanna, hy kô hystoe van Adam Small. 10
  • Wilna het vir sewe jaar die rol van Madel in die TV-reeks 7de Laan vertolk. 2
Foto: iStock

Mense wie se werk dit is om rolle op ’n verhoog te vertolk en daarmee hul inkomste verdien, is almal ook net gewone mense met goeie tye en minder goeie tye. So ’n mens is Wilna Snyman ook – ’n vrou vir haar man, ma vir haar kinders, ouma vir haar kleinkinders en aktrise wat net so gewild is onder die publiek as onder haar kollegas wat ook verhoogkunstenaars is. Sy het ook probleme in haar lewe, maar sy het, ten spyte daarvan, altyd hard gewerk aan haar rolle en altyd ’n ware dame gebly. Sy word beskou as een van die beste aktrises in die land, een vir wie almal respek het.

Wilna Snyman en regisseur Dieter Reible

Die jong Wilna

Wilna se ouers was Barend Andries Snyman en Elizabeth Johanna Barendina du Cellier en hulle is op 26 September 1931 getroud.

Wilna is op 14 September 1935 in Kimberley gebore. Sy het ook tweelingbroers gehad wat vyf jaar jonger as sy was, Hennie en Jannie. Hulle was ’n identiese tweeling.

Haar pa het vir die Suid-Afrikaanse Spoorweë gewerk en elke keer wanneer hy bevordering gekry het, het die gesin na ’n ander dorp verhuis. Hulle het elke keer met die trein gereis. Vir Wilna het hierdie treinreise vir baie goeie herinneringe gesorg, ook omdat hulle die land en ook Suidwes-Afrika (vandag Namibië) deur die treinvensters kon leer ken. 1

Wilna onthou die dag aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog in Windhoek, hoe die klokke gebeier het en hoe mense vure aangesteek het van vreugde. Sy was toe 10 jaar oud. 2

Wilna se ma het klavier gespeel en Wilna het in die middae by haar ma gaan sit en luister terwyl sy gespeel het. Dieselfde klavier waarop haar ma destyds gespeel het, het later in Wilna se huis gestaan. Wilna het as jong dogter op Saterdae gaan fliek en sy glo dat dit daar was waar haar liefde vir rolprente en toneel begin het. 1

Haar ma was haar hele lewe deur vir haar ’n steunpilaar wat met natuurlike wysheid vir Wilna laat voel het sy is spesiaal. Sy het dikwels vir Wilna gesê: “My kind, dis nie wie of wat of waar jy is wat geluk gee nie, dis wat jy dink daaroor.” 2

Sy het in Oos-Londen begin skoolgaan. Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog het haar gesin na Windhoek verhuis. In 1950 is hulle Worcester toe en daar het sy haar matriek (graad 12) aan die Worcester Girls High behaal. Sy het ná skool onderwys aan die Kaapstadse Onderwyskollege gestudeer en daarna vir ongeveer 10 jaar by verskillende skole skoolgehou. 3

Gesinslewe en familie

Wilna is op 6 April 1961 in Stellenbosch met Jaap Smit getroud. Hulle het een dogter en twee seuns en daar is vyf kleinkinders. 4

Wilna het in 2011 in ’n onderhoud hulde gebring aan haar man vir die ondersteuning wat hy haar altyd in haar loopbaan gegee het. Volgens haar sou sy daarsonder nie die sukses behaal het wat sy in haar loopbaan kon behaal nie. 5

Toe hulle in 1993 aftree, het hulle vir drie jaar in Franschhoek gaan bly. Daarna het hulle ’n vakansiehuis in Hermanus en ’n meenthuis in Durbanville gekoop. Ná haar man se dood in 2011, het Wilna in ’n aftreeoord in Hermanus gaan woon. 4

Pierneefteater in 2007

Lewe op die verhoog

Wilna het in die Kaap skoolgehou toe sy deur ’n vriend aangemoedig is om dramaklasse by Babs Laker te neem. Sy het later ook by Aletta Gericke in Johannesburg dramaklasse geneem terwyl sy by die Laerskool Louw Geldenhuys skoolgehou het. Dit was in hierdie tyd dat sy ook met die digter N.P. van Wyk Louw en sy vrou Truida Louw kennis gemaak het. Sy sê dat die invloed van hierdie drie vroue – Babs Laker, Aletta Gericke en Truida Louw – die grondslag gelê het vir die sukses wat sy in haar loopbaan op die verhoog behaal het.

In 1957 het sy in die toneelstuk Die goue kring van Uys Krige die rol van Violetta vertolk – die karakter was 50 jaar oud en Wilna was toe maar 21. Hierdie was die eerste van baie sulke karakterrolle wat Wilna in haar loopbaan sou vertolk. Dit was vir haar ’n groot voorreg om in hierdie toneelstuk ook saam met die legendariese Wena Naudé te kon speel. 1

Sy het op ’n dag in 1968 ’n oudisie by die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK) in Pretoria gaan aflê en toe sy dit slaag, het haar man haar aangemoedig om dit te aanvaar. 5

Sy het by TRUK aangesluit en hier het sy gespeel saam met mense soos Cobus Rossouw, Sandra Kotzé, Carel Trichardt, Petru Wessels, Marga van Rooy, Patrick Mynhardt, Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Louis van Niekerk, Frans Marx, George Ballot, Annette Engelbrecht en Katinka Heyns. 4

Wilna verduidelik waarom verhoogwerk vir haar spesiaal is: “Dis lewende spel. Dis interaksie tussen mense en dit word deur ’n lewende oor ontvang. Dis ’n magiese kwaliteit van interaksie tussen die gehoor en die spel en die spelers wat ek eintlik nie in woorde kan saamvat nie – ek weet net ek kry hoendervleis as ek daarvan praat. Veral as dit wérk.” 6

Wilna Snyman in Dear Mrs Steyn Mei 1999 Die Teaterhuisie, Pretoria

Rolprente en toneelstukke

So lyk die lys van die meeste rolprente en TV-reekse waarin Wilna opgetree het:

1970: Hulda Versteegh

1972: Salomien

1976: Daar kom tant Alie

1976: Liefste Madelein

1976: Siener in die suburbs (as Ma)

1977: Netnou hoor die kinders

1978: ‘n Seder val in Waterkloof

1978: Weerskant die Nag

1982: ’n Lug vol helder wolke

1983: Die kersietuin

1984: Die jare

1984: Torn Allegiance

1987: Liewe Hemel, Genis!

1989: Brutal Glory

1993: Death in the Family

2000: 7de Laan

2011: Hartland

2012: Nantes 7

In die 1980’s het Wilna deelgeneem aan reekse kabaretprogramme op die verhoog en op televisie, waarin sy saam met ’n groot aantal kunstenaars opgetree het. [Lees hier oor kabaret.] Van hulle was Laurika Rauch, Sonja Herholdt, Carike Keuzenkamp, Pieter-Dirk Uys, Tobie Cronjé, Amanda Strydom en Jennifer Ferguson.

Vanaf 1981 tot 1986 het sy as ’n vryskutspeler vir onder meer die Kunsterade in Kaapstad, Durban, Windhoek en Bloemfontein, asook die Markteater, KKNK en die destydse Grahamstad Kunstefees gespeel. 4

Saam met Dux van der Walt, Stoffel Cilliers en Nico Luwes

In 1990 open Wilna haar eerste solovertoning by die Grahamstad Kunstefees met Dear Mrs Steyn. Dit vertel die verhaal van Emily Hobhouse en is geskryf deur Deon Opperman. Sy beskou dit as een van die hoogtepunte van haar loopbaan. In 1999 tree sy op uitnodiging van Carel Trichardt en Petru Wessels weer op in Dear Mrs Steyn by hulle teater in Pretoria, Die Teaterhuisie. Hierna het sy landwyd met die stuk getoer as deel van die herdenkingsfeeste van die Anglo-Boereoorlog tussen 1999 en 2002.

In 1995 het sy met Sweet Sorrows (Deon Opperman) begin optree en daarmee ook landwyd getoer. Kort hierna het Wilna in 7de Laan begin optree. 4

In 2011 het sy tydens die KKNK in die toneelstuk Klaasvakie gespeel – sy was toe reeds 76 jaar oud. Tydens die fees het sy ook haar 50ste huweliksherdenking gevier. Haar man kon nie by haar wees nie, hy was op daardie stadium ernstig siek met parkinsonsiekte. 5

Patrick Mynhardt Wilna Snyman en Hermien Dommisse Mei 1999, Die Teaterhuisie, Pretoria

7de Laan – Hoe lyk ’n dag op die stel?

Wilna het vir baie jare die rol van die matriarg Madel Terreblanche gespeel, wat in die storie drie kinders gehad het.

Dink net ’n bietjie hoeveel organisering nodig is sodat mense elke aand na hul sepie kan kyk – daar moet baie goed beplan word om seker te maak dat alles reg werk.

Toe Wilna in die sepie gespeel het, het die akteurs die volgende tydrooster gebruik:

07:00
Die dag begin om 07:00 met ontbyt. Daarna word die spelers in groepies geroep om saam met die regisseur die dag se tonele te blok (presies te kyk waar elkeen moet sit, staan en beweeg). Akteurs teken dan al die aanwysings wat deur die regisseur gegee word, aan. Al die akteurs kry dan tye waarin hulle deur die dag die tonele moet repeteer – alles onder die wakende oog van die drilmeesters wat seker maak dat die tonele presies reg gespeel word.

09:00
Vanaf 09:00 begin die grimeerkunstenaars en haarkappers om die akteurs se hare en grimering reg te kry vir die skiet van die tonele. In hierdie tyd is die mense wat in die garderobe werk ook besig om al die klere wat op daardie dag gebruik gaan word, reg te kry.

09:30 tot 19:30
Die tegniese personeel – kameramanne, klankingenieurs en ander mense wat tegniese werk doen – daag om 09:30 op en om 09:50 word die akteurs geroep vir die eerste toneel. Die eerste toneel word presies om 10:00 geskiet. Dit neem so 30 tot 40 minute om een toneel te skiet – dis nou as daar niks skeefloop nie.

Daar word 15 tot 20 tonele op ’n dag geskiet en om te sorg dat alles betyds kan gebeur, is glad nie ’n maklike taak vir al die organiseerders en die akteurs nie!

Die werksdag is gewoonlik 12 uur lank en teen ongeveer 19:30 is die laaste tonele afgehandel. 1

Wilna gaan deur moeilike tye

In 2002 is borskanker by haar gediagnoseer en moes sy ’n operasie daarvoor ondergaan. 1

Haar man het parkinsonsiekte gekry en in 2011 was hy reeds so siek dat hy nie meer kon praat nie. Hy is later in 2011 oorlede. 5

Wilna het alzheimersiekte en woon tans in ’n aftree-oord in Hermanus.

Toekennings en huldeblyke

Wilna het talle toekennings ontvang, meer as 20 daarvan. Daaronder was verskeie Vita- en Artes-toekennings en ses Fleur du Cap-toneelpryse. 8

In Mei 2011 het sy by die KKNK ’n Kanna-toekenning gekry vir haar lewenslange bydrae tot die kunste. 5

Met haar 80ste verjaardag in 2015, het van haar kollegas so aan haar hulde gebring:

Marthinus Basson (regisseur): “Wilna is mens, ’n ryk, ryp, wyse, warm mens…”

Deon Opperman (dramaturg): “As aktrise is sy ongeëwenaard. Daarby is sy professioneel, grasieus, talentvol, elegant en ’n ware dame.”

Louis van Niekerk (akteur): “Ons salueer jou as kunstenaar, as totale mens, as vriendin van vele, as liefdevolle eggenote wat haar kerkgelofte ten volle nagekom het, as moeder wat in die moeilikste omstandighede tyd kon maak en aandag kon gee aan haar kinders; as ouma wat steeds haar kleinkinders geniet.”

Antoinette Kellerman (aktrise): “Haar lewensvreugde en die hartstog vir haar beroep en mense om haar is onvergeetlik.” 8

Wyse woorde oor die lewe

“Op die ou end is ons almal eenders. Uiteindelik word ons almal aan mekaar verbind met liefde. Uiteindelik sit ons almal in die ongelooflike, onverstaanbare lig van God se genade. Dis eintlik waaroor dit gaan.

“Niks is toevallig of vergeefs nie. Selfs die dinge wat jy as negatief ervaar, waar jy dink: O, hoekom moet ek swaarkry, hoekom het ek kanker gekry? Ek het kanker ook oorleef. Daar is altyd ’n onderliggend Goddelike rede daarvoor. Die oomblik wat jy dit aanvaar en besef, word alles ligter, word alles makliker. Want dan weet jy dit is so beplan dat dit op jou pad moes kom.” 5

“Die lewe is kosbaar…alles wat ons op ons lewenspad te beurt val is betekenisvol, as die krag van Goddelike liefde ons vertrek- en eindpunt sal wees.” 4

“Ek leef van dag tot dag. Ek weet dat ek alles gaan vergeet, maar sekere goed sal bly, jou sin vir regverdigheid, eerlikheid, die waarde van goeie maniere. Sekere goed is so diep in jou wese vasgelê, daardie sin van die waardevolle, dat niks dit kan vernietig nie.”

“Die lewe is verbysterend, wonderlik en soms aaklig, maar ek is voornemens om dit bietjie vir bietjie op te lek tot die laaste en dan te sê: ‘Hier is ek Here’.” 9

Wilna Snyman in Dear Mrs Steyn Mei 1999 Die Teaterhuisie, Pretoria

Woordbank

gebeier Die geluid wat ’n groot klok, meesal ’n kerkklok, maak – mens kan dus sê ’n klok “beier” in plaas van “lui”.
bevordering Wanneer iemand goeie werk doen en ’n meer senior pos in die werkplek kry.
elegant Om mooi en met goeie smaak aan te trek.
garderobe Die plek waar al die kostuums gebêre word.
grasieus Iemand wat goed versorg is, mooi lyk en praat, en met goeie maniere optree.
hartstog Wanneer iemand sy/haar werk met energie en met oorgawe doen omdat so ’n persoon baie van sy/haar werk hou.
herdenkingsfeeste So ’n fees word gehou wanneer mense iets wat in die verlede gebeur het, wil onthou en vier.
identiese tweeling Twee broers of twee susters wat presies eenders lyk.
interaksie Wanneer mense saamwerk en mekaar beïnvloed in hoe hulle optree, is daar interaksie tussen hulle.
legendariese Mens sê ’n persoon is legendaries wanneer so ’n persoon baie bekend is en deur ander mense bewonder word.
magiese Wanneer iets baie goed werk – soos wanneer mense toneelspeel – en hulle nie regtig kan verduidelik waarom alles so goed werk nie, hulle voel dit net en weet dat dinge werk, asof dit towerkrag besit.
matriarg Dit is ’n vrou wat as die leier in haar familie optree en belangrik is binne die familie.
onder die wakende oog Wanneer daar iemand is wat kyk dat mense hul werk op die regte manier doen.
ongeëwenaard Wanneer daar nie nog iemand is wat iets so goed kan doen nie.
ons salueer jou Dit beteken dat mense iemand respekteer en waardeer.
oudisie Wanneer iemand ’n sanger, toneelspeler of dalk ’n radio-omroeper wil word, word so ’n persoon se vermoëns eers getoets om te kyk of hy of sy die werk sal kan doen. Hierdie toets word ’n oudisie genoem.
professioneel Iemand wat ernstig is oor sy of haar werk en dit altyd so goed as moontlik probeer doen.
regisseur Die persoon wat aan toneelspelers verduidelik hoe hulle die rolle in ’n toneelstuk moet vertolk. Dis amper iemand soos die afrigter van ’n sportspan.
solovertoning Vertoning waarin daar net een persoon optree.
te beurt val Dit wat met iemand gebeur.
vryskutspeler Iemand wat nie vir ’n organisasie of werkgewer werk en elke maand ’n vaste salaris kry nie. So ’n persoon moet self werk soek en word dan vir daardie werk betaal.

Lees meer

Kyk hier

Hannes van Wyk gesels met Wilna Snyman op kykNET en sy vertel van haar alzheimersiekte in ʼn roerende onderhoud (2019)

Sandra Prinsloo gesels met Wilna Snyman

As ons twee eers getroud is (rolprent – argiefmateriaal)

Wilna (in die middel) tree saam met Laurika Rauch en Amanda Strydom op as Die Sonskynsusters

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 5 Augustus 2023 | Bygewerk op 7 Maart 2024