Vinnige feite

  • Al het vir baie jare saam met Nico Carstens (beroemde musikant) gewerk en baie van Al se liedjies is deur Nico en Anton de Waal geskryf. 3
  • Al het ook sy verskyning op televisie gemaak toe hy in 1981 teenoor Bill Flynn in die reeks Attie en Joos gespeel het. 4
  • Al Debbo se “Bokkie” was die heel eerste Afrikaanse lied wat die eerste plek bereik het op LM Radio se weeklikse treffersparade. 3
  • In 2005 het Al ’n toekenning van SAMA (South African Music Awards) ontvang vir sy lewenslange bydrae tot die rolprent- en musiekindustrie in die land. 6
  • Frederik Burgers was ’n klerk by Crown Mines toe hy en Al Debbo saam in rolprente begin optree het. Hy en Al het nie net saam opgetree nie, hulle was ook groot vriende. Frederik is in 1967 oorlede. 3
  • Frederik Burgers was nie alleen ’n sanger en komediant nie, hy was ook goed met syfers en hy was ’n musikale persoon wat klavier gespeel het en ook orrelis was in die Gereformeerde Gemeente, Turffontein. 6
  • Die Erasmus-kasteel naby die Hoërskool Waterkloof in Pretoria is onder Pretorianers as die Spookhuis bekend. Hierdie bynaam het ontstaan nadat die kasteel in die film Kom saam vanaand as ’n spookhuis gebruik is. 4
Foto: iStock

Hy was ’n Bloemfonteinse seun met groot oë wat hy vreeslik kon rondrol en wat mense kon laat skaterlag. Later het hy met ’n slaprandhoedjie en ’n sonbril wat heeltemal te groot was vir sy gesig, so gewild geword dat hy in die hele land bekend was.

Dit was Al Debbo – ’n komediant wat baie geliefd was onder die mense van Suid-Afrika en wat altyd ’n glimlag op mense se gesigte gebring het, waar hy ook al gegaan het.

Al Debbo en sy seun

Die jong Al

Al Debbo is op 22 Junie 1924 in Bloemfontein gebore. Sy pa, Azar, was Libanees en het in die vroeë 1900’s as immigrant vanaf Libanon na Suid-Afrika gekom. Sy ma, Marguerite, was Afrikaans. Al het twee broers, ’n halfbroer en ’n halfsuster gehad. Sy ma is oorlede toe hy net nege jaar oud was. 1

In sy ouerhuis het hy Libanees en Engels geleer, maar in Bloemfontein waar byna almal Afrikaans praat, het hy sommer van kleins af ook Afrikaans leer praat. Omdat hy as kind in sy ouers se algemene handelaarswinkel gehelp het, het hy daar natuurlik met baie mense te doen gekry en ook by hulle Afrikaans geleer. 2

Al Debbo en sy seun

Al het by Grey Kollege in Bloemfontein skoolgegaan, maar nadat hy op ’n dag van die huis af weggeloop het, is hy na die Excelsior Nywerheidskool in Worcester gestuur. Hier is hy as ’n loodgieter opgelei. 3

Al was ook vir 20 jaar met Trudie Rossouw getroud en hulle het twee dogters gehad. Daarna was hy getroud met Ansa Langeveldt en hulle het twee seuns gehad – Alec en Azar. 3

Al en sy vrou, Ansa

Gebore vir die verhoog

Met sy optredes in skoolkonserte was dit duidelik dat hy mense kon laat lag. Hy het aanvanklik blykbaar nie gedink dat dit ’n goeie loopbaan sou wees om ’n komediant te word nie, maar sy stokperdjies was steeds sang en toneelspeel en hy het gereeld by funksies en tydens troues opgetree. 1

Vir Al was toneelspeel nooit werk nie, dit was vir hom te lekker om mense te vermaak. Hy het nie net mense laat lag deur sy oë te rol nie, maar kon ook buikspraak en kulkunsies doen. Toe hy in 1942 uit Worcester na Bloemfontein teruggekeer het, het hy en Bart Oberholzer die derde plek gekry in ’n landwye talentwedstryd.

Hierna het Hugo Keleti hom aangemoedig om na Johannesburg te gaan waar daar meer geleenthede vir werk was. Hugo het ook vir Al waardevolle hulp en raad gegee oor sy loopbaan. Dit is hy wat vir Al geleer het om sy gehore fyn aan te voel en ook om nie vir sy eie grappies te lag nie. 3

In Johannesburg het Al begin om optredes aan te bied. Gehore het veral baie gehou van sy nabootsing van bekende mense soos sir Winston Churchill en generaal Jan Smuts. Hy het ook sangers soos Chris Blignaut, Nat King Cole en Bing Crosby nagemaak.

In hierdie tyd is daar nog maar net begin met Afrikaanse rolprente en Al het in 1948 ’n klein rol gekry in die vierde Afrikaanse rolprent wat in Suid-Afrika gemaak is – Die Kaskenades van Dokter Kwak. Die karakter wat hy vertolk het was skaars vir drie minute te sien, maar mense het hom raakgesien en daarvan gehou.

Hierna het hy werklik bekend geword toe hy genooi is om saam met die bekende Hendrik Susan se orkes deur die land te toer. Ná hierdie eerste toer het hy nog sewe sulke toere deur Suid-Afrika, deur Suidwes-Afrika (vandag Namibië) en Rhodesië (vandag Zimbabwe) onderneem. Hy was nou ’n beroemde man. 3

Mens moet onthou dat hierdie toere baie lank geduur het en baie konserte is gedurende so ’n toer gehou. Daar was dus vir ’n groot aantal mense in baie dorpe regdeur die land geleentheid om vir Al Debbo te leer ken.

Sy loopbaan as toneelspeler

Sy rolprentloopbaan het vir meer as 60 jaar geduur en in daardie tyd het hy in meer as 20 rolprente gespeel.

’n Paar van die rolprente waarin hy gespeel het, was Alles sal regkom (1951), Dis lekker om te lewe (1957), Fratse in die vloot (1958), Hou die blinkkant bo (1960), Tom, Dirk en Herrie (1962) en Pens en Pootjies (1974).

Hy self het gedink dat sy beste rolprent Donker Afrika van 1957 was. Die laaste rolprent waarin hy gespeel het, was in 2004 in Leon Schuster se prent Oh Schucks… I’m Gatvol.

Hy het self ook rolprente vervaardig, soos in 1969 met Stadig oor die klippe. Nog ’n rolprent wat hy vervaardig het en waarin hy sommer self ook gespeel het, is Boetie Flenters. Hierin het hy die rol gespeel van ’n taamlik onbeholpe privaat speurder wat uiteindelik tog reggekry het om die skelms te vang! 2

In 2011 het hy die Comics Choice-toekenning vir lewenslange bydrae tot die vermaaklikheidswêreld van Suid-Afrika ontvang. 1

Al Debbo en Frederik Burgers

Pierre de Wet, een van die baanbrekers van die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf, het die plan gekry om vir Al en vir Frederik Burgers saam te laat optree. Al was lank en skraal en Frederik was kort en bonkig gebou. Hulle was een van die mees suksesvolle komediantpare in Suid-Afrika se geskiedenis.

Hulle het in 1949 vir die eerste keer saam in ’n rolprent opgetree – Kom saam vanaand. In 1950 het hulle in nog ’n rolprent gespeel, Hier’s ons weer. Nog rolprente waarin hierdie tweemanskap kragte saamgesnoer het, is Alles sal regkom, Altyd in my drome, Dis lekker om te lewe en Fratse in die vloot. 4

Hierdie twee komediante het in 1965 ook saam gespeel in Die wonderwêreld van Kammie Kamfer. 5

Al, die sanger

Al het in sy lewe ook as sanger gewildheid verwerf. Die eerste liedjie waarmee hy bekend geraak het, was die volksliedjie Daar kom die Alibama.

In 1968 het hy verder gewild geword met die liedjies “Bokkie” en “Hasie”, wat deur Nico Carstens en Anton de Waal geskep is. Hierna het hy vir baie jare saam met hierdie twee kunstenaars gewerk – hulle het die meeste van die liedjies geskryf wat hy gesing het. 3

Nog twee van die liedjies waarvoor hy onthou sal word, is “Sonbrilletjies” en “Tamatiesous en kerriekos”.

Hy het ten minste 11 plate opgeneem. ’n Paar hiervan was Kom saam vanaand (1949), Sonbrilletjies (1968), Stadig oor die klippe (1969), Die Tantes van Nantes (1970) en Ek lewe nog (1996).

In 1996 het hy sy laaste plaat met nuwe liedjies opgeneem en in 2000 het sy grootste treffers verskyn met die titel Pieringoog Potpourri – Al Debbo sê dankie. 2

Al was 70 toe hy in 1994 aan die musiekspeletjiesprogram op TV, Noot vir Noot, deelgeneem het. Twee jaar daarna het hy saam met onder andere David Kramer en die groep Mango Groove by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) opgetree. In 2003 was hy byna 80 toe hy en Steve Hofmeyr saam opgetree het en ook Al se trefferliedjie “Hasie saam opgeneem het. 4

Geliefde komediant groet

Al is gedurende Junie 2011 na ’n Bloemfonteinse hospitaal om behandeling te ontvang vir long- en hartprobleme. Hy is drie weke later, op 13 Julie 2011, in die hospitaal oorlede. Hy was 87 jaar oud. 1

Woordbank

algemene handelaar Winkel waarin daar ’n groot verskeidenheid artikels verkoop word, amper soos die groot afdelingswinkels wat ons vandag ken, net baie kleiner.
baanbrekers Iemand wat die eerste keer iets nuuts op ’n sekere gebied doen en so die pad oopmaak vir ander om te volg.
bonkig Stewig.
buikspraak Die vermoë om jou stem so te gebruik dat mense nie kan sien dat dit jy is wat praat nie. ’n Buikspreker kan ook sy of haar stem so gebruik dat dit klink asof dit vanaf ander plekke in ’n vertrek gehoor word.
draaiboek Die teks waarin die storie vir ’n rolprent vertel word – dit bevat ook die dialoog van die karakters.
kaskenades Streke of kattekwaad.
knap Goeie.
komediant Kunstenaar wat snaakse (komiese) vertonings aanbied om gehore te vermaak en hulle te laat lag.
kragte saamgesnoer Om saam aan ’n projek te werk.
kulkunsies Slim toertjies wat dit laat lyk of iemand dinge kan laat verdwyn, verskyn of verander.
loodgieter Persoon wat opgelei is om aan rioolwerke soos waterpype en toilette te werk.
onbeholpe Iemand wat lomp is en sukkel om dinge reg te doen.

Luister en kyk en lag lekker saam!

“Hasie”

“Wie is bang vir die spook?”

Al Debbo sing “O, die koeitjie” vir kinders in die hospitaal

Al Debbo en Nico Carstens – “Love came to stay” (uit die rolprent “Stadig oor die klippe”)

“Tamatiesous en kerriekos” (Nico Carstens)

“Jy’s myne elke dag van die maand” (uit Dis lekker om te lewe)

“Soldate” – Al Debbo en Frederik Burgers (uit Dis lekker om te lewe)

Al sing “Dis lekker om te lewe, ja dit is” (uit Dis lekker om te lewe)  

“As jy wil lekker eet” – Al Debbo en Frederik Burgers

Al Debbo se gewilde “Sonbrilletjies asook “Master Jack”

Al Debbo sing “Sonbrilletjies” toe hy byna 80 jaar oud was.

Komedierolprent: Fratse in die vloot met Al Debbo en Frederik Burgers

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 28 Augustus 2023 | Bygewerk op 30 November 2023