Vinnige feite

  • Rachmaninoff het glo enorme hande gehad wat hom gehelp het om veral sy Derde Klavierkonsert uit te voer. Dit is ’n baie moeilike stuk om te speel. Sy hande was blykbaar so groot dat hy van die punt van sy pinkie tot die punt van sy duim meer as 12 klaviernote kon bereik!
  • Rachmaninoff se Derde Klavierkonsert is ook die klankbaan van die rolprent Shine en mense was so gek oor die fliek en die musiek dat hy nog gewilder geword het.
  • Hy was diep gelowig en het daarom in 1915 koormusiek gekomponeer.
  • Rachmaninoff het tussen November 1922 en Maart 1923 meer as 70 konsertoptredes gelewer. Dit het hom in staat gestel om ’n huis in Los Angeles te bou wat presies soos sy huis in Moskou gelyk het.
  • Hy het op ’n tyd saam met die violis Fritz Kreisler in New York opgetree. Kreisler het in ’n stadium sy plek op die bladmusiek verloor en het paniekerig vir Rachmaninoff gefluister: Waar is ons? Sy antwoord? “Carnegie Hall.” Dit is die plek waar hulle opgetree het.
  • Slegs ’n dekade ná sy afsterwe, het die Grove Dictionary of Music and Musicians voorspel dat die sukses van Rachmaninoff se werke nie sou hou nie en dat dit nie gewild sal bly nie. Hulle was beslis verkeerd!
  • Rachmaninoff het omtrent nooit in foto’s geglimlag nie. Hy was baie lank en ernstig van geaardheid en is daarom ’n “Six-foot Scowl” genoem. In Afrikaans beteken dit ’n “ses voet lange frons”!
  • Hy was gek oor vinnige motors en bote en was die eerste in sy buurt om ’n voertuig te besit.
  • Rachmaninoff se Klavierkonsert No.2 van 1901 word dikwels beskryf as die beste wat nog geskryf is. Die gebruik daarvan in die fliek Brief Encounter (1945) het daarvan ’n groot gunsteling gemaak. 4
Foto: iStock

Baie van die musiek waarna ons vandag luister, is nie baie oud nie en klink ook heel anders as dié van so ver terug as die Middeleeue. Die komponis Sergei Rachmaninoff se musiek is egter baie oud, maar word vandag steeds geluister en geniet.

As ons praat van komponiste, dink ons aan die sewe verskillende eras waarin hulle musiek gekomponeer het. Dié sewe musiekperiodes word geklassifiseer as Middeleeus (1150-1400), Renaissance (1400-1600), Barok (1600-1750), Klassiek (1750-1830), Romantiek (1830-1900) en laastens die 20ste en 21ste eeu (1900 tot vandag). 1

Heel waarskynlik het jy of jou ouers al van Rachmaninoff gehoor. Hierdie Russiese musiekmeester uit die Romantiese Periode het op ʼn vroeë ouderdom beroemdheid verwerf as pianis, komponis en dirigent, en sy werk word vandag nog gereeld op verhoë oor die wêreld heen gespeel.

Hy was lank, ernstig van aard en het enorme hande gehad wat hom gehelp het om sy ingewikkelde klavierstukke te speel.

Hy word as die laaste groot komponis van die Russiese Romantisme gesien en was ’n klaviervirtuoos. ʼn Virtuoos is iemand wat baie, baie goed is in dit wat hy of sy doen – in Rachmaninoff se geval was dit klavierspel.

Hy is veral bekend vir sy klavierkonserte en ’n komposisie vir klavier en orkes, getiteld Rapsodie op ’n tema van Paganini op. 43 (1934). 2

Talent van kindsbeen af

Sergei Wasiljewitsj Rachmaninoff is op 1 April 1873 in Oneg naby Semyonovo in Rusland in ’n aristokratiese familie gebore.

Sy familie was baie musikaal. Sy pa was ’n afgetrede weermagoffisier en ’n pianis en sy oupa aan vaderskant was ’n talentvolle musikant. 3

Sy ma was die dogter van ’n generaal en baie welaf. Daar is verwag dat Rachmaninoff ook weermag toe sou gaan as hy groot is, maar sy pa het ’n paar finansiële besluite gemaak wat veroorsaak het dat hulle al hul geld verloor het. Hy het toe sy gesin verlaat.

Rachmaninoff se musiektalent het al van kleins af mense verstom en sy neef Aleksander Siloti, self ’n konsertpianis en komponis, het glo aanbeveel dat hy na ’n bekende klavieronderwyser en pianis, Nikolai Zverev, in Moskou vir musiekles gaan. Zverev was baie streng en Rachmaninoff het gou gevorder en uitstekend onder sy leiding presteer. Rachmaninoff het ook vanaf negejarige ouderdom by die St. Petersburg-konservatorium skoolgegaan. Hy het drie jaar later by die konservatorium in Moskou aangesluit. 4

Hy het op die ouderdom van 19 gegradueer en ’n goue medalje vir sy opera Aleko gewen. Dit was twee komposisies wat sy naam as ’n konsertpianis en komponis gevestig het: Prelude in C-kruis mineur (1892) en sy Klavierkonsert no. 2 in C mineur (1901). Die Italiaanse woord vir “konsert” is “concerto”.

Rachmaninoff was baie sensitief en het gesukkel om kritiek oor sy optredes en musiek te verwerk. Dit het dikwels tot mismoedigheid en erge depressie gelei. Een van sy ergste depressiewe tye was toe sy Simfonie no. 1 uitgevoer is, maar so swak gedirigeer is dat dit ’n volslae mislukking was. Hy het die werk onttrek en moes ’n psigiater sien. Daar word gesê dat die psigiater Nikolai Dahl hom met die hulp van hipnose gehelp het om sy selfvertroue te herwin. Hy kon toe weer komponeer en sy Klavierkonsert no. 2 het die lig gesien en was ’n groot sukses. Hy het die stuk aan Dahl opgedra.

Persoonlike lewe

Rachmaninoff het in 1902 aangekondig dat hy met sy niggie, Natalia Satina, sou trou. Hulle was drie jaar verloof voor hulle in Rusland getrou het. Dit was teen die Russiese wette van daardie tyd om met jou niggie of neef te trou en hulle kon nie in ’n kerk trou nie. Hulle het egter by weermagbarakke getrou.

Natalia was ook ’n talentvolle pianis. Die paartjie het twee dogters, Tatiana en Irina, gehad.

In 1905, ten tyde van die Eerste Russiese Revolusie, was Rachmaninoff ’n dirigent by die Bolshoi-teater in Moskou. Hy en sy gesin het egter besluit om eerder na Dresden, Duitsland, te gaan en het vir ’n paar jaar daar gaan bly.

Saam met sy dogter, Irina

Indrukwekkende komposisies

Hy het in Dresden drie van sy grootste komposisies geskryf: Simfonie no. 2 in E mineur (1907), die simfoniese gedig Die eiland van die dood (1909), en die Klavierkonsert no. 3 in D mineur (1909).

Hy het laasgenoemde spesifiek vir ’n konserttoer in Amerika gekomponeer. Daar het hy op 28 November 1909 saam met die New Yorkse Filharmoniese Orkes opgetree. ’n Mens moet ’n baie goeie klavierspeler wees om die Derde Klavierkonsert te speel en Rachmaninoff was beslis een. Hy het die Amerikaners baie beïndruk en het ook in Philadelphia en Chicago opgetree. Hy is ook gevra om die permanente dirigent van die Bostonse Filharmoniese Orkes te word, maar hy het die aanbod van die hand gewys en in Februarie 1910 na Rusland teruggekeer.

Hy het in daardie tyd die koorsimfonie Die klokke (1913) gekomponeer. Dit is op Konstantin Balmont se Russiese vertaling van Edgar Allan Poe se gedig gegrond.

Swaar jare

Ongelukkig moes hy en sy gesin Rusland weer in 1917 verlaat, weens die volgende Russiese Revolusie, ook bekend as die Oktober-revolusie. Hy het die volgende 25 jaar die meeste van sy tyd in Amerika deurgebring. Dit was egter nie goed vir sy kreatiwiteit nie. Hy het sy moederland en sy huis só gemis dat hy nie meer baie gekomponeer het nie. Sy konserte in Amerika en Europa het hom ook goed besig gehou. Die enigste goeie werk van daardie tyd was sy Rapsodie op ’n tema van Paganini op 43 (1934) vir klavier en ’n orkes en die Simfonie no. 3 in A mineur (1936).

Sy laaste groot werk was die Simfoniese danse op. 45, wat in 1940 gekomponeer is. Rachmaninoff was ten tyde van sy laaste konserttoer in 1943 baie siek. Sy laaste optrede op 17 Februarie 1943 het ironies genoeg Chopin se bekende dodemars ingesluit. Hy het ’n maand later, op 28 Maart 1943, in Beverly Hills, Kalifornië, aan velkanker gesterf. Dit was slegs vier dae voordat hy 70 sou geword het. 5

Woordbank

aristokratiese Mense in die hoogste sosiale klas, wat tradisioneel baie grond, geld en mag gehad het.
barakke ’n Gebou waar soldate bly.
concerto ’n Werk in simfoniese vorm, gewoonlik met drie bewegings, vir een of hoogstens drie soliste met ’n orkes.
dartelend Opgeruimd, speels, uitgelate.
depressie Ernstige terneergedruktheid of neerslagtigheid wat jou laat dink daar is geen hoop vir die toekoms nie.
dirigent Iemand wat voor ’n orkes of koor staan en die uitvoering lei.
eras Tydperk.
filharmoniese orkes ’n Orkes soos ontwikkel in die Klassieke Musiekperiode (c. 1750-1830), wat uit al die instrumentfamilies (strykers, houtblasers, koperblasers, perkussie) bestaan.
komponis Dis iemand wat musiek skryf.
konservatorium ’n Musiekskool.
op. Dit is die afkorting van “opus” en beteken “musiekwerk/musiekstuk”.
pianis    ’n Persoon wat klavier speel.
psigiater ’n Dokter wat in die sielkunde spesialiseer.
revolusie Wanneer mense deur geweld te gebruik ’n politieke stelsel verander of ’n leier vervang.
virtuoos Iemand wat baie goed met ’n kunsvorm, soos musiek, is.
welaf Ryk, met baie geld.

Lees hierdie artikels om meer oor Rachmaninoff te leer

Kyk hierdie video’s oor klaviervirtuoos Rachmaninoff

Die lewensgeskiedenis van Rachmaninoff

Rachmaninoff se musiek

Nuuskierig oor hoe die Tweede Klavierkonsert klink? (met foto’s)

Hier kan jy sien hoe ingewikkeld Rachmaninoff se Tweede Klavierkonsert is

Kyk na die oorspronklike lokprent van Brief Encounter (1945) – herken jy die musiek?

Die dartelende klavierkonsert Rapsodie op ’n tema van Paganini op. 43 soos uitgevoer deur Anna Fedorova

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 5 Augustus 2023 | Bygewerk op 30 November 2023