Vinnige feite

  • Byna die helfte van Strauss se operas word vandag nog gereeld opgevoer en die meeste van sy toondigte ook.
  • Strauss het in 1882 sy skoolloopbaan voltooi en teen daardie tyd het hy reeds meer as 140 werke gekomponeer.
  • Strauss het groot bewondering vir Mozart en Richard Wagner gehad. Sy pa het egter nie van Wagner as mens of musikant gehou nie en hy kon eers as volwassene daardie bewondering uitspreek. 5
  • Strauss se 1896-komposisie Also sprach Zarathustra het bekendheid verwerf omdat dit in Stanley Kubrick se rolprent 2001: A Space Odyssey (1968) gespeel is.
  • Richard Strauss was nie familie van die bekende Weense komponisfamilie Johann Strauss of sy seuns nie.
  • Strauss het twee concerto’s vir die Franse horing gekomponeer omdat dat sy pa so ’n goeie horingspeler was.
  • Strauss het sy invloed as bekende komponis gebruik om te voorkom dat sy skoondogter, Alice, en sy twee kleinseuns na konsentrasiekampe gestuur word.
  • Strauss was gek na motors. Hy het sy eerste motor in 1907 gekoop en daarmee na Italië gery.
  • Hy was baie lief vir reis, maar het dit as kultuurtogte gesien en soveel moontlik tydens sy reise probeer leer. Griekeland was sy gunstelingplek om te besoek.
  • Strauss het graag tyd in die buitelug deurgebring en gesorg dat hy elke dag twee keer gaan stap het.
  • Hy was blykbaar mal oor die kaartspel “Skat”. Hy het in 1890 geleer hoe om dit te speel en het gou ’n reputasie as ’n goeie speler opgebou. Sy vrou het blykbaar niks van dié stokperdjie gehou nie! 6
Foto: iStock

Richard Georg Strauss (1864-1949) was as vierjarige seuntjie al ’n bedrewe pianis. Terwyl die res van sy maats op sesjarige ouderdom buite gespeel het, het dié mannetjie al musiek gekomponeer en teen die ouderdom van tien was hy ’n ernstige musiekstudent!

Strauss was ’n Duitse komponis van die Laat-Romantiese era en word vandag gesien as een van die beste musici van die vroeë 1900’s. Hy was veral bekend vir sy manier om sy musiek meer werklik vir mense te maak. Hy het orkeste byvoorbeeld gevra om klanke, soos die geluid van ’n perd se pote, met instrumente na te maak. 1

Grootwordjare

Strauss is op 11 Junie 1864 in München, Duitsland, gebore. Sy pa was een van die beste en bekendste horingspelers van Duitsland. Sy pa se naam was Franz Strauss en hy was die hoofspeler van die Franse horing by die Koninklike Operahuis in München. Sy ma se naam was Josepha en sy het van ’n welvarende familie gekom. Strauss het as kind reeds musiektalent getoon en sy pa het hom van vroegs af musiekles gegee. Hy het van sesjarige ouderdom af konstant musiek gekomponeer. 1

Studies en loopbaan

Hy het in 1882 begin om aan die Universiteit van München te studeer. Anders as wat ’n mens sou dink, het hy nie musiek studeer nie, maar wel filosofie en kunsgeskiedenis. Hy het egter net ’n jaar uitgehou en toe na Berlyn vertrek. Hy het daar verder studeer en aangesien sy musiek toe al vir opvoerings aanvaar is, het hy ’n pos as assistentdirigent aanvaar. Hy het by die hoofdirigent Hans von Bülow oorgeneem toe dié in 1885 bedank het.

Sy komposisies in daardie tyd is as konserwatief beskryf en dit is met die werk van komponiste, soos Robert Schumann en Felix Mendelssohn, vergelyk.

Sy styl het egter verander toe hy die violis en komponis Alexander Ritter ontmoet het. Ritter was aangetroude familie van die komponis Richard Wagner. Wagner se musiek het reeds as kind en jongman ’n groot invloed op Strauss se musiekstyl gehad, maar sy pa het Wagner se musiek as minderwaardig beskou.

Ritter het Strauss aangemoedig om van sy konserwatiewe musiekstyl weg te breek en het hom aangemoedig om toondigte te skryf. Strauss het hierdie raad gevolg en daar word gereken dat sy toondig Don Juan die eerste voorbeeld van sy nuwe styl was. Hierdie toondig het hom beroemd gemaak, al het dit gemengde reaksie ontlok – met die eerste uitvoering daarvan, het die een helfte van die gehoor glo gejuig en die ander helfte het dit uitgejou! 2

Strauss het egter daar sy eie musiekstem gevind en besluit om aan te hou om op die nuwe manier musiek te skryf. Hy het ’n paar ander toondigte geskryf, soos Tod und Verklärung (Dood en verheerliking) in 1889, Till Eulenspiegels lustige Streiche (Tyl Uilspieël se vrolike streke) in 1894/’95, Also sprach Zarathustra (So het Zarathustra gesê) in 1896, Don Quixote in 1897 en Ein Heldenleben (’n Held se lewe) in 1898. 3

Strauss het teen die einde van die 19de eeu meer op operas begin fokus, maar sy eerste twee pogings was nie suksesvol nie. Die operas Guntram (1894) en Feuersnot (1901) is as mislukkings beskryf. Hy het egter nie moed opgegee nie en het in 1905 sukses met die opera Salomé behaal. Die opera was so suksesvol dat Strauss ’n huis op die dorp Garmisch-Partenkirchen in Beiere, suidelike Duitsland, met die inkomste daarvan kon bou. 2

Sy volgende opera was Elektra en Strauss het saam met die digter Hugo von Hofmannsthal daaraan gewerk. Dit was die begin van ’n goeie werksverhouding en hulle het later ook saam aan ander projekte gewerk. Strausse se opera Der Rosenkavalier (Die ridder van die roos) in 1910 was ook ’n groot sukses en het een van sy gewildste operas geword. Strauss het tot in 1940 operas geskryf en was intussen ook ’n dirigent in Dresden en Berlyn, Duitsland, asook in Wene, Oostenryk. Hy was die mededirekteur van die Duitse Staatsopera (operahuis) toe die Nazi’s in Duitsland aan bewind gekom het. 2

Richard Strauss en Lothar Wallerstein

Die Nazi’s was Adolf Hitler se party wat die Tweede Wêreldoorlog aan die gang gesit het.

Daar bestaan vandag nog omstredenheid oor Strauss se verhouding met die Nazi’s. Party mense sê dat Strauss glad nie polities was nie en geensins saam met die Nazi’s gewerk het nie. Ander sê weer dat hy dan ten minste iets moes gedoen het om teen die party op te staan. Hoe dit ook al sy, die Duitse regering het Strauss in 1933, sonder sy instemming, as president van die staatsmusiekburo aangestel. Hy is egter later gedwing om te bedank omdat hy geweier het om ’n Joodse librettis, Stefan Zweig, se naam van die program te verwyder. Die opvoering, Die schweigsame Frau (Die swygsame vrou) is ná net vier optredes verbied. 3

Strauss se skoondogter, Alice, was Joods en dis moontlik dat hy haar en sy twee kleinseuns probeer beskerm het deur nie teen die regering op te staan nie. Hy het tydens die oorlog in Wene gewoon. Hy het in 1945 na Switserland gegaan en eers na Duitsland teruggekeer toe daar bevind is dat hy nie ’n Nazi was nie.

Hy het in sy laaste paar jaar twee meesterstukke gekomponeer. Dit was Metamorphosen (Metamorfose) en Vier letzte Lieder (Vier laaste liedere) vir sopraan en orkes. 3

Richard en Elisabeth Schumann

Persoonlike lewe

Richard Strauss het op 10 September 1885 met die sopraan Pauline Maria de Ahna getrou. Hulle was glo baie gelukkig en sy het as inspirasie vir baie van sy werke gedien. Pauline de Ahna was bekend daarvoor dat sy moeilik en eksentriek was, maar sy was glo die perfekte metgesel vir Strauss. Hul seun, Franz, is in 1897 gebore. Strauss het as gevolg van sy vrou se stem ook die sopraanstem bo al die ander stemme in sy musiek verkies.

Saam met sy familie in Berly, 1904

Strauss het op 8 September 1949 gesterf en sy vrou is slegs agt maande ná sy dood oorlede. 4

Woordbank

assistentdirigent Dirigente staan voor ’n orkes en lei die uitvoering. Die assistantdirigent staan die hoofdirigent by.
bedrewe Goed of vaardig.
concerto ’n Musiekstuk wat vir een instrument geskryf word, maar wat deur ’n orkes begelei word.
dirigent Die persoon wat voor ’n orkes staan en dit lei.
eksentriek Anders as dit wat gewoon is.
era ’n Tydperk.
filosofie Die studie oor die bestaan en kennis van die mens.
gekomponeer Musiek word geskryf/geskep.
Franse horing ’n Koperblaasinstrument.
komponis Iemand wat musiek skryf.
konstant Deurlopend.
konserwatief As ’n mens van ou gebruike hou.
librettis Die persoon wat die woorde/teks van ’n opera skryf.
omstredenheid Iets waar mense van mening verskil en waaroor daar gestry kan word.
operas ’n Drama waarvan die woorde gesing word en ’n orkes die begeleiding doen.
pianis Klavierspeler.
metamorfose ’n Groot verandering, transformasie; na iets heel anders verander.
minderwaardig Iets sien as nie van waarde nie.
musici   Musikante; meer as een mens wat musiek maak.
sopraan Die sangstem wat die hoogste van die sangstemme kan sing.
streke Kattekwaad.
styl Die manier van musiek maak.
swygsame Iemand wat nie baie praat nie.
talent As ’n mens ’n aanleg vir iets het, ’n gawe.
toondigte ʼn Eenbewegingswerk vir orkes waarin kontrasterende afdelings ’n poëtiese idee ontwikkel, ’n toneel voorstel of ’n stemming skep.
uitgejou Beledigings word uitgeroep.
welvarende Voorspoedig.
violis ’n Vioolspeler.

Lees hierdie artikels oor dié talentvolle komponis

Kyk hierdie video’s om oor Strauss se lewe en musiek

’n Kort biografie

Vind meer uit oor sy lewe

Luister hoe klink sy musiek (Feesmars; Don Juan; Romanse vir tjello en orkes; Romanse; Der Rosenkavalier; ’n Heldelewe)

In Strauss se Till Eulenspiegels lustige Streiche kan mens duidelik Uilspieël se “verspotte ondeundheid” hoor

2001: A Space Odyssey. Kyk na die lokprent van die futuristiese rolprent wat in 1968 gemaak is. Herken jy die musiek wat as klankbaan gebruik is?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 14 Augustus 2023 | Bygewerk op 30 November 2023