Cholera

Dis eienaardig om te dink dat iets wat so piepklein is, tot soveel probleme kan lei … Maar dit is presies wat sekere bakterieë doen, soos die bakterie wat cholera veroorsaak.

Die bakterie Vibrio cholerae, ook die kommabasil genoem, is ’n bakterie wat nie met die blote oog gesien kan word nie, maar wat ’n infeksie in die dunderm veroorsaak. Hierdie infeksie word die siekte cholera genoem.

Die kommabasil is ’n bakterie wat in die vorm van ’n komma is en ’n bakterie is ’n klein organisme wat infeksie en besmetlike siektes veroorsaak.

In die 19de eeu is cholera vanaf die Ganges-delta in Indië om die wêreld heen versprei. Dit is deur nóg groot pandemies gevolg wat miljoene mense wêreldwyd siek en doodgemaak het.

Cholera is nou endemies in baie lande. Dit wil sê dat die siekte in daardie spesifieke gebied voorkom. As ons sê dat cholera endemies aan ’n omgewing is, het daar die afgelope drie jaar choleragevalle voorgekom en plaaslik oorgedra. Dit beteken die siekte is nie net deur een mens van ’n ander land af oorgedra nie.

In lande waar cholera endemies is, kan uitbrekings seisoenaal of sporadies voorkom. As ons van ’n uitbreking praat, moet daar minstens een bevestigde geval van cholera met bewyse van plaaslike oordrag wees. 1

Hoe versprei dit?

’n Mens kan nie cholera kry deur aan iemand te vat of dieselfde lug as hy of sy in te asem nie. Cholera word versprei as mense kos eet en water drink wat met die cholerabakterie besmet is.

Besmette kos kan skulpvis en ander seekos insluit, veral as dit rou geëet word. Die bakterie kan ook op rou vrugte en groente voorkom wat in besmette grond gekweek is of wat met besmette water gewas is.

Cholera word gereeld in arm lande gevind wat nie die moderne geriewe het wat water behoorlik reinig nie. Cholera is vandag steeds ’n wêreldwye gesondheidsbedreiging, veral in plekke wat nie goeie metodes het om van riool ontslae te raak of wat genoeg, vars en skoon water het nie.

Die cholerabakterie is al in mense, watervoëls, skulpvis, vis en herbivore gevind. Cholera kan diagnoseer word deur ’n monster van die pasiënt se ontlasting na ’n laboratorium te stuur.  Dis al manier hoe die skuldige bakterieë raakgesien kan word. 1

Die simptome

Choleralyers kan die siekte vir tot vyf dae hê voordat daar simptome voorkom, maar mense kan binne ’n paar uur daaraan sterf.

Die meeste mense wat met die bakterie besmet is, ontwikkel nie simptome nie hoewel die bakterie vir een tot tien dae ná besmetting in hul ontlasting teenwoordig is.

Die meeste mense wat simptome ontwikkel, ervaar matige simptome, maar daar is ’n kleiner groep wat akute waterige diarree ontwikkel.

Erge diarree (en braking) kan gewoonlik so 12 tot 28 uur ná blootstelling aan die bakterie ervaar word.

Die verlies van vloeistowwe en sout in die liggaam kan ontwatering veroorsaak. Die pasiënt is baie dors en kan ook pynlike spierkrampe ervaar. As die pasiënt ontwater is en nie behandel word nie, kan hy of sy binne ure sterf.

Behandeling vir cholera is hoofsaaklik rehidrasie. Die pasiënt kry vloeistowwe en minerale deur aarvoeding en kry ook antibiotika in sommige gevalle. Die siekte kan met suksesvolle behandeling in twee tot sewe dae iets van die verlede wees.

Die sleutel tot choleravoorkoming is egter skoon water en voldoende sanitasiegeriewe. ’n Cholera-entstof kan korttermynbeskerming teen die siekte bied, maar dit hou slegs vir ongeveer ses maande. As ’n mens gebiede met swak waterhigiëne besoek, is dit belangrik om slegs gebottelde water te drink of water voor gebruik te kook. 2

Cholerapandemies

Daar was al siektes, soos cholera in antieke Griekeland en Indië, maar cholera het eers in die moderne tyd ’n siekte geword waarmee daar rekening gehou moet word.

Die Duitse dokter Robert Koch (1843-1910) was die eerste mens wat die bakterie, wat cholera veroorsaak, geïdentifiseer het. Dit het in 1883 gebeur. 3

Sewe groot cholerapandemies het die wêreld in die 19de en 20ste eeu getref. Die eerste een het in 1817 in Indië begin en na Burma (Mianmar), Ceylon (Sri Lanka) en Suidoos-Asië versprei. Dit het verder ooswaarts na die Filippyne versprei asook weswaarts na die Midde-Ooste en Turkye voordat dit in 1823 stoom verloor het.

Die tweede cholerapandemie het in 1829 ook in Indië begin. Dit het in 1830 na Rusland versprei en daarna na Wes-Europa. Dit is in 1831 vir die eerste keer in Engeland aangetref. Die daaropvolgende jaar het daar ook choleragevalle in Kanada, Amerika, Mexiko en Kuba voorgekom.

Die derde pandemie het in 1852 in Indië uitgebreek en van daar na Persië (Iran), Europa, Amerika en die res van die wêreld versprei. Oos-Afrika is swaar deur die siekte getref.

Die vierde en vyfde cholerapandemies het onderskeidelik in 1863 en 1881 uitgebreek. Dit het ook blitsig na die res van die wêreld versprei. Ongeveer 60 000 mense is in 1885 in die Valencia- en Murcia-provinsies in Spanje oorlede, terwyl meer as 200 000 mense in 1893 en 1894 in Rusland oorlede is. In Hamburg, Duitsland, is ongeveer 1,5% van die bevolking in die 1892-uitbreking uitgewis. Daar was ook ’n groot uitbreking in China en Japan en die siekte het in die vroeë 1890’s ook na Suid-Amerika versprei.

Die sesde pandemie het van 1899 tot 1923 geduur en was veral dodelik in Indië, Arabië en langs die kus van Noord-Afrika. Meer as 34 000 mense is binne drie maande in Egipte dood en daar word beraam dat ongeveer 4 000 Moslems in 1902 in Mekka, Saoedi-Arabië dood is. Rusland is ook swaar getref met meer as 500 000 sterftes. Die pandemie het gelukkig nie na Suid- of Noord-Amerika versprei nie en daar was slegs klein uitbrekings in sekere hawens in Wes-Europa. Daar was wel gebiede in Italië, Griekeland, Turkye en Baltiese lande wat swaar getref is.

Die sewende pandemie het in 1961 in Indonesië begin en het gou-gou deur Asië versprei. Teen die jare sewentig het dit na die Midde-Ooste versprei en Afrika bereik, waar cholera vir 70 jaar nie aangetref is nie. In 1991 het cholera onverwags in Peru opgeduik terwyl dit daar vir 100 jaar nie gevind is nie. Die siekte het daarna na Ecuador, Colombië, Brasilië en Chili beweeg en noordwaarts na Middel-Amerika en Mexiko beweeg. Teen die jaar 2005 was daar choleragevalle in nagenoeg 120 lande.

Die pandemie het Afrika in die laat jare negentig bereik en teen die vroeë 2000’s, was daar talle Afrikalande met baie gevalle. Zimbabwe het ’n ernstige cholera-epidemie in 2008 en 2009 ervaar met ongeveer 97 000 gevalle en 4 200 sterftes.

Die ergste cholera-epidemie in die geskiedenis was egter in Haïti in die Karibiese Eilande. Ongeveer tien maande nadat ’n aardbewing die land geruk het, het cholera in Oktober 2010 daar uitgebreek. Teen April 2013 is meer as 650 000 gevalle van cholera aangemeld met meer as 8 000 sterftes. 1

Wat moet jy doen as jy ’n choleragebied besoek?

  • Drink slegs gebottelde of gekookte water en eet verpakte of blikkieskos. Maak seker dat die seël van bottels en verpakkings nie gebreek is nie. Bly weg van kraanwater en ysblokkies.
  • Water kan ontsmet word deur dit vir 1 minuut te kook, kommersiële chloorblokkies te gebruik of 2 druppels huishoudelike bleikmiddel in elke liter water te gooi.
  • Was jou hande dikwels met seep en skoon water. Gebruik ’n handontsmetmiddel.
  • Gebruik gebottelde of behandelde water om skottelgoed te was, tande te borsel, ys te maak of kos te was en voor te berei.
  • Moenie rou kos eet nie. 4

Woordbank

akute Hewig of dringend.
bakterie Dit is ’n klein organisme wat infeksie en besmetlike siektes veroorsaak.
basil Bakterie, kiem.
cholera ’n Besmetlike, bakteriese ingewandsiekte wat deur die kommabasil veroorsaak word.
endemies As iets tot ’n bepaalde streek of gebied beperk is.
epidemie ’n Besmetlike siekte wat vinnig oor ’n groot gebied (plaaslik) uitbrei en ná ’n tyd weer verdwyn.
ontwatering Water of vog word verwyder. Dehidrasie.
pandemies ’n Siekte wat baie gou oor ’n hele land of groter gebied versprei. Wanneer ons van ’n pandemie praat, het dit ook na ander lande versprei.     
rehidrasie Vervanging of terugplasing van verlore liggaamsvog per mond of intraveneus (d.m.v. aarvoeding).
sanitasie Die verwydering van riool- en ander afval van woonhuise en woongebiede.
simptome Verskynsel of tekens van ’n siekte.
stoom verloor Krag verloor; minder raak; nie meer so ernstig nie.
van stapel gestuur Iets begin.

Lees hierdie artikel oor bakterieë

Kyk na hierdie video’s om meer oor cholera te leer

Hoe kan mens cholera voorkom?

Die verskil tussen ’n epidemie en ’n pandemie