Humanisme
Ons lewe vandag in ’n wêreld waarin dít wat gewone mense wil hê, belangrik is. Ons stem byvoorbeeld vir ons leiers en ons het allerhande regte wat nie deur die regering weggevat mag word nie. Dit was egter nie altyd so nie! Trouens, vir eeue lank was gewone mense se behoeftes glad nie belangrik nie.
Dit was veral só gedurende die Middeleeue, vanaf 476 tot ongeveer die 14de eeu. Gewone mense se regte, benodigdhede en doelwitte is geïgnoreer en almal moes hul lewe wy aan die regte, benodigdhede en doelwitte van hul godsdienstige of politieke leiers.
In die 14de eeu het daar egter in Europa ’n beweging ontstaan wat vandag as humanisme bekendstaan. Die humaniste het vir die eerste keer in ’n lang tyd die lewe van gewone mense die middelpunt van alles gemaak.
Soorte humanisme
Die term “humanisme” kan na twee goed verwys:
- Renaissance-humanisme, met ander woorde die idees wat met die Renaissance van die laat 14de en 15de eeu saamgeloop het
- Die humanistiese beweging van vandag, waarin mense streef om ’n niegelowige, maar etiese lewe te lei.
In hierdie artikel word die klem op die Renaissance-humanisme geplaas. Die beweging van vandag word aan die einde van die artikel vlugtig bespreek.
Waar kom die term vandaan en wat beteken dit?
Die term humanisme is vir die eerste keer in die 19de eeu deur Duitse filosowe gebruik. Dit verwys na mense wat diep dink oor watter deugde ‘n mens moet uitleef om ʼn gebalanseerde, aktiewe lewe te lei. Om dit eenvoudig te stel: aksie sonder insig is as doelloos en barbaars beskou, en insig sonder aksie is verwerp as vrugteloos en onvolmaak.
Goeie deugde sluit byvoorbeeld gewone dinge soos begrip, welwillendheid, deernis en barmhartigheid in. Dit sluit egter ook meer selfgeldende eienskappe soos standvastigheid, oordeel, omsigtigheid, welsprekendheid en eerbaarheid in. 1
Wat was die oorsprong van Renaissance-humanisme?
Gedurende die Middeleeue in Europa het die lewe van mense van geslag tot geslag baie min verander. Mense het geglo dat die manier hoe hul ouers, grootouers en al hul voorgeslagte gelewe het, die enigste manier van lewe was, en dat hul kinders ook só sou leef.
In die 14de eeu in Italië het skoliere (nie skoolkinders soos vandag nie, maar studente en filosowe) begin om geskrifte uit die Klassieke tyd – die tydperk van antieke Griekeland en die Romeinse Ryk – te ontdek. Hierdie geskrifte het bewys dat die lewe in die Klassieke tyd heeltemal anders as die lewe in Middeleeuse Europa was.
Soos wat hulle die antieke geskrifte – filosofiese tekste, poësie en drama – gelees het, het hierdie eerste humaniste begin streef om eerder soos die mense in die Klassieke tye te leef. Die geskrifte het dit laat klink soos ’n tyd van vooruitgang en geluk, vol deugsame mense en grootse dade. Daarteenoor was die Middeleeue ’n tyd van stilstand waarin daar bykans niks gebeur het nie. 2
Daar word gewoonlik gepraat van drie stigters van humanisme:
- Dante Alighieri (1265-1321), Italiaanse dramaturg, skrywer van die beroemde drama La Divina Comedia (in Afrikaans: Die goddelike komedie). 3
- Giovanni Boccaccio (1313-1375), Italiaanse skrywer en digter, skrywer van die beroemde kortverhaalboek Decameron (in Afrikaans: Tien Dae). 3
- Die mens wat egter vandag algemeen bekend staan as die vader van humanisme, is die Italiaanse digter Petrarca.
Petrarca: die vader van humanisme
Francesco Petrarca (1304-1374) was die dryfveer van die vroeë humanisme. Teen die tyd dat Petrarca gebore is, was daar reeds mense wat Klassieke geskrifte, wat verlore of dwarsdeur Europa versprei was, probeer opspoor het. 4 Hy het besluit om sy lewe te wy aan die versameling van antieke geskrifte en om daaroor te skryf. 2
Die Middeleeue of Donker Eeue (in Engels: Dark Ages) was vir Petrarca ’n tyd van kulturele duisternis. 3 Hy wou Europa se kultuur laat herleef deur ’n terugkeer na hoe mense in die Klassieke tye geleef het. 2
Gedurende die Middeleeue was die Rooms-Katolieke Kerk die magtigste liggaam in Europa. Petrarca het die korrupsie, uitspattigheid en dogma van die kerk verwerp. 3 Hy het egter ’n Christen gebly, en het probeer om Christenskap en die Klassieke idees met mekaar te versoen. 4
Die humaniste moes versigtig wees omdat almal in daardie tyd Christene was. Indien hulle Christenskap verwerp het, sou mense húlle idees verwerp het. Omdat Petrarca nie Christenskap verwerp het nie, kon sy idees vinniger versprei. 4
Dit is egter belangrik om te onthou dat die Klassieke tyd in die tyd was vóór Jesus Christus geleef het. Deur mense aan te moedig om die Klassieke tyd te bestudeer, het mense noodwendig ’n tydperk van nie-Christelikheid bestudeer. Dit het dus vir die eerste keer in eeue aanvaarbaar geword om niegodsdienstige onderwerpe te bestudeer. 3
Die doel van humanisme
Die humaniste wou mense laat nadink oor hul kultuur, gemeenskap, geskiedenis en die toekoms. Hulle het geglo dat mense die wêreld kon verander of maak soos wat hulle dit wou hê. 4
Humaniste was ook opvoeders wat mense wou leer om te dink, sodat hulle idees self kon verstaan. Dit was in teenstelling met die Rooms-Katolieke opvoeding van die tyd, wat mense gedwing het om idees te aanvaar sonder om daaroor te dink. 2
Wie was die humaniste?
Die humaniste was ’n uiteenlopende groep mense, met baie verskillende idees. Die ding wat hulle in een groep saamsnoer, is hul liefde vir die Klassieke tyd.
Meeste humaniste het uit die hoër klasse gekom, hoewel daar wel humaniste was wat uit laer klasse gekom het. Die humaniste was inderdaad die eerste moderne Europeërs wat geglo het dat mense geleenthede gegee moes word, gebaseer op grond van verdienste en vermoëns, en nie op grond van die klas waarin hulle gebore is nie. 2
Hoe het hulle te werk gegaan?
Soos reeds genoem, het die humaniste Klassieke tekste versamel. Dit het werke ingesluit van Klassieke skrywers soos Cicero, Lucretius, Homerus, Plato en Sophokles.
Nadat hulle die tekste opgespoor het, het hulle dit noukeurig bestudeer. Daarna het hulle die tekste vertaal en versprei. Sommige humaniste het hul eie notas en verduidelikings by geskrifte gevoeg, sodat ander dit beter kon verstaan. 2
Sommige het die Klassieke tekste probeer namaak. Met ander woorde, hulle het hul eie tekste geskep deur die woordeskat en styl van die Klassieke tekste na te boots. 4
Die gevolg hiervan was dat daar ’n groeiende groep denkers was wat hul kennis en liefde vir die verlede gebruik het om ’n nuwe manier van dink in die hede te versprei. Die Middeleeuse manier van dink, is vervang is met ’n nuwe, humanistiese manier van dink. 4
Die verspreiding van humanisme
Humanisme het deur die loop van die 15de eeu deur Europa versprei.
Dit het ’n groot hupstoot gekry toe Konstantinopel, die hoofstad van die Oos-Romeinse Ryk, in 1453 deur die Turke oorgeneem is. Baie Griekse geleerdes in Konstantinopel het Italië toe gevlug en Klassieke tekste met hulle saamgeneem. Die geskrifte is onmiddellik vertaal en versprei en het tot ’n ontploffing van kennis gelei. 3
Die bekendste humanis ná Petrarca was Desiderius Erasmus (c. 1469-1536), ‘n Hollandse teoloog. Erasmus was ’n Christen wat die kerk deur opvoeding wou hervorm. Soos Petrarca het hy Klassieke geskrifte met notas daarby uitgegee. Hy het ook nuwe vertalings van die Nuwe Testament laat uitgee. Sy werk was uiters invloedryk en het ander geïnspireer om hom na te volg. 3
Teen 1500 was humanisme die standaard manier van opvoeding onder die hoër klasse in Europa en dit het onder die laer klasse begin versprei. Die drukpers, wat teen die einde van die 15de eeu algemeen in gebruik was, het ’n reuse-invloed hierop gehad. Boeke was goedkoper en baie meer talryk, en geletterdheid het skerp toegeneem. 4
Die einde van Renaissance-humanisme
Humanisme was ’n wye veld wat alles in die wêreld wat ’n invloed op mense gehad het, wou bestudeer, insluitende wetenskap, kuns, geskiedenis, letterkunde, taalkunde, filosofie en teologie, om maar net ’n paar te noem. Omtrent alle denkers in die middel van die 16de eeu was humaniste.
Soos wat die kennis in die verskillende velde egter toegeneem het, het mense in een veld begin spesialiseer. As gevolg hiervan, het die velde van mekaar af weggedryf. 3
Daar het ook konflik tussen verskillende groepe onstaan, byvoorbeeld tussen:
- gelowiges en niegelowiges;
- monargiste, wat die koningshuise wou behou, en republikeine, wat van koningshuise wou ontslae raak;
- mense wat slegs oor idees wou dink, en dié wat hul idees in aksies wou oorsit; en
- maniere om die idees in aksie oor te sit.
Europa was boonop in die 16de eeu in ’n reeks oorloë betrokke. 4 Om hierdie redes het humanisme tot ’n einde gekom.
Belangrikste idees wat die humaniste versprei het
Humaniste wou die volgende vrae beantwoord:
- Wat beteken dit om ’n mens te wees?
- Wat is die deugde wat van iemand ’n goeie mens maak?
- Hoe kan ‘n mens ’n positiewe bydrae in jou gemeenskap maak? 3
Die skrywers, digters en kunstenaars van die humanisme het geglo hulle kon die mensdom na ’n beter manier van lewe lei. 3 Elke liewe mens was belangrik en het verdien om waardig behandel te word. Deur mense met kennis en vaardighede te bewapen, kon mense self besluit wat is goed en sleg, en hulle kon dan daarvolgens optree. 2
Die sentrale idees van humanisme is die studie van Klassieke tekste, godsdiens, opvoeding, wetenskap en kunste.
Studie van Klassieke tekste
Klassieke tekste is om twee redes bestudeer:
- Om mense meer welsprekend te maak, oftewel, te leer hoe belangrik goeie taalgebruik in kommunikasie is. Hoe meer welsprekend jy was, hoe meer oortuigend was jy, en jy kon dus op daardie manier mense na die regte deugde toe lei. 1
- Die Klassieke tekste het voorbeelde gegee van hoe mense ’n vrome en onberispelike lewe kon lei sonder om blindelings ’n godsdienstige plan te volg. 4
Godsdiens
Die humaniste se idees het hulle in konflik met die Rooms-Katolieke Kerk gebring. Die idee dat jy vir jouself moes dink, was ’n uitdaging vir die Kerk, wat wou gehad het dat mense dit wat húlle gepredik het, moes aanvaar. 3
Die Renaissance-humaniste was egter nie ateïste nie. Petrarca, Erasmus en Thomas More (1478-1535), die Engelse humanis en staatsman, wou geloof hervorm, nie vernietig nie. 3 Hulle het geglo dat God aan mense vrye keuses gegee het en dat mense die beste daarvan moes maak. 4 Daar was wel humaniste wat heeltemal teen godsdiens gekant was, maar dit was dekades later.
Daar was ook Bybelse humaniste wat die Bybel krities wou bestudeer om dit beter te verstaan, nie om dit te verwerp nie. 4
Humanistiese opvoeding
Die humaniste het ontsaglike respek vir opvoeding gehad. Hulle was streng gekant teen die skolastiese skool, ’n styl van leer in die 12de en 13de eeu wat mense geleer het daar sekere goed was wat onbetwyfelbaar was. 5
’n Standaard humanistiese opvoeding het die studie van redenaarskuns, filosofie, taalkunde, letterkunde en geskiedenis ingesluit, asook fisieke opvoeding. Die doel van hierdie opvoeding was om seker te maak dat mense hul eie potensiaal kon bereik en goeie landsburgers word. 3
Erasmus was die groot kampvegter vir opvoeding. Hy het boeke geskryf oor onderwerpe soos:
- hoe om te redeneer;
- hoe om ’n beter skrywer te wees;
- hoe om jou eie werk te hersien;
- hoe om handboeke te skryf; en
- hoe om skole op te rig, en wat skole vir studente moes leer. 3
Wetenskap
Humanisme het op twee maniere ’n groot impak op wetenskap gehad:
- Dit het ’n honger vir antwoorde oor hoekom dinge werk soos hulle werk, opgewek.
- Dit het aan mense die geloof gegee dat die antwoorde deur menslike vermoë gevind kon word. 3
Wetenskap het in hierdie tyd vir die eerste keer in eeue vordering gemaak. Nicolaus Copernicus (1473-1543), die Poolse sterrekundige, het byvoorbeeld in sy beroemde werk Oor die omwentelinge van hemelse sfere (in Latyns: De revolutionibus orbium coelestium) vir die eerste keer in die moderne tyd geskryf dat ons sonnestelsel heliosentries was. 3
Kunste
Humanisme het die kunste só beïnvloed:
- Deur die invloed van klassieke mitologie, en die versoening van Christelike en klassieke idees. In die beroemde Renaissance-kunswerk Die geboorte van Venus deur Sandro Botticelli, beeld die Romeinse godin Venus die maagd Maria van die Bybel uit. 3
- Die menslike liggaam is weer gesien as iets om op trots te wees en nie iets om weg te steek nie. Renaissance-kunstenaars het die menslike liggaam gevier deur dit akkuraat en in detail uit te beeld. Die beroemdste voorbeeld hiervan is Michelangelo se Dawid-beeld. 2
- Skrywers soos William Shakespeare het beroemde mense uit die Klassieke tyd in hul skryfwerk uitgebeeld, soos Julius Caesar in die toneelstuk met dieselfde naam. 3
Nalatenskap
Daar het in Europa ’n internasionale netwerk ontstaan van skoliere wat idees met mekaar gedeel het. Dit het idees vinniger laat versprei. Biblioteke is vir die eerste keer in eeue opgerig en aan gewone mense oopgestel.
Humanisme het opvoeding hervorm en nuwe idees oor kuns en wetenskap geskep. Daardie vakke wat die humaniste studeer het, is steeds vandag met ons en word wêreldwyd by universiteite bestudeer. 3
Renaissance-humanisme het die Europese denke en kultuur só diep beïnvloed dat dit tot vandag toe die manier hoe ons wêreld lyk, oorheers. 4 Die belangrikheid van die individu en individuele mense se regte is ’n direkte uitvloeisel van humanisme. 2
Moderne humanisme
Die humanisme van vandag is ’n niegodsdienstige beweging, met ander woorde dis mense wat nie in die bestaan van God of enige ander bonatuurlike wesens glo nie. 6 Humaniste se filosofie is dat ’n mens ’n etiese lewe, ten goede van die gemeenskap, kan lei sonder die invloed van ’n god. 7
Moderne humanisme het vyf kernidees:
- Soos alles anders het die mens deur evolusie ontwikkel.
- Alles in die wêreld kan deur wetenskap verklaar word.
- Mense het net een lewe en moet die meeste daarvan maak. Omdat daar nie ’n groter betekenis aan die lewe is nie, moet mense hul eie lewe sinvol maak.
- Mense se vermoë om ʼn etiese en morele lewe te lei, lê binne hulself, en het ontstaan deur evolusie. Wanneer mense moet besluit hoe om op te tree, moet hulle dink aan die gevolge van hul aksies en die impak daarvan op ander mense en diere.
- Die enigste ding wat die wêreld ’n beter plek kan maak, is mense. Daarom moet mense streef na en hulle beywer vir gelykheid en menseregte. Die mensdom se vordering moet gevier word, maar met die wete dat daar nog baie werk is wat gedoen moet word. 8
Woordbank
akkuraat | Presies; korrek; noukeurig; sonder enige foute. |
ateïste | Iemand wat nie in die bestaan van God glo nie. |
barmhartigheid | Medelydend, ontfermend, simpatiek, goedhartig, mensliewend, hulpvaardig, behulpsaam, dienswillig, empaties. |
begrip | Dit wat ons verstaan. |
bewapen | Van wapens voorsien. |
blindelings | Sonder ondersoek of nadenke. |
deernis | Om meegevoel met ander mense te hê. |
deug | Goeie eienskap. |
deugde | Om baie deugde te hê. |
dogma | Wanneer jy in goed glo wat nie bevraagteken mag word nie. |
drama | Toneelspel. Direkte voorstelling deur handeling, dialoog, mimiek en gebare van menslike gebeure; gebeurtenis met dramatiese elemente. |
dramaturg | Iemand wat dramas en toneelstukke skryf. |
drukpers | Masjien wat gebruik word om afdrukke op papier of karton te maak. |
dryfveer | Die oorsaak/rede wat iemand iets laat doen. |
eerbaarheid | Eerlik in alles wat jy doen; beginselvas. |
etiese | Om volgens goeie, innerlike lewensbeginsels te dink en te doen. |
evolusie | Die manier hoe alles ontwikkel het uit vroeëre vorms oor miljarde jare. |
filosofiese | Wysgerig, diepsinnig/diepdenkend, geleerd, belese, skerpsinnig, lewensbeskouend. |
filosowe | Mense wat soek na wysheid, kennis, en die wette van die wêreld. |
geletterdheid | Om te kan lees en skryf. |
genade | Om mense te vergewe, selfs al verdien hulle dit nie. |
gepredik | Iets verkondig in verband met godsdiens; preek. |
heliosentries | Die idee dat die son die middelpunt van ons sonnestelsel is. |
hervorm | Opnuut/anders vorm; ʼn gewysigde vorm gee; reorganiseer. |
hoër klasse | Die elite; groep mense wat baie mag en invloed het omdat hul baie geld, kennis of spesiale vaardighede het. |
hupstoot | As iets jou help om vinnig te groei of sukses te behaal. |
impak | Uitwerking, invloed. |
individu | Mens, persoon, enkeling. |
individuele | Enkel, afsonderlik. |
internasionale | Iets wat oor baie lande strek. |
kampvegter | Iemand wat veg vir iets. |
Klassieke tyd | Die tyd van antieke Griekeland en Rome. |
konflik | Stryd/botsing/rusie tussen mense/groepe/partye/lande. |
korrupsie | Om op ’n oneerlike manier jou mag gebruik om jouself ryk of magtig te maak. |
krities | Om die goeie en slegte dele van iets te ondersoek. |
kulturele | Wat te doen het met kultuur, soos drama, letterkunde, musiek, kuns. |
kultuur | Dit is al die lewenswyses insluitend kunste, oortuigings en instellings van ’n bevolking wat van geslag tot geslag oorgedra word. |
laer klasse | Mense uit die werkersklas, ondergeskik; dikwels ʼn benadeelde groep mense. |
liggaam | Vereniging van persone; vennootskap; instelling. |
letterkunde | Geskrewe kunswerke, soos boeke en poësie. |
mitologie | ’n Versameling stories of mites oor ’n geloof. |
monargiste | Mense wat voorstanders is van ’n regering met ’n koningshuis. |
morele | Wat betrekking het op die gevoel vir wat goed en reg is; sedelik, deugsaam. |
namaak | Om iets te maak wat soos iets anders is. |
notas | Aantekeninge. |
omsigtigheid | Om versigtig en bedagsaam op te tree. |
onberispelike | Om korrek en sonder foute op te tree. |
ontsaglike | Vreeslike groot. |
oordeel | Mening, opinie, sienswyse. |
poësie | Die werke van digters of ʼn versameling gedigte. |
potensiaal | Die natuurlike vermoë of eienskappe wat nodig is om in die toekoms tot ‘n bepaalde soort mens/ding te ontwikkel; om uiteindelik suksesvol te wees. |
redenaarskuns | Die vermoë om ’n goeie toespraak te lewer. |
Renaissance | Herlewing van die kuns en letterkunde in Europa onder invloed van hernieude studie van die klassieke oudheid, omstreeks 1450 in Italië begin. |
republikeine | Mense wat voorstanders is van ’n regering waar die mag in die hande van mense is wat verkies word. |
saamsnoer | In iets tot ’n eenheid te verenig. |
spesialiseer | Om belangstelling en vaardighede in een studiegebied te hê. |
standaard | Die normale manier van iets doen. |
standvastigheid | Om by jou standpunt/mening oor ’n saak te bly staan en dit nie te verander nie. |
sterrekundige | Iemand wat die buitenste ruim (hemelruim) bestudeer. |
styl | Die manier hoe iets gedoen word. |
talryk | As daar baie van iets is. |
tekste | Skryfwerk, geskrifte. |
teologie | Bestudering van godsdiens en geloofsoortuigings; godgeleerdheid. |
teoloog | Iemand wat geleerd is in sake oor God en godsdiens. |
uiteenlopende | Diverse, ongelyksoortige. |
uitspattigheid | Om spandabelrig en oordadig te lewe. |
vader | Die stigter. |
velde | Navorsingsgebiede. |
versoen | Om twee dinge wat in konflik is met mekaar, te laat saamstem. |
vlugtig | Kortliks, nie in detail nie. |
vrome | Onskuldig, sonder bedrog/kwaad. |
welsprekendheid | Om jouself goed te kan verwoord; om goed te kan redeneer. |
welwillendheid | Goedgesind; vriendelik; tegemoetkomend. |
wy | Om al jou aandag om een ding te fokus. |
Lees dié artikels oor humanisme
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Hoekom het humanisme ontwikkel?
Denkers van Renaissance-humanisme
Hoekom het die Renaissance in Italië begin?