Ben Kruger

“Mense-mens” – dit is wat elke keer eggo wanneer mense oor Ben Kruger praat. Hy was regtig liéf vir mense, daarom het hy sommer 250 mense (net sy nááste vriende) genooi om sy 50ste verjaardag saam met hom te kom vier, nie iewers in ’n groot saal nie, sommer in sy en sy gesin se huis in Brooklyn, Pretoria. Dít was Ben Kruger.

Kleintyd en gesin

Barend Johannes Kruger is op 25 Maart 1957 in Bothaville in die Vrystaat gebore. 1

Sy pa was ’n pastoor in die Apostoliese Geloofsendingkerk op die dorp. 2

Hy was twee jaar oud toe sy gesin Kaapstad toe verhuis het omdat sy pa as pastoor na die gemeente in Maitland beroep is. Toe hy vier jaar oud was, het hulle Johannesburg toe getrek waar hy in die Crosby Academic Primary School en later in Hoërskool Helpmekaar was (vandag ʼn privaat skool bekend as Helpmekaar Kollege). Hier het hy ook matriek geskryf. 3

Hy is daarna vir 18 maande vloot toe en het toe drama aan die Universiteit van Pretoria studeer, waar hy sy BA-graad in drama gekry het. 2

Ben was getroud met Cheryl Whitlock, wat ’n juweelontwerper is. Hulle was vir 38 jaar lank getroud toe hy oorlede is. Hulle het drie seuns – Dan, Ivan en Niku. Niku is die jongste en hy woon in Amerika. 4

Die akteur

Rolprente

Ben se eerste rolprent was Die Voortrekkers in 1973. Daarna het hy ook in Sondag in September, Dr. Marius Hugo, Pretoria O Pretoria! en Geel trui vir ’n wenner gespeel. 2

Hoogtepunte in sy rolprentloopbaan was vir Ben die rolprent Cry, the Beloved Country waarin hy saam met onder andere die internasionaal bekende akteurs Richard Harris en James Earl Jones gespeel het. Ook in The Mandela and De Klerk Story het hy saam met internasionale sterre opgetree – Michael Caine en Sidney Poitier. Hy het die rol gespeel van James Gregory, een van Mandela se tronkbewaarders wat later goeie vriende met hom geword het. Mandela is gespeel deur Sidney Poitier en al Ben se tonele was teenoor hom – dit was vir hom ’n baie spesiale ondervinding. 5

Televisie

Volgens Ben self, is hy waarskynlik die beste bekend vir sy rolle in televisiereekse, soos onder meer Skooldae I, Skooldae II en Skooldae III waarin hy die rol van die onderwyser Christo de Wet gespeel het. Ander televisiereekse was The Game I, The Game II en The Game III waarin hy die rol van Kobus Koen vertolk het, sy rol as Sakkie Bezuidenhout in Zero Tolerance wat ook drie reekse gehad het asook die komiese karakter Neef Gert wat hy in 7de Laan vertolk het. 5

Hy het ook in die reekse MoeggeploegRiemvasmaak en Triptiek gespeel. 2

Ben se laaste rol was dié van Okkie in Binnelanders. Hy was steeds besig met die reeks toe hy oorlede is.

Van die akteurs van Binnelanders

Verhoog

Vir Ben was die verhoog sy groot liefde.

Hy was deel van die geskiedenis van Suid-Afrikaanse toneel toe hy deel was van die laaste verhoogstukke wat die destydse Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK) in die Breytenbach-teater in Sunnyside, Pretoria aangebied het. Hy was ook deel van die opening en beginjare van die Staatsteater in Pretoria.

Van die rolle in verhoogstukke waaroor hy trots gevoel het, is onder andere Jakes in Siener in die suburbs, Louis Botha in Vereeniging, Vereniging, Horatio teenoor Marius Weyers as Hamlet, Senior in Ek, Anna van Wyk, Don Juan in Don Juan onder die boere asook Robey in Die tweede dood van Robey Leibbrandt. 5

Hy het in ongeveer 50 verhoogstukke opgetree.

Skrywer en regisseur

Tjoklits en Trane is ’n eenmanvertoning wat Ben self geskryf het. Dit vertel die verhaal van Gert van Breda Janse van Vuuren se reis van alleenloper tot eggenoot en pa. Die musiek in die vertoning is ook op CD beskikbaar. Ben het die liriek van die meeste liedjies op hierdie CD self geskryf. 6

Ben was een van die skrywers van Egoli, en hy was hoofskrywer vir die TV-reekse Backstage, Scandal en Villa Rosa.

Hy was die regisseur van Broerse, die eerste verhoogstuk wat in Griekwa-Afrikaans geskryf is en wat een van die hoogtepunte was by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in 1997. Hy was vir talle ander toneelstukke die regisseur, onder meer vir die baie suksesvolle klug, As die kat weg is.

Van die latere verhoogstukke waarin hy opgetree het en waarmee hy deur die land getoer het, is onder meer My pa dink hy’s Elvis (saam met Viljee Maritz), Groet die Grotoupa (’n produksie van Lefra Produksies) en Vlieger – Unplugged. 7

Industriële teater

Ben het ook op die terrein van industriële teater gewerk.

Hy was een van die drie direkteure van Learning Theatre en het die organisasie in ongeveer 2010 saam met die ander twee direkteure, Theo Potgieter en Henk du Plessis, begin.

Hy is algemeen beskou as ’n kenner van industriële teater. Hy het talle toneelstukke hiervoor geskryf en ook die regie daarvan behartig. 7

Learning Theatre is ’n organisasie wat deur middel van drama aan sake-ondernemings oplossings bied vir ingewikkelde probleme wat dikwels met personeel te doen het. 8

Ben Kruger, die kok

Ben het nie net toneelgespeel nie. Hy was ook ’n kranige kok. Hy het sy eie kos en kosmaakkanaal gehad waar hy demonstrasies gegee het hoofsaaklik oor potjiekos. Kan jy glo, hy het selfs ’n melkkospotjie gemaak! Hy het tussenin stories vertel en sy luisteraars met spitsvondighede en kwinkslae vermaak. Hy het ook wenke gegee oor hoe om jou potjie te versorg, hoe om biltong te maak en sommer allerlei ander interessanthede rondom kos en kosmaak.

Hy het ’n resepteboek geskryf met die titel Wild en Warm – Potjiekos (Resepteboek vir die jagter). 9

Ben vertel hoe hy en Lochner de Kock saam op universiteit was en hoe hulle in boekwinkels deur resepteboeke geblaai en resepte afgeskryf het wat hulle dan gaan uittoets het. 1

Ben Kruger, die mens

Uit sy kollegas en familie se vertellings oor hom, leer ’n mens Ben as mens ken.

Op sy medeakteurs in Binnelanders het Ben ’n groot invloed gehad. Je-ani Swiegelaar vertel dat sy vir Ben “Pappie” genoem het omdat hy nie wou hê dat sy hom “Oom” noem nie. Sy bedank hom vir die geduld in elke toneel, dat hy die ander akteurs veilig laat voel het in elke toneel en soms ook die vriendelike dissipline omdat die jonger akteurs partykeer gesukkel het om te fokus. 4

Ook Germandt Geldenhuys wat in Binnelanders speel, vertel hoe hy en Ben by die werk gesit en sing het. Hy het op ’n dag die lied Tennessee Whisky geneurie en toe Ben dit hoor, sê hy dat dit een van sy gunstelinge is. Hy het toe vir Germandt ’n bottel whisky gegee en twee weke voor sy dood gevra of Germandt al daarvan gedrink het. Germandt se antwoord was, “Nee, nog nie” en het beloof dat hulle twee dit saam sal drink. Dit het toe nie gebeur nie en daarom het Germandt tydens die gedenkdiens met dié whisky ’n heildronk op Ben gedrink. Hy het ook die lied op die diens gesing.

Je-ani vertel hoe Ben vir haar en Germandt ’n eerste optrede met hul verhoogstuk – keelVOL – gereël het om hulle te help om ekstra inkomste te kry. Dit was so suksesvol dat hulle teen 2023 reeds meer as 80 opvoerings daarvan gedoen het! 4

Sy dood

Ben is op 26 Mei 2021 aan Covid-19 komplikasies oorlede. Sy medeakteurs vertel dat hy in die laaste dae voor sy dood tydens opnames gesukkel het om asem te haal. 10

Ben se gunstelinggedeelte in die Bybel was die Griekwa-weergawe van 1 Korintiërs 13 soos dit deur Hans du Plessis oorgeskryf is. Hierdie gedeelte is tydens sy gedenkdiens deur sy seun Ivan voorgelees. 4

Woordbank

alleenloper Man/vrou sonder lewensmaat; ongetroud.
direkteur Persoon wat bestuur of beheer uitoefen, veral een van ʼn groep persone (die direksie) wat die sake van ’n bedryf/maatskappy bestuur.
dissipline Om gehoorsaam aan gesag te wees.
eggenoot Huweliksmaat.
eggo Weerklink; herhaal/hoor keer op keer.
Griekwa Lid van ’n ou Khoi-stam.
Griekwa-Afrikaans Afrikaans soos wat die Griekwas dit praat.
industriële teater Om maatskappye deur middel van teater te help om personeel op te lei.
klug Komiese/snaakse toneelstuk waarin daar gewoonlik baie misverstande is.
komiese Grappig, verspot, snaaks.
kranige Toegewyde en geesdriftige.
kwinkslae Spitsvondigheid, woordspeling, grap.
navigator Om die regte roete aan te dui.
pastoor Leraar/predikant van die Apostoliese Geloofsending en ander kerke soos die Volle Evangeliekerk, die Pinksterkerk.
regie Afrigting van toneelspelers/akteurs.
spitsvondighede Wanneer iemand vinnig is met ‘n gepaste antwoord, of woorde op ’n slim (en dikwels snaakse) manier gebruik.
sterre Akteurs/sangers/kunstenaars wat gewild en alombekend is.

Lees hier

Luister hier

Snitte uit die liedjies op die CD Tjoklits en Trane

Kyk hier

Hannes gesels met Ben Kruger

Spesiale uittreksels uit Binnelanders