Vinnige feite
- Bismarck is bekend vir die aggressiewe oorloë wat onder sy leiding deur Pruise geveg is. Daarom is dit interessant dat die aanvoerders van die Pruisiese weermag hom eintlik as té versigtig beskou het. 8
- Daar is allerhande dinge na Bismarck vernoem: die Bismarck-gedenkteken, ’n Duitse slagskip in die Tweede Wêreldoorlog, die Bismarck-see en Bismarck-argipel naby Papua Nieu-Guinee, en die hoofstad Bismarck van die Amerikaanse staat Noord-Dakota. 2
- Al het hy nie werklik tyd in die weermag spandeer nie, het Bismarck in die openbaar ’n generaal se uniform gedra. 8
Om ’n bynaam soos die Ysterkanselier (in Duits: Eiserne Kanzler) te verdien, moet jy sterk en taai wees. Dis presies wat Otto von Bismarck was. Hy het sy doelwitte onverbiddelik nagestreef, en in die proses Duitsland verenig en die Europese politieke toneel onherroeplik verander. Hy word dan ook vandag tereg as een van die grootste staatsmanne in Europa se geskiedenis beskou.
Grootwordjare
Otto Eduard Leopold von Bismarck is op 1 April 1815 in Pruise, wes van Berlyn, gebore. 1 Sy pa, Ferdinand von Bismarck, was ’n Junker, 2 en sy ma, Wilhelmien Mencken, het uit ’n familie van suksesvolle akademici en ministers gekom. 1
Bismarck het ’n hele paar broers en susters gehad, maar net een van elk het tot volwassenheid geleef. 2
Sy pa was uiters konserwatief, en sy ma was intelligent en gevat. Bismarck was ’n mengsel van hulle twee. 3
Student en werkende jongman
Bismarck het nie as kind of tiener uitgeblink nie. Hy was rebels, 4 het uitspattig geleef en baie gedrink, was lui en onbeskof en ’n uitgesproke ateïs. 5 Hy het dit wel reggekry om sy regstudies te voltooi, maar nie daarna ernstig ’n loopbaan nagestreef nie. 4
Hy wou ’n diplomaat word en het ná universiteit ’n paar diplomatieke poste beklee, maar dit was nie vir hom bevredigend nie. 1 Toe hy 24 jaar oud was, het sy ma gesterf. Hy het na sy huis teruggekeer om sy familie se landgoedere te bestuur. 2
Persoonlike lewe
Bismarck het in 1847 met Johanna von Puttkamer getrou. Hulle het ’n lang, gelukkige huwelik gehad. Hulle het drie kinders gehad, een dogter en twee seuns, en het ook ’n weeskind grootgemaak. 2 Johanna het in 1894 gesterf. 3
Bismarck was vermaaklik en het snaakse stories en woordspel geniet. Hy het gehou van lekker kos en drank, en was soms uitspattig met beide. 2 Hy was soms ook impulsief. Hy het ’n paar tweegevegte met politieke teenstanders gehad. Hy was oop met sy gevoelens en het per geleentheid uit frustrasie, woede of hartseer in trane uitgebars. 3
Bismarck was pittig, welsprekend en goed met gehore. 3 Hy kon vlot Engels, Frans, Russies en Pools praat. Hy het uitstekende maniere gehad en was uiters beleefd. 2 Hy kon mense se karakter goed opsom en het geweet of mense gevlei, gedreig of oortuig moes word. 3
Nuwe rigting
Bismarck het hom in sy vroeë 30’s na Christenskap bekeer, en rondom dieselfde tyd getrou. Dit het tot ’n ommekeer in sy lewe gelei. 4
Kort daarna is hy as Pruisiese afgevaardigde by die Frankfurtse parlement aangewys. Die Frankfurtse parlement was ’n nuwe liberale parlement wat ná die 1848-revolusies ontstaan het. 1 Hy is aanvanklik net gevra om in te staan vir iemand wat siek was.
Hy het egter die intriges van die politieke wêreld geniet. 3 Hy het gou vir homself naam gemaak as verkrampte teenstander teen die liberale, anti-outokratiese grondslag van die parlement. 1 Hy was uitgesproke in sy steun vir die monargie. 2
Teen 1849 het die Frankfurtse parlement ineengestort, en die outokratiese monarge van Europa het weer mag oorgeneem. Bismarck was natuurlik baie gewild onder hierdie heersers. 3
Ambassadeurskappe
Tussen 1851 en 1862 het hy ’n reeks ambassadeurskappe beklee, onder andere by die Duitse Bond in Frankfurt, 1 Wene (Oostenryk), St. Petersburg (Rusland) en Parys (Frankryk) in 1862. 5 Dit het twee gevolge gehad:
- Sy tyd in Frankfurt het hom minder verkramp gemaak, en hy het begin glo dat Pruise met ander Duitse state moes saamwerk om Oostenryk (die ander groot Duitse staat) se invloed te beperk. 2
- Hy het insig gekry oor die swakhede van die ander Europese magte, 1 en veral oor hul leiers se sterk- en swakpunte. 3
Keiser Wilhelm I se minister-president
In 1861 het Wilhelm I die Pruisiese troon bestyg. 1 Wilhelm wou die Duitse state onder Pruisiese beheer verenig. 6 Om dit te doen, het hy ’n groter weermag nodig gehad, maar die Pruisiese parlement wou nie vir hom geld daarvoor beskikbaar maak nie. Wilhelm het iemand nodig gehad om die parlement namens hom te hanteer. 4 ’n Jaar later het hy Bismarck as minister-president (eerste minister en minister van buitelandse sake) aangestel. 5
Bismarck het die parlement hanteer op die maklikste moontlike manier: deur hulle te ignoreer. Hy het bloot die geld gevat en die weermag begin opbou. 6
Bismarck was aanvanklik huiwerig oor die idee van ’n verenigde Duitsland. 2 Daar was allerlei uitdagings: hy was nie baie gewild in die Pruisiese parlement nie, Pruise was intern verdeeld en die vrede in Europe was maar broos. 3
Wilhelm I en Bismarck het nie altyd ’n maklike verhouding gehad nie. Wilhelm was eintlik in beheer, omdat hy enige tyd vir Bismarck kon afdank. Maar Bismarck was in werklikheid in beheer. Hy het die koning soms gemanipuleer deur byvoorbeeld te dreig dat hy gaan bedank. Maar hy het getrou die koning se planne uitgevoer en nooit die koning se steun verloor nie. 1
“Yster en bloed”
Bismarck was ’n voorstander van realpolitik, oftewel die idee dat mens moet mik om praktiese, en nie idealistiese, doelwitte te bereik. 7 Hy het in ’n beroemde toespraak hieroor gesê: “Duitsers kyk op na Pruise se mag … Die belangrikste kwessies van ons tyd gaan deur yster en bloed beslis word.” 4 Later het Bismarck aangevoer dat mense hom misverstaan het. Die woorde het egter legendaries geword, waarskynlik omdat hy wel op die ou end Duitsland deur “yster en bloed” verenig het. 5
Unifikasie van Duitsland
Om Pruise se mag uit te brei, het Bismarck in die 1860’s drie oorloë geveg: teen Denemarke, Oostenryk en Frankryk.
Die Duitse-Deense Oorlog van 1863-1864 was ’n stryd tussen Pruise en Oostenryk aan die een kant en Denemarke aan die ander kant. Hulle het geveg oor beheer van Sleeswyk-Holstein, twee verenigde hertogdomme tussen Pruise en Denemarke. 1 Denemarke is maklik verslaan en die hertogdomme is aan Oostenryk en Pruise oorhandig.
Ten spyte van die samewerking teen Denemarke was spanning tussen Pruise en Oostenryk hoog. Beide het gevoel dat hulle dié leidende Duitse staat was. 3 Die spanning het in 1866 tot die Oostenryks-Pruisiese oorlog gelei. Pruise het Oostenryk maklik verslaan. 1
Hierna is die Noord-Duitse konfederasie geskep, ’n federasie van Noord-Duitse state onder Pruisiese leierskap, met Wilhelm as president en Bismarck as kanselier. 2 Pruise het al hoe sterker geword en Bismarck se persoonlike mag het ook uitgebrei. 4
Hierna was daar net ’n paar suidelike en westelike Duitse state oor wat nie onder Pruisiese beheer nie. Bismarck het met ’n slim plan oorlog teen Frankryk uitgelok. Hy het ’n telegram, die sogenaamde Ems-telegram, oor ’n ontmoeting tussen Wilhelm I en die Franse ambassadeur só verkort dat dit gelyk het of hulle mekaar beledig het. 1 Frankryk het hierop oorlog verklaar. Dit het Duitse nasionalisme onder die suidelike en westelike state aangevuur en hulle het by Pruise aangesluit. 4
Pruise het maklik in die Frans-Pruisiese Oorlog van 1870-1871 geseëvier. Wilhelm is as keiser van ’n verenigde Duitsland gekroon. 1 Bismarck het sy doelwit bereik en die unifikasie van Duitsland voltooi. 4
Die Ysterkanselier regeer
Bismarck het vir die volgende twintig jaar die Duitse en Europese politiek oorheers.
Binnelandse beleid
Ná die unifikasie het die koning vir Bismarck met die titel van prins en ’n landgoed vereer. 4 Hy is aangestel as kanselier van die Duitse Ryk, en was in beheer van alle binne- en buitelandse sake van die Duitse Ryk. 2 Vir die volgende twintig jaar was hy basies die alleenheerser van Duitsland. 4 Hy was steeds diep konserwatief, monargisties en outokraties. 2
Bismarck het Duitsland se regering, wette en opvoeding gemoderniseer. Terselfdertyd het hy die ekonomiese en tegnologiese revolusie wat Duitsland ’n geïndustrialiseerde nasie sou maak, aangemoedig. 5
Kulturkampf
Bismarck wou die Duitsers as ’n nasie verenig, maar die inwoners was godsdienstig verdeeld. Meeste Duitsers was Protestants, maar omtrent ’n derde, meestal uit die suidelike state, was Katoliek. Bismarck het geglo dat die Katolieke Kerk te magtig was. 2
Om Katolieke invloed te verminder, het hy ’n Kulturkampf, of kultuurstryd, teen hulle van stapel gestuur. Hy het skole onder Protestantse staatsbeheer geplaas en die Jesuïete verdryf. Sy Kulturkampf was egter nie ’n sukses nie. Teen 1878 het hy ingegee en eerder met die Katolieke teen die nuwe sosialisme verenig. 1
Sosialisme
Sosialisme het Bismarck se mag uitgedaag. Hy het onder meer hul invloed probeer beperk deur hulle te verbied om te vergader en hul leiers in die tronk te gooi. Die beweging het egter aanhou groei. 2
Teen die laat 1880’s was hy verplig om in te gee en van die sosialiste se idees te implementeer. Hy het Europa se eerste moderne welsynstaat gestig. Die regering het vir mense gratis of goedkoper mediese sorg, versekering en pensioene gereël. 1 Ander wette het byvoorbeeld lang werksure en kinderarbeid beperk. 2
Hierdie hervormings sou op die lang termyn positiewe gevolge hê. Dit was egter nie vir Bismarck persoonlik ’n sukses nie omdat die werkersklas hom steeds nie ondersteun het nie. 2 Die politieke toneel wat hy oorheers het, was teen die einde van die 1880’s besig om ineen te stort. 5
Buitelandse beleid
Ná die oorwinning oor Frankryk in 1871 het Bismarck twee doelwitte gehad: Eerstens moes hy Frankryk isoleer sodat hulle nie in staat sou wees om wraak te neem nie. 2 Tweedens moes hy keer dat daar nie ’n bondgenootskap sou vorm wat Duitsland (wat in die middel van Europa geleë was) kon omring nie. 5
Hy het dit gedoen deur ’n ingewikkelde stel alliansies te skep. In 1872 is die Driekeiserverbond, ’n vriendskapsverdrag met die Oostenryk-Hongaarse Ryk en Rusland, gesluit. 2 Dit het tot in 1878 gehou. 5 In 1879 het hy die Tweekeiseralliansie met Oostenryk-Hongarye gesluit. Italië het in 1882 daarby aangesluit, en dis na die Drievoudige Verbond herdoop. Die Driekeiserverbond is in 1881 weer onderteken, maar het in 1887 ineengestort. Daarna het Bismarck met Rusland ’n herversekeringsverdrag onderteken. Dit is egter nie ná sy afdanking in 1890 hernu nie. 2
Kolonialisme
Bismarck was nie imperialisties nie. Hy het geglo dat kolonies moeite was en min voordele opgelewer het. Teen die 1870’s het entoesiasme vir koloniale ryke egter onder Europeërs posgevat. Duitsland het daarom aan die sogenaamde Stormloop vir Afrika deelgeneem. 2
Bismarck het in 1885 die Berlynse konferensie, waar die Stormloop begin het, bestuur. 1 Duitsland het hierna Kameroen, Togoland, Oos-Afrika en Suidwes-Afrika (vandag dele van Ghana, Togo, Rwanda, Burundi, Tanzanië en Namibië) ingepalm. 2
Laaste jare
Wilhelm I het in 1888 gesterf en is deur sy seun, Frederik III, en na dié se dood in dieselfde jaar deur sy kleinseun Wilhelm II, opgevolg.
Bismarck kon húlle nie so maklik soos Wilhelm I beheer nie. 1 Daar het ’n kort magstryd tussen Wilhelm II en Bismarck gevolg. Wilhelm II het gewen en Bismarck basies gedwing om te bedank. 2
Bismarck was tot sy dood hieroor verbitterd. 4 In sy laaste jare het hy gereeld sy opinies oor Wilhelm II se foute in die pers gelug. 5 Hy het ook sy herinnerings neergeskryf en kommentaar oor ander internasionale sake gelewer. 4
Ná sy bedanking is hy deur die Duitsers opgehemel. Daar is monumente, geboue, boeke en skildery na hom vernoem of in sy eer geskep. 2
Wilhelm II het ’n florerende staat geërf, maar kon dit nie so doeltreffend soos Bismarck bestuur nie. 1 In 1897 het hy vir die laaste keer vir Bismarck besoek. Ná hierdie ontmoeting het Bismarck die volgende voorspelling gemaak: “As dinge so aanhou soos nou, gaan alles twintig jaar ná my vertrek ineenstort.” Hy was nie ver uit nie: die Eerste Wêreldoorlog het in 1914 uitgebreek. 2
Bismarck het in 1898, op 82-jarige ouderdom, gesterf. Hy is in die Bismarck-mausoleum begrawe. 2
Nalatenskap
Teen sy dood was Bismarck onbeskryflik gewild. Vir die Duitsers was hy amper ’n mitiese figuur. 1
Vandag is die oordeel oor hom meer gemeng.
Daar is geen twyfel dat hy die argitek van Duitse unifikasie was nie. Onder sy leiding het Duitsland as magtige staat ontstaan. 4 Daarna het hy Europese verhoudings só bestuur dat, buiten Frankryk, daar geen spanning was nie. 2 Hy was ’n buitengewoon oordeelkundige staatsman wat verstaan het hoe politiek werk. Sy beleid was versigtig, pragmaties en uiteindelik suksesvol. 5
Dit is waar dat hy goed ondersteun is. Wilhelm I het hom vertrou en die vryheid gegee om te regeer. Die uitstaande Pruisiese weermag, onder Albrecht Theodor Emil Graf von Roon, die minister van oorlog, en Helmuth von Moltke die Ouere, die aanvoerder van sy weermag, het die militêre oorwinnings behaal wat hom toegelaat het om sy doelwitte te bereik. 2
Die grootste kritiek teen Bismarck is dat slegs hý die regering wat hy geskep het, kon bestuur. 4 Hy het nie ’n politieke party, stelsel of stel idees geskep wat ná hom kon voortleef nie. 5
Wilhelm II het binne ’n paar jaar, deur verwaandheid en gebrek aan ervaring, Bismarck se stelsel laat ineenstort. Dit was ’n direkte oorsaak van die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918). 4
Woordbank
1848-revolusies | Reeks opstande in 1848 in Europa teen outokratiese monargieë. Dit het in Italië begin en na Frankryk, Duitsland en Oostenryk versprei. Die opstande was só wydverspreid dat dit die monargieë gedwing het om van hul mag aan parlemente te oorhandig. |
akademici | Geleerde mense, wat gewoonlik by ’n universiteit werk, daar klas gee en navorsing doen. |
alliansies | Verenigings/verbonde tussen mense/volke; bondgenootskappe. |
ambassadeurskappe | Die pos waarvolgens jy hoofverteenwoordiger van ’n staat by/in ’n ander staat is. |
argipel | Groep eilande wat naby aan mekaar geleë is. |
argitek | Ontwerper van iets. |
ateïs | Dis iemand wat nie aan die bestaan van ’n god glo nie. |
beledig | Aanmerking of optrede wat iemand aanstoot gee en sy of haar eer aantas. |
beslis | Bepaal; uitspraak gee. |
broos | Iets wat maklik beskadig kan word. |
demokratiese bestel | ’n Regeringsbewind/beleid wat gekenmerk word deur vryheid van spraak, van die individu, van die reg en van die media. |
diplomaat | Verteenwoordiger van ʼn staat by/in ʼn ander staat, bv. ʼn ambassadeur/gesant. |
Duitse Bond | Statebond van 39 Duitse state, waar elke staat basies afhanklik bly, maar saamwerk aan gedeelde doelstellings. |
federasie | Bond van samewerkende verenigings. |
florerende | Vooruitgaan, welvarend word, voorspoedig wees, groei, uitbrei, ontwikkel. |
geïndustrialiseerde | Skepping en uitbreiding van industrieë/nywerhede wat dinge vervaardig om te verkoop. |
gelug | Uitgespreek, te kenne gegee, bekendgemaak. |
gemanipuleer | Iemand laat dink en optree presies soos jy wil hê deur hom/haar om die bos te lei of te beïnvloed. |
geseëvier | Oorwinning behaal. |
gevat | Skerpsinnig, snel van begrip. |
gevlei | Om iets moois (wat nie noodwendig waar is nie) van iemand/mense te sê om hul guns te wen. |
grondslag | Dit waarop iets berus, die beginsel of fondament. |
hertogdomme | ’n Stuk land wat deur ’n hertog beheer word. |
herversekeringsverdrag | Verdrag waarin lande mekaar verseker dat hulle nie by die ander se oorloë betrokke sal raak deur byvoorbeeld die ander se vyand te ondersteun nie. |
idealistiese | Iemand wat hoë, somtyds onmoontlike, ideale het en dit probeer bereik. |
imperialisties | Die politieke beleid van ’n staat om ander gebiede onder sy mag en invloed te bring. |
impulsief | Vinnig optree of reageer sonder om vooraf goed daaroor te dink. |
ingepalm | Verkry. |
intriges | Onderlinge verwikkelinge, komplotte, samesweerdery. |
isoleer | Om iemand/groep/land, ens. afgesonder te hou van andere. |
Jesuïete | Lid van ’n orde van die Rooms-Katolieke Kerk. |
Junker | Lede van die landelike adellike stand van Pruise, wat groot landgoedere besit het wat deur kleinboere verwerk is. |
keiser | ’n Man (hoër as ’n koning) wat oor ’n hele groep lande regeer. |
kolonies | Grondgebiede wat deur ’n koloniale moondheid verkry, beheer en regeer is. |
konfederasie | Verbond tussen lande. |
konserwatief | Wat nie hou van verandering of nuwe idees nie; behoudend. |
legendaries | Wat baie beroemd is en bewonder word. |
liberale | Vrydenkend. ’n Liberalis is iemand wat oop is vir ander/nuwe idees. |
mausoleum | Groot, statige graftombe; praalgraf; eregraf. |
ministers | Politici wat aan die hoof staan van die departemente van ʼn land se regering. |
mitiese | Iets denkbeeldigs of fabelagtigs. |
monargie | Staat of regeringsvorm met ’n monarg (soos ’n koning of keiser) aan die hoof. |
moondheid | Onafhanklike, dikwels invloedryke, welvarende land. |
nasionalisme | Liefde vir jou eie volk/nasie, kultuur en taal. |
ommekeer | Wanneer iets heeltemal anders gedoen word as hoë dit voorheen gedoen is. |
onherroeplik | Waaraan niks meer verander kan word nie. |
onverbiddelik | Streng, wreed of vasbeslote; wat nie tot ander insigte gebring kan word nie. |
oordeel | ’n Mening van iemand/iets gee. |
oordeelkundige | Baie verstandig. |
opgehemel | Om iemand oormatig te prys. |
outokratiese | Om alleen met onbeperkte mag te regeer. |
parlement | Dis ’n liggaam in ’n demokratiese bestel wat wette maak. |
pensioene | ’n Bedrag geld wat ’n maatskappy of die staat gereeld betaal aan iemand wat nie (meer) werk nie, byvoorbeeld omdat hy/sy reeds die ouderdom bereik het waarop mense aftree, of omdat hy/sy siek is. |
pers | Koerante, tydskrifte, ens. wat berigte/artikels skryf; media. |
pittig | Snaaks, humoristies, amusant of vermaaklik. |
politieke toneel | Hoe die politiek in ʼn land lyk en werk. |
posgevat | Wortelskiet, groei, inslag vind; gewild word. |
pragmaties | Idees wat berus op dinge wat moontlik, bruikbaar en uitvoerbaar is. |
praktiese | Wat te doen het met die werklike situasie. |
Protestants |
Dit is die algemene naam van ’n lid van ’n Christelike Kerk wat uit die Hervorming van die 16de eeu ontstaan het. |
realpolitik | As jy jou politieke beleid op die werklikheid, eerder as ideale, berus. |
rebels | Ontevrede; nukkerig; opstandig. |
revolusie | ʼn Groot en belangrike ontwikkeling wat heeltemal anders is as enigiets wat dit voorafgegaan het. |
sosialisme | Die idee van ’n samelewing wat privaat besit wil afskaf en alle inwoners aan mekaar wil gelyk stel. |
Stormloop vir Afrika | Die oorname en kolonisering van die grootste deel van Afrika deur Europese magte tussen 1885 en 1914. |
telegram | Kort berig wat gewoonlik dringend is en wat telegrafies gestuur word; kabelgram; ʼn manier van kommunikasie wat nie meer gebruik word nie. |
tereg | Met reg; korrek. |
tweegevegte | Geveg tussen twee mense, gewoonlik met swaarde of pistole. |
uitgelok | Om iets te sê wat tot iets anders aanleiding gee. |
uitspattig | Oordrewe, in weelde leef. |
van stapel gestuur | Begin, aan die gang gesit. |
verkrampte | Om negatief te wees teen nuwe idees. |
vermaaklik | Amusant, grappig. |
versekering | ’n Ooreenkoms waarby, teen betaling van ’n premie, ’n uitkering van fondse op ’n sekere leeftyd, of ná die dood, of as skadevergoeding in die geval van ’n ongeluk of brand, diefstal, haelskade, ensovoorts gewaarborg word. |
verwaandheid | Arrogant en hoogmoedig. |
welsynstaat | Staat met hoogontwikkelde sosiale dienste, bv. gesondheidsorg/versekering/pensioene/sorg vir werkloses, ens., wat alles deur die staat gefinansier word. |
yster en bloed | Dit beteken dat krag en sterk militêre mag die belangrikste faktor in iets is. |
Ysterkanselier | Bismarck se bynaam wat aan hom gegee is omdat hy so sterk (soos yster) opgetree het. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Otto von Bismarck
Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Otto von Bismarck
Leer meer oor Pruise
Leer oor Bismarck se lewe
Wie was teen Duitse unifikasie gekant?