Vinnige feite

  • Kinders om die wêreld heen speel al vir jare en jare tradisionele speletjies en baie van daardie speletjies is min of meer dieselfde in verskillende lande. As jy byvoorbeeld aan is, dan weet jy jy moet ’n maat probeer vang, terwyl kinders in byvoorbeeld Engeland dit “tag” noem. In Sri Lanka is daar ’n speletjie wat hulle Kabaddi noem. Dis ook ’n vangspeletjie waar een speler in die “vyandige gebied” inhardloop om iemand te probeer vang terwyl hy die heeltyd “kabaddi-kabaddi” skree. 7
  • Baie tradisionele Afrikanerspeletjies word vandag nog deur oud en jonk geniet. Ons noem dit boeresport en dit behels speletjies soos toutrek, aartappelresies, driebeenresies, eiergooi, sakresies, jukskei en selfs bokdrolspoeg!
  • Blindemol is ’n ou tradisionele volkspeletjie, maar nes baie van die ander speletjies, kom dit in baie ander gedaantes voor. Kinders in Antieke Rome het ook ’n blinddoekspeletjie gespeel wat murinda genoem is. Dit word “blindman’s buff” in Amerika genoem, terwyl die Duitse kinders dit as “blinde koei” ken. Engelse kinders speel “hoodman-blind”. 8
  • Daar is ook boeke beskikbaar wat lyste van kinderspeletjies bevat. Een voorbeeld is  Johanna de Wet se boek Wat speel ons? ’n Versameling kinderspeletjies. Dit word deur Wordsworth Books uitgegee. 9
  • Ou speelgoed met mense en dierevorms is in antieke Sumerië gevind, wat terugdateer na 2600 v.C.  Die oudste verwysing na speelgoed in skrif kom uit Griekeland toe daar in 500 v.C oor klimtolle van hout en metaal geskryf is. Daar word egter geglo dat die klimtol in China baie vroeer as toe al gemaak is. Die antieke Chinese het ook so vroeg as 1000 v.C. vlieërs gemaak om mee te speel. Daar is ook al kleispeelgoed in Indië gevind uit ongeveer 2500 v.C. 10
  • Erfenisdag word jaarliks op 24 September in Suid-Afrika gevier. Dis die ideale dag om jou kultuur te vier en ’n goeie tyd om ’n volkspeletjie te probeer.
Foto: iStock

Watter speletjies speel jy graag of het jy altyd buite gespeel? Ek dink die kans is groot dat dit nie kleilat of aftrekperd is nie. Dié vreemde speletjies het Afrikanerkinders toentertyd gespeel.

As ons kyk na die lewe van kinders wat deel was van die Groot Trek, was dit baie anders as dié van vandag se kinders. Die Groot Trek het vanaf 1838 plaasgevind toe die vroeë Afrikaners ongelukkig was met hul omstandighede in die Kaap, en besluit het om binneland toe te trek. Ons noem hulle die Voortrekkers. 1

Voortrekkerkinders

Die Voortrekker-kinders moes van kleins af hard gewerk het. Dit was niks vreemds vir ’n sesjarige om skape op te pas of koeie te melk nie en meisies moes brood bak, botter maak en seep kook. Hulle het hard gewerk en die pad was gevaarlik met baie ontberinge. As hulle speelgoed gehad het, was dit tuisgemaak.

Trekkerkinders het graag wegkruipertjie gespeel en tougespring. Vandag is touspring steeds gewild, hoewel die tou nou net baie anders as toe lyk – daar was beslis geen winkels wat mooi toue verkoop op die Trekpad nie!

Kinders in die konsentrasiekamp, Turffontein, Johannesburg, 1901

Dis juis in daardie tyd wat die speletjie jukskei ontstaan het. Jukskei is ’n tradisionele Afrikanerspeletjie wat vandag steeds ’n sport is en deur oud en jonk geniet word. [Lees hier oor tradisie.] Julle weet seker al hoe lyk ’n moderne jukskei, maar in die 1800’s is die lang skei van ’n ossewa se voorjuk geneem en in sagte grond geplant. Elke speler het dan twee gewone skeie gehad en moes probeer om die geplante skei raak te gooi.

Selfs die kinders wat tydens die Anglo-Boereoorlog in konsentrasiekampe gebly het, het hulself met allerlei speletjies vermaak. Albasters was in daardie tyd baie gewild en kinders was vindingryk en het hul eie speelgoed gemaak. Hulle het met dolosse (dierebeentjies) gespeel en ander speelgoed uit draad en blik gemaak. [Lees hier oor konsentrasiekampe.]

Die mense het baie swaargekry in die konsentrasiekampe, maar daar was darem kampe waar die kinders toegelaat was om aan sport deel te neem. Die Britte wou die Afrikaners verengels, en het hulle aan gewilde Britse sportsoorte voorgestel. 2

Beskuit word aan kinders in die konsentrasiekamp uitgedeel

Afrikanerspeletjies

Kom ons kyk na ’n paar speelgoed waarmee kinders toentertyd gespeel is:

Aftrekperd

’n Groepie kinders het in twee groepe verdeel. Die helfte moes maak asof hulle ruiters is terwyl die ander helfte die perde moes wees. Die “ruiters” het op hul maats se rûe geklim en moes mekaar dan probeer aftrek of -stamp het. Die ruiter en die “perd” wat die langste bly staan het, was dan die wenners. 3

Aljander (ook bekend as Koljander)

Baie mense ken hierdie speletjie as Aljander, maar dit is ook bekend as Koljander. Hierdie speletjie word vandag nog gespeel en jy ken dit dalk.

Kinders staan in twee rye oorkant mekaar. Hulle moet hul arms omhoog hou en hul hande teenmekaar druk terwyl die ander kinders onderdeur hul arms loop. ’n Liedjie word dan gesing: “Koljander koljander so deur die bos, my ma en pa kook lekker kos. Die kinders verstik aan ‘n druiwetros, die laaste een se kop word afgekap, kiep kiep kiep kiep kiep KAP!”, waarna die arms gesak word en ‘n deelnemer vasgekeer word. Al die deelnemers moet so vinnig as moontlik beweeg sodat hulle nie gevang word nie.

Beesvelgooi

Vir hierdie speletjie het jongmense ’n vars beesvel gebruik, die harige kant na onder gedraai. Vier persone wat die beesvel vasgehou het, het die vel skielik styf getrek, sodat die een wat op die beesvel lê, hoog in die lug opgeskiet is. 1

’n Blaasbal

As ’n bees of ’n groot bok geslag is, het hulle die dier se blaas verwyder, skoongemaak en dit opgeblaas. Hulle het die opening dan met ’n riem vasgemaak om ’n bal te vorm. ’n Mens kan net wonder hoe lank dié “bal” gehou het … 1

Blikaspaai

Daar is baie weergawes van die tradisionele wegkruipertjie-speletjie wat wêreldwyd gespeel word. Donkerkamertjie is byvoorbeeld ’n weergawe waar jy in ’n donker vertrek moet wegkruip. Blikaspaai is soos wegkruipertjie, maar met ’n verskil.

Kinders besluit vooraf op ’n bof. ’n Bof is ’n paal, blik of boom wat aangeraak moet word om vry te kom. ’n Blikkie met klippies is dan in of by die bof geplaas. Die speler wie se beurt dit is om na sy maats te soek, moet tot 100 tel en dan kan hy begin soek. As hy ’n maat gewaar, moet hy die maat se naam uitroep en byvoorbeeld sê: “Blikaspaai vir Hanno agter die boom!” Hy moet dan na die bof terughardloop, die blik wegskop en ’n wegkruipplek soek. Hanno, die speler wat gevind is, moet dan die blik optel, na die bof terugneem en moet dan die soekwerk doen. As die blik weggeskop word (ook deur ander spelers) moet hulle “blikaspaai!” skree. Vir elke rondte van hierdie speletjie, word die blikkie weer vol klippies gemaak.

 

Blindemol

Een kind word geblinddoek en dan in die rondte gedraai. Hy moet dan probeer om die ander spelers in die groep te vang.

Bok in die hok

Soos julle kan raai, moet kinders hier maak asof hulle bokkie is, maar twee kinders maak asof hulle jagters is. Dit klink nogal asof dit ’n seer storie kan wees, want hulle moet dan die bokke met ’n bal gooi! Gelukkig was daar darem in die ou dae ook reëls soos dat hulle nie hoër as die middellyf mag gooi nie.

As ’n bok deur een van die jagters “raakgeskiet” word, is hy weer die jagter en die jagter een van die bokke. 3

Bok-bok staan styf

’n Groep maats moet ’n ry vorm. Die voorste kind moet dan buk met sy bene gebuig en sy hande op die grond. Die kind agter hom, moet dan hardloop, sy hande op die rug van die voorste kind druk en bo-oor hom spring. As die kind land, is dit die volgende maat se beurt om te spring.

Dolosse

’n Dolos is ʼn been in ʼn dier se hakskeengewrig en as jy jou verbeelding gebruik, lyk dit nogal soos ’n bees met horings. Beeste of perde se onderkakebene en hakskeengewrigte is ook bymekaargemaak om mee te speel. Die dolosse is dan met riempies aan die onderkakebeen vasgemaak. Die kinders het dan gemaak asof die dolosse beeste is wat ’n wa (die kakebeen) moes trek.

Die dolosse het sommer name gekry, want hulle was mos beeste! Name soos Voorslag, Makman of Donkerland is gegee en seuns het ook soms klein waentjies uit hout gemaak wat die dolosse kon “trek”.

Voorbeeld van kleiosse dolosse by ‘n uitstalling by die Voortrekkermonument

Hamer-en-spyker

Twee kinders hou ’n kind tussen hulle vas. Elke kind hou dus ’n been en ’n hand vas. Nog ’n kind moet gebukkend voor die driemanskap staan. Die twee kinders swaai dan die “hamer” en sê: “Hamer, spyker, hamer, spyker, slaan die spyker op sy kop!” En siedaar! Die gebukkende kind word met die “hamer” op die boud getref en vorentoe geskiet. 4

Kat en muis

Kinders staan in ’n kring en hou hande vas en besluit wie van die groep die kat en wie die muis gaan wees. Jy kan seker raai wat hier gebeur? Die kat moet die muis vang!

Die kat moet wel aan die binnekant van die kring beweeg en die kinders wat hande vashou, moet sorg dat die kat nie uitkom nie. Die muis kan weer binne en buite die kring beweeg. Die ander kinders moet die muis help om vinnig binne en buite die kring te beweeg deur hul hande te lig! 4

Kennetjie

Hierdie speletjie klink nogal asof dit tot beserings kan lei! Daar is verskeie weergawes daarvan, en in een weergawe werk dit so: ’n kind plaas ’n kort stokkie op sy voet, skop dit in die lug in en slaan dit met ’n langer stok. Almal in die groep kry ’n beurt en kinders moet op die plek gaan staan waar hul stokkie geval het.

Daarna moet jy die stokkie dan weer op jou elmboog sit, dit afskud, en dit weer met die stok slaan. As almal ’n kans gekry het, moet die stokkie weer onder die ken gesit word, dan gooi jy dit met ʼn kopbeweging af en slaan dit met die ander stok. 3

Ketties en tolle

Kinders het vir hulle ketties gemaak met stukke tak en leer en het teiken geskiet. Hulle het ook tuisgemaakte tolle van hout gehad met ʼn stukkie tou of riempie daarom gedraai – tolgooi was ’n gewilde tydverdryf.

Kleilat

Dit is wanneer ’n mens ’n balletjie uit klei vorm en dit aan die voorpunt van ’n gestroopte wilgertak of ander dun, buigbare vasdruk. Die tak word dan geswaai en só vlieg die balletjie klei deur die lug. ’n Mens voer dan só oorlog. Eina!

Kleiosse

Kinders het kleiosse uit potklei gemaak en sommer lang wit dorings vir hul horings gebruik.

Krappe en krewe

Kinders maak hier twee groepe (die krappe en die krewe) en elke groep moet ’n ry vorm. Die twee rye moet met hul rûe teenmekaar staan en dus in ’n ander rigting kyk. Een kind moenie deel van die groepe wees nie en óf “Krewe!” óf “Krappe!” skree. Die spanname word uitgerek geskree: “Krrrrrrrrrrrrrrrr-appe!” of “Krrrrrrrrrrrrrrrr-ewe!” sodat die groep fyn moet luister wie moet hardloop en wie moet vang.

As hy/sy krappe skree, moet die krappe weghardloop en die krewe moet hulle vang en ook andersom. Die kinders wat gevang word, word dan weer deel van die ander span!

Middelmannetjie

Met hierdie speletjie, staan kinders in ’n lang ry. Die twee kinders wat op die punte van die ry staan, kan dan ’n bal na mekaar gooi of rol, maar net nie hoër as kophoogte nie. Die kinders wat in die middel staan moet dan die bal probeer onderskep. As iemand die bal in die hande kry, moet die gooier weer in die middel staan. 4

Onderhandjie-klap

Kinders verdeel in twee groepe en staan dan in rye teenoor mekaar. Hulle moet ver genoeg van mekaar af staan sodat daar hardloopafstand kan wees. Een van die kinders uit ’n groep loop nou oor na die ander groep, terwyl die ander groep hul hande voor hulle uithou (palms moet na onder wys). Die kind wat nou aan is, moet in die ry af loop en met sy hande bo-oor die ander groep se hande raak. As hy ’n maat se hand aan die onderkant raak, moet hy vinnig na sy groep toe terughardloop, terwyl die ander kind hom probeer vang. As hy gevang word, moet hy by die ander groep aansluit. Die grootste groepie wen dus die speletjie aan die einde.

Ou-ooi en jakkals

Een kind moes maak asof hy ’n jakkals is, terwyl die ander een Ou-ooi was. Die ander kinders in die groep was die lammetjies van Ou-ooi en natuurlik moes die jakkals die lammetjies probeer vang terwyl Ou-ooi vir die vale keer.

Poppe

Lappoppe is uit oorskietmateriaal gemaak en die poppe is met ou lappe of gras gestop. Popgesigte is soms boonop van lewer- of niertjievliese gemaak. Die popgesiggie is op die lap geteken en dan is die vlies oor die kop getrek sodat die getekende gesig mooi deurgeskyn het. Dit is baie vreemd, maar hulle het glo soms likkewaanpootjies vir hande gebruik! 1

Voorbeeld van ‘n handgemaakte pop by ‘n uitstalling by die Voortrekkermonument

Pyl en boog

Kinders het ook vir hulle pyle en boë uit stokke en takke gemaak en daarmee geskiet. Takke se punte is met ’n mes skerpgemaak sodat dit as pyle kon dien.

Ruiterbal

Die spelers verdeel in groepe van ruiters en perde. Die ruiters klim op die perde se rûe (die groter kinders) en gooi vir mekaar ’n bal. Die perde moes deur skewe spronge verhoed dat die ruiters die bal vang. Vang die ruiter die bal mis, hardloop al die ruiters weg, terwyl een van die perde die bal gryp en probeer om ’n ruiter raak te gooi. Indien ’n perd die ruiter raakgooi, is sy span weer die ruiters en die ruiters perde.

Nog ’n variasie van hierdie speletjie is wanneer die een helfte (die ruiters) groter geboude maats (die perde) kry en op hul rûe klim. Die spelers beweeg nader na mekaar toe en dan moet die ruiters probeer om mekaar afgetrek of afgestamp te kry. As die perd val of die ruiter met enige deel van sy liggaam aan die grond raak, is die perd en ruiter uit die spel. Die ruiter wat die langste op sy perd bly, is die wenner. 3

Sweepslaan

Dit was ’n gewilde speletjie en soms sien mens nog so iets by ’n boereskou! Kinders het ’n teiken, soos ’n leë blikkie, neergesit en dan gekyk wie dit met die sweep kon raakslaan.

Toktokkie

Hierdie speletjie is vroeër jare gespeel en dis gewoonlik as stout beskou. Kinders het aan mense se deure gaan klop en dan weggehardloop voordat die mense die deur oopgemaak het om te kyk wie daar klop.

Vroteier

Dit is vandag steeds ’n bekende speletjie, en ja, nes met die meeste ander speletjies, kry jy ook verskillende name vir die speletjie en verskillende maniere hoe dit gespeel word. Dalk ken jy hierdie weergawe:

’n Groep kinders sit in ’n kring en een kind hardloop al om die kring en sit ’n voorwerp (soos ’n klippie) agter een van die ander kinders neer. Die een met die klippe maak ook tussendeur die spelery asof hy die klippie regtig agter iemand neersit. As laasgenoemde dit betyds sien, tel hy dit op en hardloop. As hy/sy dit nie sien voor die hardloper weer by hom kom nie, is hy die vrot eier en moet hy in die middel van die kring gaan sit.

Wolf-wolf

In hierdie speletjie, moet ’n kind maak of hy ’n wolf is en dan loop die ander kinders agter hom aan en sing-vra: “Wolf-wolf, hoe laat is dit?” Die wolf antwoord dan met ’n tyd soos “tienuur.” Die kinders sing-vra dan weer hoe laat is dit en die wolf hou aan met die tye tot hy onverwags omdraai en skree “Etenstyd!”. Die wolf moet dan probeer om een van die kinders te vang terwyl hulle al gillend weghardloop! Groot pret! 3

Ander Suid-Afrikaanse tradisionele speletjies

Afrikaners  het hul tradisionele speletjies, maar aangesien ons diverse kulture in Suid-Afrika het, het ons natuurlik ook ander tradisionele speletjies.

Daar is in 2001 ’n navorsingsprojek van stapel gestuur om inheemse speletjies na te vors. Dit is die SA Indigenous Games Research Project genoem en 170 gemeenskappe het deel daarvan gevorm. Die navorsers het 536 inheemse speletjies geïdentifiseer. Hulle het ook gevind dat die meeste speletjies talle variasies het. Daar was byvoorbeeld 37 weergawes van ’n touspringspeletjie en 18 verskillende weergawes van wegkruipertjie.

Die drie gewildste speletjies wat geïdentifiseer was, is wegkruipertjie en sy weergawes, touspring en aan-aan. 5

Kom ons kyk na sommige inheemse speletjies:

Morabaraba

Moraba is een van Suid-Afrika se gewildste tradisionele speletjies. Dit word met skaak vergelyk en is gewoonlik op ’n rots of groot klip (waarop lyne met ʼn skerp voorwerp getrek is) gespeel. Die lyne kan ook op die grond getrek word.

Spelers gebruik klippies om te skuif. Dis ’n strategiese speletjie waar twee spelers mekaar moet uitoorlê.

Diketo

Diketo staan ook as upuca, magava of ukugenda bekend. Dit word gewoonlik deur meisies gespeel en tien klippe word in ’n sirkel of vierkant geplaas. Elke speler probeer dan om die meeste klippies te kry deur dit in die lug te gooi en dit met een hand te vang. Al die klippe moet terug in die sirkel of vierkant geplaas word.

Lintonga

Lintonga word weer deur seuns gespeel. Dit is ’n speletjie waar daar met stokke geveg word en kan ook seker tot lelike beserings lei as die spelers nie oppas nie! Dit word deur net twee spelers – elk met twee lang stokke – gespeel. Die een stok word vir verdediging gebruik, terwyl die ander weer vir aanval is. Die speletjie gaan aan tot die opponent nie meer kans sien nie.

Jukskei

Hierdie speletjie het ’n Kaapse oorsprong en is vandag ’n sport.  ’n Jukskei is ’n houtpen wat aan elke kant van ’n trekos se nek deur die skeigat in ’n juk gesteek en met ’n strop onder die dier se keel vasgebind word om die juk in plek te hou. Twee spanne spelers het dan die jukskeie gegooi na ’n pen wat in die grond geplant is om te kyk wie die meeste punte kon behaal.

Dibeke

Hierdie speletjie staan ook as skununu bekend en is ’n balspeletjie waar twee spanne van ses seuns en ses dogters elk speel. Die span wat aanval, probeer om die bal weg van die verdedigers te skop, terwyl die ander span weer met hul hande probeer om die bal weg van hulle af te kry.

Kho-kho

Die speletjie het glo in die Indiërgemeenskap ontstaan. Twee spanne kinders speel saam en een span probeer om die ander span te vang.

Kgati

Die speletjie staan ook as ntimo of ugqaphu bekend. Dis ’n touspringspeletjie waar twee kinders die punte van ’n springtou vashou, terwyl die derde speler op verskeie maniere touspring terwyl hulle sing. 6

Woordbank

bof Dis ’n paal, blik, boom of voorwerp wat aangeraak moet word om vry te kom.
dolos Dit is die beentjie in die hakskeengewrig van ’n skaap of bees.
diverse Verskillend, verskeie.
inheemse Iets wat in ’n land of gebied tuishoort.
juk Dit is ’n toestel wat dwars op die nekke van twee osse vasgemaak word om hulle langs mekaar in te span.
jukskei Dit is ’n houtpen wat aan elke kant van ’n trekos se nek deur die skeigat in ’n juk gesteek en met ’n strop onder die dier se keel vasgebind word om die juk in plek te hou. Dit is ook ’n sport waarin twee spanne spelers keie gooi na ’n pen wat in die grond geplant is en die gewenste aantal punte probeer behaal.
konsentrasiekampe Kampe waar vroue en kinders tydens die Boereoorloë deur die Britte aangehou is.
kulture Groepe mense se manier van leef.
ontberinge ’n Gebrek aan noodsaaklike dinge.
opponent Teenstander.
skaak ’n Bordspel wat deur twee speler gespeel word. Sekere reëls geld en elke speler kry 16 stukke en skuif dit rond op ’n bord met 64 blokke.
strategiese Die fyn beplanning om ’n doel te bereik.
tradisies Sekere gebruike, opvattings en gevoelens wat van geslag tot geslag oorgedra en in stand gehou word.
toentertyd Baie lank gelede.
tradisionele Betreffende tadisies wat van geslag tot geslag oorgelewer word.
variasies Iets wat effens van die ander afwyk.
vliese Dun velletjies wat as bedekking bied.
vermaak Iets wat plesier verskaf.
vindingryk Baie slim, goed om dinge te bedink en uit te vind.
vir die vale Met mening.
weergawes Reproduksies.

Lees hierdie artikels om meer te leer

Nog tradisionele Afrikaanse speletjies:

Kyk hierdie video’s

Hoe speel mens jukskei?

Hoe werk kleilat? (As jy nie ʼn lat het om mee te gooi nie, gebruik dan sommer jou hand)

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 20 September 2023 | Bygewerk op 4 Desember 2023