Vinnige feite
- Anna Neethling-Pohl het onder verskillende skuilname geskryf, onder andere A.P. Niehaus, Wynand du Preez en Anna Heymans. 7
- Die prettige liedjie Die mannetjie – wat deur Jan Pohl geskryf is en vertel van ’n man wat vir sy seun soveel name gegee het – is geïnspireer deur ’n vertelling van Jan en Anna se pa, Pieter, oor ’n boer met 12 name en hoe hy wat Pieter is as bankklerk op ’n vorm op verskillende plekke elke keer al 12 name moes neerskryf! Gaan lees gerus die woorde van hierdie lied in die Nuwe FAK-sangbundel. 1
- Nadat die Volksteater in 1935 gestig is, het generaal J.B.M. Hertzog een aand na ’n toneelopvoering gaan kyk en na afloop van die opvoering vir Anna gesê: “Ons moet elkeen net doen wat sy hand vind om te doen. Dan is ons toekoms mooi.” Sy het ’n groot bewondering vir hom gehad. 1
- In 2018 het Karin Hougaard Anna se Shakespeare-vertalings voorgelees tydens ’n optrede by die Woordfees in Stellenbosch. Terselfdertyd is ’n tweede weergawe van die bundel uitgegee. Wat hierdie uitgawe baie besonders maak, is dat die voorblad ontwerp is deur Anna Lennox, die kleindogter van Anna Neethling-Pohl. 16
- Anna het na Pretoria verhuis toe sy vir haar onderwysgraad begin studeer het. Sy het daarna weer ’n draai in die Kaap gemaak en teruggekeer na Pretoria. Hier het sy in Arcadia gewoon, daarna in Berghoek-woonstelle in Villieria en later in Seniordal in Rietondale. Van hier het sy in Augustus 1990 na Philippolis verhuis en in November 1991 na Graaff-Reinet. So het sy die sirkel voltooi om weer na haar geboortedorp te verhuis waar sy ook in Augustus 1992 begrawe is.
Wie was hierdie merkwaardige vrou? Iemand wie se pa toneel gespeel het en sy kinders van jongs af aan kultuurdinge bekend gestel het; wie se ma klavier gespeel en gesing het; wie se een suster bekend was op radio en televisie en ook as rolprentregisseur; en wie se een broer ’n komponis was én geskilder het. Boonop was haar swaer en sy broer albei beroemde en bekende Afrikaanse digters is.
Dié mens was Anna Neethling-Pohl. Geen wonder dat sy sulke diep spore in die Afrikaanse teaterwêreld, toneel- en rolprentwêreld getrap het en tot vandag deur soveel mense onthou word nie. Mens kan haar beslis een van die groot legendes van teater in Suid-Afrika noem.
Mense het haar op verskillende maniere aangespreek: Anna, Antjie, ta’ Anna, professor Neethling-Pohl en Juffrou Anna. In hierdie artikel word die eerste aanspreekvorm gebruik.
Kinderjare, familie en huwelik
Anna is op 24 Desember 1906 in Graaff-Reinet in die Oos-Kaap gebore.
Hulle was vier kinders, drie dogters en een seun: Gertruida Isabella Reinet of Truida (getroude van is Louw), Sophia Maria of Snaps (getroude van is Van Deventer) asook Jan Pohl. Haar ouers was Peter Huntley Carlisle en Evelyn Maude. Hy is deur mense “Pieter” genoem. Sy beskryf haar pa as “die aantreklikste man wat ek in my lewensdag gesien het: ses voet ses-en-’n-half duim in sy sokkies!” Haar ma “was altyd geurig soos gedroogde laventelblare en roosmaryn en appels en tiemie en warm vroulikheid”. 1
Oor reëls in hulle huis, sê Anna dat daar min “moenies” was vir die kinders. Hulle moes wel betyds wees vir ete, hoflik wees teenoor grootmense en bruin mense en hulle moes die waarheid praat as hulle pa vir hulle iets vra. Haar pa het in hul kinderjare toneel gespeel en Anna het ’n groot bewondering vir hom gehad.
Op Anna se sewende verjaardag was sy bekommerd dat daar nie kinders by haar verjaardagpartytjie gaan wees nie omdat dit op Oukersdag was en almal reeds met vakansie vertrek het. Toe gaan nooi sy, sonder dat haar ma daarvan weet, die kinders van die twee kinderhuise op die dorp na die partytjie. Toe die kinderhuise se hoofde versigtig by haar ma kom verneem of die kinders wel almal genooi is, het sy dapper gesê dat hulle almal kon kom en sy het familie en vriendinne gevra om te help om koek te bak en klein geskenkies toe te draai vir die 200 verjaardaggaste!
Hul ma was net 36 jaar oud toe sy in 1918 aan die groot griepepidemie van daardie jaar oorlede is. Twee jaar ná haar ma se dood, is haar pa weer getroud met Johanna le Roux en hulle het twee seuns gehad, Roukie en Eric Pohl. Haar pa is in 1964 oorlede toe hy 90 was. 1
Anna het sommer op ’n baie jong leeftyd reeds begin met haar loopbaan op die verhoog. Sy was net vyf jaar oud toe sy op die verhoog verskyn het, en sy het daarmee volgehou deur haar skooljare. Sy het in 1923 haar matriek (Graad 12) aan die Hoër Volkskool op Graaff-Reinet voltooi. 2
Omdat daar in daardie jare nie ’n Afrikaanse kursus in dramakunde aangebied is nie, het sy by die Universiteit Stellenbosch vir ’n BA-graad ingeskryf, wat sy in 1927 verwerf het. In 1929 het sy haar Hoër Onderwysdiploma by die Transvaalse Universiteitskollege (TUK – vandag die Universiteit van Pretoria) voltooi. 1 Die naam TUKS of Tukkies is afgelei van die afkorting TUK.
Anna is in 1930 met dr. Johann Christiaan (Chris) Neethling getroud. Hy was ’n jong, patriotiese landbou-ekonoom en is deur N.P. van Wyk-Louw die “Christiaan de Wet-tipe” genoem. Hulle het een dogter gehad – Evelyn Erda (Linda) wat in 1931 gebore is. Linda (Bidell) het ook een dogter gehad – Anna Servasina Nussbaum. Linda is jare gelede oorlede en Anna (Lennox), wat in 1956 gebore is, is in 2023 oorlede. 3
Lewe in ’n wêreld vol kuns
Die kunste-omgewing waarin Anna geleef het, lees soos ’n sprokie as mens vandag daarna terugkyk. Sy het haar lewe gedeel met mense wat die room van die kunstewêreld van daardie jare was – digters, skrywers en toneelspelers. Sy was deel van talle geleenthede wat vandag as geskiedkundige oomblikke bekendstaan. Natuurlik was almal nie in haar jong jare so bekend soos hulle later geword het en soos ons hulle vandag ken nie.
Kyk net na hierdie geleentheid: Op 29 Maart 1934 was daar ’n klein viering by die huis van N.P. van Wyk Louw en sy vrou, Joan, in Kaapstad. Dit was die bekendstelling van sy jonger broer, W.E.G. Louw se eerste digbundel, Die ryke dwaas. Mense wat by hierdie geleentheid was, is onder andere Anna Neethling-Pohl, haar suster Truida Pohl (met wie Van Wyk Louw later sou trou), die skrywer Izak van der Merwe wat as Boerneef bekend sou word, Hettie Smit – skryfster van die bekende Sy kom met die sekelmaan, asook Fred le Roux, joernalis en die man wat in 1949 die eerste redakteur van die tydskrif Sarie sou word. 3
Anna se kontak en samewerking met Van Wyk Louw (wat sy dikwels “Wyk” genoem het) sou deur die jare voortduur. Met die eeufeesviering van die Groot Trek in 1938, het hy op haar versoek die toneelstuk Die dieper reg geskryf om as deel van die vieringe opgevoer te word. 3
Loopbaan: skryfster, omroeper, toneelspeler, dosent
Skryfster
Vroeg in haar loopbaan reeds het sy erkenning vir haar skryfwerk gekry, toe sy in 1926 die Langenhoven-prys vir letterkunde ontvang het. Dit is in 1937 opgevolg met die Vaderland-prys.
Sy het ook self toneelstukke en novelles geskryf. 4
Tussen 1987 en 1989 het sy 25 van William Shakespeare se 154 sonnette vertaal. Dit is ná haar dood, in 1997, uitgegee. 5
Sy het ook ’n boek oor haar pa se herinneringe geskryf met die titel Vader ek kry koud – Herinneringe aan Pieter Pohl.
Omroeper
In 1935 was sy die eerste vrou wat uitsendings oor die radio gedoen het. Sy het vir ’n volle 21 jaar (tot in 1965) by die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) gewerk deur veral programme vir vroue en kinders aan te bied.
Toneelspeler
Vanaf 1938 het sy by nasionale volksfeeste begin optree. Sy was in 1952 een van die organiseerders van die Van Riebeeck-vieringe in Kaapstad, asook van die fees by die Voortrekkermonument in 1957 wat deur honderdduisende mense bygewoon is. Sy was baie bekend vir haar verskyning in rolprente en die letterlik honderde voordragprogramme wat sy deur die hele land, asook in Nederland en België, aangebied het.
Haar bydrae tot die toneelwêreld het verder gestrek as haar eie optredes. Sy het ’n groot bydrae gelewer tot die stigting en ontwikkeling van die Kaapstadse Toneelvereniging en die Volksteatervereniging in Pretoria. Sy het die Volksteater vanaf 1936 tot 1946 gelei en dit laat groei tot een van die bes georganiseerde amateurverenigings wat die Afrikaanse toneel deur al die jare gehad het. Eghard van der Hoven sê dat dit te danke is aan Anna en die opwindende nuwe Afrikaanse toneelstukke wat Volksteater aangebied het, dat hy besluit het om die regsberoep te verlaat en die teater sy beroep te maak. 6
Sy het in meer as 50 toneelstukke opgetree, die meeste daarvan in Afrikaans. 4
Sy was ook die regisseur van ongeveer 60 toneelstukke. 6
In Januarie 1947 het sy lid geword van ’n subkomitee van die Nasionale Raad vir Volwasse Onderwys wat die rol van die teater in volwasse onderwys moes ondersoek. Hierdie verslag het gelei tot die stigting van die Nasionale Toneelorganisasie (NTO), waarvan sy ’n lid van die eerste raad was. 7
Hier is enkele van die TV-reekse en rolprente waarin sy gespeel het:
Die bou van ’n nasie (1938)
Doodkry is min (1961)
Huis op horings (1963)
Majuba: Heuwel van duiwe (1968)
Afspraak in die Kalahari (1973) Regisseur
Die Voortrekkers (1973)
Môre, môre (1974)
’n Bruidsbed vir tant Nonnie (1976)
Dit was aand en dit was môre (1977)
Elsa se geheim (1979)
Hoekie vir eensames (1986)
Ballade vir ’n enkeling (1987) 8
Onderwyseres en dosent
Anna Neethling-Pohl was in 1927 ’n onderwyseres aan die Oranje-Meisieskool in Bloemfontein en in 1928 ook dosent aan die Onderwyskollege van Graaff-Reinet. Ná haar huwelik het sy vir nog ongeveer 10 jaar aan verskillende skole onderwys gegee. 2
Aan die einde van 1964 het die Universiteit van Pretoria (UP) haar gevra om te help om ’n Afrikaanse dramadepartement te help stig. Dit sou die eerste Afrikaanse een in die land wees.
In 1965 begin ’n verdere baie betekenisvolle deel van haar loopbaan by UP. Sy het as professor hier klas gegee en baie kunstenaars wat later groot name op verhoë sou word, het onder haar studeer. Enkele van hulle is Sandra Prinsloo, Katinka Heyns, Tobie Cronjé, Annette Engelbrecht, Zack du Plessis, Lerina Erasmus, George Ballot, Trudie Taljaard, Neels Coetzee en talle ander. Sy het vir sewe jaar hier klas gegee. 7
Hierdie studente en ook ander mense wat met haar te doen gehad het, kan almal talle staaltjies oor haar vertel. Sy was uiters lojaal teenoor haar vriende, maar sy kon ook baie kwaai wees – jy moes nie sommer met haar skoor gesoek het nie.
Haar liefde vir voorlesing van gedigte
Gedigte was haar lewensbloed en haar suurstof (dit was baie belangrik vir haar). Sy het deurentyd by formele, maar ook by informele geleenthede gedigte voorgelees. Mens moet onthou dat sy in ’n tyd geleef het toe daar nie televisie en YouTube en Netflix was waarmee mense hulle kon besig hou nie. Mense moes hulself vermaak en een manier waarop hulle dit gedoen het, was om na gedigtevoorlesings te luister. Mense het sommer wanneer hulle saamgekuier het, ook dikwels gedigte voorgelees en Anna het altyd gedigte reg gehad om voor te dra wanneer sy by mense gekuier het.
Sy het ook jongmense aangemoedig in hul skryfwerk. Sy het ’n paar byeenkomste van Die Woordgilde bygewoon kort ná die stigting van die groep aan die begin van 1987 en die digters met haar raad en voorlesings geïnspireer en aangemoedig.
Sy het vir ’n paar jaar haar gedigteprogam, Verse op versoek, oor die radio aangebied. In 1937-1938 het sy twaalf en in 1949 nagenoeg vyftig voordragkonserte in Vlaandere en Nederland gehou waartydens sy Afrikaanse gedigte voorgedra het. 2
Haar heel laaste optrede was drie weke voor haar dood in Graaff-Reinet, toe sy gedigte by ’n skool vir bruin kinders voorgelees het en daarna ook by ’n konsert van die SA Polisiekoor. 9
Briefskrywer by uitnemendheid
Het jy al ’n brief vir iemand geskryf? Dis nou ’n brief wat jy met ʼn pen (of potlood) op papier skryf en dit daarna in ’n koevert sit, ’n posseël daarop plak en dit by die poskantoor pos na die adres van die persoon aan wie jy geskryf het.
Vandag skryf ons briewe in WhatsApp-boodskappe of in e-posse, maar jare gelede het dit nie bestaan nie en mense het “regte” briewe op papier geskryf.
Anna was bekend as ’n baie getroue briefskryfster en talle mense het kosbare briewe van haar wat hulle steeds bêre. Wanneer iemand iets vir haar gedoen het – soos om haar na ’n funksie te vergesel – het sy elke keer ’n brief geskryf om dankie te sê. Wanneer sy nuus gehad het om met iemand te deel, het sy ’n brief geskryf. Dit was die manier waarop sy dinge gedoen het.
Op 30 Desember skryf sy in ’n brief dat sy “nog oor die 60 bedankingsbriewe het om te tik en pos en ek wil dit graag DV voor die 1992-skrikkeljaar van my af kry”. Op 10 Januarie 1992 skryf sy, “Sedert Kersfees het ek al oor die 67 getik en gepos”. 10
Die Ossewabrandwag (OB)
Net so vurig soos Anna in haar kunstenaarskap en die uitlewing van haar kultuur was, was sy ook ten opsigte van die politieke oorlewing van haar volk.
Sy het saam met ander leiervroue haar steun aan die OB gegee. Die OB was gekant teen Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog en wou hê dat die land onafhanklik van Brittanje moes wees. Die OB het ook aan maatskaplike, ekonomiese en opvoedkundige sake aandag gegee en veral baie gedoen om armoede onder Afrikaners te bekamp. Hiermee het veral Afrikanervroue soos Erika Theron, Anna Neethling-Pohl en die skryfster M.E.R. gehelp. Hulle het onder meer protesoptogte en petisies gereël. Anna het selfs onder die dekmantel van teatervertonings gehelp om geheime OB vergaderings moontlik te maak!
In Junie 1940 was sy betrokke by die organisering van ’n protesoptog vanaf Kerkplein na die Uniegebou in Pretoria. Nie minder nie as 10 000 vroue het aan hierdie optog deelgeneem. 11
Oor hierdie geleentheid, waar Anna die gedig Siembamba voorgedra het, sê Eghard van der Hoven die volgende: “Anna, fier, beskaaf, selfversekerd, lank en slank met haar gladde pikswart haartooisel, het daardie dag vir my die verpersoonliking van die Afrikanervrou geword… tot die einde was sy in haar hele wese ’n volksmens… voorwaar ’n vrou wat die naam van Afrikaanswees waardig was”. 7
Vir ’n lang tyd was daar ’n speurder wat die Ossewabrandwag (OB) in die geheim ondersteun het en onder die skuilnaam Nommer 53 vir Anna nuus aangedra het. Hy het byvoorbeeld vir haar laat weet wanneer aangehoudenes vanaf die Pretoriastasie na ’n interneringskamp sou vertrek. Dan het ’n groot groep vroue stasie toe gegaan om hulle te groet. Daar was dan ’n toespraak en Anna het gewoonlik ’n gedig van W.E.G. Louw voorgedra wat gaan oor iemand wat verraad pleeg.
Anna se man, Chris, was ’n generaal in die OB en is ook vir meer as drie jaar na ’n interneringskamp gestuur. Sy salaris is natuurlik in daardie tyd nie meer betaal nie en Anna, wat toe by ’n Engelse skool skoolgehou het, moes bedank as gevolg van haar verbintenis met die OB. In hierdie moeilike tyd het weldoeners en ook die OB self haar en haar dogter gehelp om te oorleef. Nadat Chris vrygelaat is, is hy en Anna geskei. 1
Rugby en die polisie
Sy was ’n baie groot sportliefhebber – veral van rugby en krieket. Sy was vir jare baie goeie vriende met die voormalige Springbok-rugbykaptein Wynand Claassen en het gereeld rugbywedstryde bygewoon. Sy het haarself op hoogte gehou van die reëls van krieket deur die reëlboek van die spel te lees.
Haar liefde vir rugby het begin toe hulle in ’n stadium – toe sy nog jonk was – in ’n huis langs ’n rugbyveld gewoon het. In 1955 het sy en Esmé Euvrard en Douwtjie Grobbelaar saam na ’n radiouitsending van ’n toets tussen die Springbokke en die Leeus geluister. Hulle het besluit dat hulle bollemakiesie sou slaan én ’n glasie wyn sal drink elke keer as die Springbokke ’n drie druk. In Anna se woorde: “Van Vollenhoven word toe mal en druk drie drieë ná mekaar. Esmé se rug het byna in die slag gebly… maar ons het die wedstryd mooi helder en soepel tot die einde toe gevolg, al was daar nog baie ander punte op die telbord!” 1
Esmé Euvrard was ’n baie bekende en geliefde radio-omroeper en Douwtjie Grobbelaar was ook ’n omroeper, asook die vrou van die ewe bekende en geliefde radio-omroeper Fanus Rautenbach – hy het haar altyd “Vroutjie-Douwtjie” genoem.
Anna het ook hoë agting vir die werk van die polisie gehad. Een van haar heel laaste optredes was vir ’n groep polisiemanne en op haar versoek, het ses polisie-offisiere haar kis met haar begrafnis gedra. 12
Prestasies en huldeblyke
Hierdie is enkele van die toekennings wat sy ontvang het:
Erepenning vir Toneelkuns van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns
Erepenning van die Technikon Pretoria.
Erepenning van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK).
Staatspresidentstoekenning vir Voortreflike Diens.
Eredoktoraat (DPhil) van die Universiteit van Pretoria op 7 April 1978.
Adelaide Ristori-toekenning van die Italiaanse regering. 7
Ander van haar belangrike prestasies op die gebied van kuns en kultuur sluit in dat sy die eerste vrou op die Appèlraad vir Publikasies was en dat UP in 1986 ’n Laureate-toekenning aan haar gegee het.
Nadat sy reeds 80 jaar oud was, het sy en Hannes Horne in 1986 as geldinsameling vir die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) die toneelstuk Harold en Maude in Pretoria opgevoer. Hulle het ook daarmee, asook gedigteprogramme, na die destydse Suidwes-Afrika (vandag Namibië) getoer as verdere geldinsameling vir Kansa. 10
Hoor wat sê die skrywer Cecile Cilliers oor Anna Neethling-Pohl:
“In 1980 is ’n groep vroue deur die weermag genooi om die operasionele gebied (waar die grensoorlog geveg is) te besoek. Een van die vroue was Anna Neethling-Pohl.
“Ek kyk na die foto wat die oggend op Waterkloof-lughawe voor die vliegtuig geneem is. Sy staan in die voorste ry, met die bekende, warm glimlag op haar gesig. Dis halfsewe, ons is lankal op die lughawe, en sy is amper 74 jaar oud, maar dis die glimlag van ’n opgewonde jong vrou.
“Die dag word lank, en op Katima Mulilo luister ons na die uitleg van die toer vorentoe. Sommige vroue lyk of hulle kan flou word. Steeds stralend is Anna Neethling-Pohl. Daardie aand kom ons eindelik op Omega, waar ’n feestelike ontvangs op ons wag, met sjarmante jong mans wat na ons elke gier omsien. Hulle het ’n verrassing voorberei vir hul geliefde professor Anna – Boesmankindertjies sing spesiaal vir haar ’n welkomslied. En toe vra die troepies: asseblief dan, gaan sy nie vir ons voordra nie?
“En daardie vrou (hoe lank al op die been dié dag, en hoe vermoeiend was dit nie) staan langs die kampvuur en dra voor – seker ’n halfuur lank, om te eindig met die pragtige Totius-beryming van Psalm 8: Daar is geen land so ver of woes geleë…
“Daar, onder die sterrehemel, het Anna Neethling-Pohl dié aand my taal, óns taal in Afrika stáán gemaak… ek sal haar nooit vergeet nie!” 13
Mens kan duidelik sien hoe veelsydig sy was in hierdie beskrywing van Hannes Horne, haar kollega en boesemvriend:
“Anna Neethling-Pohl was ’n merkwaardige vrou: aktrise, regisseuse, voordrag-kunstenares, radiopersoonlikheid, volksfeesorganiseerder, professor, rugbykenner, vertaalster, kampvegter vir Afrikaans, brieweskryfster by uitnemendheid én ’n vernuftige skryfster.
“Voeg daarby… ’n hartstogtelike liefhebber van haar land en volk, maar bowenal gelowige Christen, dan het ons ’n beeld van hierdie vrou van Suid-Afrika, wat ’n legende in haar eie leeftyd geword het.” 2
‘Tortel koer vir prof. Anna’
So het die joernalis Joe Venter op 15 Augustus 1992 geskryf oor Anna Neethling-Pohl se afsterwe op 12 Augustus. Toe hy vir die laaste keer in die hospitaal vir haar gaan kuier het, het ’n tortel buite die hospitaal gekoer toe hy uitstap. Haar broer Jan Pohl het vir haar ’n boodskap uit Psalm 40 gestuur: “Met blydskap het ek in ’n groot vergadering vertel: U het my verlos. U het wonderlike dinge gedoen. Here, moet my tog nie uitsluit van U ontferming nie.”
Ongeveer ’n uur nadat sy die boodskap ontvang het, is sy oorlede. 9
Sy was baie ernstig oor haar geloof in God en het, naby aan die einde van haar lewe, die volgende in ’n radioprogram gesê: “Iemand wat in die Karoo grootgeword het, kan eintlik nie anders as om te glo nie. Daar waar die wêreld so oop is en die hemel so wyd, daar glo ’n mens in jou Skepper. En ek glo in Jesus Christus wat op Kersfees mens geword het, geleef het, gely het, gesterf het, en opgestaan het. En my persoonlike Verlosser is”. 14
Die kerk was van kleins af deel van haar lewe. In haar outobiografie noem sy dat haar doopseël nog in haar besit is en sy beskryf die seël. Dit was 50 x 35 cm groot en haar geboortedatum – 24 Desember 1906 – asook haar doopdatum – 3 Maart 1907 – was daarop geskryf. 1
Voor haar dood het sy gevra dat mense geen kranse of blomme moet stuur nie, maar eerder bydraes kan gee aan die Teaterbystandsfonds (TBF). 12
Hierdie fonds bestaan vandag steeds en verleen hulp aan enige persoon wat in die kunstebedryf werksaam was of is – ook mense wat in ’n tegniese rigting werksaam was – wanneer hulle weens siekte of ander probleme hulp nodig het.
Op die kaartjie wat haar familie ná haar dood uitgestuur het, verskyn hierdie aanhaling van Van Wyk Louw, een wat sy soveel keer in haar lewe self aangehaal het:
Mooi is die lewe
en die dood is mooi.
Op 14 Augustus 2022 is sy deur verskeie organisasies in haar geboortedorp Graaff-Reinet vereer, op die 30ste herdenking van haar sterfdag in 1992. 15
Woordbank
bekamp | ʼn Probleem of situasie probeer oplos of minder erg maak. |
dekmantel | Iets wat mens doen wat wegsteek waarmee jy werklik besig is. |
hoflik | Om op te tree op ’n manier wat wys dat mens goeie maniere het en beskaafd is. |
huldeblyk | Iets wat jy doen of sê om jou respek en bewondering vir iemand te wys. |
interneringskamp | Omheinde kamp wat bewaak word en waarin burgers van ’n vyandelike land, of mense van wie die regering dink dat hulle die regering teenstaan, aangehou word. |
legendes | Iemand wat beroemd is en bewonder word oor iets wat hy of sy gedoen het. |
lojaal | Getrou; mens kan op ’n lojale persoon staat maak. |
novelles | Kort prosaverhaal wat langer as ’n kortverhaal, maar korter as ’n roman is. |
patriotiese | Iemand wat sy of haar vaderland liefhet. |
petisies | Versoekskrif aan die owerheid waarin mense vir iets vra. |
room | Belangrikste of beste (gewoonlik gesê van mense). |
skoor gesoek | Moeilikheid soek; iets doen wat ʼn ander persoon kan kwaadmaak. |
sonnette | Gedig met 14 reëls wat ’n vaste struktuur en rymskema het. |
staaltjies | ʼn Grapperige, interessante verhaaltjie/storie/vertelling oor iemand. |
vurig | Om baie sterk te voel oor iets wat vir jou saakmaak of waarvoor jy omgee. |
weldoeners | Iemand wat ander mense help. |
Lees hier
Kyk hier
Lesing oor die Ossewa Brandwag en onder andere oor die vroue in die beweging
Kort rolprent: ’n Bruidsbed vir tant Nonnie (1976)
Kort rolprent: Daar doer in die stad (1954) Anna Neethling vertolk die rol van die ouma.