Eric Nobbs

Eric sê oor die werk van ’n akteur: “’n Argitek kan mense na sy geboue of brûe toe neem, ’n skilder of beeldhouer kan sy werk uitstal. Vir akteurs wat op die verhoog werk, is daar niks tasbaars nie – buiten miskien ’n teaterprogram – wat bewys is van hulle werk nie.” 1

Gelukkig het ons heelwat beeldmateriaal van Eric se ander werk – in rolprente en in televisiereekse waarmee hierdie uitstaande Suid-Afrikaanse akteur onthou kan word.

Eric Nobbs (met die swart pruik) in die Operette ‘Vrolike Marike’ by die Hoërskool Hans Strijdom

Kinderjare en gesin

Eric is op 12 September 1954 in Kempton Park gebore. Sy volle name was Kenneth Eric Nobbs – dit was ook die name van sy pa en sy oupa.

Sy oupa was ’n oorlogswesie wat tydens die Eerste Wêreldoorlog vanaf Engeland na Suid-Afrika gestuur is. Sy oupa was ’n sjef wat onder meer die eerste restaurant in Skukuza vir die Kruger Nasionale Park begin het. Eric se ma, René, het ook spyseniering gedoen en sy broer Marius het ook ’n sjef geword.

Pretoria Technikon

Hy het drie broers: Adriaan, Marius en Eugene.

Hy was in die Laerskool Delville in Germiston en daarna van graad 8 (destyds standerd 6) tot graad 11 (destyds standerd 9) in die Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria. Sy matriek het hy in 1973 aan die Hoërskool Hans Strijdom in Naboomspruit voltooi.

In 1974 het hy sy nasionale diensplig in die weermag gedoen en van 1975 tot 1977 was hy besig met sy nasionale diploma in drama aan die Pretoria Technikon (vandag die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie).

Eric is op 4 April 1981 met Desré getroud. Hulle was vir 41 jaar getroud en het met sy afsterwe in George gewoon. 2

Eric en Desré Nobbs op hulle troudag 4 April 1981 in Pretoria

Stokperdjies en gunstelinge

Eric was lief vir sport en het rugby vir die Pretoria Technikon gespeel en ook aan atletiek (100 meter en spiesgooi) deelgeneem. Daarby was hy ’n volbloed Blou Bul (vroeër Noord-Transvaal)-ondersteuner!

Sy lieflingvak was geskiedenis en hy was ’n boekwurm soos min. Hy was ewe lief vir musiek in enige vorm en Mozart was sy gunstelingkomponis.

Hy was ’n kranige fotograaf wat ook lid was van die Kameraklub van Johannesburg. Die meeste lede van die klub was professionele fotograwe, soos byvoorbeeld Emil Wessels, maar in 1988 het Eric as amateurfotograaf hulle gewys waar Dawid die wortels gegrawe het. Hy het die Kodak-toekenning vir beste Skyfie van die Jaar gekry vir sy skyfie van twee seuntjies wat in die vlak branders baljaar. Die foto het hy in Sodwana geneem. 2

Die foto waarmee Eric ‘n kompetisie van Kodak gewen het

Eric in die teater

Sy oupa het hom van kleins af saamgeneem na rolprente in die Bioscope Café wat in daardie jare in Kerkstraat, Pretoria was (vandag Helen Joseph-straat). Dit is hier waar sy groot liefde vir die silwerdoek ontstaan het.

Die teatergogga het ook sommer vroeg reeds gebyt. Hy het op skool aan operettes deelgeneem. Kyk die spoggerige foto van hom in die operette Vrolike Marike, in 1973 aan die Hoërskool in Naboomspruit. 2

Eric het sy debuut as professionele speler op 11 Januarie 1978 in Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK) se produksie Die Keiser, van Bartho Smit, gemaak. Vir die res van 1978 het hy vir Suidwes-Afrikaanse Raad vir die Uitvoerende Kunste (SWARUK) in Windhoek gewerk. In 1979 is hy weer terug TRUK toe en het daar gespeel tot in 1986. 3

Van die rolle in verhoogstukke wat hy gedurende hierdie jare gespeel het, is onder andere: Faan in Faan se stasie; Org in Pa, maak vir my ’n vlieër, Pa; Bezuidenhout in The Road to Slagtersnek en Cyril in Huis op Horings.

Sy gunsteling-rolprentoptredes was Boetie gaan border toe; 1945; Sien jy nou; Ma-Plotters; en Meester.

Onder sy baie televisieoptredes vanaf 2000 noem hy hierdie as enkele van sy gunstelinge: Een skoenlapper (2001 op SABC 2), Gautêng-elêng-elêng (2003 en 2004 op SABC 2) en Known Gods (2006 op M-Net en 2008 op SABC 2). Hy was ook te sien in Paul C. Venter se twee reekse, Vlug na Egipte en Terug na Egipte, asook in Byl, die reeks waarvan Regardt van den Bergh die regisseur was en waarin Eric die rol van ’n patoloog gespeel het. 3

Verhoogrolle waarvoor hy veral onthou sal word, is Faan in Faan se stasie (deur Pieter Fourie); Stoffel Gieljam in Doppers en Filistyne (C.J. Langenhoven), Pieter de Witt in Donkerland asook die toneelstukke One Man’s Life, Tell Me The Truth en Boesman, my seun (hierdie laaste vier is almal deur Deon Opperman geskryf).

Doppers en Filistyne

In 1997 het hy saam met Deon Opperman en Lizz Meiring geskryf aan die klug, Die skandaal, wat ’n groot treffer was. In 2007 en 2008 het hy die rol van Tor Mentz vertolk in P.G. du Plessis se verhoogstuk Sophia Mentz beredder haar boedel waarmee hulle landwyd getoer het. 3

Eric se laaste optrede was in kykNET se TV-reeks, Lui maar op, Belinda, waarin hy saam met Brümilda van Rensburg, Annelisa Weiland en Duncan Johnson gespeel het. Hulle was besig met die verfilming van die derde seisoen van die reeks toe hy oorlede is. 4

Eenmanvertonings

Doppers en Filistyne was Eric se heel eerste eenmanvertoning. Sedert hy daarmee begin het, het hy dit meer as 300 keer oral deur die land aangebied! 5 Oor hierdie eenmanvertoning het Eric so vertel: “Ek vervoer die stel in my motor. Ek het nie klank nodig nie, dis net ek en my stem. Al wat ek benodig, is beligting.” Hy het ’n klein tafeltjie en ’n bal-en-klou-stoel saam rondgery vir hierdie vertoning. 6

Pierneefteater

Eric het die vertoning in 1994 vir die eerste keer opgevoer. Hy vertel dat hy dit as skoolseun reeds graag wou opvoer. Een van sy vriende se ma het Langenhoven se Versamelde Werke gehad en dis waar hy “Doppers en Filistyne” die eerste keer gelees het.

Intussen het hy uitgevind dat Langenhoven in sy testament bepaal het dat geen professionele akteur sy werke mag opvoer nie. In 1994 het hy en sy vrou Desré na George verhuis en hy het weer aan die teks begin dink. Op daardie stadium het die outeursreg daarop verval. Maar hy het onthou van die wens van Langenhoven en het sy kleinseun, professor Guillaume Brümmer by die Universiteit van Kaapstad opgespoor. Hy was bewus van sy oupa se bepaling, maar het vir Eric gesê dat hy baie in sy skik sal wees as iemand dit opvoer. 6

Eric het die woorde begin leer en toe hy weer hoor, het Desré vir hom ’n optrede in Prins Albert gereël en vir hom gesê hy het tien dae om die teks te leer! Hy het die optrede gaan doen en in 1995 het hy dit ook by KKNK opgevoer. Hoewel die teks in 1921 geskryf is, was dit volgens Eric steeds relevant vir gehore, ook in die jare waarin hy dit aangebied het. Hy het juis so min moontlik aan die teks verander omdat dit volgens hom so briljant geskryf is. 6

Hierdie vertoning was oral waar hy dit aangebied het ’n groot sukses. Die bekende resensent Paul Boekkooi sê die volgende oor die aanbieding in Augustus 2015 in die Pierneefteater in Pretoria: “Nobbs is ’n gesoute een. Die vertel- en geselstrant wat hy op die verhoog uitstraal, sal baie van sy kollegas hom beny. Gaan kyk en word verras!” 7

Een van sy ander eenmanvertonings was Leopards, Love Potions and Other Marico Tales, van Herman Charles Bosman. Die regisseur was Louis van Niekerk en Eric was van plan om daarmee na die Oos-Kaap, die Vrystaat en Gauteng te toer toe Covid-19 alles tot stilstand gebring het. Eric se inskrywing op sy webwerf hieroor lui: “I will keep you posted as soon as we can travel again”. 8

Helaas het dit toe nie gebeur nie. Eric het daarna ander werk voor die kameras gedoen, maar nie die kans gekry om met hierdie eenmanvertoning te toer nie.

Toekennings

Eric het twee toekennings ontvang vir sy rol as Mitch in A Streetcar Named Desire – die Johannesburg Civic Theatre Trophy en ook ’n Vita-teatertoekenning. Vir sy spel in One Man’s Life het hy in 1999 ’n Fleur du Cap-toekenning vir beste akteur gekry. In 2002 het hy ’n FNB Vita-teatertoekenning gekry as beste akteur vir sy vertolking van Albert Lombaard in Broekbrein. Hy het terselfdertyd ’n FNB Vita-teatertoekenning gekry vir die Beste Nuwe Suid-Afrikaanse Toneelstuk vir Broekbrein, waarvan hy die skepper/vervaardiger was. 3

Suid-Afrikaanse teater verloor ’n groot speler

Eric is op 22 Oktober 2022 oorlede terwyl hy besig was met verfilming van die derde reeks van kykNET se TV-reeks Lui maar op, Belinda.

Volgens Eric se vrou, Desré, het hy die Sondagmiddag na ’n winkel naby die hotel geloop om iets te gaan koop. Toe hy terugkom, het hy sleg gevoel en gaan lê. Hy is net daarna oorlede. Hy het in die Dolphin View Hotel in Bloubergstrand gebly tydens die werk aan die reeks. 4

Kollegas en familie oor Eric

Koos Roets (regisseur en TV-vervaardiger) het die eerste keer saam met Eric gewerk toe hy ’n karakter in die TV-reeks Koöperasiestories vertolk het. Koos was toe reeds beïndruk met hoe Eric onder ’n karakter se vel kon inklim. Hy beskryf Eric se vertolking van sy rol in die aksiekomedie-rolprent Wie laaste lag, as oortuigend en briljant.

Volgens Koos was Eric ’n intelligente akteur met ’n natuurlike talent wat professioneel en toegewyd was aan sy vak, met groot respek vir die rolle wat hy vertolk het. Selfs met produksies waar net ’n klein filmspan moontlik was omdat die begroting klein was, was hy altyd behulpsaam en geduldig – hy was gul van hart en gees. 4

Paul Venter, Homebrew Films se vervaardiger, het die volgende aan News24 gesê: “Eric, whose very recognisable deep voice is now silent, was an exceptional person and an incredible actor.

“He always greeted everyone with an endearing smile, which radiated a calmness. His sudden passing leaves a big void in our industry, and we say a heavy farewell to him”. 9

’n Familielid van Desré, Magdel Brand, het Eric op Facebook so beskryf: “Wat ‘n hartseer dag vir ons familie met die afsterwe van ons oom Eric Nobbs. Snaaks hoe daar sekere goed is wat mens net altyd onthou, ek onthou toe ek klein was hoe groot ek gevoel het, want my ‘TV-oom’ het my by die kinderkrans kom oplaai en hoe lekker ek op die strand gespeel het met my emmertjie en grafie wat oom Eric en tannie Desré Nobbs as ’n geskenk vir my gegee het, die Kersfees na my pa se dood. Ai, my hart is seer. Rus in vrede oom Eric. Hierdie curtain call het heeltemal te vroeg gekom… ” 4

Woordbank

amateurfotograaf Iemand wat fotografie vir die plesier beoefen en nie omdat dit ʼn werk is of om baie geld daaruit te verdien nie.
bal-en-klou-stoel Soort houtstoel in ’n baie kenmerkende styl.
beny Om graag iets te hê wat iemand anders het of om graag iets te wil doen soos iemand anders dit doen.
boekwurm Iemand wat baie graag lees.
briljant Baie slim.
debuut Eerste optrede deur ’n toneelspeler.
eenmanvertoning Verhoogvertoning waarin net een toneelspeler optree.
gesoute Ervare, bekwaam.
gewys waar Dawid die wortels gegrawe het Om iemand iets te wys/leer.
gul Om glad nie suinig te wees nie en maklik te gee.
helaas Ongelukkig; dis ʼn jammerte.
karakter Akteur wat ’n persoon, dier, wese of ’n ding in ʼn storie voorstel/vertolk.
klug Komiese toneelstuk waarin daar gewoonlik baie misverstande is.
kortrolprent ʼn Rolprent wat nie langer as 40 min. duur nie (rolverdeling ingesluit).
kranige Toegewyde en geesdriftige.
lui Iets wat gesê of geskryf word. ‘Daar gaan nog twee opvoerings wees’, lui die persverklaring.
lui op Om die geld (kontant) aan te teken wat deur ’n kliënt betaal is deur knoppies op ’n kasregister te druk (in die dae toe daar nog nie gerekenariseerde stelsels was nie).
nasionale diensplig Verpligte aansluiting by die weermag, waartydens jong mans vir ’n bepaalde tyd militêre opleiding ontvang en in oorloë moet veg.
se vel kon inklim Om ’n karakter oortuigend te speel.
oorlogswesie In 1948 is meer as 80 Duitse kinders wie se ouers in die Tweede Wêreldoorlog gesterf het, na Suid-Afrika gebring en hulle is hier deur Suid-Afrikaanse ouerpare aangeneem.
operettes Komiese of romantiese toneelstukke waarin die meeste van die woorde gesing word.
outeursreg Die eiendomsreg van iets wat geskryf is wat aan die skrywer behoort.
patoloog Spesialis in die patologie; dokter wat lyke ondersoek en dissekteer (stukkend/in stukke sny) om die oorsaak van dood te probeer vasstel.
professionele Wat verband hou met ’n beroep, m.a.w. jy kry ’n salaris vir dit wat jy doen.
regisseur Iemand wat toneelspelers afrig; spelleier.
relevant Van belang/betekenis; van toepassing.
seisoen Televisiereeks wat in verskillende aflewerings van ’n aantal episodes in elke aflewering uitgesaai word.
silwerdoek Die doek waarop ’n rolprent geprojekteer word, dit word soms sommer as ’n ander woord vir “rolprent” gebruik
sjef Kok; iemand wat kos voorberei.
skyfie Fotografiese plaatjie/foto in ’n raampie wat op ’n skerm geprojekteer kan word.
spyseniering Om eetgoed/verversings te verskaf.
tasbaars Voorwerpe of beeldmateriaal wat mens kan sien of hoor of waaraan mens kan vat.
teatergogga Wanneer iets ’n persoon ’n liefde vir teater laat ontwikkel.
testament Verklaring, in wettige vorm opgestel, waarin ʼn persoon presies verduidelik wat ná sy/haar dood met al sy/haar besittings moet gebeur.
toegewyd Wanneer iemand die meeste van sy of haar tyd aan iemand/’n werk/ ʼn saak bestee.
volbloed Met hart en siel.

Lees hier

Eric Nobbs se lewe in foto’s

Kyk hierdie video’s om nog meer oor Eric Nobbs te wete te kom

Uittreksel uit Boetie gaan border toe saam met die akteur Arnold Vosloo wat reeds vir jare in die VSA werk

Wie laaste lag – Rolprent waarin Eric speel

In hierdie nuusberig oor sy dood gesels kollegas oor Eric