Vinnige feite

  • Met die bekendstelling van Seun van die wildtemmer in die Airport Star-inryteater, het Lieb in ’n klein sportmotor gery. Toe die mense gedurende die pouse hoor dat Lieb ook by die inry is, was hulle so opgewonde dat hulle bo-op sy motor geklim het … en dit vol duike gemaak! 2
  • Toe Lieb in Die ryk weduwee opgetree het, moes die karakter wat hy gespeel het, oud lyk, en Lieb was toe maar net 20 jaar oud. Toe gooi hulle regte silwer verf op sy kop uit om hom oud te laat lyk – dit het hom ses weke geneem om al die verf weer af te was! Mens moet onthou dat daar in daardie jare nog nie mense soos grimeerkunstenaars was wat akteurs kon grimeer om byvoorbeeld ouer te lyk nie. 2
  • Nadat Villa Rosa geëindig het, het Lieb nie meer inkomste gehad nie en hy het toe by sy broer Nico in Heidelberg gaan woon. Toe Nico oorlede is, het Lieb se broer André gesê dat hy by hul gesin in Pretoria moet kom bly. Hy het tot en met sy dood by hulle gebly. 2

Dit gebeur nie sommer dat ’n persoon vier verskillende beroepe beoefen nie – maar dit is wat Lieb gedoen het: Hy was akteur, musikant, onderwyser én hy het ’n loopbaan in die weermag gevolg. Dan het hy nog gesing ook. Boonop was daar tye waarin hy sommer drie van hierdie werke gelyktydig gedoen het!

Lieb Bester en André Bester by Pierneefteater

Lieb se jong jare en sy gesin

Lieb is op 15 April 1949 in Brakpan gebore en sy volle naam is Gottlieb Rudolph Christiaan Bester. 1

Sy pa het op die spoorweë gewerk en sy ma was ’n huisvrou. Sy twee broers se name is Nico en André en hul sussie is oorlede toe sy net bietjie meer as ’n jaar oud was. Lieb is die oudste van die kinders. Nadat hul pa oorlede is toe hy 55 jaar oud was, het Lieb vir André soos ’n pa geword – Lieb was toe 23 en André 11. 2

Hy het in 1967 sy matriek aan die Hoërskool Stoffberg in Brakpan geskryf. Ná skool het hy nege maande verpligte militêre diensplig in Walvisbaai gedoen. 3

Lieb vertel dat hy drie keer getroud was. Hy het drie dogters en een seun gehad: Gottlieb, Erika, Nicole en Suné. 2

In 2002 het die grootste tragedie van sy lewe vir Lieb getref. Sy twee jong dogters is deur hul stiefpa geskiet en een, Suné, is dood terwyl die ander dogter, Nicole, ernstig gewond is. Die stiefpa het ook die dogters se ma, Hanlie, wat voorheen met Lieb getroud was, sy eie dogter en homself geskiet. Nicole het gelukkig oorleef. 4

Lieb Bester speel klavier op sy broer André se cd ‘Ou, ou tyding’

Lieb op die verhoog

Lieb het nooit formele dramaopleiding gehad nie, hy het maar net ’n natuurlike aanvoeling vir toneelspeel gehad.

Sy debuut was in 1969 in die verhoogstuk, Die ryk weduwee. 2

Van hier af was daar nie keer aan hom nie en hy het vir jare aaneen in veral rolprente en later op televisie verskyn.

Hy het baie geleer by die ouer akteurs, mense soos Pieter Hauptfleisch, Danie Smuts, Dana Niehaus en Wena Naudé. Een van die dinge wat hy by hulle almal geleer het, is nederigheid. Pieter Hauptfleisch het op die stel van Seun van die Wildtemmer vir hom gesê: “Hierdie film gaan klaarmaak en jy gaan bekend wees, met duisende mense wat jou ken, maar jy gaan alleen voel.” Dit het hy altyd onthou. 2

Per ongeluk in die rolprentwêreld

Lieb het eintlik toevallig in die rolprentwêreld beland. Hy het in 1969 net een aand vir ’n rol gaan lees, toe is daar ’n rolprentregisseur in die gehoor en hy nooi Lieb toe vir ’n oudisie by Kavalier Films. Drie jaar daarna, in 1973, het hy in sy eerste rolprent opgetree, Seun van die wildtemmer. 2

Tot en met 1976 het Lieb in nog 10 rolprente opgetree – en dit in net drie jaar! 3

Hier is net ’n paar van die ander rolprente waarin hy gespeel het.

Kyk bietjie hoeveel keer hy sommer twee of selfs drie rolprente in een jaar gemaak het:

1974 – Ses soldate (1974), Skadu’s van gister
1975 – Jakkalsdraai se mense, Mirage Eskader
1976 – Die rebel, Liefste Madelein
1990 – Agter elke man
1996 – Panic Mechanic
1999 – Joburg Blues

2002 – Een Skoenlapper
2003 – Stander
2011 – Winnie Mandela
2019 – My gelykenis. 5

Sy televisie-tyd

Toe televisie-uitsendings in Suid-Afrika begin het, het Lieb in TV-reekse begin optree. Van hierdie reekse was Opdrag, TJ 7, Phoenix en Kie, Paradys, Soldier Soldier, Binnelanders asook die drama Dis koud hier. Hy het ook oorklankings uit Engels na Afrikaans gedoen. 3

Nog van sy TV-rolle was onder meer in Sterk skemer, Fluiters, Jackpot, Justice for all, Paradys, Die avonture van Joachim Verwey, Grondbaronne en Sleurstroom. 6

Nadat hy in 1978 by die weermag aangesluit het, het hy steeds so nou en dan in rolprente en TV-reekse gespeel. Vanaf 2004 tot 2015 het hy die rol van professor Fritz Retief in die TV-reeks Villa Rosa gespeel. Daar was nie minder nie as 2 262 episodes van Villa Rosa! 3

Toe Villa Rosa beëindig is, was dit vir hom en al die akteurs ’n baie slegte tyd. Dit was soos ’n familie wat ’n lang pad saamgeloop het, en toe hou dit net op. Hy praat in ’n onderhoud van onder andere Elize Cawood wat vir die eerste paar jaar saam met hom in die reeks gespeel het, en toe sy nie meer deel van die reeks was nie, was dit vir hom baie moeilik. Behalwe dat mens al die mense met wie jy vir 11 jaar saamgewerk het, moet groet, is jy ook skielik sonder die vaste salaris wat die reeks betaal het. 2

Lieb het nie net toneelgespeel nie, hy het bietjie redigering vir RSG gedoen en hy het ook betrokke geraak by die kykNET-program Met ’n huppel in die stap. Dit was vir hom heerlike werk en hy het daardeur die wonderlikste mense ontmoet. 2

Lieb Bester saam met sy broer André

Musiek was sy groot liefde

As jongmens het Lieb nooit in toneelspel belanggestel nie, musiek was altyd sy groot liefde. Hy vertel dat hy in die 1960’s beïnvloed is deur die musiek van kunstenaars soos Duffy Ravenscroft, Floyd Cramer, Russ Conway en Sergio Zampolli, om maar net ’n paar te noem. Die opname van Met ’n Lieb in jou hart waarop hy sy twee gunstelinginstrumente kon speel – klavier en trekklavier – was vir hom ’n droom wat waar geword het. 7

Lieb het nie minder nie as ses verskillende musiekinstrumente speel: klavier, orrel, konsertina, trekklavier, kitaar en mondfluitjie! Hy het op skool reeds in die skool se boeremusiekorkes gespeel. 2

Hy was vir ’n hele paar jaar lid van die musiekgroep Take 3 saam met Jan Coetzer en Deon Heyneke.

CD’s waarop Lieb gespeel het, is die volgende: Ou Kraalliedjies (2008), Met ’n Lieb in jou hart (2009), Tranquilla (2011), Herinneringe (2019) asook Skoffel tot dagbreek I en II en Fantasia. 5

Lieb het soms op sy eie opgetree en hy en sy broer André was ook dikwels saam op die verhoog. Wanneer hulle twee konsert gehou het, het André meesal gesing en kitaar gespeel en Lieb het gesorg vir al die ander instrumente.

Soldaat en onderwyser

In 1978 het Lieb die toneelwêreld tydelik verlaat en by die weermag se Staande Mag aangesluit. Hy het hier diens gedoen tot in 2001 en het met die rang van kolonel uitgetree.

Terwyl hy in die weermag was, het hy in 1996 sy BA-graad aan die Universiteit van Pretoria met lof geslaag en daarna vir leerders aan die Summerfield Primary School van graad 5 tot graad 7 Afrikaans as vak gegee. 3

In 2003 het hy weer vir ’n kwartaal lank by die Laerskool Rooihuiskraal skoolgehou. Dit was ook die skool waar sy dogter, Nicole, toe skoolgegaan het. 8

Lieb se kollegas vertel oor hom

Elma Potgieter wat saam met Lieb in Villa Rosa gespeel het, vertel hoe gerusstellend dit was om hom op die stel te hê. Sy sal hom altyd vir sy professionaliteit en vriendelikheid onthou.

Therese Bam-Benadé wat ook saam met hom in Villa Rosa gespeel het, vertel hoe hy omgegee het vir die mense wat saam met hom gewerk het. Sy het by hom geleer hoe om nederig te wees en sy vertel hoe hy altyd geduldig was met sy aanhangers. Hy kon volgens haar ook lekker ondeund wees.

Riaan Cruywagen wat vir Lieb jare gelede by die SAUK ontmoet het en later saam met hom gewerk het met die program Met ’n huppel in die stap, vertel van Lieb se sjarme, sy innemende glimlag en hoe hy tevrede en dankbaar was met sy lewe. Hy was ’n rustige onderhoudvoerder wat sy gaste op hulle gemak laat voel het. 9

Steve Hofmeyr het vir Lieb in sy kinderjare as ’n held beskou en sy droom het waar geword toe hy later in Agter elke man saam met Lieb kon optree. Volgens Steve was Lieb “’n groot legende en sy hart was reg”. 10

Tydens ‘n optrede by Pierneefteater

Ons leer Lieb deur sy eie woorde ken

As kind het Lieb daarvan gedroom om predikant te word, maar sy matriekpunte was nie goed genoeg sodat hy universiteit toe kon gaan nie. Naby die einde van sy lewe het hy steeds gedink dat dit ’n groot lewensvreugde vir hom sou wees as hy wel ’n predikant kon word, omdat hy baie sterk voel oor die evangelie. Sy lewe was gebaseer op geloof en hy het gevoel dat hy iets het om te deel met mense, maar hy het ook gevoel dat hy dit darem in sy beroep ook kon doen. 2

Terwyl Lieb in 1968 met sy diensplig in Walvisbaai besig was, was hulle een aand in die woestyn besig met ’n militêre maneuver. Toe hy so tussen die duine lê en opkyk na die sterrehemel, besef hy die eerste keer die grootheid van God en die nietigheid van die mens. 2

Lieb het nie gehuiwer om tydens sy optredes sy geloof te bely nie.

In ’n Pasella-onderhoud in 2019 het Lieb oor sy lewe gesê: “Ek het ’n ryk en vol lewe gehad en is tevrede met waar ek is.” 11

Lieb het in 2021 Covid-19 gekry en het daarna probleme met sy gesondheid gehad. Uiteindelik is hy op 21 Julie in ’n hospitaal in Pretoria oorlede.

Op ’n koue dag in Julie 2021, is Lieb vir oulaas gegroet toe ’n groepie militêre veterane hom by sy begrafnis gesalueer het en die militêre taptoe oor die Pretoriase Moot weerklink het – hy het vir oulaas uitgetree.

Woordbank

aanhangers Bewonderaars.
akteur  Die persoon wat die rol van ʼn karakter in ʼn storie vertolk.
debuut Eerste optrede (toneelspeler/sanger/ens.) eerste openbare verskyning, optrede of skeppingswerk.
evangelie Die geskrewe verhaal of leer van Jesus Christus, ook die blye boodskap genoem.
gerusstellend Om so op te tree dat dit ander mense rustig maak en op hulle gemak laat voel.
grimeerkunstenaars Persone wat die grimering van akteurs/ verhoogkunstenaars/ ens. as ‘n beroep beoefen.
innemende Lief en vriendelik.
kolonel ʼn Offisier oor ʼn regiment.
legende Iemand wat al vir baie jare beroemd is en deur mense bewonder word
maneuver Oefening wat deur soldate gedoen word.
militêre taptoe Wanneer ’n soldaat ’n spesifieke melodie op ’n trompet speel om eer aan iemand te betoon, soos by ’n begrafnis.
natuurlike aanvoeling Om iets te kan doen sonder dat jy geleer het hoe om dit te doen.
nederig Iemand wat nie dink hy/sy is belangriker as ander mense nie; nie hoogmoedig/trots nie; beskeie.
vir ’n rol gaan lees Wanneer ’n regisseur moet besluit watter akteurs om vir watter rolle te kies, lees verskillende akteurs die teks van die karakters sodat die regisseur kan luister en besluit.
onderhoudvoerder Ondervraer.
ondeund Om graag op ’n mooi manier grappies te maak.
redigering Wat in die geval van rolprente of toneelopvoerings die rolprent of storie saamstel, dele saamvoeg of weglaat.
rolprentregisseur Die persoon wat die maak van ’n fliek lei. Hy/sy sorg vir die artistieke dinge in die fliek en gee instruksies aan die akteurs.
staande mag Soldate wat permanent en voltyds in diens van die weermag is.
sjarme Wanneer iemand goeie maniere en ’n aangename persoonlikheid het.
verpligte militêre diensplig Tussen 1967 en 1993 moes alle Suid-Afrikaanse mans verpligte militêre diensplig doen sodra hulle 18 jaar oud geword het. 12

Kyk hier

Lieb Bester speel konsertina op ’n dans by Leeupoort Vakansieoord

Lieb gesels met ’n rooibosteeboer in Clanwilliam (Met ’n huppel in die stap – TV-program op kykNET)

Onderhoud met Hannes van Wyk op Kwêla

Lieb Bester in aksie op klavier (2014)

Stander – die lokprent

Huldeblyke aan Lieb Bester

Luister hier

Hier kan jy hoor hoe oortuigend Lieb sy karakters in twee radiovervolgverhale op RSG vertolk
RSG. 2021. Ons bring hulde aan die akteur Lieb Bester.

Die CD Oukraalliedjies deur Lieb Bester en Harald Richter

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 14 Februarie 2024 | Bygewerk op 15 April 2024