Vinnige feite

  • Hy was glo ’n kranige trekklavierspeler.
  • Troskie het spogduiwe gehad waarmee hy internasionale pryse gewen het.
  • Hy het ’n Amerikaanse kommersiële vlieglisensie gehad en het glo self met sy Lear Jet rondgevlieg. 8
  • Troskie het as jong man gesond geleef en gereeld gedraf. Hy het eenkeer ’n marathon vir rolprentmense gewen.
  • Daar is ’n Boet Troskie-monument by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie in Bloemfontein – hy het ’n eredoktorsgraad daar verwerf en was ook in ’n stadium kanselier van die universiteit.
Foto: iStock

Rolprente kan ons laat skaterlag, van hartseer laat snik of van vrees laat gil. Dit neem ons na plekke waar ons nog nooit was nie en laat ons reis na tye waarvan ons net kan droom. Ons verbind gewoonlik flieks met Hollywood, maar het jy geweet dat Suid-Afrikaners al rolprente gemaak het wat ook oorsee gewild en bekend was?

Een iemand wat sulke flieks gemaak het, was Boet Troskie (1936-2022). Hy was ’n bekende sakeman en rolprentvervaardiger van Bloemfontein in die Vrystaat.

Troskie het saam met die rolprentregisseur Jamie Uys rolprente, soos The Gods Must Be Crazy, Beautiful People en Dirkie (Lost in the Desert) gemaak. Hul suksesvolste fliek was The Gods Must Be Crazy wat 11 internasionale toekennings ontvang het! 1

Boet Troskie

Wie was Troskie?

Cornelis Abraham (Boet) Troskie is op 2 November 1936 in Bloemfontein as een van ses kinders gebore. Sy pa was ’n sweiser. Die gesin het finansieel gesukkel. Boet het op De Aar skoolgegaan en aan die Hoërskool De Aar gematrikuleer.

Hy het ná skool ’n motorwerktuigkundige geword en het geld geleen om drie motors te koop om so ’n motorhandelaarsonderneming te begin. Só het hy ’n sakeman geword. Sy sakeryk het later ook Bloemfontein se grootste winkelsentrum Mimosa Mall ingesluit.

Hy het met ’n interessante draai by rolprente betrokke geraak. Al Debbo was in daardie tyd ’n bekende akteur, sanger en komediant. Boet en sy broer, Bill, het glo na ’n vertoning van Debbo gaan kyk en het hom gevra hoekom hy nie meer flieks maak nie. Debbo het geantwoord dat hy ’n draaiboek vir ’n nuwe fliek het, maar dat hy nie die geld het om dit te maak nie. Dit het in daardie stadium glo R60 000 gekos om ’n fliek te maak, wat toe ’n fortuin was. Die Troskie-broers, Bill en Boet, het toe besluit om in 1964 hul eie rolprentonderneming Mimosa Films te begin. Die twee broers het hul ouditeur gevra om saam met hulle probeer om geld bymekaar te maak om die fliek Die wonderwêreld van Kammie Kamfer te vervaardig. 2

Al Debbo

Die Troskie-broers het toe die bekende rolprentmaker Jamie Uys ontmoet en hulle het besluit om saam flieks te begin maak. Die reëling was dat die broers die geld sou soek om die vervaardiging te finansier en al die administrasie sou behartig – Uys moes die rolprente maak. Uys het in 1966 ’n direkteur van Mimosa Films geword en hulle het vir baie jare saamgewerk.

Hierdie drie het tussen 1969 en 1973 vele bekroonde rolprente uitgereik, soos Dirkie (Lost in the Desert in Engels). Lost in the Desert het in 1972 ’n toekenning by die Teheran-rolprentfees gewen en ’n klassieke rolprent geword.

Jamie Uys

Van Troskie se rolprente

Die Troskie-broers se onderneming het ’n paar trefferflieks gemaak:

  • Three Wise Men(1967) het gehandel oor hoe drie blinde Suid-Afrikaners elk sy eie onderskeie wêreld beskou. Dit is in 1968 in Amerika vertoon en is ook tot ’n TV-insetsel verkort wat 14 minute lank was en meer as 4 000 keer deur Amerikaanse TV-stasies vertoon was.
  • Nog een van hul gewilde flieks, was Die professor en die prikkelpop, wat ook as The Professor and the Beauty Queen in 1967 uitgereik is. Carike Keuzenkamp het die liedjie “Timothy” daarop gesing en het haar loopbaan momentum Die fliek was ’n groot sukses en het in slegs drie maande R250 000 by die loket gemaak.
  • Die fliek Dirkie (1969) is ook as Lost in the Desert oorsee uitgereik en was ’n groot lokettreffer. Die storie gaan oor ’n seuntjie (die karakter is deur Jamie Uys se jongste seun, Wynand, gespeel) ná ’n vliegtuig in die woestyn val. Die fokus val op die pa se soektog na sy seun en Dirkie en sy hond se oorlewing in die woestyn. Die vervaardiging het groot uitdagings gebied: Die fliek moes in Engels en Afrikaans geskiet word en die barheid en ongenaakbaarheid van die woestyn het die verfilming moeilik gemaak. Die fliek is in die Kalahari Gemsbokpark geskiet. Columbia Pictures Corporation het dit wêreldwyd versprei en dit was net so gewild oorsee as in Suid-Afrika.
  • Beautiful People was ’n natuurdokumentêr wat in 1974 uitgereik is, en het ’n Golden Globe-toekenning vir Beste Dokumentêre Rolprent gewen. Dit het ook twee verskillende toekennings vir regie ontvang, die Hollywood Film Company: Golden Scissors-toekenning vir Uitstaande Prestasie in Regie en die American Editors Incorporated: Eddy-toekenning vir Beste Redigering. Teen 1975 het meer as drie miljoen mense al na die fliek gekyk – mense het vir ure lank tougestaan vir kaartjies – en in die buiteland het dit rekords laat spat. Die fliek het teen 1980 ongeveer 15 miljoen Amerikaanse dollar gemaak. Troskie het die TV-regte daarvan in 1980 aan die Amerikaanse kanaal NBC verkoop.
  • Funny People, wat in 1976 uitgereik is, was ’n fliek waar mense in snaakse situasies met ’n versteekte kamera betrap en afgeneem is. Mense was mal daaroor en vertonings was weke vooruit verkoop. Dit het in sy eerste week ongeveer R250 000 gemaak wat ongehoord vir daardie tyd was. Hierdie fliek het ook miljoene rande in die buiteland verdien.
  • Troskie was die uitvoerende vervaardiger van The Gods Must Be Crazy wat as Suid-Afrika se suksesvolste fliek nog bestempel word. Uys het ’n hartaanval tydens die redigering van die rolprent gehad en dit het uiteindelik vier en ’n half jaar geneem om dit te voltooi. Die fliek het uiteindelik op 8 September 1980 begin draai en mense het weer tougestaan om dit te sien. Dit was net so ’n groot treffer oorsee waar miljoene mense dit gaan kyk het. Troskie het ’n ooreenkoms met die groot maatskappy Twentieth Century Fox gesluit en het toe in Amerika gebly om die fliek se verspreiding en bemarking te oorsien. Die fliek het verskeie pryse verwerf.
  • Troskie het na Suid-Afrika teruggekeer en het nog ses rolprente tussen 1981 en 1989 vervaardig, insluitend Funny People II en The Gods Must Be Crazy II. 3
  • Dit was egter nie die enigste flieks waarby hy betrokke was nie. Troskie het in die jare sewentig en tagtig ook saam met ander suksesvolle name in die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf gewerk, soos die regisseurs Daan Retief, Jan Scholtz, Dirk de Villiers, Elmo de Witt, Emil Nofal en Ivan Hall. Een van die gewilde flieks waarby hy betrokke was, was Kiepie & Kandas met Jan Scholtz as regisseur. Die fliek was ’n romantiese komedie wat in 1981 uitgereik is. 4

Persoonlike lewe

Troskie se eerste huwelik was met Hettie en hulle het ’n seun, Jaco, en tweelingdogters, Elna en Rina, gehad. Hy het in 1995 met Tereza Berry getrou en hulle het ’n seun, Jamie, gehad. Hy het in 2014 met Tracy de Lange Kitching getrou. 5

Troskie is op 24 Desember 2022 aan Covid-19-verwante oorsake in die Mediclinic Bloemfontein oorlede. Hy was 86 jaar oud. 6

Troskie word onthou as iemand wat ’n passie vir flieks gehad het en as iemand wat ’n groot filantroop was. Hy het graag geld aan verdienstelike sake geskenk. 7

Troskie was onder meer die beskermheer van die Bloemfonteinse Kinderkoor en het graag geld aan hulle geskenk. Hy was ook betrokke by sy ou skool, Hoërskool De Aar. Hy het ook dikwels kinders se drome laat verwesentlik soos om byvoorbeeld tussen dolfyne te swem.

Die Bloemfonteinse koerant Ons Stad het hom ook al as Bloemfonteiner van die Jaar bekroon.

Troskie en sy vrou Tracy de Lange Kitching

Woordbank

bekroonde Iemand wie se werk ʼn prys/medalje ontvang het.
barheid Kaal, onvrugbare landskap; dor/droog, onvriendelik.
beskermheer Iemand wat sorg vir die belange van kunstenaars.
dokumentêr ʼn Rolprent of TV-/radioprogram wat uitvoerige besonderhede/inligting oor ʼn bepaalde onderwerp verskaf.
draaiboek Rolprentmanuskrip met handleiding en gegewens vir die maak van ʼn nuwe rolprent.
eredoktorsgraad ’n Mens kry ’n eredoktorsgraad vir uitsonderlike prestasies, maar jy hoef nie ’n eksamen af te lê nie.
filantroop Iemand wat die lyding en armoede van ander probeer versag, veral deur liefdadigheid.
fortuin Aansienlike geldelike vermoë; groot som geld.
kanselier ʼn Bekende persoon wat nie ʼn vaste werk by ʼn universiteit het nie, maar wat die universiteit op sekere formele geleenthede verteenwoordig.
loket Waar kaartjies vir die teater of ’n vertoning gekoop word.
lokettreffer Rolprent (of verhoogstuk) wat ‘n groot treffer is (baie gewild) en waarvan baie kaartjies by lokette verkoop word.
momentum Dryfkrag.
motorwerktuigkundige Iemand wat aan voertuie werk om dit te herstel.
ongehoord Buitengewoon.
ongenaakbaarheid Ontoeganklikheid
ouditeur Iemand wat belastingstate opstel, rekenmeester.
regie Die afrigting van toneelspeler/akteurs.
regisseur Iemand wat toneelspelers afrig; spelleier.
sweiser ’n Vakman wat sweiswerk doen.
verdienstelike sake Met meriete.
verwesentlik ’n Werklikheid geword het.

Lees hierdie artikels om meer oor Troskie te leer

Kyk hierdie video’s

Voorskou van Beautiful People

Voorskou van Funny People

The Gods Must Be Crazy-lokprent

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 30 Julie 2024 | Bygewerk op 30 Julie 2024