Vinnige feite

  • Die dorpe Stellenbosch en Simonstad is na Simon van der Stel vernoem.
  • In die dae van Simon van der Stel is daar jaarliks ʼn kermis gehou. Die sogenaamde volksfeeste of jaarmarkte was tydens die 17de eeu ʼn bekende instelling in Nederland, en dis elke jaar op Stellenbosch gehou. Dis ook deur Kapenaars en burgers van Drakenstein en Franschhoek bygewoon. Papegaaiskiet was volgens bepaling van Simon van der Stel ʼn vaste instelling op die kermis. Dit kom van Nederland af waar dit ʼn volksgebruik was om na ʼn houtpapegaai of gansteiken te skiet. 4
  • Die Simon van der Stel-stigting is geskep om Kaapstad se geskiedenis en erfenis te bevorder.
  • Dit is onseker waar Simon van der Stel die idee vir sy plaas, Groot Constantia, se naam gekry het. Dit kan van die Latynse woord vir konstantheid afkomstig wees of dit kan ook na ʼn kommissaris se dogter verwys. Die kommissaris het Van der Stel glo gehelp om die grond vir sy plaas te bekom. Daar is ook bespiegel dat dit na ʼn VOC-skip “Constantia” genoem is. 5
  • Selfs die bekende Napoleon van Frankryk het wyn van Groot Constantia gedrink.
Foto: iStock

Klink die naam Simon van der Stel vir jou bekend? Jy het dalk al van hom gehoor, want hy was nogal ʼn belangrike man in ons geskiedenis. Hy het lank, lank gelede geleef, en was eens op ʼn tyd ʼn kommandeur en later ʼn goewerneur aan die Kaap. Hy word ook as ʼn pionier in die wynbedryf beskou.

Geboorte op see tot kommandeur

Simon van der Stel is op 14 Oktober 1639 op see naby die eiland Mauritius gebore. Hy was die seun van Adriaan van der Stel wat by die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) gewerk het. 1 Sy ma was Maria Lievens, die dogter van ʼn Nederlandse seekaptein en Monica da Costa, ʼn Oosterse vrou. Toe sy pa oorlede is, het Simon na Batavia gegaan. Batavia was destyds ʼn kolonie van Java. Hy is in 1663 met Johanna Jacoba Six getroud, en hulle het ses kinders gehad.

Die VOC het hom gevra om na die Kaap te gaan om as ʼn VOC-kommandeur diens te doen. Sy vrou het glo nie kans gesien om saam te gaan nie, en sy dogter en jongste seun het ook agterbly. Hy was glo baie opgewonde oor die vooruitsig en was blykbaar van die begin af vasbeslote om die Kaap sy permanente blyplek te maak. 2

Simon van der Stel en Catharina Keyser.

Hy het op 12 Oktober 1679 in die Kaap aangekom. Hy is deur sy vier seuns en sy skoonsuster, Cornelia Six, vergesel en het as die kommandeur van die Kaap begin werk. 3

Die gesin het aanvanklik in die ou goewerneurshuis gebly, maar in 1680 na die Kasteel in die Kaap verhuis.

Koper en Kaapse uitbreiding

Van der Stel se hooftaak was om die Kaapse nedersetting uit te brei en toesig daaroor te hou. In 1679 het hy Stellenbosch, sowat 50 km van die fort in Tafelbaai af, gestig. Die uitbreiding het flink gevorder, en Drakenstein (later Paarl), Franschhoek, Tygerberg, Wagenmakersvallei (Wellington), Swartland (Malmesbury) en die Land van Waveren (Tulbagh) het gevolg.

ʼn Groep van sowat 180 Franse Hugenote het in 1688 in die Kaap gekom. Hulle het na die Kaap gekom omdat Christene in daardie tyd in Frankryk vervolg is. Simon van der Stel het hulle verwelkom en hulle op Franschhoek en Drakenstein laat woon.

Van der Stel het ook na Namakwaland gegaan om te kyk of daar potensiaal vir koper was. Hy het ʼn joernaal bygehou oor hierdie lang tog in 1685, en hoewel hulle die koperneerslae gesien het, het hulle besluit dat dit te ver van die Kaap was om daarvan ʼn lonende myn te maak.

Hy het ook ʼn klomp ontdekkingstogte gereël om nog verdere gebiede te ontken en nedersettings te vestig, soos in die Bergriviervallei.

Van der Stel was baie opgewonde oor sy nuwe blyplek en wou dit graag ʼn “Klein Nederland” maak. Hy het hard aan die uitbreiding en ontwikkeling van die Kaap gewerk en het byvoorbeeld klomp bome laat plant en is ook sommer “Simon die Boomplanter” genoem.

Groot Constantia Jonkershuis.

Daar het allerlei ontwikkelinge gebeur, soos ʼn nuwe hospitaal wat vir skipbreukelinge gebou is. Skipbreukelinge is mense wat skeepsongelukke of -sinkings oorleef het. Die landbou het groot vordering getoon, en stamboekvee (rasegte stoetvee) is ingevoer. Duisende wingerde is ook aangeplant. Daar is ook aandag aan opvoeding gegee, en kerke is gestig. 4

Van der Stel het op 14 Desember 1691 die eerste amptelike goewerneur van die Kaap geword, en hy het ook toe in sy nuwe huis op sy plaas, Groot Constantia, ingetrek. Hy het agt jaar later uit die pos bedank en is deur sy seun, Willem Adriaan van der Stel, opgevolg.

Simon van der Stel en sy seun, Willem Adriaan.

Wynbedryf in Suid-Afrika

Simon van der Stel het ʼn agtergrond in wynbou gehad voordat hy in die Kaap aangeland het. Hy het by die wingerde van Muiderberg in Nederland meer van die maak van brandewyn en wyn geleer, en dié kennis kon hy toe later in die Kaap terugploeg. Dit het alles begin met ʼn plaas wat hy by die VOC gekry het.

Groot Constantia.

Die VOC het destyds ʼn streng beleid gehad dat hul werknemers nie plase mag besit het nie. Hulle wou nie hê dat die amptenare kos aan die markte voorsien en só geld van die gewone burgers afvat nie. Die werknemers het mos reeds geld by hulle verdien, en die burgers moes ook lewe en geld maak.

Van der Stel het egter jare van lojale diens gehad en het, toe hy grond by die Kompanjie aanvra, dit gekry. ʼn Kommissaris Rijckloff van Goens het ook ʼn goeie woordjie vir hom gedoen.

Hy het ʼn stuk grond gekry waarvan hy baie gehou het en het die plaas Constantia (later Groot Constantia) genoem. Sy seun, Willem Adriaan, het ook latere jare grond gekry en sy plaas Vergelegen genoem.

Simon van der Stel het omtrent 891 morg grond gekry, wat vandag ongeveer 763 ha is. Dit was agter Tafelberg, en dit was nie net ʼn mooi omgewing nie, maar ook vrugbaar. Van der Stel het die potensiaal vir wynmaak gesien en dit sommer gou-gou in ʼn pragtige wynlandgoed omskep.

Hy was lief vir wyn, en die plaas het later sulke goeie wyn begin maak dat dit reg oor die wêreld bekend geraak het. Konings en keisers soos Frederick die Grote van Pruise en Louis Phillipe, die koning van Frankryk, het Constantia-wyn gedrink. Dit was só bekend dat die naam tot in boeke verskyn het, soos in Jane Austen se Sense and Sensibility en in Charles Dickens se The Mystery of Edwin Drood. 5

Groot Constantia.

Sy dood

Van der Stel het in 1712 siek geword en is op 24 Junie dieselfde jaar op 73-jarige ouderdom oorlede. Hy is by die Groote Kerk in Kaapstad begrawe. 6

Woordbank

burgers Lid van ʼn stad of staat.
goewerneur Persoon wat vir die beheer van ʼn openbare instelling verantwoordelik is.
ontdekkingstogte Reis waarop iemand vertrek met die doel om iets te ontdek of meer oor iets uit te vind.
pionier Iemand wat nuwe weë baan.
wingerde ʼn Stuk grond waar druiwe gekweek word om wyn van te maak.
wynlandgoed ʼn Plaas waar druiwe gekweek en wyn gemaak word.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Meer oor Simon van der Stel

Hoe het hy in Stellenbosch opgeëindig?

Groot Constantia se geskiedenis

Foto: iStockFoto: ShutterstockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 Julie 2022 | Bygewerk op 2 Februarie 2024