Vinnige feite

  • Voedsel met minder as 5 kalorieë mag aandui dat dit “kalorievry” is.
  • ’n Porsiegrootte is die hoeveelheid van die bepaalde voedsel wat normaalweg deur ’n persoon van vier jaar of ouer ingeneem word.
  • Die agt grootste allergene is melk, eiers, vis, skulpvis, boomneute, koring, grondboontjies en sojabone. 5

Het jy al ooit saam met iemand koekies gebak? Eers sit ’n mens mos al die bestanddele neer, dan meng jy die deeg en dan kan jy die koekies bak en in ’n koekblik bêre (as ’n mens hulle nie dadelik opeet nie!). As ’n mens self koekies bak, weet jy presies watter bestanddele vir die koekies gebruik is.

As ’n mens egter koekies koop, sien ’n mens net die klaar gebakte koekies in die pakkie, en ’n mens weet nie wat die vervaardiger alles in die koekies gesit het nie. Die enigste manier om seker te wees watter bestanddele in die koekies is, is om die voedseletiket op die pakkie te lees. Jy kan dan besluit of dit bestanddele is wat jy wil en/of kan eet, en op grond daarvan kan jy kies of jy die koekies wil koop of nie.

Doel van voedseletikette

Voedseletikette se primêre doel is om die verbruiker se belange te beskerm. Vervaardigers weet wat hulle in produkte sit, maar verbruikers weet nie wat daarin is nie. Voedseletikettering help dat verbruikers met vertroue vervaardigde kos kan koop, en dit help hulle om ingeligte besluite te neem oor die kos wat hulle eet. Dit help ook om deursigtigheid, veiligheid en billike handelspraktyke in die voedselbedryf te bevorder. 1

Regulering deur die staat

In Suid-Afrika word voedseletikettering deur die Departement van Gesondheid (met ander woorde die staat) gereguleer. Die Wet op Voedsel, Skoonheidsmiddels en Ontsmettingsmiddels van 1972 en die Regulasies met betrekking tot die etikettering en advertering van voedsel (R146) bepaal wat op sulke etikette moet staan. Die regulasies vereis ook dat etikette in Engels geskryf moet word, maar dit kan ook een of meer van die ander amptelike tale van Suid-Afrika insluit, soos Afrikaans, Zoeloe, of Sesotho. 2

Vervaardigers van voedselprodukte kan dus nie sommer net besluit hoeveel inligting om op die etiket te plaas nie. Dit beteken ook vervaardigers wat nie die inligting plaas nie, of wat verkeerde inligting plaas, het ’n wet oortree.

Die soort inligting op voedseletikette

Voedselprodukte wat in Suid-Afrika verkoop word, moet etikette hê wat sekere verpligte inligting insluit, soos die produknaam, bestanddelelys, netto hoeveelheid of gewig, land van oorsprong, en die naam en adres van die vervaardiger of invoerder. Algemene allergene (bestanddele waarvoor mense allergies kan wees) moet op ’n etiket verklaar word, en die wyse waarop allergene verklaar moet word, word deur R146 gereguleer. 1

As ’n verbruiker van voedselprodukte, moet jy veral oplet na die volgende inligting:

Die datum

Dit moet op die etiket aangedui word, en dit help jou om te bepaal of die produk nog vars en/of veilig is om te gebruik. Die etiket moet sê “beste voor” en/of “gebruik teen” en/of “verkoop teen”. Niemand mag daardie datum verwyder of verander nie. 2

Die aanduiding “beste voor” beteken nie dat die kos ná die datum onveilig is nie, die kos is net op sy beste vóór daardie datum. “Gebruik teen” word meestal gebruik vir verkoelde items, soos melk of jogurt, wat kan bederf as dit nie teen ’n sekere datum gebruik word nie. “Verkoop teen” is ’n riglyn vir die winkel om te verseker dat goedere wat hulle verkoop, darem ’n redelike raklewe gaan hê nadat dit verkoop is. 2

Voedingsinligting

As daar op ’n etiket enige opmerkings oor die aard van die kos is, soos “hoog in vesel”, moet daar ’n voedingstabel op die verpakking wees. Die voedingsinligting moet in ’n baie spesifieke formaat aangebied word. Dit moet ’n tabel wees, energie-inhoud moet in “kilojoules” of “kJ” verklaar word, en die hoeveelheid van elke voedingstof in die voedsel moet uitgedruk word per 100 g of 100 ml en per enkelvoudige porsie (die hoeveelheid wat een mens gewoonlik daarvan eet). 2

Voedseltipes soos die volgende hoef nie ’n voedingstabel te hê nie: (1) eiers; (2) vars, onverwerkte groente en vrugte; (3) onverwerkte vis; en (4) gereed-vir-eet-voedsel wat op die perseel voorberei en verkoop word. 2

Stellings en bewerings

Vervaardigers mag net sekere stellings oor die voedsel maak as dit waar is. Woorde soos “vars”, “natuurlik”, “suiwer”, “premie”, “kwaliteit”, ens. mag slegs op die verpakking verskyn indien die produk voldoen aan die kriteria wat in die regulasies vervat word. Bewerings oor die voedingswaarde of voedselinhoud, byvoorbeeld dat iets “suikervry” is, word ook gereguleer. Vervaardigers wat nie aan hierdie vereistes voldoen nie, kan vervolg word. 2

Dit klink dalk asof dit sommer onnodig kwaai is, maar verbruikers wat byvoorbeeld aan diabetes (suikersiekte) ly, moet baie versigtig wees hoeveel suiker hulle inneem. As hulle kos eet waarop daar staan “suikervry” en daar is eintlik suiker in, kan hulle baie ernstig siek word en selfs doodgaan.

Allergene

Die teenwoordigheid van allergene is een van die belangrikste redes waarom die inligting oor die vervaardigde voedsel akkuraat moet wees. Allergene is voedsels, middels of bestanddele wat by sommige verbruikers ’n allergiese reaksie kan veroorsaak. 2

Sommige mense is byvoorbeeld baie allergies vir grondboontjies, en as hulle koekies sou eet wat grondboontjies of grondboontjiebotter bevat, kan hulle in anafilaktiese skok gaan. As so ’n persoon nie onmiddellik mediese behandeling kry nie, kan hulle doodgaan. Selfs bestanddele soos kunsmatige kleur- of geurmiddels kan by sekere mense allergiese reaksies veroorsaak. Vir sulke verbruikers is dit ekstra belangrik om voedseletikette deeglik te bestudeer wanneer hulle produkte uitsoek.

Bondelkode

Vervaardigers moet deesdae ook ’n bondelkode (in Engels: batch code) op hulle voedselprodukte aanbring. Dit is ’n kode wat vir al die produkte gegee is wat op ’n bepaalde tydstip in ’n bepaalde aanleg (of fabriek) gemaak is. Indien sulke produkte gekontamineer (besmet) is of nie aan gesondheidsprosesse voldoen het nie, kan dié produkte in die bondel dadelik uitgeken word en van winkelrakke af verwyder word. 3

Bergingsinstruksies

Sommige produkte kan baie lank op ’n gewone rak in ’n kombuiskas of ’n spens oorleef en steeds bruikbaar wees. Dink maar aan blikkieskos soos groente of vis, wat ’n mens vir maande kan bêre. Maar sodra die blikkie oopgemaak is, moet die kos dadelik gebruik word of in die yskas gebêre word. Vervaardigers moet sulke inligting op die etiket aanbring, sodat mense nie dalk die oop blikkie weer in die kas gaan bêre en dan daarvan siek word nie. 3

Aanduiding van gewig

Produkte word meestal per gewig verkoop. As jou ma byvoorbeeld maalvleis koop, kos die maalvleis ’n bepaalde bedrag “per kilogram”. As ’n vleisaanleg, slaghuis of winkel vleis verpak, kan hulle nie net die prys op die etiket aanbring nie, hulle moet sê hoeveel die vleis weeg, sodat die verbruiker kan uitwerk of hulle gekry het waarvoor hulle betaal het. 3

Land van oorsprong

Sommige gebruikers het sterk menings oor waar produkte vandaan kom. Sommige mense hou daarvan om Suid-Afrikaanse boere en voedselvervaardigers te ondersteun, en koop eerder produkte wat uit Suid-Afrika kom. Ander het dalk besware teen ’n bepaalde land se politieke of sosiale stelsel, en wil nie vervaardigers uit dié land ondersteun nie. Verbruikers het die reg om self te kies watter produkte hulle wil koop, en hulle is geregtig op die inligting wat hulle nodig het om só ’n keuse te maak. 3

Hoe om die voedseltabel te lees

Wanneer jy by die huis is, vra jou ma om vir jou ’n produk aan te gee waarop een van hierdie voedseltabelle is. Kyk ’n bietjie of jy met die inligting hier onder kan besluit of dit ’n voedsame produk is om te koop.

Kilojoule-telling

In Suid-Afrika word die totale energie van ’n produk in kilojoules (kJ) aangedui. Die etiket kan dalk ook “kalorieë” (in Engels: calories) aandui, dan moet jy dit gou omskakel. Een kalorie is gelyk aan 4,2 kJ. As jy ’n gesonde gewig wil handhaaf, moet die energie van jou kos en drinkgoed balanseer met jou totale energieverbruik.

As jy meer kilojoules per dag inneem as wat jou liggaam nodig het, sal jy waarskynlik gewig optel. 4 Doen ’n bietjie hierdie eksperiment: Kyk hoeveel kilojoules water, melk en gaskoeldrank soos Coke of Cream Soda onderskeidelik het. Watter een van hierdie drie is die beste om te drink as jy dors is, by ete en as jy vinnig energie nodig het?

Koolhidrate

Die aanduider “glukemiese koolhidraat” of “koolhidraat” is die som van koolhidrate wat afkomstig is van suikers (of dit nou natuurlik in die voedsel voorkom of bygevoeg is) en van komplekse (styselagtige) koolhidrate.

As jy na voedseltabelle kyk, sal jy sien dat die bestanddele volgens die gewig daarvan in die produk gerangskik is. In ’n produk wat groot hoeveelhede bygevoegde suiker bevat (sukrose, glukose, fruktose, maltodekstrien, maltose, galaktose) sal suiker hoër op die bestanddelelys wees. Kyk weer ’n slag na jou blikkie gaskoeldrank. Watter voedingswaarde het die koeldrank? Hoeveel daarvan is suiker?

Proteïen

Ons liggame benodig proteïen vir groei en herstel. Goeie bronne van proteïen is vleis, vis, pluimvee, eiers, soja, bone, peulgewasse en lensies. Maar sommige van hierdie produkte het ook vet en koolhidrate in, daarom moet jy versigtig kies. Deur maer vleissnitte te kies en meer plantproteïene te kies, kan jy die hoeveelheid versadigde vet en kilojoules in jou dieet verminder.

Vet

Minder vet in jou dieet (veral versadigde vet) kan jou help om ’n gesonde gewig te handhaaf, jou algemene gesondheid te verbeter en jou bloedsuiker te beheer.

Daar is twee hooftipes vette: versadigde (in Engels: saturated) en onversadigde (in Engels: unsaturated) vette. Die eerste soort kom in produkte soos botter, kaas en rooivleis voor. ’n Oormaat van hierdie soort vet in ’n mens se dieet kan later gesondheidsprobleme, soos vernoude bloedvate en hoë bloeddruk, veroorsaak.

Die grootste deel van ons daaglikse dieetvetinname behoort van onversadigde vette (mono- en poli-onversadigde vetsure) afkomstig te wees. Dit is die vette in neute, avokadopere, olywe, grondboontjies, groente-olie soos sonneblom of sesamolie, en die olie wat natuurlikerwys in vis voorkom. Wanneer jy ’n produketiket lees, maak seker jy kyk op die bestanddelelys vir die hoeveelheid vet en ook die soort vette wat die produk bevat. Dit kan jou help om die beste keuse te maak.

Vesel

Vesel is plantmateriaal wat jou liggaam nie kan verteer nie. Daar is twee soorte vesel, oplosbaar en onoplosbaar, en albei is voordelig vir jou gesondheid. Oplosbare vesel kom in bone, peulgewasse, hawer, vrugte en groente voor, help met sagter stoelvorming en regulering van bloedglukose en cholesterolvlakke. Onoplosbare vesel – wat in volgraangrane en brood, boontjies, vrugte en groente voorkom – help om jou spysverteringstelsel gesond te hou.

Die aanbevole veselinname vir volwassenes is 25 tot 30 g vesel per dag. ’n Produk wat ’n hoë bron van vesel is, het ten minste 4,8 tot 6 g vesel per 100 g.

Natrium

Die Suid-Afrikaanse dieetriglyne bepaal dat jy die sout (natrium) in jou dieet moet beperk, want te veel natrium kan lei tot siektetoestande soos hoë bloeddruk. Wanneer jy inkopies doen, kyk na die natriuminhoud (in Engels is natrium “sodium”) per porsie. Die nuwe natriumriglyne beveel aan dat soutinname tot 5 g (1 teelepel) of 2 000 mg natrium per dag beperk word.

Voorbeeld van ’n voedseltabel

Hierdie tabel bevat die volgende inligting:

  1. Die porsiegrootte. As jy meer of minder as die aanbevole porsiegrootte eet, moet jy die ander inligting aanpas, sodat jy weet hoeveel jy ingekry het.
  2. Hoeveel porsies daar in die verpakking is. Soms bevat die verpakking een porsie (soos ’n klein pakkie koekies wat jou ma in jou kosblik sit). Soms bevat die verpakking meer as een porsie. In so ’n geval moet jy onthou dat die inligting in die tabel nie vir die hele pakkie geld nie, maar vir ’n gedeelte van die inhoud.
  3. Hier moet jy versigtig wees. Hierdie produk bevat 13% van al die koolhidrate wat jy in een dag behoort in te neem. As hierdie produk ’n klein stukkie sjokolade is, gaan jy later honger word, nog ander kos eet en dalk te veel koolhidrate inneem. As die produk ’n lekker toebroodjie van growwebrood, ham en tamatie is, gaan jy later nog kan eet en nie bekommerd hoef te wees oor te veel koolhidrate nie.
  4. Voedingswaarde. Maak seker die produk bevat genoeg vesel, vitamiene en minerale.
  5. Energie, vet, suiker en sout. Maak seker dat die energie in die produk nie hoofsaaklik van suiker af kom nie, en hou jou vet- en soutinname laag. Hierdie produk lyk sommer baie ongesond!

Woordbank

allergene Voedsels, middels of bestanddele wat ’n allergiese reaksie kan veroorsaak.
anafilaktiese skok ’n Toestand waartydens die immuunstelsel ’n vloedgolf chemiese afskeidings in die liggaam vrystel wat asemhaling belemmer, hartklop vertraag en bloeddruk verlaag.
bestanddele Al die items waarmee ’n mens ’n bepaalde voedselproduk maak.
billike handelspraktyke Praktyke wat regverdige mededinging in ‘n handelsomgewing sal bevorder.
bondelkode Kode wat vir alle produkte gegee is wat op ’n bepaalde tydstip in ’n bepaalde aanleg gemaak is.
diabetes Chroniese siektetoestand waar die liggaam nie genoeg insulien produseer om bloedsuikervlakke behoorlik te reguleer nie.
deursigtigheid Eienskap van ’n proses wat nie geheimsinnig of agteraf plaasgevind het nie.
ingeligte besluite Besluite wat geneem word nadat die besluitnemer genoeg inligting ingewin het en ’n deurdagte besluit kan neem.
onderskeidelik ’n Woord wat ons gebruik as ons twee of meer items genoem het en ons iets wil sê oor elkeen afsonderlik wat genoem is.
raklewe Die lewe van ’n produk nadat die vervaardig is.
verbruiker Iemand wat ’n artikel gebruik wat kan op raak en gereeld aangevul moet word.
vervaardiger ’n Persoon of onderneming wat iets maak wat aan ander mense verkoop word.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Hoe om die voedseltabel te interpreteer

Gepubliseer op: 21 Februarie 2024 | Bygewerk op 1 Maart 2024