Vinnige feite
- In 2019 het die Akademie vir Dramakuns 80 jaar oud geword. 6
- Laker was glo baie lief vir Leonard Cohen se musiek. Joernalis Herman Lategan het vertel dat hy op sewe spraakklasse by haar geneem het en sy het hom toe aan Cohen se musiek bekendgestel. 7
- Sy was op 10 Oktober 1975 een van die voordraers van gedigte by die opening van die Afrikaanse Taalmonument.
- Laker se eerste keer wat sy aan ’n radioprogram deelgeneem het, was aan die program “Oorsig”. Sy was so verlam deur vrees dat sy nie haar sin kon lees nie. Dit was egter die begin van groot dinge, want haar stem is dikwels in radiodramas en poësieprogramme gehoor. 8
- Een van haar gunstelingoptredes was in ’n hoorbeeld oor die lewe van Emily Hobhouse.
Wie is jou gunstelingakteur? Dalk is dit iemand in ’n komedie waarvan jy hou of dalk iemand met groot spiere in ’n aksiefliek! ’n Akteur is die persoon wat die rol van ʼn karakter in ʼn storie vertolk.
Babs Laker (1926-1999) was ’n baie gewilde Suid-Afrikaanse aktrise, radiopersoonlikheid en regisseur. Sy word beskryf as ’n ware legende in die bedryf, en baie akteurs en stemkunstenaars sonder haar uit as iemand wat hulle geïnspireer het en by wie hulle baie geleer het.
Agtergrond
Laker is op 21 Maart 1926 op die dorp Zastron in die Vrystaat gebore en omdat haar pa ’n bouer was, het die gesin dikwels rondgetrek. Hulle het onder meer in Senekal, Bloemfontein, Bellville en Piketberg gebly. Sy het haar skoolloopbaan op Piketberg voltooi en het daarna ’n onderwysdiploma aan die Mowbray Training College verwerf.
Sy was een van die eerste studente aan die Akademie vir Dramakuns (ADK) in die Kaap en het daar ’n lisensiaat in drama verwerf. Sy het later ’n deeltydse dosent by die ADK, Mowbray College, Kaapse Tegniese Kollege en die departemente van drama en onderwys by die Universiteit van Kaapstad geword. Sy het in 1988 die hoof van die Kaapse tak van die ADK geword en die pos tot met haar aftrede beklee.
Sy was ’n bekende stem op die radio en het in verskeie radiodramas gespeel en programme uitgesaai. Sy het ook mense in die radiowese opgelei.
Toneelloopbaan
Laker het in die jare vyftig deel van die Kaapstadse Amateurtoneelvereniging geword en begin om in toneelstukke op te tree.
Haar eerste rol in ’n toneelopvoering was in 1958 toe sy die rol van Hélène in Tussen twee liefdes (die Afrikaanse vertaling van Paul Géraldy se Between Two Loves) vertolk het. Sy het in Julie 1959 die hoofrol in Bartho Smit se toneelstuk Moeder Hanna gespeel. Sy was ook in N.P. van Wyk-Louw se Die pluimsaad waai ver, W.O. Kühne se Huppelkind, en in M.M. Walters se En ’n wingerdstok sal rank.
Sy was ’n bekende verhoogakteur en het onder meer in 1960 in Jean Anouilh se Romeo en Jeannette (die Afrikaanse weergawe van Roméo et Jeannette) geskitter en in dieselfde jaar in Laurie van der Merwe se Antony and Cleopatra. Sy het ook in Hedda Gabler, Die Reënmaker, Hamlet, Mother Courage, The Visit, Bart Nel, Die ryk weduwee, Kom terug, klein Sheba, en in Christine gespeel. Sy was in die toneelstuk Bart Nel as Fransiena te sien. Laker het glo “onvergeetlike spel gelewer – oortuigend, met fyn aanvoeling en subtiliteit”. 1
Sy het in 1986 in Fiela se Kind in die destydse Nico Malan-teater (vandag Kunstekaap-teater) en in 1987 in Die Vroue van Troje gespeel.
Die vroue van Troje is op 21 Februarie 1987 in die hoofteater in die Windybrow-teater in Hillbrow en die Aula-teater van Tuks opgevoer. Laker het die rol van Hekuba gespeel, die Trojaanse koningin wat as die tragiese held al haar kinders deur die dood verloor het. Dieter Reible was die regisseur van hierdie drama. 2
Sy het ook op die silwerdoek verskyn in Man in die donker, ’n Sonneblom uit Parys en ’n Bruidsbed vir tant Nonnie verskyn en in TV-reekse, soos Ballade vir ’n enkeling. 3
Toekennings
Sy is telkens in haar leeftyd bekroon, soos met die Three Leaf Art-toekenning vir beste aktrise in 1966. Dit was vir haar hoofrol in Die reënmaker. Sy het in 1980 die Computicket-toekenning vir toneelspel vir haar spel in Kom terug, klein Sheba gewen.
Bekendes leer by Babs
Die bekende radio-omroeper Tossie Lochner het dramaklasse by Laker geneem en sy het vertel dat Laker vir haar gesê het: “Tossie, as jy jou goed gedra, wag daar ‘n groot toekoms vir jou by die radio.”
Lochner het deur Laker se insette begin om radiowerk te doen. 1
Die bekende aktrise Wilma Snyman het gesê dat Laker vir haar gesê het: “My kind, jy het talent, ons moet hard werk.” Sy het toe dramaklasse by Laker geneem wat haar loopbaan momentum gegee het. 2
Nog bekendes wat by Laker toneelklasse geneem het, was die skrywer Marita van der Vyver, die sanger Johannes Kerkorrel (Ralph Rabe), die aktrise Elsabé Daneel en die aktrise Anna-Mart van der Merwe. Van der Merwe het in ’n onderhoud in 1987 die eerste keer op die verhoog in Dieter Reible se Die Vroue van Troje verskyn. Dit was vir haar veral besonders omdat sy die verhoog met Laker gedeel het. Van der Merwe was ’n lid van die Griekse koor en Laker het die rol van Hecuba vertolk. “Babs het my met ’n intense liefde en respek vir teater geïnspireer,” het sy vertel. 3
Laker het ook vir die skrywer, vervaardiger en rolprentresensent Leon van Nierop gesê dat hy vir die radio bestem was, en dit was die begin van sy loopbaan in die radiowese. 4
Ook die skrywer Jeanne Goosen het Laker as ’n uitstekende pedagoog uitgesonder, en iemand wat ’n groot invloed op haar werk gehad het, veral toe sy haar eie toneelstukke begin skryf het. 5
Persoonlike lewe
Laker is in 1950 met ’n prokureur Wesley Vos getroud. Hy het in 1998 gesterf. Daar is baie min inligting oor Laker se persoonlike lewe, maar sy het wel in ’n onderhoud van haar seun vertel.
Sy is in Mei 1999 in Kaapstad oorlede. Sy was 73 jaar oud. 5
Woordbank
akteur | Die persoon wat die rol van ʼn karakter in ʼn storie vertolk. |
dramaturg | Skrywer van toneelstukke; iemand wat dramas skryf. |
insette | Bydraes. |
hoorbeeld | ’n Radiodrama. |
karakter | Akteur wat ’n persoon, dier, wese of ’n ding in ʼn storie voorstel/vertolk. |
komedie | ʼn Vorm van drama wat in ʼn humoristiese styl geskryf is en gewoonlik op ʼn ligte noot eindig. |
legende | Iemand wat beroemd is en deur mense bewonder word. |
lisensiaat | Sertifikaat wat ’n mens kry as jy ’n gevorderde eksamen aflê. |
momentum | Die krag wat veroorsaak dat ’n bewegende voorwerp aanhou beweeg. |
pedagoog | ’n Opvoeder. |
regisseur | Iemand wat toneelspelers afrig; spelleier. |
silwerdoek | ʼn Ander woord vir rolprent of fliek. |
stemkunstenaars | Toneelspelers wat in byvoorbeeld hoorspele optree waar slegs die stem gebruik word, of wie se stem gebruik word in advertensies. |
subtiliteit | Eienskap van onopvallendheid, ongemerktheid. |
Lees hierdie artikels om meer oor Laker te leer
Video’s oor Babs Laker
Laker in ’n Bruidsbed vir Tant Nonnie (1976)