Vinnige feite

Moffat Preek vir die Betsjoeana
  • Die Khoi-San is die gesamentlike benaming vir die Khoi- en San-mense wat saam die oudste inwoners van Suid-Afrika uitmaak. 1
  • Genadendal was die eerste sendingstasie wat in suidelike Afrika gestig is. Dié sendingstasie is in 1738 gestig.
  • Die Morawiese Kerk is een van die oudste Protestante denominasies in die wêreld. Die naam verwys na die oorspronklike vlugtelinge wat in 1722 uit Morawië (nou die Tsjeggiese Republiek) na Duitsland gevlug het. Die Morawiërs het sendelinge na lande om die wêreld heen gestuur, ook na die Kaap die Goeie Hoop.
  • Robert Moffat het onder meer Missionary Labours and Scenes in Southern Africa(1842) en Rivers of Water in a Dry Place (1863) geskryf.
  • Die Lovedale-sendingskool is bekend omdat baie bekende swart mense daar skoolgegaan het, soos Thabo Mbeki, wat later die president van Suid-Afrika geword het. Tiyo Soga, ’n bekende Presbiteriaanse kerkleier, en die anti-apartheidsaktivis Steve Biko het ook daar skoolgegaan. Die skool is in 1824 deur John Bennie en John Ross van die Glasgow-sendinggenootskap gestig. 16
  • Daar is ’n standbeeld vir Robert Moffat in East Lothian, Skotland opgerig. Dit is in 1885 onthul en sy seun, John, het die geleentheid bygewoon.
  • Robert Moffat se oudste dogter, Mary, wat onderwys by hul sendingskool in Kuruman gegee het, het met die bekende ontdekker en sendeling David Livingstone getrou. David Livingstone is bekend vir sy vele ontdekkingsreise in Afrika – soos die ontdekking van die Victoria-waterval – en dat hy Westerse denke oor Afrika verander het. Hy het respek vir die kontinent en sy mense gehad.
  • Hoewel daar al vanaf 1872 vir ’n Bybel in Afrikaans gevra is, is daar eers in 1917 besluit om die taak aan te pak. Die eerste vertaling was ongelukkig ’n mislukking, maar in Julie 1923 is dr. J.D. du Toit en dr. B.B. Keet as heeltydse vertalers aangestel en drs. J.D. Kestell, H.C.M. Fourie en E.E. van Rooyen as deeltydse vertalers aangestel. Die Afrikaanse Bybel se eerste uitgawes is oorsee gedruk het op 1 Junie 1933 in Kaapstad aangekom. 10

Die Bybel sê vir Christene om dissipels van al die nasies te maak en daarom gaan mense al vir eeue na vreemde lande om daar vir mense van Jesus te vertel. Ons noem dit sendingwerk. Sendingwerk is dus die werksaamhede van Christen-sendelinge en die administrasie daarvan. Die mense wat die werk doen, word sendelinge genoem en hulle gaan na ver lande om nie-Christene tot die Christelike geloof te probeer bekeer. As ’n mens sê dat iemand homself bekeer, beteken dit dat hy ’n geloof aanneem, soos iemand wat dalk geen geloof het nie en dan ’n Christen word. Dit word ook van ander gelowe gesê.

Die sendelinge begin gewoonlik ’n sendingstasie waar hul sendingwerk gedoen word. 1

Die museum van die Londense sendinggenootskap

Jy ken seker al die naam Jan van Riebeeck. Hy het in 1652 na die Kaap die Goeie Hoop gekom en saam met sy skepe en die mense wat hy saamgebring het, het die Bybel ook vir die eerste keer in Suid-Afrika aangekom.

Hoekom het hy na Suid-Afrika gekom? Hy het vir die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) gewerk en moes ’n verversingspos stig sodat skepe die suidpunt van Afrika vir kos en water kon besoek. Dit was nie maklik nie, maar sommer gou-gou was daar ’n gemeenskap gevestig en dit het beteken dat daar ook ’n behoefte na kerke was.

Die Khoi-San-mense was inheems aan die land en was dus hier nog voor die Hollanders aangekom het. Hulle het nie God of die Bybel geken nie en die Hollanders, wat met ’n paar Khoi-San-mense in aanraking gekom het, het hulle aan die Bybel blootgestel. Hierdie uitreiking na die Khoi-San word egter nie as sendingwerk gesien nie, want die doel was nie om mense te bekeer nie, maar eerder om hulle nuwe dinge te leer sodat hulle die Hollanders kon help en vir hulle werk. 2

Sendingwerk skop af

Sendingwerk het eers in 1737 begin toe die Duitser George Schmidt van die Morawiese Sendinggenootskap na die Kaap gekom het.

Die Morawiese Sendingmuseum op Genadendal

Schmidt het in 1738 ’n sendingstasie in die Baviaanskloof gestig en onder die Khoi-San gewerk. Die sendingstasie is Genadendal genoem. Teen hierdie tyd het trekboere al dieper die binneland ingetrek en plase uitgelê – hulle was dus bewus van Schmidt en die werk wat hy onder die inheemse bevolking gedoen het.

Genadendal

Daar was uit die staanspoor probleme tussen Schmidt en die boere en owerhede. Hulle het nie daarvan gehou dat Schmidt die Khoi-San leer om te lees en skryf nie en die VOC wou nie ’n klomp verskillende kerkgenootskappe hê nie.

Dinge het vererger toe Schmidt begin het om die mense te doop. Die owerhede het klagtes ontvang en hulle het vir Schmidt gevra om die Kaap te verlaat. Hy is in 1755 terug Holland toe. Tog is hy nie weg sonder om ’n impak te maak nie.

Een van die eerste mense wat hy bekeer het, is ene Vehettge 3 wat die naam Magdalena met haar doop gekry het. Sy het met groot entoesiasme Schmidt se werk voortgesit. Hy het haar leer lees en sy kon vir ander mense uit die Bybel voorlees. Omtrent 50 jaar later het die VOC sy kerkbeleid verslap, en kon sendelinge van allerlei genootskappe die land binnekom. In 1793 is nuwe sendelinge na die sendingstasie gestuur en al was dit soveel jare later, het hulle vir Magdalena daar gekry. Sy was glo al oud en blind, maar het steeds die Bybel gehad. Sy het haar dogters leer lees en hulle het vir haar uit die Bybel voorgelees.

Met die koms van die nuwe sendelinge het Genadendal gegroei. Baie mense het daar gebly en hulle het ’n goeie skool gehad. Die eerste onderwyskollege van Suid-Afrika is in 1838 daar gestig.

Die VOC se nuwe beleid het ook daartoe gelei dat sendinggenootskappe die land in die 19de eeu binnegestroom het. Die Morawiese sendinggenootskap het sy werk in die Wes– en Oos-Kaap uitgebrei en daar was ook genootskappe uit Duitsland, Noorweë, Frankryk, Brittanje Nederland, Skotland, Denemarke, Swede, Switserland, Ierland en Amerika. 1

Die 19de eeu word as Suid-Afrika se groot sending-eeu gesien met sendingstasies wat oral in die Kaap opgeskiet het. Die stasies het ook na die binneland uitgebrei en kort voor lank was daar meer as 200 sendingstasies.

Die eerste sendingstasie ná Genadendal was Mamre wat in 1808 tot stand gebring is. Dit is deur Enon (1818), Elim (1824), Clarkson (1839), Goedverwacht (1845) en Wittewater (1859) gevolg. Elkeen van hierdie hoofstasies het ook nog buitestasies gehad, sommige het selfs meer as een buitestasie gehad.  Buitestasies soos Houtkloof, Pella en Wittekleibosch het ontstaan. 4

Baie Genadendallers het hulle in die beginjare van Mamre, Elim, Enon en Clarkson daar gevestig om die sendingstasies en gemeenskappe te help opbou. Genadendal was die kern van die sendinggemeenskap met die hoofbestuur van die kerk wat daar was. Hulle het ook  ’n drukpers en ’n opleidingskool vir kerkwerkers daar gevestig. Genadendal was ’n groot nedersetting en was aan die begin van die 19de eeu ná Kaapstad die tweede grootste dorp in die land. 3

Eiendomsregte het dikwels die stabiliteit van hierdie sendingstasies en hul gemeenskappe bepaal. Mamre en Enon was stasies wat nie kerkeiendom was nie. Die kerk en inwoners het dus geen eiendomsregte gehad nie en daar was konflik tussen die inwoners en die sendingowerhede.

Swak bestuur by hierdie stasies het dit laat agteruitgaan. Dinge het beter gelyk by Elim, Clarkson en Goedverwacht. Elim was glo die suksesvolste omdat die sendinggenootskap eiendomsregte vir die hele stasie gehad het.

Teen die einde van die 19de eeu het verstedeliking begin plaasvind en dit het dikwels tot probleme by sendinggenootskappe gelei. Mense het weggegaan, vir lang tye weggebly en as hulle na die stasies terugkeer, het hul nuwe gedragsprobleme veroorsaak. As gevolg hiervan is daar besluit om gemeentes in die stede te stig om Morawiese werkgewers daar te help en so die sendingkultuur te beskerm en te bevorder. Sendingwerk is ook in daardie tyd in Ciskei en Transkei (twee selfregerende swart tuislande gedurende die apartheidsdae) 5 gedoen. 3

’n Suid-Afrikaanse sendinggenootskap is ook later gestig, maar hulle was op ’n baie kleiner skaal as die internasionale genootskappe. Daar was ook in daardie tyd meer samewerking tussen die genootskappe en kerke. Die sendingstasies het meer gedoen as om die evangelie uit te dra, hulle het ook skole gestig en vaardighede aan plaaslike inwoners geleer. 2

Sendingwerk in die 20ste eeu

Die Eerste en Tweede Wêreldoorloë het ’n groot invloed op sendingstasies gehad, want die mense in Europa het nie meer geld gehad om vir sendingwerk te skenk nie. Tydens die oorlog moes hulle hul weermagte aan die gang gehou het en ná die oorlog moes hulle hul lande weer opbou.

Sendingstasies het dus gesukkel om kop bo water te hou en dan het mense ook al hoe meer verstedelik. Sendingstasies se invloed het dus afgeneem. 2

In die 20ste eeu het die apartheidsregering ook sendingwerk probeer reguleer. Net sekere kerke is toegelaat om na mense in tuislande uit te reik en sekere sendinggenootskappe mag net in sekere plekke geëvangeliseer het. 2

Wie was Robert Moffat?

Een van die bekendste sendelinge wat in Suid-Afrika gewerk het, was die Skot Robert Moffat. Moffat is bekend daarvoor dat hy die Bybel vertaal en lewenstandaarde onder swart mense verbeter het. Moffat is op 21 Desember 1795 in Ormiston, East Lothian, Skotland, gebore. Hy het daar as ’n tuinier gewerk en het in 1813 na Engeland getrek waar hy vir ’n Skotse handelaar, James Smith, in Manchester gewerk het. Hy het aan Smith se dogter, Mary, verloof geraak.

Moffat wou ’n sendeling word en was een van vyf sendelinge wat in 1816 deur die Londense Sendinggenootskap na Suid-Afrika gestuur is. Hulle het as vennote saamgewerk en het vir lank onder die Tswanas gewerk. As Robert lang reise onderneem het, het Mary die huis en die sendingstasie bestuur. Hulle het tien kinders gehad.

Moffat het aanvanklik op Stellenbosch gebly waar hy Hollands geleer het en het toe noordwaarts getrek en onder die swart gemeenskappe begin werk. Mary het in 1819 na Suid-Afrika gekom en hulle is in dieselfde jaar in Kaapstad getroud.

Daar was baie probleme in die beginjare – probleme met die Kaapse owerhede en dan ook die stryd om sendingstasies te stig met voorrade wat ver was. Sendelinge moes nie net gepreek het nie, maar hulle was ook opvoeders en moes sendingstasies bou. Robert moes ook dikwels onderhandelinge tussen inheemse stamme lei wat oorlog gevoer het.

Moffat het aanvanklik bekendheid verwerf omdat hy die berugte rower Jager Afrikaner en sy volgelinge bekeer het.

Hamilton Huis, Kuruman

Nadat die Moffats vir sewe jaar in verskeie plekke gebly het omdat daar oorlog onder Zoeloe-stamme was, het hulle op Kuruman gaan woon. Daar het hulle 49 jaar gebly en een van die voorste Protestantse sendinggenootskappe in Afrika gebou. Moffat het wyd gereis en verskeie swart stamme besoek. Hy het die taal Tswana bemeester en het in 1830 die Bybelboek Lukas in Tswana vertaal.

Sy werk het tot baie bekerings gelei en Moffat het teen 1857 die Tswana-vertaling van die volledige Bybel voltooi en in 1838 ’n liedereboek in Tswana geskryf.

Maar hy het meer as net sendingwerk en vertalings gedoen. Hy het vir inwoners verbeterde landboutegnieke geleer en gewys hoe om landerye te besproei. Die lewenstandaard van hierdie gemeenskappe het gestyg.

Moffat is ook bekend vir sy sonderlinge vriendskap met die koning van die Matabele-stam, Mzilikazi. Laasgenoemde was baie bloeddorstig en het ’n skrikbewind onder Afrika-stamme gevoer. Hy het in 1829 vir Moffat gekontak wat hom toe besoek het en hulle het ’n vriendskap gesmee en groot respek vir mekaar gehad. Moffat het hom daarna ’n paar keer weer besoek. Mzilikazi het Moffat die “Koning van Kuruman” genoem. 6 Sy laaste besoek aan Mzilikazi het tot die stigting van ’n sendingstasie naby Bulawayo in Zimbabwe gelei.

Matebele-koning, Mzilikazi

Deur die Londense Sendinggenootskap het Moffat die mediese sendeling en ontdekker David Livingstone ontmoet en hom gevra om na Afrika toe te kom. Livingstone het in 1840 in Kaapstad aangekom en hom by Moffat se sendingstasie in Kuruman aangesluit. 7 Livingstone het met Moffat se oudste dogter, Mary, getrou. 8

David Livingstone

Moffat het in Maart 1870 vir die laaste keer in Kuruman gepreek. Teen die tyd wat hy afgetree het, het baie van sy kinders al gesterf.

Moffat se boek, Missionary labours and scenes in Southern Africa (1840), wat vier keer herdruk is, het van Moffat die bekendste sendeling in Brittanje gemaak en hy en sy vrou en hul jongste dogter het na Engeland teruggekeer. Sy vrou het egter siek geword en in 1871 oorlede. 9

Hy het sy laaste jare aan sy skryfwerk gewy en het ook baie vergaderings toegespreek. Die Universiteit van Edinburgh het in 1872 ’n eredoktorsgraad aan hom toegeken.

Robert Moffat het op 9 Augustus 1883 in Kent, Engeland, gesterf. 10

Ander bekende sendelinge

Eerwaarde Francis Owen is in 1837 deur die Londense Sendinggenootskap na Zoeloeland gestuur. Die Zoeloekoning Dingaan het Owen en sy gesin toegelaat om naby die gemeenskap se kraal te bly en daar was ’n goeie verstandhouding tussen hulle. Dingaan het in 1838 samesprekings met die Voortrekkerleier Piet Retief gevoer, maar hy het Owen op 6 Februarie 1838 laat weet dat hy beplan om die Retief-groep dood te maak, maar dat Owen en sy gesin niks sou oorkom nie. Owen kon Retief nie waarsku nie en hy en sy huishouding het die slagting vanaf ’n afstand aanskou. Hy het alles in sy dagboek neergeskryf. Owen se dagboek gee waardevolle insig in hierdie tydperk in ons geskiedenis. Owen het tot 1854 in die land gebly. 11

Piet Retief
Zoeloekoning Dingaan

Die Fransmanne Ernest Creux en Paul Berthoud het op 9 Julie 1875 ’n sendingstasie vir die Gwama-mense van Valdezia in die Spelonken-gebied (noordoos van Polokwane) begin. Creux en Berthoud het die taal aangeleer en ook die Bybel daarin vertaal. Hulle het ’n kerk gestig wat honderde mense bygewoon het. 12

Johann Heinrich Albert Kropf het in 1845 na Suid-Afrika gekom en het hier vir 60 jaar as ’n sendeling gewerk. Kropf het in 1899 ’n Xhosa- en Engelse woordeboek gepubliseer. Hy was die superintendent van die Dohne-sendingstasie en het saam met plaaslike hoofmanne soos Mhala van die Ndlambe en Sandile van die Gaikas gewerk. Die stasie is twee keer vernietig en hulle moes elke keer die stasie weer opbou. 13

Johann Heinrich Albert Kropf

Dr. Hermann Theodor Wangemann het teologie en tale in Berlyn studeer en is in 1865 as die direkteur van die Berlyn Sendinggenootskap aangewys. Hy het twee keer na Afrika gereis en elke reis het ongeveer twee jaar geduur.

Wangemann het sendingstasies besoek, ’n dagboek gehou en sketse gemaak (voordat fotografie die algemene manier was om beelde vas te vang). Hierdie tekeninge gee vir ons ’n blik op die sendelinglewe. Sy tekeninge tydens die reise het groot waarde, want hulle word ook breedvoerig bespreek. 9 ‘n Versameling van 106 Wangemann-sketse is gedurende 1954 deur ‘n Suid-Afrikaanse museum van ‘n Duitse kunshandelaar aangekoop. Die Wangemann-versameling word tans in die Ditsong Nasionale Museum van Kultuurgeskiedenis (voorheen bekend as die Transvaal Museum) in Pretoria gehuisves. 14

Hermann Theodor Wangeman

Die Bybel in Afrikatale

Dit was ’n enorme taak vir sendelinge om die Bybel in swart mense se verskillende tale te vertaal. Dink net, hulle moes die taal eers leer, dit vlot lees en goed skryf om ’n vertaling aan te pak.

Die eerste gepubliseerde Bybelboek was Lukas, wat in die Tlhaping-dialek van Tswana vertaal is. Dit is in 1830 deur die bekende sendeling Robert Moffat van die Londense Sendinggenootskap vertaal. Hy het daarna die Nuwe Testament vertaal en dit is in 1840 gepubliseer. Die volgende jaar is die Nuwe Testament en die Psalms gepubliseer. Moffat het die volledige Bybel teen 1857 vertaal. 15

Die Bybel is daarna hersien en die vertaling deur A.J. Wookey is in 1908 gepubliseer.

Die eerste gepubliseerde Xhosa-vertaling van die Bybelboek Lukas is in 1833 deur William Boyce en Barnabas Shaw gedoen. ’n Aantal sendelinge HH Dugmore, WJ Davis, CW Posselt, JL Döhne en JC Warner, het gehelp om die Nuwe testament te vertaal. Dit is in 1846 gepubliseer.

’n Paar sendelinge, gelei deur J.W. Appleyard, het die Ou Testament vertaal en dis in 1859 gepubliseerd. Appleyard het ook die Nuwe Testament hersien en die volledige Bybel is in een volume in 1864 gepubliseer.

Sendelinge van die Amerikaanse Zoeloesending het in Desember 1835 in Port Natal (nou Durban) aangekom. George Champion het die eerste Bybel-evangelies vertaal en dit is deur Newton Adams hersien en in 1848 gepubliseer. Die Nuwe Testament is in 1865 gepubliseer en die eerste volledige Zoeloe-Bybel in 1883. Eerwaarde J. Dexter Taylor het verdere hersienings in 1917 en 1924 gemaak. Die Anglikaanse Biskop van Natal het ook vertalings van verskeie Bybelboeke gedoen. Dit het gelei tot die 1876-publikasie van die Nuwe Testament.

Biskop Henry Callaway het eers onder Colenso gewerk, maar later op sy eie en het nie saamgestem met sy vertalings nie. Hy het dit self vertaal en gepubliseer.

Henry Callaway

Die Hermannsburg-sendinggenootskap het ook hul eie Zoeloevertaling gedoen, sowel as die Rooms-Katolieke-sendinggenootskap by Mariannhill.

Teen 1944 is daar besluit om ’n splinternuwe vertaling te doen en die een wat tans gebruik word, is onder die leierskap van Dean O. Sarndal vertaal en in 1959 gepubliseer.

Mariannhill

Die Switserse sendinggenootskap het in 1875 onder die Tsonga-mense begin werk. Die Nuwe Testament in Tsonga is in 1894 en die volledige Bybel is in 1906 gepubliseer. Hersiene weergawes is in 1929 gepubliseer.

Die Berlynse sendinggenootskap het onder die Noord-Sotho’s in die vroeë 1860’s begin werk en die Nuwe Testament is deur Pastoor J.F.C. Knothe vertaal. Dis in 1890 gepubliseer en die volledige Bybel in 1904. Die Bybel is ook hersien en weer in 1943 en 1951 gepubliseer.

Dr. P.E. Schwellnus het die Bybel later hersien en ’n nuwe vertaling is in 1951 gepubliseer. Schwellnus het die Bybel ook in Venda vertaal. Die eerste vertaling van die vier evangelies en Handelinge is in 1920 gepubliseer. Die volledige Bybel in Venda is in 1936 gepubliseer. 10

Woordbank

administrasie Dit is wanneer iets beheer of bestuur word.
bekeer Dit is as iemand oorgehaal word om ’n Christen te word of tot ’n ander godsdiens oor te gaan.
berugte Dit is wanneer ’n mens bekend is, maar nie vir iets goeds nie.
bevolking Die inwoners van ’n land of plek.
bloeddorstig As iemand graag wil moor/wreed is.
denominasies Dit is ’n kerkgenootskap.
eredoktorsgraad Dit is ’n graad wat toegeken is weens uitsonderlike prestasies, maar sonder dat daar eksamens afgelê word.
evangelie Die leer van Christus: Blye boodskap.
inheems Dit wat van ’n land of gebied afkom en van nature daarin voorkom.
kop bo water Dit is wanneer ’n mens staande bly.
Khoi-San Dis die gesamentlike benaming vir die Khoi- en San-mense wat saam die oudste inwoners van Suid-Afrika uitmaak. 1
onderhandeling Dis waar daar monderling of skriftelik iets bespreek word met ’n ander party of partye om tot ’n ooreenkoms te probeer kom.
ontdekkingsreise Reis waarop iemand vertrek met die doel om iets te ontdek of meer uit te vind.
Protestantse Dit is die algemene naam van ’n lid van ’n Christelike Kerk wat uit die Hervorming van die 16de eeu ontstaan het.
sendelinge Dit is mense wat na vreemde lande gaan om nie-Christene tot die Christelike geloof te probeer bekeer.
sendingstasie Dit is die plek waar die sendingwerk gedoen word.
sendingwerk Dit is die werksaamhede van Christen-sendelinge en die administrasie daarvan. 1
sonderlinge Raar, sonderbaar.
stam Dis ’n groep mense met dieselfde gebruike, gewoontes of taal.
superintendent Dit is iemand wat die oppertoesig van ’n plek hou.
uit die staanspoor Van die begin af.
uitreiking As jy iemand help
vennote Lid van ’n vennootskap/onderneem.
verversingspos ’n Plek waar skepe vir vars kos en water kon aandoen.

Lees hierdie artikels om meer oor sendingwerk in Suid-Afrika te leer

Kyk na hierdie video’s om meer oor sendingwerk in Suid-Afrika te leer

Die geskiedenis van Christenskap in Afrika   

Inligting oor Robert Moffat

Die nasionale monumente op Genadendal 

Gepubliseer op: 7 November 2022 | Bygewerk op 10 November 2023