Slawerny in Suid-Afrika
Was jy al op ’n plaas? Het jy gesien hoe ’n boer beeste of skape op die plaas aanhou? ’n Boer koop diere op ’n veiling en besit die diere dan. Die diere is die boer se eiendom soos wat ’n trekker of ’n windpomp die boer se eiendom is. Die boer mag die diere gebruik om werk op die plaas te doen, en die boer mag die diere verkoop. Stel jou voor dat dit moontlik is om dieselfde met mense te doen – om hulle te koop vir geld en hulle dan te besit. Dit is die beginsel waarop slawerny werk: ’n Slaaf is ’n ander mens se besitting.
Die oorsprong van slawerny
Slawerny was vir só lank deel van die wêreld se geskiedenis dat ons nie meer presies weet wanneer dit ontstaan het nie. Ons weet wel dat slawerny al in 3500 v.C. ’n gevestigde praktyk was. In Antieke tye was dit al die gebruik dat volke wat oorloë verloor, die slawe van die oorwinnaars word. Dit het byvoorbeeld so gewerk in antieke China en Indië, die Egiptiese Ryk, die Romeinse Ryk, in die ou Afrika-koninkryke en in Moslemlande. 1 Die Kode van Hammurabi wat in 1750 v.C. geskryf is, verwys al na slawe, en ons lees in die Bybel 2 en in die Koran 3 van slawe. Dit sê vir ons dat mense wat in hierdie ou tye geleef het, geweet het van slawe en van slawerny.
Slawerny het dus nie in Suid-Afrika ontstaan nie, maar dit het wel ’n beduidende rol in ons land se geskiedenis gespeel.
Slawerny en kolonisasie
Kolonisasie is ook nie nuut nie. Dit was vir eeue lank ’n gebruik dat die oorwinnaar van ’n oorlog beheer oor ’n ander land mag oorneem. Maar die skaal waarop Europese lande van die 1600’s tot 1800’s grondgebied in Afrika, die Amerikas en Asië oorgeneem het, was baie groter as vantevore.
Een van die gevolge van kolonisasie was die uitbreiding van slawehandel. Die hele idee met die kolonies was dat die Europese lande die grondgebied in die kolonies kon bewerk (daarop kon boer) of ontgin, maar daarvoor het hulle arbeiders (werkers) nodig gehad. Slawe was vir die koloniseerders die goedkoopste manier om die werk in die kolonies gedoen te kry. 4
Die geskiedenis van slawerny in ons land word dan ook verbind met die kolonisasie van die Kaap. 5
Eerste slawe aan die Kaap
Die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (toe genoem die Vereenigde Oost-Indische Compagnie, verkort as die VOC) was ’n handelsorganisasie wat Nederland se handelsbelange in sy kolonies in die Ooste beskerm en bevorder het. Die handelsroete tussen Europa en die Ooste het om die suidpunt van Afrika geloop, wat beteken het skepe moes van Europa af tot in Batavia (die huidige Jakarta in Indonesië) vaar. Dit was ’n lang reis in daardie dae, en die VOC het besluit om ’n verversingspos aan die Kaap te vestig. Jan van Riebeeck is as die eerste bevelvoerder aangestel, en in 1652 het hy aan die Kaap geland om die verversingspos te vestig. 6
Die VOC het reeds op daardie stadium slawe in Oos-Indië aangehou. Die VOC was dus gewoond daaraan om slawe as arbeiders te gebruik. 5
Baie gou nadat Jan van Riebeeck aan die Kaap aangekom het, het hy die Here XVII (die bestuurders van die VOC) gevra vir slawe wat in die Kaap kon werk. Die eerste slaaf wat na die Kaapkolonie toe ingevoer is, was Abraham van Batavia. Hy het in 1653 hier aangekom. Die eerste besending slawe het in 1658 op die seilskip Amersfoort aangekom. Dié slawe was uit Angola en is aanvanklik deur die Portugese gekoop om na Suid-Amerika te neem. Die Portugese boot waarop hulle was, was oud en stadig en die Nederlanders op die Amersfoort het die boot maklik oorrompel en die slawe afgeneem. Altesaam 250 van hierdie slawe het op 28 Maart 1658 in Tafelbaai aangekom, en van daardie datum af was Suid-Afrika deel van die slawehandel. 7
Die slawe word deel van die Kaap
Aanvanklik het die Kaapse slawe uit Oos-Indië gekom, maar later het die VOC besluit dat dit beter is om slawe uit Afrika in te voer omdat dit nader en goedkoper was. Tussen 1658, toe die eerste slawe in die Kaap aangekom het, en 1807, toe slawehandel afgeskaf is, is ’n beraamde 63 000 slawe na die Kaap ingevoer. ’n Kwart van hulle het van Afrika se vasteland gekom, ’n kwart van die Indiese subkontinent, ’n kwart uit Madagaskar en ’n kwart uit Indonesië. 7
Van die slawe in die Kaap het vir die VOC gewerk, maar die vryburgers het ook slawe aangekoop. Die VOC se slawe het in die slawelosie in Kaapstad gebly. Hierdie gehou staan vandag nog op die hoek van Adderley- en Waalstraat in Kaapstad. Dit is deesdae ’n museum waar ’n mens meer oor die geskiedenis van slawe in Suid-Afrika kan leer. 5
Die slawe het allerhande werk gedoen, maar hulle is veral gebruik om handearbeid te verrig. Hulle het openbare geboue gebou, in die Kompanjiestuin gewerk, paaie gebou, en hout en water aangedra. Onthou, in daardie tyd was daar nie swaar masjinerie om enige werk te vergemaklik nie. Sommige het vissermanne geword wat namens hul eienaars vis gevang en verkoop het, en baie het op die plase as arbeiders gewerk. Sommige slawe het ambagte aangeleer, soos messelwerk en meubelmakery, en was vir hul eienaars baie geld werd. 8
Lewensomstandighede van die slawe
Vir slawe was die lewe baie moeilik. Hulle is dikwels met geweld in hul eie land gevang en ontvoer. Die omstandighede op die skepe waarmee hulle na ander wêrelddele vervoer is, was haglik. Baie is tydens die seereis dood. Ander het so siek aan die ander kant aangekom, dat hulle nie kon regop staan nie.
Slawe is op markte verhandel soos diere of ander besittings. Hulle het geen regte gehad nie en daar was ook nie wette wat hulle beskerm het nie. Hulle het nie salarisse gekry nie, hulle mag nie eiendom besit het nie, en hulle mag nie vryelik rondbeweeg het nie. Kinders van slawe het outomaties ook die eiendom van die ouers se eienaar geword.
Die soort lewe wat ’n slaaf gehad het, het heeltemal afgehang van die eienaar se geaardheid. As die eienaar goedhartig was, is die slawe ordentlik behandel. As die eienaar wreed was, is die slawe mishandel. 9
Die einde van slawerny
Die Kaap het in 1806 ’n Britse kolonie geword. Dit het beteken die Kaap was van toe af deel van die Britse Ryk en daarom het Brittanje se wette ook vir die Kaap gegeld.
’n Groep politici in Brittanje het hulle vir die beëindiging van slawerny beywer (hard daarvoor gewerk). Hierdie groep se leier was William Wilberforce, ’n baie toegewyde Christen wat geglo het dat slawerny sonde is.
Hulle het hul eerste oorwinning in die stryd teen slawerny in 1807 behaal: Die Britse parlement het ’n wet aanvaar wat slawehandel in die Britse Ryk onwettig gemaak het. 10
Ongelukkig was hierdie wet net van toepassing op slawehandel, dit het nie bestaande slawe vrygemaak nie. Eers in 1833 het die Britse parlement die Wet op die Afskaffing van Slawerny (Engels: Slavery Abolition Act) deurgevoer. Hierdie wet het bepaal dat slawerny oral in die Britse Ryk afgeskaf word, en dat alle slawe vrygestel word. 11 William Wilberforce is oorlede drie dae nadat dié wet aanvaar is. 10
Die Kaapkolonie het slawerny op 1 Desember 1834 afgeskaf, maar die slawe wat op daardie tydstip steeds in eienaars se besit was, het ’n vakleerlingskap van vier jaar deurloop. Dit het beteken hulle het steeds by hul eienaars gewerk, maar die eienaars moes hulle oplei om ’n werk te kan doen waarmee hulle vir hulself en hul gesinne kon sorg. Op 1 Desember 1838 is slawerny finaal in die Kaapkolonie afgeskaf. 12
Nie almal in Suid-Afrika was tevrede met die manier waarop die Britse regering die saak hanteer het nie. Die slawe-eienaars moes hul slawe vrystel, wat beteken het dat boere op plase ál hul arbeiders verloor het. Die slawe-eienaars kon ’n deel van die geld terugkry wat hulle vir die slawe betaal het, maar net as hulle self die geld in Brittanje gaan haal het. Dit was nie moontlik nie, en dit het ’n groot verlies vir hierdie eienaars beteken.
Hul ontevredenheid hieroor was een van die redes vir die Groot Trek van 1838. 12
Nalatenskap van die slawe in Suid-Afrika
Afgesien van die voor die hand liggende dinge wat die slawe tot ons samelewing bygedra het – soos die goed wat hulle gebou het en die plase wat hulle bewerk het – het hulle ook op ander maniere help vorm aan Suid-Afrika.
Die slavinne het in die vryburgers se huise en kombuise gewerk. So het Maleise disse, soos bobotie, brijani, kerrie, sosaties, geelrys, blatjang en bollas deel geword van die huishoudings in die Kaap. 13 Vroue en jong meisies wat kinders opgepas het, het woorde uit hul taal gebruik as hulle gepraat het, en so het woorde soos “piesang”, “sago”, “piekel”, “doepa”, “soebat”, “baadjie”, “koejawel” en “ghoema” deel geword van Afrikaans. 14
Baie huidige Suid-Afrikaners is afstammelinge van slawe. Die Bassons se stammoeder is byvoorbeeld Angela van Bengale, die familie Swart se stammoeder is Maria van Bengale, die Gerritse stam af van Susanna van Mombasa, die Snymans se stamvader is Antonij van Bengale en die Claassens is afstammelinge van Claas van Malabar. 15
Woordbank
aanvanklik | Eers. |
afgeneem | Vat. |
beduidende | Betekenisvol. |
beraamde | Uitreken; ’n optelsom doen en dan min of meer bepaal. |
bollas | ’n Kleiner weergawe van die tradisionele Kaaps-Maleise koesister. |
deurgevoer | Aanvaar en tot wet maak. |
eiendom | Besitting. |
gevestigde praktyk | Vasgestelde manier van doen. |
grond bewerk | Op grond boer. |
haglik | Baie ongesond en sleg; aaklig. |
handearbeid te verrig | Swaar en harde werk met die hande doen. |
jou beywer vir iets | Hard werk vir iets. |
kolonisasie | Die praktyk waar een land ’n ander se grondgebied oorneem en dan die inwoners en hulpbronne van daardie land gebruik. |
koloniseerders | Die land wat van ’n ander land ’n kolonie maak; die inwoners van die land wat van ’n ander land ’n kolonie maak. |
ontgin | Myne vestig en grondstowwe daaruit kry. |
oorrompel | Iemand of iets swakkers oorneem. |
oorwinnaars | Wenner. |
skaal | Omvang; grootte. |
slavinne | Vroulike slaaf. |
slawelosie | Slawehuis. |
subkontinent | Vasteland, landmassa, wêrelddeel, wêreldstreek. |
verhandel | Koop en verkoop. |
verversingspos | ’n Plek waar skepe kos en water kan inneem. |
vryburgers | Nederlandse setlaars wat nie meer vir die VOC gewerk het nie, maar hulle eie grond besit het. |
Lees meer
Kyk hier
Die liedjieskrywers David Kramer en Taliep Petersen het ’n musiekblyspel, Ghoema, geskryf oor die musiek wat saam met die slawe na die Kaap gekom het. Luister hier na die lied “Marahaban” wat gaan oor ’n slaaf se koms na die Kaap.
Hier is nog ’n liedjie uit Ghoema wat gaan oor slawe wat ander name gegee is.
Hier kan jy luister na “Mali, die slaaf se lied” – ’n hartroerende ballade oor ’n slaaf wat hunker na haar vaderland wat ver weg is. Die lirieke kom uit ’n gedig van C.L. Leipoldt en is getoonset deur S. Le Roux Marais.
’n Rolprent, Amazing Grace, is gemaak oor William Wilberforce en die afskaffing van slawehandel. Kyk hier na die voorprent: