Vinnige feite

  • Dulcie en Gert van den Bergh het vier kinders gehad. 7
  • Sy het geglo die mens se lewe word deur die Here vir jou uitgestippel en mens volg daardie pad in geloof en vertroue. 2
  • Haar rol in die toneelstuk Die vrek, het sy onder haar nooiensvan, Dulcie Smit, vertolk. 16

Dulcie was deel van ’n teatergesin soos daar nog min in Suid-Afrika gesien is – sy en haar man en hul seun het almal diep spore in die toneelwêreld getrap en toe begin twee van haar kleindogters ook in rolprente speel!

Die jong Dulcie

Dulcie is gebore as Magdeld Magdalena Smit. 1 Sy is in Bloemfontein gebore en het grootgeword in Bloemfontein, Winburg en Ladybrand. Sy was in die Oranje Meisieskool en het haar matriek (graad 12) in Winburg behaal.

Sy het ’n Vrystater gebly en altyd die Vrystaatse rugbyspan bly ondersteun.

Dulcie het haar ouma onthou as ’n statige dame van 80 jaar wat Saterdagoggend ingegaan het stad toe, na Bloemfontein, sodat die haarkapster haar hare netjies in ’n bolla kon maak. In die middae was sy op die destydse Springbokpark om te kyk na haar seuns en kleinseuns wat almal vir die Vrystaat rugby gespeel het.

Een dag het sy by ’n wedstryd teen die destydse Transvaalse rugbyspan tussen ’n klompie Transvaalse rugby-ondersteuners op die pawiljoen beland. Toe hulle weer ’n keer hul span luidkeels aanmoedig, het sy omgedraai, hulle bekyk en gesê: “Ons sit darem vandag tussen ʼn spul krummels!” 2

Haar liefde vir toneel

Haar belangstelling in drama en toneel het op skool begin toe sy in ’n paar toneelstukke gespeel het. Dit was teen ongeveer 1945, dit was oorlog en dit was ’n moeilike tyd waarin mense swaar gekry het. Daar was nie geld vir haar om universiteit toe te gaan nie. Later het sy tog in die middae dramaklasse by Anna Richter-Visser geneem en ook by die destydse Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat (UKOVS) buitemuurs klas geloop. Die opvoerings waarin sy toe kon speel, het sy geweldig geniet.

Toe kry sy ’n wonderlike geleentheid. Oom Breytie (P.P.B. Breytenbach) van die Nasionale Toneelorganisasie (NTO) het haar gebel en gevra of sy saam wil toer vir die toneelstuk Die vrek waarin onder andere Siegfried Mynhardt ook opgetree het. En dis toe waar sy vir Gert van den Bergh ontmoet het met wie sy later sou trou! Hy het ook in die opvoering opgetree.

P.P.B. Breytenbach

Gert en Dulcie

Ná die toer het sy vir Gert saamgevat plaas toe, na haar ouers toe. Haar ma het vir haar gesê “Jy kom hier aan met ’n man, ’n stuk lap en ’n paar skoene, nou moet julle vir ons sê wat julle planne is”. Dit was toe materiaal vir ’n trourok wat Dulcie gekoop en saamgeneem het! Gert het vir twee uur lank ouers gevra en uiteindelik het haar ouers hul toestemming gegee dat hy met Dulcie kon trou.

Haar ouers baie streng Doppers (naam vir lidmate van die Gereformeerde Kerk) en toneelspeel was vir hulle eintlik iets uit die bose. Hulle het gesê die twee kan trou, maar dan moet hulle op een plek bly en nie rondreis agter toneelopvoerings aan nie. Daarom het Dulcie en Gert hul kontrakte by NTO gekanselleer en in Johannesburg gaan bly. Hier het sy en Gert saam betrokke geraak by die rolprent Hans-die-Skipper, sy het kostuums en kontinuïteit hanteer en Gert het in die rolprent gespeel. Hierdie was haar eerste ervaring van die rolprentwêreld en dit was vir haar wonderlik. Kort nadat hulle van die Kaap af teruggekeer het waar die rolprent geskiet is, is hulle seun Regardt gebore. 2

Toneelopvoerings

Ander opvoerings waarin sy opgetree het, is onder andere Vereeniging, Vereniging. Die stuk speel af net ná die Anglo-Boereoorlog en Dulcie het saam met onder andere Marius Weyers, Eric Nobbs, Ben Kruger en Jacques Loots hierin gespeel. Louis van Niekerk het die regie gedoen en die skrywer was P.G. du Plessis. 3

Sy het in 1989 ook gespeel in Die vonkel in haar oë! wat deur die Kaapse Raad vir die Uitvoerende Kunste (KRUIK) aangebied is.

P.G. du Plessis

Rolprente

Rolprente waarin sy gespeel het, was onder andere Die Tweede Slaapkamer (1962), 4 Die ruiter in die nag (1963) waarin Gert ook gespeel het, 5 Katrina (1969), Strangers at Sunrise (1969), Farewell Johnny (1970), Jannie Totsiens (1970), Die Voortrekkers (1973), Geluksdal (1974), Ongewenste vreemdeling (1974) waarin haar seun Regardt ook gespeel het, Plekkie in die son (1979), Pretoria O Pretoria! (1979), Geel trui vir ’n wenner (1983), Tawwe Tienies (1984), Circles in a Forest (1989), Orkney snork nie! (die movie) (1992) en Orkney snork nie! 2 (nog ’n movie) (1993). 4

Televisiereekse

In 1985 het sy in die televisiereeks Agter elke man gespeel, die rol waarvoor kykers haar vandag nog onthou. 6

Gedurende 1989 het sy in die televisiereeks Orkney snork nie gespeel. 4

Swaar tye vir die gesin

Toe Gert in 1968 oorlede is, was hy net 47 jaar oud. Dulcie moes skielik alleen vir haar vier kinders sorg. Volgens Regardt sou sy dit nooit kon doen met net die salaris wat sy by Springbokradio gekry het nie, maar gelukkig is dit juis in hierdie tyd dat Franz Marx vir haar rolle begin gee het in van sy reekse. 7

Sewe jaar ná haar man se dood, het nog ’n tragedie die gesin getref toe Dulcie se seun Dirkie in 1975 oorlede is – hy was net 15 jaar oud.

Sy en Gert wou nooit hê die kinders moet motorfiets ry nie omdat hulle gedink het dit is te gevaarlik. Maar toe verongeluk hul seun Dirk in ’n luukse Duitse motor op die agterste sitplek toe die motor op ’n stil pad in die dorp Balfour in ’n ongeluk was.

Volgens Dulcie het haar geloof haar hierdeur gedra. Vir haar het die Here daarmee gesê het dat Hy vir Dirkie na Hom toe wou laat kom. Dit het haar geloof versterk, die wete dat dit ’n veilige voertuig was. As hy op ’n motorfiets verongeluk het, sou dit vir haar erger gewees het omdat sy dan sou dink sy dood kon voorkom gewees het.

Volgens Dulcie is ’n kind se dood nie iets wat ’n ouer ooit kan vergeet nie, dis erger as wanneer jou man of vrou sterf. Iets word uit jou uit geskeur, jare later sien jy iemand loop en dink vir ʼn oomblik dit is jou kind. Jy beleef elkeen van sy maats se mylpale, wanneer hulle uit die skool gaan, hulle mondigwording… en elke keer dink jy dit kon nou jou kind gewees het wat dit beleef. 2

Radio

Ná hulle troue het Gert baie radiowerk gedoen. Sy het self radiowerk begin doen, soos radioteaters en vervolgverhale. Sy het aanvanklik as sekretaresse by die SAUK gaan werk en onder meer dinge gedoen soos om die markberigte te lees.

Toe kom die program wat vir dekades deel van haar lewe sou wees – ’n program met die titel Hospitaaltyd op die destydse Springbok Radio. Daarin is boodskappe uitgesaai vir mense wat siek was en vir wie dit nodig was om bietjie opgebeur te word. Die program was uiters gewild onder luisteraars. Die laaste program is op 31 Desember 1985 uitgesaai. 8

Hospitaaltyd was vir haar ’n wonderlike program om aan te bied en sy het ’n groot indruk op die luisteraars gemaak. Ná Gert se dood het sy letterlik honderde briewe van luisteraars gekry om haar sterkte toe te wens. Dit en hul gebede het haar gedra. Toe hul seun Dirkie sterf, was dit weer die luisteraars se gebede en briewe wat haar ondersteun het. 2

Sy het hierdie program vir nie minder nie as 25 jaar lank aangebied! 2

Luister hier na die kenwysie van Hospitaaltyd.

Antie Stienie word gebore

Die karakter “Stienie Steyn” in die televisie-reeks Agter elke man was die grootste rol wat sy in haar loopbaan vertolk het. Sy vertel hoe Franz Marx aanvanklik vir haar ’n ander rol sou gee, maar dat hy toe vir haar gevra het of sy nie die rol van Stienie wil speel nie. Saam met die grimeerkunstenaars het hulle toe besluit hoe die karakter moes lyk. Sy het vir Franz gesê dat sy net nie ’n bolla gaan dra soos sy in die werklike lewe in die meeste van haar rolle gedra het nie. Sy moes kort hare hê én sy gaan rook omdat al die mense wat bly waar die reeks afspeel, mense is wat rook.

Franz het nog gewonder hoe die publiek gaan reageer op so ’n vreemde beeld van Dulcie. Hulle was gewoond aan haar met ’n bolla en as ’n stemmige karakter in die vorige rolle wat sy gespeel het. Haar laaste rol voor Agter elke man was in die reeks Skooldae.

Die grimeerkunstenaars het hul werk gedoen en uitrustings is uitgesoek. Haar klere was effens noupassende rokke wat so net bokant die knie sit en soms het daar ’n stukkie onderrok uitgesteek. So is Stienie Steyn gebore. Sy was ’n goeie mens, sy was ʼn goeie vriendin vir die mense in die buurt en sy was bereid om alles vir haar kinders gedoen. 2

Volgens Franz was Dulcie se vorige rolle almal totaal anders, vir die publiek was sy die onaantasbare Dulcie van den Bergh, Gert van den Bergh se vrou. Hierdie transformasie ná die rol in Agter elke Man was verstommend en het dadelik by kykers gewerk. Franz het verder gesê dat sy nie “Tant Stienie” is nie, maar “Antie Stienie” – wat twee verskillende dinge in Afrikaans beteken en vir mens twee verskillende beelde van ’n persoon gee. 9

Hierdie karakter het diep in die harte van televisiekykers ingekruip en mense wat destyds na die reeks gekyk het, onthou steeds vir “antie Stienie”. Kyk gerus na die skakels met uittreksels uit die reeks waarin jy Dulcie op haar stukke kan sien as hierdie karakter.

Die begaafde Van den Bergh-gesin

Gert van den Bergh

Gert is op 16 Oktober 1920 in Krugersdorp gebore – een van ons land se talentvolste akteurs. Hy het sy eerste opleiding by Anna Neethling-Pohl ontvang en het lid geword van die eerste Afrikaanse toneelgeselskap van die Nasionale Toneelorganisasie (NTO). Hulle was die eerste geselskap wat deur die regering ondersteun is en deur die land gereis het om toneelopvoerings oral op dorpe en in stede aan te bied.

Hy het later in Johannesburg gaan woon en by radio betrokke geraak asook by die rolprentbedryf wat toe net aan die gang begin kom het. Hy was die eerste Afrikaanssprekende persoon wat ’n vryskutaanbieder van radioprogramme geword het en hy was nogal sterk kompetisie vir Engelse radioaanbieders.

In die rolprentwêreld het hy ook sy merk gemaak en ’n uiters gewilde akteur geword. In 1965 het hy ’n Erepenning vir Toneel-, Film- en Radiokuns by die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang.

Hy is op 16 Februarie 1968 oorlede. 10

Gert van den Bergh

Regardt van den Bergh

Dulcie se seun het van jongs af sy merk gemaak in die rolprentwêreld en is steeds besig met groot projekte as regisseur en rolprentmaker. Sy eerste rol was in die rolprent Die Kandidaat. Hy het ook die hoofrol gespeel in die rolprent Jopie Fourie wat in 1979 vertoon is. 7

Regardt het sy debuut as regisseur gemaak in 1980 gemaak met die televisiereeks Vyfster wat ’n groot treffer onder kykers was en waarvoor hy talle toekennings ontvang het. 11

Hy het in die tagtigerjare naam gemaak met die Boetie-rolprente – Boetie gaan Border toe! (1984) en Boetie op Manoeuvres (1985). Hy was ook die regisseur van onder meer The Sheltering Desert (1991) en The Gospel According to Matthew (1993). 7

In 2005 het hy die rolprent Faith like Potatoes gemaak waarvan daar meer as ’n miljoen DVD’s in Amerika verkoop is en wat ook in Suid-Afrika baie gewild was. In 2009 het sy rolprent Tornado and the Kalahari Horse Whisperer gemaak waarvoor hy die prys as beste regisseur by die Monte Carlo Internasionale Rolprentfees ontvang het. 12

Regardt ontvang ‘n toekenning

Regardt se dogters

Regardt se dogters (Dulcie se kleindogters) volg in hul pa, oupa en ouma se voetspore. Lika Berning het gedurende 2015 die hoofrol vertolk in die rolprent French Toast. 13

Regardt se ander dogter, Leán van den Bergh, het ’n rol vertolk in haar pa se rolprent Tornado and the Kalahari Horse Whisperer. 14

Regardt en Lika

Stephan Bouwer bring hulde

So skryf Stephan Bouwer (regisseur) oor Dulcie:

“Dulcie se lewenslus, professionaliteit en energie was aansteeklik. Sy kon saans lekker kuier met een en almal, maar smôrens vroeg het sy al effens ongeduldig by die kombi gewag dat ons nou vinnig by die skietterrein moet kom. Al haar tonele is sonder fieterjasies en akteurstemperament verfilm. Tussen tonele was sy biegmoeder en raadgewer. 15

Dulcie van den Bergh is op 8 November 1997 aan kanker oorlede toe sy 69 was.

Stephan Bouwer

Woordbank

akteurstemperament Iemand wat vol fiemies en eise is.
biegmoeder Iemand aan wie mense van hul probleme vertel om raad te kry.
debuut Eerste optrede (toneelspeler/sanger/ens.) eerste openbare verskyning, optrede of skeppingswerk.
diep spore Groot prestasies lewer; naam maak.
erepenning Medalje, ereteken.
fieterjasies Aanstellerigheid, om allerlei nukke te hê.
grimeerkunstenaars Persone wat vir akteurs grimering aansit om hulle soos hul karakters te laat lyk – soms moet iemand byvoorbeeld ouer of verwaarloos lyk.
kenwysie Wysie wat voor ’n program op radio of televisie gespeel word sodat mense weet dit gaan amper begin.
kontinuïteit Om seker te maak akteurs se klere, juweliersware ens. lyk van toneel tot toneel dieselfde.
luidkeels Deur groot lawaai te maak.
merk maak Om te wys waartoe jy in staat is.
mylpale ’n Belangrike gebeurtenis.
naam gemaak Bekend raak.
onaantasbare Belangrike persoon wat mens met ontsag behandel.
ouers gevra Die ouers se toestemming vir ’n huwelik vra.
regisseur Iemand wat toneelspelers afrig.
skietterrein Die plek waar rolprente “geskiet” word, m.a.w. verfilm word.
statige Deftig, waardig.
tragedie Baie hartseer gebeure vir die gesin.
transformasie Gedaanteverandering om heeltemal anders te lyk en op te tree.
uit die bose Iets wat mens nie kan vertrou nie, wat ’n slegte invloed kan hê.

Lees hier

Luister hier

Kyk hier

Steve Hofmeyr & Dulcie van den Bergh in Agter Elke Man (2021)

Uittreksels uit Agter elke man: Antie Stienie en Bruce

Uittreksels uit Agter elke man: Antie Stienie en haar dogter Liana

Uittreksels uit Agter elke man: Antie Stienie verdedig haar buurvrou

Uittreksels uit Agter elke man: Antie Stienie – “Enigste appointments wat mens moet hê is om gebore te word en om dood te gaan”

Uittreksels uit Agter elke man: Antie Stienie oor begrafnis en verassing

Foto: iStock
Gepubliseer op: 28 Mei 2024 | Bygewerk op 12 Junie 2024