Vinnige feite
William Nicol was die seun van ’n Skotse immigrant wat ’n volbloed Afrikaner geword het. Tussen 1913 en 1958 het hy sy land en volk as predikant, kultuurleier en regeringsleier gedien.
Grootword- en studiejare
Nicol is op 23 Maart 1887 in Robertson in die Kaapkolonie gebore. Sy pa, Mathew Nicol, was ’n Skotse onderwyser wat in 1874 na Suid-Afrika gekom het, en sy ma was Maria Elizabeth Klopper.
Hy het sy skoolopleiding in Robertson voltooi en is daarna na Victoria Kollege (vandag die Universiteit Stellenbosch) waar hy in 1906 ‘n BA-graad verwerf het.
Nicol is hierna na die kweekskool op Stellenbosch om hom as predikant te bekwaam. Hy het gou as leier uitgestaan en is as voorsitter van die studenteraad verkies.
Sy studies het egter nie hier geëindig nie. Hy studeer verder aan die Vrije Universiteit van Amsterdam in Nederland en daarna aan die Universiteit van Princeton in die Verenigde State van Amerika (VSA). In 1912 verwerf hy ‘n BD-graad en keer na Suid-Afrika terug. 1
Nicol die predikant
Nicol is aanvanklik tot die bediening toegelaat as reisende sekretaris van die Christen-Studentevereniging.
In 1913 het hy ’n beroep aanvaar as predikant van die NG Gemeente Johannesburg-Oos, ook bekend as Irene. Vir die volgende 25 jaar het hy met groot vrug daar gewerk. 1 Hy het onder meer die gemeenteblad, Irenenuus, in Januarie 1923 gestig. 2
Terwyl hy in Johannesburg gewoon het, het hy ’n leidende figuur in die Afrikanersamelewing geword. Hy het op talle gebiede – onderwys, armesorg, sendingwerk, bestryding van drankmisbruik, en volksfeeste – as leier en organiseerder opgetree.
In 1938 het hy ’n beroep aanvaar by die NG Gemeente Pretoria-Oos, waar hy vir die volgende tien jaar werksaam sou wees. 1
Nicol die kerkleier
Nicol was administratief uiters bekwaam, en het ’n vername rol in kerkkringe gespeel. Op 29-jarige ouderdom het hy die aktuarius van die Transvaalse NGK-sinode geword. Hy sou hierna vir 32 jaar lank lid van die kerk se leierskap bly, en tussen 1934 en 1948 as moderator dien. 1 Die moderator is die voorsitter, en dus basies die leier, van die Transvaalse NG Kerk. 3
Sy ywer het ook daartoe bygedra dat daar in 1927 by die Universiteit van Pretoria ’n teologiese fakulteit gestig is. 1
Kampvegter vir Afrikaner se belange
Nicol was ‘n vurige kampvegter vir die belange van Afrikaners. 1
In die eerste paar dekades van die twintigste eeu was die armblankevraagstuk een van die grootste probleme onder Afrikaners. 3 Nicol het op maatskaplike, kulturele en onderwysgebied voortreflike werk gedoen om hierdie probleem die hoof te bied. 1
In 1918 het hy lid geword van die organisasie wat later as die Afrikaner Broederbond (AB) bekend sou staan. Die AB het hom beywer het vir opheffing van Afrikaners en die Afrikaanse taal. Nicol het gehelp om die AB se grondbeginsels op te stel. 4
In 1934 was hy voorsitter van ʼn geskiedkundige kongres oor die armblankevraagstuk in Kimberley. Hy was ook die voorsitter van die ewe geskiedkundige Ekonomiese Volkskongres in Bloemfontein. 1 Die tema van dié kongres was: ’n Volk red homself! Hier is organisasies geskep wat Afrikaners moes help om ekonomies te floreer. 4
In 1947 het hy ’n Volkskongres in Johannesburg gelei wat dieselfde kwessies bespreek het. 1
Passie vir onderwys
Onderwys het van meet af aan na aan Nicol se hart gelê.
Voor 1920 was daar geen Afrikaansmediumhoërskool in Johannesburg nie. Hy het geen steen onaangeroer gelaat om ’n hoërskool vir Afrikaanssprekendes te stig nie. Die stigting van Hoërskool Helpmekaar, die eerste Afrikaanse hoërskool in Johannesburg, in 1921 was direk aan hom te danke. Helpmekaar het in die negentigs ‘n privaat skool geword en staan vandag as Helpmekaar Kollege bekend.
Sy belangstelling in onderwysaangeleenthede het daartoe gelei dat die regering hom in 1937 as voorsitter van ’n kommissie wat onderwystoestande moes ondersoek, aangestel het. Die kommissie se bevindings, wat in ’n verslag van 1937-1939 verskyn het, het bevind dat moedertaalonderrig onontbeerlik was.
In 1938 is hy aangewys as voorsitter van die Transvaalse Onderwysraad, en ’n lid van die raad van die Universiteit van Pretoria. 1
Nicol was gekant teen die Nasionale Party (NP) se Wet op Bantoeonderwys. Hy het nie geglo dat die NP-regering swart mense se opvoedingsgeleenthede moes beperk nie. Hy was voorts, soos sy kommissie van 1937 en 1938 aangevoer het, ’n voorstaander dat alle Suid-Afrikaners in hul moedertaal skool moes gaan. Engels moes slegs ’n tweede taal wees sodat mense met mekaar kon kommunikeer. 2
Hy het gearbei om Christelike beginsels in verskillende tale vir mense toeganklik te maak. Hy het onder meer gehelp om die Bybel in isiZulu te vertaal. 2
Nicol die kultuurleier
Nicol het hom beywer vir die groei van die Afrikanerkultuur. Deur sy toedoen is daar in die twintigerjare met die hou van kunswedstryde aan die Witwatersrand begin.
Hy het in 1932 lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns geword.
Hy was die voorsitter van die beheerraad van die Voortrekkermonument (1950-’66) en voorsitter van die Sentrale Volksmonumentekomitee (1960-67). 1 Laasgenoemde was ’n komitee wat Afrikaner-volksmonumente opgerig en onderhou het. 5
Administrateur van Transvaal
In 1948 is Nicol as administrateur van Transvaal aangestel.
Onder sy toesig is aansienlike vordering getoon met die bou van paaie, hospitale en ander infrastruktuur. Daar is destyds ’n straat in Johannesburg na hom vernoem omdat hy vir die bou van paaie verantwoordelik was. Dit was die algemene gebruik om strate na belangrike regeringsfigure te noem. 3 William Nicol-rylaan se naam is in 2023 na Winnie Mandela-rylaan verander.
Onderwys het steeds by hom voorrang geniet. Van die aanbevelings wat sy kommissie in die 1937-’39 -verslag gemaak het, het nou wet geword. Hiervolgens is skole se administrasie opgeknap, moedertaalonderrig en uitbreiding van gratis staatsonderwys is getakel, en strenger maatreëls om skoolbywoning verpligtend te maak, is ingestel.
Deur sy toedoen het elke stad aan die Witwatersrand een of meer Afrikaanse hoërskool gekry. 1
Aftrede
Nicol het op 31 Oktober 1958 afgetree.
Hy het tot sy dood aanhou werk. In 1966 was hy byvoorbeeld die voorsitter van die kommissie wat ’n deurpad na die O.R. Tambo Internasionale Lughawe (toe nog Jan Smuts Lughawe) in Johannesburg ondersoek het.
Hy is in 1944 deur die Universiteit Stellenbosch en in 1966 deur die Universiteit van Suid-Afrika met eredoktorsgrade vereer. 1
Skrywer en ander belangstellings
Nicol was ewe vaardig met die pen.
Hy het sy herinneringe in Met toga en troffel neergepen. Hy het ook outobiografiese en ander werke soos Radiosaad (1941), Reënboog oor my jeug (1956), Sunrise on the Langeberge: The Immigrant Who Remained to Love, Serve and Enjoy His Adopted Country (1958), en Agter geslote deure: met die huisgesin (1959) geskryf.
Hy het dit baie geniet om tyd op sy kleinhoewe net buite Pretoria deur te bring. Daar het hy graag houtwerk gedoen en bome geplant.
Nicol was nêrens gelukkiger as in die Transvaalse bosveld nie. 1
Persoonlike lewe
Nicol was twee keer getroud. Sy eerste huwelik was met Maria Johanna van Niekerk. Sy het in 1939 gesterf.
Daarna het hy met Magdalena Johanna van Velden getrou. Hulle het twee seuns gehad.
Nicol was ’n veelsydige mens. Hy was ’n oorspronklike denker en ’n vlot tweetalige redenaar. Hy was ’n uitstekende leier en het veral uitgeblink as voorsitter omdat hy gematig in sy optrede was, maar take met geesdrif aangepak het.
Daar is min van sy tydgenote wat op soveel terreine só ’n groot bydrae gelewer het as William Nicol.
Woordbank
aktuarius | Die persoon wat die Sinode adviseer oor regsake en die wette van die kerk onderhou. (Moenie verwar word met aktuaris.) |
administrateur | Die hoof van ʼn provinsiale uitvoerende mag. |
administratief | Dit is wanneer iets beheer of bestuur word. |
armblankevraagstuk | Aan die begin van die 20ste eeu was daar verskriklik baie arm wit mense wat nie in staat was om sonder hulp vir hul gesinne te kon sorg nie. Hulle het as “armblankes” bekendgestaan. Die toestand van hierdie mense het vir die regering ’n groot probleem (vraagstuk) geword. |
BA-graad | Eerste graad in wysbegeerte, oftewel dinge soos tale en sosiale wetenskappe. |
BD-graad | Graad in teologie, oftewel godsdiensgeleerdheid. |
Bantoeonderwys | Wet wat voorsiening gemaak het vir aparte skole vir wit en swart leerders. |
bediening | Die werk van ’n predikant. |
beginsels | Reëls, riglyne. |
beheerraad | Komitee of raad wat ’n organisasie bestuur. |
bekwaam | Om jouself op te voed om iets te doen. |
beroep | Om by ’n gemeente te werk. |
bevindings | Inligting wat jy as gevolg van jou ondersoek of navorsing kry. |
beywer | Jou inspan/ten doel stel om iets te doen. |
deurpad | Soos ’n snelweg. ’n Pad wat nie deur ’n dorp of stad loop nie en waarop daar nie straatligte is nie. |
die hoof te bied | Te beveg. |
ekonomies | Wat te doen het met jou geldelike situasie. |
eredoktorsgrade | ’n Mens kry ’n eredoktorsgraad vir uitsonderlike prestasies, maar jy hoef nie ’n eksamen daarvoor af te lê nie. |
fakulteit | ʼn Hoofafdeling van ʼn universiteit. |
floreer | Vooruitgaan, welvarend word, voorspoedig wees, groei, uitbrei, ontwikkel. |
gearbei | Om vir iets te werk. |
geen steen onaangeroer gelaat | Om alles moontlik te doen om iets te laat gebeur, bv. Hy sou geen steen onaangeroer laat om te sorg dat sy kind ’n goeie opvoeding kry nie. |
gematig | Nie baie groot of klein, baie warm of koud, baie vinnig of stadig, ens. nie. |
gemeenteblad | Die koerant of publikasie van ’n gemeente. |
geskiedkundige | Histories; belangrik; wat op die geskiedenis betrekking het. |
grondbeginsels | Die belangrikste idee waarop iets berus. |
infrastruktuur | Die basiese strukture en stelsels wat ’n land of organisasie nodig het om behoorlik te funksioneer, byvoorbeeld paaie, ’n spoornetwerk, banke, ens. |
kampvegter | Iemand wat die voortou neem in of stry vir ʼn saak waarvoor hy hom of sy haar beywer. |
kerkkringe | Die mense met wie jy omgaan – in hierdie geval die kerk. |
kommissie | ʼn Groep mense wat ʼn bepaalde taak het, gewoonlik van meer permanente aard as dié van ʼn komitee. |
kongres | ’n Byeenkoms waar verskillende verteenwoordigers bymekaarkom. |
kulturele | Wat te doen het met kultuur, met ander woorde sosiale aktiwiteite, kuns. |
kweekskool | Opleidingskool vir iemand wat ’n predikant of dominee wil word. |
maatreëls | Handeling met ʼn bepaalde doel om sake te reël. |
maatskaplike | Hulpverlening en leiding aan gesinne in die gemeenskap wat ekonomiese, geestelike of ander probleme het. |
met groot vrug | Met groot sukses. |
moderator | Voorsitter van ’n kerk se sinode. |
neergepen | Geskryf. |
onontbeerlik | Waarsonder ’n mens nie kan klaarkom nie; wat ‘n mens nie kan ontbeer nie; absoluut nodig. |
oorspronklike | Om iets self uit te dink. |
opgeknap | Herstel en verbeter. |
opheffing | Iemand help om die omstandighede waarin hulle leef, beter te maak. |
opgerig | Bou; skep. |
outobiografiese | Met betrekking tot die skrywer se eie lewe. |
predikant | Leraar of herder van ’n gemeente; dominee. |
redenaar | Iemand wat ʼn rede/toespraak hou/lewer; begaafde spreker. |
sekretaris | ’n Man wat die administrasie van ’n organisasie behartig, soos briewe skryf, dokumente liasseer en organiseer. |
sendingwerk | Evangelisasiewerk, die Woord bedien. |
sinode | Algemene kerkvergadering waar verteenwoordigers van gemeentes mekaar ontmoet om kerksake te bespreek. |
tema | Hoof- of grondgedagte van ’n gedig, verhaal, musiekstuk, ens. |
toeganklik | Maklik om te verstaan. |
tydgenote | Iemand wat in dieselfde tyd leef as jy. |
vaardig | Iets baie goed kan doen. |
van meet af aan | Van die begin af. |
veelsydige | Iemand wat baie (verskillende) dinge goed kan doen. |
vername | Wat hoë aansien geniet; hoog aangeskrewe; belangrik. |
volbloed | Met hart en siel. |
voorrang | Om eerste te wees. |
voorsitter | Die leier van ʼn organisasie. |
Witwatersrand | Gebied in Suid-Afrika waar goud in die 1880’s ontdek is. Die stad Johannnesburg het daar rondom ontstaan. |
Lees dié artikels om meer te leer
- Die straatnaamverandering het natuurlik baie opinies ontlok
- Nicol was een van die stigters van Hoërskool Helpmekaar
- Nicol was ’n predikant en later moderator van die sinode van die NG Kerk
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
William Nicol-rylaan word Winnie Mandela-rylaan
Die armblankevraagstuk is in 1934 krities ondersoek