Vinnige feite

  • Louis het as kind baie byname gehad, wat almal na die grootte van sy mond verwys het: “Gatemouth”, “Dippermouth” en “Satchelmouth”. Tydens ’n besoek aan Groot-Brittanje het Louis ’n ontmoeting gehad met Percy Brooks, die redakteur van die tydskrif Melody Maker. Brooks het hom gegroet deur te sê: “Hallo, Satchmo!” (Hy het “Satchelmouth” per ongeluk as “Satchmo” uitgespreek.) Louis was mal oor die nuwe naam en het dit self as sy bynaam gebruik. 10
  • Die legende is dat Armstrong ’n bladsy van sy bladmusiek laat val het terwyl hy besig was om een van sy liedjies op te neem. Hy het sy bes gedoen om nie die musiek te onderbreek nie en het met scat geïmproviseer – sang waar die sanger met sy stem ’n musiekinstrument namaak. Op hierdie manier het hy “per ongeluk” ’n nuwe styl van jazz-vokalisering geskep, wat onmiddellik ’n sensasie geword het en ontelbare sangers geïnspireer het om ook so te sing! 6
  • “What a Wonderful World” is aanvanklik nie vreeslik in die VSA bemark nie, en dit was nie dadelik daar gewild nie. Die liedjie het egter ’n nommer 1-treffer dwarsoor die wêreld geword, ook in Engeland en Suid-Afrika. Dit het eers ná Armstrong se dood ’n Amerikaanse klassieke treffer geword toe dit in die 1986 Robin Williams-rolprent Good Morning, Vietnam gebruik is. 3
  • Sy 1964-treffer “Hallo, Dolly!” het die Beatles tydens die hoogtepunt van Beatlemania op die pop-trefferlyste geklop. Louis Armstrong was baie lank die oudste kunstenaar (op 63 jaar) wat ’n nr. 1-treffer gehad het. 5
Foto: iStock

Louis “Satchmo” Armstrong (1901-1971) was ’n sanger, trompetspeler, akteur, vermaaklikheidster en openbare figuur. 1 Met internasionale treffers soos “What a Wonderful World” en “Hello, Dolly!” het hy jazz as ’n nuwe styl in Amerikaanse populêre musiek gevestig en een van die invloedrykste kunstenaars in die geskiedenis van jazz geword. 2

Vroeë lewe

Louis Daniel Armstrong is op 4 Augustus 1901 in New Orleans in die Verenigde State van Amerika (VSA) gebore. Die woonbuurt waarin sy ouers gewoon het, was só arm en onveilig dat dit die bynaam “The Battlefield” (Die slagveld) gekry het. 3

Sy kinderjare was nie maklik nie. Louis se pa het in ’n terpentynfabriek gewerk, maar sy ouers het nie oor die weg gekom het, en Willie Armstrong het Louis se ma, Maryann, verlaat kort nadat sy geboorte gegee het aan ’n tweede baba. Maryann se gesondheid was nie goed ná die geboorte van haar tweede kind nie, en sy moes ook werk. Louis en sy babasussie Beatrice het vir die volgende vyf jaar by hul ouma ingetrek. Ouma Josephine het ’n groot rol gespeel om vir Louis ’n liefdevolle, warm huis te skep waar daar ook reëls was. 4

In graad vyf moes Louis uit die skool gaan om werk te soek. ’n Joodse gesin in New Orleans, die Karnofskys, het die jong Armstrong ’n werk gegee – hy moes rommel optel en steenkool by hul huis aflewer. Hulle het hom dikwels vir etes by hul huis genooi en agtergekom dat hy baie musiektalent het. Hulle het hom aangemoedig om te sing en die musiektalent te ontwikkel. 3 Met die geld wat hy by hierdie gesin verdien het, het hy sy heel eerste kornet – ’n musiekinstrument wat baie soos ’n trompet lyk – gekoop. 5

Toetrede tot die musiekwêreld

Op Oujaarsaand in 1912, toe Armstrong 11 jaar oud was, het hy tydens ’n feesviering sy stiefpa se pistool in die lug afgevuur, en hy is dadelik in hegtenis geneem. Hy is na die Coloured Waif’s Home for Boys, ʼn verbeteringskool, gestuur en dit was die keerpunt in sy lewe. 3 Daar, onder leiding van Peter Davis, het hy geleer hoe om die kornet behoorlik te speel, en hy het uiteindelik die leier van die Waif’s Home Brass Band geword. Toe hy die verbeteringskool in 1914 verlaat het, was sy droom om ’n loopbaan in die musiekwêreld te volg. 5

Deur sy tienerjare het Armstrong musiek gespeel wanneer hy kon. Sy held was die kornetspeler en orkesleier Joe Oliver, wat in Kid Ory se orkes gespeel het. Dit was die gewildste orkes in New Orleans. Armstrong het in Oliver se huis gaan werk en Ory se vrou met takies gehelp. In ruil daarvoor het Joe vir hom musieklesse gegee wanneer daar tyd was. Toe Joe Oliver ’n werk in Chicago gekry het, het hy aanbeveel dat “Little Louis” sy plek in die orkes kry. Dit was Armstrong se groot kans. 4

In die somer van 1922 het Oliver Louis Armstrong genooi om by sy Creole Jazz Band in Chicago aan te sluit. Armstrong was dadelik ’n groot gunsteling as gevolg van sy skitterende spel. Op 5 April 1923 het hy sy eerste opnames saam met Oliver gemaak en sy eerste solo-opname met “Chimes Blues” gemaak. 3 In 1925 het hy vir die eerste keer ’n hele plaat as ’n solo-kunstenaar opgeneem. 5

Invloedryke solo-kunstenaar

Satchmo se unieke styl was die begin van ’n fundamentele verandering in jazz – die fokus het verskuif van musikale improvisasie in ’n orkes na solo-uitvoering. Die plate wat hy saam met sy orkes, die Hot Five (later Hot Seven), gemaak het, is die invloedrykste opnames in jazz. ’n Opname in 1926 van “Heebie Jeebies” is na bewering die eerste voorbeeld van scat in die jazzgeskiedenis. Wat is scat-sang? Dit is geïmproviseerde jazzsang, wat gewoonlik onsinnige lettergrepe behels wat lirieke vervang en die klank van ’n instrument naboots. 6

Teen die einde van die dekade was die Hot Sevens so gewild dat hy New York toe is, waar hy in die gewilde Broadway-revue Hot Chocolates verskyn het. Hy het toere onderneem om dwarsoor die VSA op te tree, wat eers met sy dood in 1971 ten einde geloop het. 5

Louis Armstrong het ’n hele rits populêre treffers gehad, en het gereeld oorsee getoer, waar sy bynaam “Ambassador Satch” was. 5 In die VSA was sy styl so gewild dat tromboon– en trompetspelers hom begin navolg het, en hy is vandag nog vir baie opkomende jazzkunstenaars die hoogste standaard om na te streef. 1

Saam met die orkesleier Jack Madden.

Grootste treffers

Hier is ’n lysie van sommige van sy heel grootste treffers (klik op die naam as jy daarna wil luister):

Rolprente

Louis Armstrong was ’n begaafde akteur en hy het in meer as twintig rolprente verskyn. Ongelukkig was Armstrong en ander swart musikante weens rassisme in die rolprentbedryf dikwels beperk tot looprolle (verskyn op die skerm, voer ’n musieknommer uit, verlaat skerm). Ironies genoeg word baie van hierdie rolprente vandag hoofsaaklik onthou vir Armstrong se deelname aan die storie. 7

Van die bekendste rolprente waarin hy opgetree het, is:

  • Hello, Dolly! (met Barbra Streisand);
  • High Society (met Bing Crosby, Grace Kelly en Frank Sinatra);
  • The Glenn Miller Story (met James Steward en June Allyson);
  • Pennies from Heaven (met Bing Crosby); en
  • Satchmo the Great (’n rolprent oor sy eie loopbaan).

Burgerregteaktivis

Armstrong was ’n invloedryke musikant in ’n tyd waarin swart Amerikaners oor hul gebrek aan burgerlike vryhede in opstand gekom het – die tydperk waarna ons as die Civil Rights Movement (Burgerregtebeweging) verwys. In die 1950’s is Armstrong soms gekritiseer vir sy aangename persona op die verhoog, en sommige mense het hom ’n “Uncle Tom” genoem. Dit is die naam van ’n swart karakter uit ’n roman deur Harriet Beecher Stowe, Uncle Tom’s Cabin, en die term word gebruik om te verwys na ’n swart persoon wat té onderdanig is aan wit gesag. 8

In September 1957 het Armstrong egter sy loopbaan op die spel geplaas deur die onreg wat in Little Rock, Arkansas, plaasgevind het, te kritiseer. Die deelstaat se goewerneur, Orval Faubus, het die Arkansas National Guard ingestuur om nege swart Amerikaanse skoolkinders te verhoed om die Central High School by te woon. Armstrong het hom in ’n onderhoud met die verslaggewer Larry Lubenow baie skerp teen die regering en die staat se optrede uitgespreek.

Enkele dae later het pres. Dwight Eisenhower die 101st Airborne Division na Little Rock gestuur om seker te maak dat die kinders veilig en ongehinderd na die skool toe kon gaan. Baie mense het geglo dat Armstrong se woorde Eisenhower aangespoor het om daadwerklik op te tree. Armstrong se dapper houding het opslae gemaak en baie koerante het daaroor berig. Hy het die koerantberigte uitgeknip en in een van sy plakboeke bewaar. 9

Dood en nalatenskap

Louis “Satchmo” Armstrong is op 6 Julie 1971 in sy huis in die Queens-distrik van New York in sy slaap oorlede, ’n maand voor sy 70ste verjaardag.

Hy was soveel meer as net ’n talentvolle trompetspeler. Hy was ’n orkesleier, sanger, solis, rolprentster en komediant. Een van sy merkwaardigste prestasies was dat hy met sy aangename persoonlikheid en aansteeklike humor jazz onder alle mense gewild gemaak het.

Sy grootste impak was egter op die evolusie van jazz self, wat aan die begin van sy loopbaan as ’n nuwigheid en ’n bietjie van ’n musikale foefie beskou is. Met sy groot sensitiwiteit, tegniek en vermoë om emosie uit te druk, het Armstrong nie net die voortbestaan ​​van jazz verseker nie, maar ook die kunsvorm self ontwikkel en gevestig as ’n hoofstroom-kunsvorm. 1

Woordbank

begaafde Hoogs talentvolle.
berig Oor iets/iemand/gebeurtenis skryf; bekend maak.
daadwerklik Beslissend; waar dade by woorde gevoeg word.
evolusie Die ontstaan van plant- en diersoorte uit ouer vorme; wording, ontstaansgeskiedenis.
foefie ’n Nuwigheid wat mense se aandag doelbewus probeer trek, maar wat nie genoeg diepte het om lank te hou nie.
fundamentele Grondige; basiese.
geanimeerde Tekenrolprent.
impak Uitwerking.
improvisasie Optrede in kuns, soos in musiek of ’n toneelstuk, waar die kunstenaar nie die kunsvorm vanaf ’n vooraf geskrewe teks uitvoer nie, maar daar op die verhoog voor ’n gehoor nuwe kuns skep.
invloedrykste Wat groot invloed het/uitoefen.
keerpunt Punt waarop alles amper heeltemal verander.
kornet ’n Musiekinstrument wat baie soos ’n trompet lyk, maar wat korter is en ’n meer melodieuse klank maak.
looprolle Rolle in rolprente waar die kunstenaar op die skerm verskyn, ’n musieknommer uitvoer en dan weer verdwyn.
ongehinderd Sonder om gepla te word.
op die spel geplaas In gevaar gestel.
openbare figuur ’n Bekende persoon oor wie gereeld in koerante en tydskrifte geskryf word of dikwels op televisie of die radio is.
opslae gemaak Baie aandag getrek, veral in die media.
persona Die deel van ’n persoon, veral ’n invloedryke persoon, se menswees wat vir die buitewêreld gewys word.
rassisme Veronderstelling/oortuiging dat karakter en bekwaamheid bepaal word deur ras/velkleur; dat ’n besondere ras/bevolkingsgroep meerderwaardig is en die reg het om ander rasse/groepe te oorheers.
roman ’n Lang prosaverhaal met karakteruitbeelding en omgewingsbeskrywing.
scat ’n Vorm van sang waar die sanger lettergrepe sonder enige betekenis sing en daarmee ’n musiekinstrument naboots.
slagveld Gevegsterrein; daar waar oorlog gevoer word.
solo-opname Musiek van ’n enkelkunstenaar wat opgeneem word sodat dit vir die media en die publiek beskikbaar word.
tromboon ʼn Groot metaalinstrument waarop jy speel deur daarin te blaas terwyl jy ’n lang buis instoot en uittrek om die note te verander.
vermaaklikheidster ʼn Vermaakkunstenaar wat baie bekend en gewild is.
vokalisering Om stem by iets te voeg.
warm huis ʼn Huis vol liefde, vastigheid en veiligheid.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Geanimeerde video oor Louis Armstrong

Die geskiedenis van jazz

Dié “jazz-ekspert” is maar net 9 jaar oud! Luister na hom op The Voice Kids

Wat is scat-sang?

ʼn Prettige musiekles oor Louis Armstrong

“What A Wonderful World” – oorspronklike opname en inleiding

Uittreksel uit die rolprent Pennies from Heaven

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 23 Februarie 2024 | Bygewerk op 29 Februarie 2024