Vinnige feite
- Drie dae nadat hy die teks van die toneelstuk Koning Lear (die Afrikaanse vertaling van Shakespeare) se oorspronklike teks gekry het, het hy al sy woorde geken. 3 Dis nogal ’n prestasie omdat Shakespeare se tekste moeilike werk is.
- Louis haal oom Breytie (P.P.B. Breytenbach) aan wat altyd gesê het die teater is ’n monster en as hy nie hou van jou werk nie, gaan hy jou insluk. 3
- In 2023 het hy ’n Kanna-toekenning vir sy bydrae as uitvoerende kunstenaar ontvang. 1
- Louis se seun Gert van Niekerk werk ook in die kunstewêreld en is bekend as regisseur van televisiereekse soos Egoli, Binnelanders, Isidingo en The Estate. Hy het in 2011 die regie gedoen van die toneelstuk Eendsonderend waarin sy pa ook gespeel het. 10
Louis van Niekerk was bekend as die akteur met die diep stem en hy het ewe diep spore in die teaterwêreld getrap – nie net op die verhoog nie, maar ook van die verhoog af.
Jong jare en gesin
Louis is op 27 Junie 1935 in Stellenbosch gebore. 1 Hy was twee jaar oud toe sy ma oorlede is en ongeveer drie of vier jaar oud toe sy pa oorlede is. Baie jare later het hy oor die radio gesels toe sy pa se suster sy stem herken het – sy stem het net soos sy pa s’n geklink!
Ná sy ouers se dood, het hy en sy broer Morris, vir wie hy baie lief was, vir ’n paar jaar in ’n kinderhuis in die Paarl gaan woon. Daarna is hulle na hul ouma se losieshuis waar daar baie mense gewoon en ook baie mense elke dag kom eet het. Sy was dus die heeltyd baie besig met al die werk en het nie soveel tyd gehad om aan die seuns te gee nie. Sy ma se suster, Hanna, het ook daar gewoon en sy het baie aandag aan die kinders gegee. 2
Louis dink nie sy ouma het regtig van hom gehou nie, hy sê dat hy ’n moeilike seuntjie was. Hy het van altyd af van mense gehou en hy dink dat die kinderhuis ’n rol daarin gespeel het omdat daar soveel maats daar was – hy was daarom gelukkig in die kinderhuis. 2
Hy het tydens sy skooljare van tyd tot tyd in opvoerings gespeel, maar het dit nie toe as ’n loopbaan oorweeg nie. Hy het gedurende skoolvakansies as stoker op die treine gewerk en wou daarom eintlik graag ’n treindrywer word. Later wou hy ook predikant word.
Direk ná skool het hy in Kaapstad by die landmetergeneraal begin werk waar sy ouma se broer ook gewerk het. Toe word sy oom Pretoria toe verplaas en Louis het besluit om ook na Pretoria te verhuis omdat hy gehoor het dat hy in Pretoria dramaopleiding nauurs kon kry. 2
Hy was getroud met Lettie Scheepers wat in 1983 oorlede is. Hulle het twee seuns gehad – Gert en Drikus. Drikus is in die polisiediens en Gert is ’n regisseur. 2
Waar alles begin het
Louis vertel hoe dit gebeur het dat hy die eerste keer op die verhoog beland het. Hy was 12 jaar oud toe Alida Gericke, ’n niggie van die aktrise Aletta Gericke by sy ouma geloseer het. Sy het ook toneel gespeel en daar was vir ’n toneelopvoering iemand nodig om die rol van ’n jong seun te vertolk. Hulle vra toe sy broer en hy wat Louis is, was so ongelukkig daaroor dat hulle toe maar besluit het dat die twee boeties die rol om die beurt kan vertolk. Hy en sy broer het vir twee weke aan die opvoering deelgeneem en dit is waar alles vir hom begin het. Hierdie stuk se naam was Ek onthou vir mamma. 3
Hy het van kleins af sommer sy eie gediggies opgemaak en vir almal wat wou luister, die gediggies voorgedra. Hy het in sy slaapkamer vir hom ’n soort preekstoel gemaak en dan daar gepreek! Hy was dus van jongs af lief daarvoor om op te tree en toneel te speel.
Louis was in standerd ses (vandag graad 8) toe sy stem gebreek het en die kinders het met hom gespot, want hy was die enigste seun in die klas met so ’n growwe stem. Maar toe sê een van die onderwysers vir hom dat hulle aan sy stem gaan werk en mooi dinge daarmee gaan doen. Hierdie onderwyser het hom van die gespot van die ander kinders gered. Later het daardie selfde sterk stem veroorsaak dat hy baie rolle gekry het.
Ná matriek het hy Pretoria toe gekom en by Albie Liebenberg se groep, Pretoriase Afrikaanse Toneelspelers (PAS), aangesluit. Hy het vir ’n jaar of twee vir hulle gespeel en toe ook by Volksteater en die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK) betrokke geraak. Hy het nie formele dramaopleiding gehad nie, hy moes alles van die begin af leer!
Sy moeilike kinderjare het ’n invloed gehad op die manier waarop hy karakters vertolk het. As kind was daar nooit iemand wat hom aangemoedig het met skoolwerk of sport of enigiets anders wat hy gedoen het nie. Hy het toe al geleer om self sy ding te doen en dit het hom later in sy lewe gehelp, veral met moeilike rolle.
Mense wat ’n belangrike rol gespeel het in sy loopbaan, was onder andere die regisseur Francois Swart en ook Anna Neethling-Pohl. Sy het vir hom soveel aanmoediging gegee, soveel warmte. Sy het ook vir hom baie kritiese en streng kommentaar gegee op sy toneelspel (in die teaterwêreld praat die kunstenaars van “notas gee”) maar hy het respek gehad daarvoor en ook vir haar omdat sy van die begin af in hom geglo het en hy geweet het dat sy werklik omgee. Sy was amper vir hom soos ’n moederfiguur. 3
Akteur en regisseur
Louis was vir dekades lank ’n baie bekende en hoog aangeskrewe akteur op die verhoog en ook op die televisie- en rolprentskerms.
Hy het in 1955 na Pretoria verhuis waar hy sy toneelloopbaan begin het. 1
Louis op die verhoog
Sy heel eerste rol as ’n professionele akteur was in die toneelstuk Die besoek van die ou dame. Sy eerste rol vir TRUK was in Bruidjie Dit en Bruidjie Dot in 1964.
Hy het in ’n aantal Afrikaanse vertalings van Shakespeare gespeel, soos Twaalfde nag, Koning Lear, Julius Caesar en Hamlet om net ’n paar te noem. 1
Louis het ook toneelstukke vertaal waarin hy self gespeel het. Twee daarvan was Death of a Salesman wat hy as Dood van ’n handelsreisiger vertaal het en The Duck Variations wat hy met die Afrikaanse titel Eendsonderend vertaal het. 1
Natuurlik het iemand wat so lank op die verhoog was, saam met ’n groot verskeidenheid ander akteurs gewerk. ’n Paar van die bekende akteurs saam met wie Louis gewerk het, was Wena Naudé, Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Cobus Rossouw, Carel Trichardt, Petru Wessels, Wilna Snyman, Elize Cawood, Yvonne Bryceland, Lida Botha, Eric Nobbs, Dulcie van den Bergh, Ben Kruger en sommer nog hope ander. 4
Hy het vir 35 jaar lank vir TRUK gewerk. 2
Op die skerm
Hy was nie net ʼn bekende verhoogakteur nie, maar het ook in talle rolprente en televisiereekse gespeel. Kyk bietjie hier na die lys van rolprente en reekse waarin hy sedert 1965 gespeel het:
Baie mense sal hom onthou vir die rol wat hy tot kort voor sy dood in die televisie-reeks Getroud met rugby vertolk het. Hierdie reeks was tot in 2022 te sien en is vir 14 jaar lank uitgesaai.
Nog ’n rol wat hom landwyd bekend gemaak het, was die rol van Mattewis in P.G. du Plessis se uiters gewilde televisiereeks Mattewis en Meraai waarin Annette Engelbrecht die rol van Meraai vertolk het.
Louis doen regie
Hy was deur die jare die regisseur van ’n groot aantal toneelstukke. ’n Paar daarvan was Kanna hy kô hystoe, Die reënmaker, Die dagboek van Anne Frank, Die koopman van Venesië, Vereeniging, Vereeniging en Brief van die harlekyn. Klik op hierdie titels om meer oor hierdie toneelstukke te lees. 1
Waarin hy alles belanggestel het
Louis was versot op boeke, hy het baie gehou van kunsmusiek, hy het CD’s versamel en het nie sommer ’n simfoniekonsert misgeloop nie. Hy het altyd probeer om te gaan kyk wanneer sy medeakteurs opgetree het – jong akteurs en ook ouer akteurs. Hy het ook gereeld kunstefeeste bygewoon en daar na opvoerings gaan kyk.
Toe hy ouer was, het hy by die sepie Egoli gehelp om onervare jong akteurs te help.
Louis het gehou van rolprente. Hy was ook ’n groot sportliefhebber en wanneer hy op TV na sport gekyk het, het hy sommer maklik aan die raas gegaan wanneer sy span dinge aangevang het wat vir hom na dom spel gelyk het. Hy het ’n ondeunde humorsin gehad.
Hy het lank voor sy dood reeds drama onder bruin gemeenskappe bevorder. 5
Louis het van homself gesê dat hy ’n emosionele lafaard was. Alles wat mens in die koerante lees en in die nuus hoor, het hom geraak. Hy het ook vertel dat toe hy Koning Lear gespeel het, dit hom so geraak het dat hy tydens die repetisies erg gehuil het. Hy het soveel gehuil, dat die regisseur vir hom gesê het: “Mnr. van Niekerk, konings huil nie!”
Hy het ook oor homself gesê dat ouderdom mens gelukkig keer om nie meer so vinnig verontwaardig te raak nie. 6
Teaterbystandsfonds (TBF)
Die TBF is in 1964 gestig. Dit is die kunstebedryf se enigste hulpfonds en dit is heeltemal gratis om daaraan te behoort. Die TBF sorg vir ’n hele aantal ouer kunstenaars wat nie familie het om vir hulle te sorg nie deur vir hulle ’n maandelikse bedrag geld te gee. Die TBF help nie net senior mense nie, maar ook ander kunstenaars wat miskien groot mediese uitgawes het wanneer hulle ernstige siektes soos kanker kry.
Hier moet mens darem net noem dat baie kunstenaars nie genoeg geld verdien om aan ’n mediese fonds te behoort nie.
Dis ook nie net kunstenaars wat gehelp word nie, maar enige persoon wat in die kunstebedryf werk of gewerk het – soos byvoorbeeld ook mense wat agter die skerms werk, soos klanktegnici en mense wat die beligting doen.
Die TBF ontvang geen geld vanaf die regering nie – om die waarheid te sê, die organisasie het nog nooit geld vanaf enige regering ontvang sedert die stigting daarvan nie. Die geld word alles gekry uit skenkings of uit geldinsamelings en soms skenk mense selfs in hul testament geld vir dié organisasie. 7
Toe Eghard van der Hoven oorlede is, het Louis die voorsitter van die TBF geword.
Hy het akteurs gekritiseer wat nie hul eie finansies reg hanteer het nie en dan later, wanneer hulle ouer was, swaar gekry het as gevolg daarvan. Maar hy het ook akteurs gehelp omdat hy geweet het dat akteurs en ander kunstenaars afgeskeep word met betaling vir werk. 5
Louis oor sy medeakteurs
Louis en Wilna was groot vriende, hulle het ontmoet toe hulle in Oom Wanja gespeel het en hy praat met groot lof van haar speeltalent en ook van haar as mens.
Marius en hy was boesemvriende en hulle is saam deur baie dinge en ook moeilike tye. Volgens hom is Marius, net soos Wilna, onkreukbaar en is daar niemand in hierdie land wat so hard soos Marius aan ’n rol werk nie. Gedurende ’n speelvak sou hy in die aande ná afloop van die opvoering verder gaan werk en nie saam met die ander spelers gaan kuier nie.
Natuurlik was daar ook dikwels komiese oomblikke op die verhoog. In 1981 met die opening van Twaalfde nag in die nuwe Staatsteater in Pretoria, het hy nie sy woorde geken nie en soms moes Sandra Prinsloo vir hom sy woorde voorsê terwyl hulle as deel van die stuk op ’n beervel op die verhoog gelê het. Hulle het in hierdie tyd baie hard gewerk, dikwels tot 18 ure per dag. Hy en Sandra het ook ’n lang pad saamgestap. 2
Hulde van kollegas
In sy huldeblyk aan Louis het Barry Snow, voorsitter van die TBF, vertel hoeveel Louis omgegee het vir mense in die kunstebedryf wat swaar gekry het en hoe hy tot kort voor sy dood nog name van mense wat hulp nodig gehad het, aan die TBF deurgegee het. 8
Sean Aucamp-van Noordwyk is een van die jong spelers wat hulde gebring het aan Louis en vertel het hoe hy hom aangemoedig en geïnspireer het. Hy vertel dat Louis die eerste persoon op die stel van Getroud met rugby was wat hom onder sy vlerk geneem en gehelp het. 9
Hanna Grobler het vertel hoeveel sy by Louis geleer het op die stel van Getroud met rugby en hom “haar pa op die skerm” genoem het. 10
Tydens ’n roosplantseremonie ter ere van Louis in 2018 by Foxwood House in Johannesburg het Louis se seun, Gert, hulde gebring aan sy pa omdat hy hom as ’n mensemens grootgemaak het. 2
Louis is op 7 Februarie 2023 in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg oorlede. 1
Woordbank
aangemoedig | Om iemand/mense moed in te praat sodat hulle moeilike take kan regkry. |
diep spore | Om iets so te doen dat mense jou onthou. |
beligting | Konsertbeligting se mees basiese funksie is om die kunstenaars op die verhoog te verlig, maar veral om die stemming vir die hele opvoering te skep. |
dekades | Een dekade is ʼn tydvak van tien jaar. |
diep stem | Harde basstem. |
hoog aangeskrewe | Iemand vir wie mense baie respek het. |
hulde | Iets moois/positiefs van iemand sê; lof toeswaai. |
landmetergeneraal | ʼn Amptenaar wat toesig hou oor die werk van landmeters en die register van onroerende goed in ʼn bepaalde gebied. |
loopbaan | Die werk wat ʼn mens doen, byvoorbeeld Hy het sy loopbaan begin deur by ʼn koerant te werk. |
klanktegnici | Die mense verantwoordelik vir die opstel en funksionering van die klankstelsel. Hulle werk met mikrofone, luidsprekers, mengers, verwerkers, kabels en ander klanktoerusting om te verseker dat die klank gebalanseerd, duidelik en konsekwent is. Ook bekend as klankingenieurs. |
losieshuis | ʼn Privaat huis waar jy teen betaling kan slaap en eet. |
nauurs | As jy iets nauurs doen, doen jy dit buite normale besigheidsure of die tyd wanneer jy gewoonlik by die werk is of studeer; nauurs is gewoonlik in die aand. |
ondeunde | Vol streke, grapperig. |
onkreukbaar | Eerlik, betroubaar, opreg. |
opvoerings | Konserte. |
onder sy vlerk geneem | Vir iemand raad gee oor hoe om sy werk te doen. |
onervare | Iemand wat nog nie kans gehad het om genoeg kennis en vaardighede op te doen t.o.v. ʼn spesifieke taak of werk nie. |
regisseur | Iemand wat toneelspelers afrig. |
sepie | Gewilde televisiedrama wat gereeld uitgesaai word, dikwels daagliks, en vir ’n lang tydperk aanhou. |
simfonieorkes | ’n Groot orkes wat uit blaas-, stryk-, koper- en slaginstrumente saamgestel is en georganiseer is om klassieke musiek uit te voer. |
speelvak | Die aantal opvoerings van ’n toneelstuk direk ná mekaar. |
stem gebreek | Wanneer ’n seun se stem (in sy tienerjare) na dié van ’n man sʼn verander. |
stoker | Die persoon wat kole in ’n lokomotief se oond gooi sodat die trein krag het om te beweeg. |
verontwaardig | Om ergerlik en ontevrede te wees; vies. |
versot op | Baie van iets hou. |
Lees hier
Kyk hier
Louis se Facebookblad met onder andere foto’s van hom en vriende.
Interessante onderhoud met Louis deur Sandra Prinsloo waarin ’n mens hom as mens leer ken
Tussen 31:53 en 34:30 kan jy Louis saam met Lida Botha en Wilna Snyman op die verhoog sien in die toneelstuk Son. Maan. Sterre
Tussen 40:00 en 42:21 is daar ’n uittreksel uit Getroud met rugby.
Onderhoud met Johan Myburg waar Louis ook teenwoordig was (2022).