Vinnige feite
- Rocco de Villiers is een van die kunstenaars wat as jongmens deur Nico beïnvloed is toe Nico Harrismith besoek het vir ’n optrede toe Rocco as kind daar gewoon het. 12
- Hy het goue plate vir die volgende liedjies gekry: “Betowering”; “Fanagalo”; “Hasie”; “Jampot polka”; “Klokkie wals”; “Platrand seties”; “Riksja booi”; “Skokiaan”; “Wipneusie”; en “Zambesi”. 13
- Nico se seun, Klem, is steeds besig om die argief oor sy pa se musiek by te werk. Hierdie argief is in 2012 aan die Documentation Centre for Music (DOMUS) aan die Universiteit van Stellenbosch geskenk. 14
Nico Carstens was ’n geliefde Suid-Afrikaanse musikant, komponis, uitstekende trekklavierspeler, liefhebber van luukse motors, en die Suid-Afrikaanse kunstenaar wie se musiek ook in talle ander lande in die wêreld gespeel is.
Nico se persoonlike lewe
Nicolaas Cornelius Carstens is op 10 Februarie 1926 in Kaapstad gebore. 1
Toe hy 17 jaar oud was, was hy ’n kunsstudent wat by sy ouers in Bellville-Suid gewoon het. 2
Nico was ses keer getroud gewees, hoewel sommige bronne noem dat hy slegs vyf vroue gehad het. 3
Hy het vier kinders gehad. 4 Sy seun Klem Carstens is ook ’n musikant – hy speel kitaar en is ook ’n sanger. 5
’n Huishoudelike naam in Suid-Afrika
Sy loopbaan
Nico het dit reggekry om musiek te skryf wat oor kultuurgrense heen gewild was. Sy musiek het elemente van ’n verskeidenheid musiekgenres bevat, soos Kaapse Maleiermusiek, musiek uit swart woongebiede en ander inheemse klanke. Daarmee het hy ’n eiesoortige klank en styl in sy musiek geskep wat uiters gewild was in Suid-Afrika.
Ses maande nadat hy op die ouderdom van 13 begin het om die trekklavier te speel, het hy aan ’n kompetisie vir volwasse trekklavierspelers deelgeneem en dit gewen. Hy was 17 toe hy sy eerste musiek gekomponeer het. 3
Hy was 24 jaar oud toe hy sy eie orkes gestig het. Hy het uiteindelik meer as 2 000 liedjies geskryf en meer as 90 albums opgeneem. Van hierdie albums is daar altesaam meer as twee miljoen kopieë in Suid-Afrika verkoop. 1
Nico se musiek is in verskeie rolprente gebruik, onder meer in Kimberley Jim (1990), Kom saam vanaand (1963) en Hier’s ons weer (1949). 6
Hy het ook opnames gemaak saam met die groep Springbok Nude Girls – ’n groep wat vandag steeds musiek maak. 7
In ’n stadium het die hoof van die destydse Afrikaanse radio, Kosie Landman, vir Boet Pretorius (’n bekende persoon in musiekkringe) vertel dat Nico en Anton de Waal se musiek so gewild was, dat daar letterlik elke 10 minute een van hulle liedjies iewers op een van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) se stasies gespeel word. 8
Het Nico boeremusiek gespeel?
Tydens ’n onderhoud in 2001 het Nico gesê dat mense deur sy loopbaan dikwels gedink het dat hy boeremusiek speel, maar terwyl hy meer as 80 langspeelplate opgeneem het, is daar nooit na sy orkes as ’n boeremusiekorkes verwys nie, altyd slegs na “Nico Carstens en sy orkes”. Volgens Willem Viljoen, die seun van die bekende konsertinaspeler Ollie Viljoen en aanbieder van ’n boeremusiekprogram op RSG, het Nico heeltemal sy eie styl van musiek gespeel en kan ’n mens dit eintlik “Carstens-musiek” noem. 9
Omdat sy musiek so eiesoortig was, kon mense dit nie met een woord beskryf nie. Hy het in ’n stadium die woord “kwêla” in sy liedjies se titels begin gebruik, in plaas van woorde soos “polka” of “vastrap” – byvoorbeeld in “Kalahari kwêla” en “Carnival kwêla”. Volgens Nico het die musiek kenmerke van Latynse ritmes soos die samba en salsa gehad, en hy kon nie verduidelik waar die skeiding tussen ’n “vastrap” en ’n “kwêla” lê nie, daar was te veel verskillende kenmerke in die musiek wat hy geskryf het. 10
So gesels Nico oor sy musiek
Nico het ’n groot passie vir sy musiek gehad en het die volgende te sê gehad:
“Ek het maar net gedoen wat my passie was. Dat ander mense dit as ‘besonders’ ervaar het, is vir my ’n bonus.”
“Ek komponeer op ’n klavier en voer dan die komposisies op die trekklavier uit.”
“Miskien is dit omdat ’n mens hierdie instrument so teen jou hart speel wat dit so besonders maak. Ek komponeer steeds en hoop om aan te hou tot die dag dat ek my kop neerlê.” 11
Vir Nico was die grootste verandering wat die musiekbedryf ondergaan het, die tegniese ondersteuning wat musiek deesdae tydens opvoerings moet hê. Hy vertel so oor hoe hulle dinge in die 1950’s gedoen het. “Ons het geen klankversterking gebruik in die jare 50’s nie, en tog het sale van 500 of meer mense ons goed gehoor. Nou moet daar versterking in selfs kleiner teaters ingebring word. Ek dink die mensdom het doof geword …” 11
Internasionale roem
Nico se roem het hom oor die grense van Suid-Afrika bekend gemaak.
Behalwe vir al sy optredes dwarsdeur Suid-Afrika, het hy in ons buurlande soos Namibië, Mosambiek, Zimbabwe en Botswana opgetree. Hy het ook by die Nantes-fees in Frankryk en in Duitsland opgetree. 1
Sy heel bekendste lied is “Zambesi”, wat in Suid-Afrika gewild was en ook opgeneem is deur buitelandse kunstenaars soos onder andere Acker Bilk, Bert Kaempfert, Chet Atkins, Eddie Calvert, Floyd Cramer, James Last, Johnny Dankworth en The Shadows. Hierdie lied was in 1982 nommer 17 in die Verenigde Koninkryk toe The Piranhas dit daar opgeneem het. Van sy ander liedjies is ook deur buitelandse kunstenaars opgeneem, soos onder andere Horst Wende, Henri René en Geof Love. Daar was ook groepe in lande soos Australië, Italië en Pole wat sy musiek opgeneem het. 1
Staaltjies oor Nico
Boet Pretorius vertel dat hy die voorreg gehad het om vir twee jaar lank vir Nico Carstens se orkes kitaar te speel. Hy beskryf Nico as “’n absolute gentleman”.
Hy vertel van ’n joernalis van die Sunday Times wat jare gelede met Nico ’n onderhoud gevoer het toe Nico in ’n eenslaapkamerwoonplek in Bloemfontein gewoon het. Hy vra toe vir Nico hoe dit gekom het dat hy soveel musiek gemaak en verkoop het en vandag in ’n eenslaapkamerwoonplek woon. Toe antwoord Nico hom: “Het jy 15 of 16 Cadillacs in jou lewe gehad? Het jy ’n hele paar vrouens gehad? Het jy treffers gehad wat selfs in die buiteland bekend was?” Die joernalis sê toe natuurlik dat hy nie het nie. Toe sê Nico: “Wel, ek het dit alles gehad, so vir my maak dit nie meer saak waar ek vandag bly nie”.
Hy vertel ook dat Nico in ’n stadium met Vera Gibson getroud was en altyd wanneer hulle op ver plekke gaan speel het, het hulle vir Nico in Hillbrow ontmoet waar hy en Vera toe gewoon het. Hy dink hulle moes daardie keer in Frankfort in die Vrystaat gaan speel. Toe hulle begin het om die instrumente in te pak, kom hulle agter dat daar nie genoeg plek in die Cadillac is vir alles nie. Toe bel Nico die Cadillac-handelaar en vra hom om ’n groter Cadillac te stuur! Hy het dit gedoen, en die groep kon toe met die groter Cadillac ry en al hul toerusting inpas. 8
Nog ’n staaltjie oor Nico en Cadillacs word deur Schalk Joubert, baskitaarspeler, vertel. Volgens hom het Nico en ’n vriend op ’n dag ’n pap band gekry toe hulle by ’n dorp inry. Omdat nie Nico of sy vriend geweet het hoe om die wiel om te ruil nie, het Nico sommer ’n nuwe motor in die dorp gekoop! 9
Boet vertel van die dag toe hulle in Bloemhof gaan speel het. Nico het nooit drankies gedrink voor ’n optrede nie. Op hierdie dag was dit baie warm, en hy het wel saam met die ander lede van die groep ’n drankie bestel. Toe hy moet betaal vir sy drankie, het hy vir die kelner sommer ’n geldnoot gegee wat 15 keer meer geld was as wat die drankie gekos het, en hy wou nie kleingeld hê nie. Toe Boet hom daaroor uitvra, het hy net gesê dat hy nooit kleingeld aanvaar wanneer hy iets koop nie. 8
Hy was vreeslik lief vir motors. Op ’n dag het hy vir Boet gebel en gesê dat hy na sy nuwe Studebaker moet kom kyk. Hy het vir die oomblik geleef, en wanneer hy geld gehad het, het hy dit uitgegee op dinge soos motors omdat dit hom plesier verskaf het. 8
Anton de Waal en Nico het gewoonlik saam geskryf, en hulle het saam talle groot treffers geskryf. Anton het die volgende vertel oor hoe die lied “Hasie” ontstaan het. Anton het op ’n dag vir Nico gebel en vir hom gesê hy het lirieke geskryf, maar hy weet nie of hulle ’n wysie daarvoor sal kan skryf nie. Nico het toe sy trekklavier uitgehaal, en toe Anton ná ’n uur en ’n half terugkom, was die musiek klaar geskryf. Daar is derduisende kopieë van die lied verkoop. Al Debbo het dit gesing, en die lied het hom uiters bekend gemaak in Suid-Afrika. 8
Nico het die gawe gehad om die atmosfeer van ’n lied vas te vang in die melodie wat hy daarvoor geskryf het – hy het net die regte ritme in elke lied ingeskryf. 8
Huldeblyke aan Nico
Basie Burger wat vir lank saam met Nico gespeel het, het lof vir sy veelsydigheid en sy skeppende werk gehad, asook vir die verskeidenheid in sy musiek. Volgens hom was Nico ’n saggeaarde mens, maar altyd professioneel in sy werk. In al die tyd waarin hy saam met hom gewerk het, het hy hom nooit een noot verkeerd hoor speel nie.
Willem Viljoen, omroeper op RSG, het groot lof vir Nico as ’n kunstenaar. Volgens hom het Nico ’n aura rondom hom gehad. As hy by ’n vertrek ingestap het, het die mense dit gevoel. Hy het ook vertel hoe Nico al die ander trekklavierspelers in die land aangemoedig het.
Volgens die baskitaarspeler, Schalk Joubert, wat ook saam met Nico opgetree het, kan niemand Nico se skoene volstaan nie.
Nico se seun Klem het gesê dat sy pa, wat hy “Oubaas” genoem het, ’n vol lewe gehad het en dat sy dood vir hom ’n verlossing was. 9
Hy het ongelukkig die regte op sy musiek verkoop en het op 1 November 2016 as ’n persoon sonder inkomste in Kaapstad gesterf. 3
Woordbank
argief | Versameling dokumente van ’n liggaam, vereniging, organisasie, of in hierdie geval ’n private persoon. |
atmosfeer | Die gevoel of gees van die lied. |
aura | Die gevoel of atmosfeer wat mense kry wanneer hulle in hierdie persoon se geselskap is. |
eiesoortig | Met besondere aard of kenmerke. |
goue plate | Goue plate is uitgereik wanneer daar ’n sekere aantal albums verkoop is, dikwels meer as 20 000. |
kenmerke | Die eienskappe waaraan jy die musiek kan uitken. |
kwêla | Musiek met ’n lewendige ritme waarin daar dikwels ’n penniefluitjie gebruik word; ook soms kwela gespel. |
langspeelplate | Plat, ronde skyf van viniel met geluidsgroewe waarin klank, veral musiek, opgeneem is. So genoem omdat dit ’n lang speeltyd het, langer as dié van ’n kortspeelplaat wat gewoonlik slegs een liedjie per kant het. |
luukse | Weelderige of deftige. |
onderhoud | Gesprek met ’n persoon waarin iemand vir hom of haar vrae vra. |
polka | Vinnige dans (oorspronklik ’n Boheemse volksdans). |
regte | Die eienaarskap van jou musiek wat bepaal dat jy die inkomste daaruit kan kry wanneer ander mense dit gebruik. |
saggeaarde | Iemand wat vriendelik is, ander mense goed behandel en wat nie graag baklei nie. |
skoene volstaan | Iemand anders se plek neem en doen wat van jou verlang word, dikwels net so goed soos die voorganger. |
uitstekende | Baie goeie. |
vastrap | Soort dans. |
veelsydigheid | Iemand wat baie (verskillende) dinge goed kan doen. |
vir die oomblik geleef | Om die beste te maak van elke oomblik en dit te geniet. |
Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Nico Carstens
Huldeblyk aan Nico Carstens deur Boet Pretorius en Lochner de Kock
Luister hier na Nico Carstens se musiek
28 van Nico se bekende liedjies
Nico Carstens en sy orkes speel “’n Plan is ’n boerdery”
Nico Carstens en sy orkes speel sy beroemde “Zambesi”
Nico Carstens en sy orkes speel “Kuiken kwêla”
Nico Carstens en sy orkes
Nico Carstens en sy orkes speel “Stadig oor die klippe”
Nico se seun, Klem Carstens, speel saam met hom
Nico Carstens se “Klokkie wals”