Vinnige feite

  • In die 1930’s het verskeie Afrikanerorganisasies ’n rol gespeel in Afrikaner-nasionalisme onder Afrikaners. Daar was onder meer op politieke gebied die Gesuiwerde Nasionale Party wat in 1934 gestig is. Op kultuurgebied was daar die Afrikaner Broederbond, die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) en die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV). 10
  • Nog ’n organisasie wat in die tyd van die OB tot stand gekom het, is die Nuwe Orde. Hierdie organisasie is in 1940 gestig met Oswald Pirow as leier. Hulle het ’n beleid van nasionaal-sosialisme (soos die Nazi’ ondersteun. 5
  • Op die OB se embleem was daar ’n ossewa met die leuse: “My God, My Volk, My Land Suid-Afrika”. 3
  • Die uitgawes van die OB se gereelde publikasie (amper soos ’n koerantjie) word vandag saam met foto’s en ander artikels by die Erfenissentrum by die Voortrekkermonument in Pretoria bewaar nadat dit aanvanklik by die Universiteit in Potchefstroom bewaar is. 2
  • Mense wat lede van die OB was, sou nie sommer vir almal vertel het van hul lidmaatskap nie. Ook dokumente wat met die OB verband gehou het, is gewoonlik deur lede van die organisasie weggesteek sodat iemand soos die polisie dit nie dalk in die hande sou kry nie. Sommige wegsteekplekke was iewers in die grond op ’n plaas of in holtes in mure, agter plakpapier.

Die Ossewabrandwag (OB) het nie vir lank bestaan nie, maar het wel in sy kort bestaan deel geword van Suid-Afrika se geskiedenis. Vandag is daar nog mense wie se oupas en oumas lede van die OB was en wat by hulle stories daaroor gehoor het.

Stigting

In November 1938 het ’n groep van ongeveer 15 mense in Bloemfontein die besluit geneem om ’n organisasie soos die Ossewabrandwag te stig. Onder hierdie mense was predikante en akademici aan die Universiteit van die Vrystaat. Die stigting het uiteindelik op 2 Februarie 1939 in die konsistorie van die Tweetoringkerk in Bloemfontein plaasgevind. 1

Die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog slegs enkele maande ná die stigting van die OB, het die organisasie, wat eers hoofsaaklik ’n kultuurorganisasie was, verander na ’n weerstandsbeweging (wat teenkanting bied). 2

Tweetoringkerk, Bloemfontein

Die OB – ’n weerstandsbeweging

Toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitbreek, het die OB Suid-Afrika se deelname aan die oorlog aan die kant van die Geallieerde magte (die lande wat teen Duitsland oorlog gemaak het) teengestaan.

Hul mening was dat Duitsland nie ’n vyand van Suid-Afrika was nie. Hulle het ook talle gebeure onthou van die Anglo-Boereoorlog en hoe Engeland Suid-Afrika en sy mense in daardie oorlog vernietig het, onder meer deur die konsentrasiekampe en die verskroeideaardebeleid. Om nou aan die kant van Engeland in ’n oorlog te veg, was nie vir hulle aanvaarbaar nie, veral omdat Duitsland in die Anglo-Boereoorlog morele ondersteuning aan Suid-Afrika gegee het. 3

Howick-konsentrasiekamp

Die OB was dus ’n anti-oorlogsbeweging. ’n Groot gedeelte van die bevolking van Suid-Afrika was gekant teen die regering se besluit dat Suid-Afrika saam met Brittanje aan die Tweede Wêreldoorlog moes deelneem. Afrikaners was ontnugter omdat die regering die besluit oor deelname aan die oorlog kon neem sonder dat dit die meeste inwoners van die land se steun gehad het.

Die belangrikste doel van die beweging was egter om onafhanklikheid van Brittanje te kry. Die OB se doel was ook om die “ossewagees” van die 1938-eeufeesviering van die Groot Trek van 1838 voort te sit. 4

Jong Boervroue wat in die kamp help as assistent verpleegsters

Leiers

Die gesagsliggaam van die OB is die Grootraad genoem. Kolonel J.C.C. Laas was die eerste leier van die OB. Hy was nie baie suksesvol as leier nie en in Januarie 1941 het J.F.J. (Hans) van Rensburg die leiding van die OB oorgeneem. 5

Hy was ’n vurige ondersteuner van Nazi-Duitsland. Hy het homself beskou as ’n man van aksie eerder as iemand wat slegs kultuursake wil bevorder. 5

Ossewabrandwag – Lede staan in ‘n ry agtermekaar langs tent en vlagpaal

Nadat hy leier geword het, het Van Rensburg ’n veldtog begin om ’n “vrye Afrikaner-republiek te stig, gegrondves op nasionale sosialistiese fondamente”. Hy het die gebruik van demokrasie deur middel van ’n parlement verwerp. Hy het ook gesê dat die OB ’n massabeweging is wat alle Afrikaners verteenwoordig. 5

Omdat Van Rensburg nie aan demokrasie as ’n staatsvorm geglo het nie, kon hy glad nie saamwerk met mense wat wel geglo het dat demokrasie goed was nie. Hy was nog meer negatief teenoor mense wat leiers binne die Herenigde Nasionale Party of Volksparty (HNP of V) was. Om hierdie rede is C.R. Swart, wat toe leier van die HNP in die Vrystaat was, later uit die OB se Grootraad verwyder. Van Rensburg het geglo dat die OB Afrikaners moes losmaak van die demokrasie en omdat die HNP ’n demokratiese party was, wou hy die party vernietig. Daar was in hierdie tyd ’n stryd tussen die HNP en die OB en as gevolg daarvan het baie mense die OB begin verlaat. 6

C.R. Swart

Drie mense wat later belangrike leiers in die Nasionale Party sou wees, was ook leiers in die OB. Hulle was C.R. Swart wat later staatspresident in Suid-Afrika sou word, B.J. Vorster wat later eerste minister geword het en P.W. Botha wat ook staatspresident sou word. Botha en Vorster het saamgewerk om die Kaapse tak van die OB te stig. 4

John Vorster
P.W. Botha

In September 1942 is Vorster op grond van die regering se noodmaatreëls in hegtenis geneem. Hy het op ’n hongerstaking gegaan en is ná twee maande na die interneringskamp in Koffiefontein gestuur.

Die interneringskampe is aanvanklik opgerig vir Duitsers en ook vir Suid-Afrikaners wat Duitse voorouers gehad het. Later is Italianers ook daar aangehou. Later in die oorlog is al hoe meer burgers van die Unie van Suid-Afrika ook in hierdie kampe geplaas en hulle was meesal Afrikaners. Die redes vir plasing in die kampe, was vir spioenasie asook vir burgers van die Unie wat die noodregulasies oortree het. Daar was ses van hierdie kampe: Andalusia, Baviaanspoort, Leeukop, Ganspan, Zonderwater en Koffiefontein. In Andalusia en Zonderwater is meesal buitelanders aangehou terwyl burgers van die Unie na die ander kampe gestuur is. 7

Vorster is in Januarie 1944 op parool vrygelaat en in huisarres geplaas.

Nog ’n latere belangrike leierfiguur wat saam met Vorster in die interneringskamp was, was Hendrik Johan van den Bergh, wat later op 16 Mei 1969 die Buro vir Staatsveiligheid sou begin om veiligheidsake te hanteer. Die Buro sou later as die Nasionale Intelligensiediens bekend staan. 4

Dit is moeilik om te sê hoeveel Afrikaners in totaal tydens die Tweede Wêreldoorlog geïnterneer is. Party is vrygelaat en toe weer geïnterneer, baie is tussen kampe rondgeskuif en al die kampe het nie ewe goed verslag gehou van die inwoners nie. Party is net vir ’n paar dae aangehou terwyl ander vir tot vier jaar lank in die kampe was. Een skatting is dat ongeveer 2 000 Afrikaners geïnterneer is. 6

Ossewabrandwag – Lede staan langs tente en kyk na orkes.

Meer oor Hans van Rensburg

Johannes Frederik Janse van Rensburg (bekend as Hans) is op 24 September 1898 gebore en is op 25 September 1966 oorlede. Hy het sy skoolopleiding in 1918 in Winburg voltooi en het daarna aan die Universiteit van Stellenbosch (vandag net Universiteit Stellenbosch) gestudeer. Later het hy sy LLB-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf.

Hy is op 1 Desember 1936 as administrateur van die Oranje-Vrystaat aangestel. Aan die einde van 1940 het hy as administrateur bedank om in Januarie 1941 kommandant-generaal van die OB te word. 8

Hans van Rensburg

Van Rensburg was ’n prokureur wat in 1933 ook as Sekretaris van Justisie aangestel is. In 1933 het hy juis in hierdie hoedanigheid (posisie of pos) op ’n amptelike besoek aan Duitsland Hitler en ander amptenare van die Nazi Party ontmoet. Hy was beïndruk deur die Nazi’s se leierskap en dissipline en het ’n ondersteuner van die Nazi’s geword. 4

Adolf Hitler

Vroue in die OB

Hoewel die OB openlik teen Brittanje en pro-Duitsland was, het hul leiers ook aan maatskaplike, ekonomiese en opvoedkundige sake aandag gegee en veral baie gedoen om armoede onder Afrikaners te bekamp. 2

Hiermee het veral Afrikanervroue soos Erika Theron, Anna Neethling-Pohl en die skryfster M.E.R. gehelp. Hulle het ook lydende verset aangehelp deur protesoptogte en petisies. Anna Neethling-Pohl het ook onder die dekmantel van teatervertonings gehelp om geheime OB-vergaderings moontlik te maak. 2

Anna Neethling-Pohl
M.E.R.

Die OB en die Nasionale Party

Beide dr. Malan en die OB onder leiding van Van Rensburg was gekant teen deelname aan die oorlog aan die kant van Brittanje. Hul standpunte oor hoe dinge hanteer moes word, het egter verskil. Dr. Malan wou onderhandel terwyl Van Rensburg geglo het dat daar militêre teenstand teen die Suid-Afrikaanse regering moes wees. 4

Aan die begin van die OB se bestaan is die party met die Nasionale Party van dr. D.F. Malan geassosieer. Dit sou later verander, onder meer as gevolg van die geweld wat deur die OB se Stormjaers gepleeg is. As gevolg van die optrede van die Stormjaers, het dr. Malan en die HNP hulle van die OB gedistansieer. 4

Aantal lede

Juis omdat soveel Afrikaners nie saamgestem het met die regering se besluit oor die oorlog nie, het duisende mense by die OB aangesluit.

Die ledetal word tussen 200 000 en 400 000 geskat. Omdat die OB grootliks ’n geheime organisasie was, was dit nie moontlik om presies vas te stel hoeveel mense lede was of hoeveel mense die organisasie gesteun het nie.

By van die funksies wat die OB gehou het, het daar dikwels 23 000 tot 30 000 mense opgedaag. 9

Die Stormjaers

Die Stormjaers is in ongeveer Augustus 1940 gestig. Hulle was die Ossewabrandwag se aktiviste-vleuel of militêre vleuel.

Hul doel was om ontwrigting in Suid-Afrika te veroorsaak. Op dié manier wou hulle die land se soldate binne die land besig hou sodat hulle nie aan die kant van Brittanje in die Tweede Wêreld-oorlog kon gaan veg nie. Hiermee wou hulle onder meer verhoed dat Afrikaners doodgaan terwyl hulle saam met Brittanje veg.

Soms het die Stormjaers hardhandig opgetree teenoor mense indien hulle geglo het dat daardie mense verraad gepleeg het teen die Afrikanervolk. Hulle het onder andere vir F.E. Mentz wat ’n volksraadslid van die HNP was, ontvoer en hom aangerand. Hulle het ook probeer om dr. Hendrik Verwoerd te ontvoer omdat hy sterk teen die OB gekant was. Hy kon gelukkig daarin slaag om weg te kom. Dr. Verwoerd was op hierdie stadium die redakteur van Die Transvaler. 1

H.F. Verwoerd, redakteur van Die Transvaler en toekomstige eerste minister

Die Stormjaers het in Januarie 1942 kragdrade in die omgewing van onder meer Klerksdorp, Vereeniging, Delmas en Potchefstroom opgeblaas. In Februarie het hulle veroorsaak dat alle telegraaf– en telefoonkommunikasie tussen Bloemfontein en die res van die land verbreek is toe hulle spoorlyne en telegraaf- en telefoonlyne vernietig het. Hulle het ook twee telefoonpale agter die Sentraal Gevangenis in Pretoria  opgeblaas. 4

Twee Stormjaers wat ’n bom by die Poskantoor in Benoni laat ontplof het, is gevang en ter dood veroordeel omdat daar ’n lid van die publiek in die ontploffing dood is. Hulle doodstraf is later versag na lewenslange gevangenisstraf. Daar is ’n paar lede van die OB geskiet toe hulle probeer ontsnap het nadat hulle gevang is. Een lid wat naby Krugersdorp so doodgeskiet is, was ’n generaal in die organisasie, Johannes van der Walt. 4 Hy was ook ’n bekende stoeier.

Johannes van der Walt

Woordbank

akademici Persoon wat akademies gevorm is, dikwels iemand wat klasgee aan ’n universiteit.
bekamp Om ’n einde aan iets te maak of dit te bestry.
dekmantel Om voor te gee dat jy iets doen terwyl jy eintlik met iets anders besig is.
demokrasie Regeringsvorm deur verteenwoordigers wat deur die hele bevolking verkies is.
gedistansieer Om jou van iets of iemand te onttrek, op ’n afstand te bly en nie mee te doen nie.
gesagsliggaam Groep wat in beheer is.
huisarres ’n Straf waarby iemand nie tronk toe gestuur word nie, maar nie sy/haar huis mag verlaat nie.
interneringskamp Omheinde en bewaakte kamp waarin burgers van ’n vyandelike land of terrorismeverdagtes aangehou word, dit gebeur dikwels tydens oorloë of gewapende konflik.
parool Toestemming dat ‘n gevangene ‘n tronk mag verlaat voordat hy sy gevangenisstraf klaar uitgedien het, omdat hy hom daarbinne goed gedra het en op voorwaarde dat hy hom aan geen verdere oortreding skuldig maak nie.
redakteur Die persoon aan die hoof van ‘n koerant/tydskrif (of deel van ‘n koerant/tydskrif) wat oor die inhoud daarvan besluit.
spioenasie Om geheime inligting omtrent ‘n ander land, organisasie, of groep uit te vind.
Stormjaers Die militêre afdeling van die OB.
telegraaf Elektriese seintoestel waarmee seine of boodskappe oor groot afstande oorgedra kan word.
verhoed Sorg dat iets nie gebeur nie, iets keer.
verraad Gedrag waarin jy nie lojaal bly teenoor jou land of teenoor iemand wat jou vertrou nie, veral as jy deur jou optrede sy/haar vyande help.
verskroeideaardebeleid Volgens hierdie beleid het die Britse soldate plase afgebrand en vee doodgemaak om die Boere te probeer dwing om op te hou met die Anglo-Boereoorlog.
verwerp Nie aanvaar nie

Lees en kyk hier

Video’s

’n Omvattende dokumentêre reeks wat die ontstaan en verloop van dié versetorganisasie beskryf. Argiefmateriaal uit die tyd, asook die getuienis van oudlede, vorm deel van hierdie reeks.
Deel 1

Deel 2

Deel 3

Insiggewende lesing oor die Ossewa Brandwag en onder andere oor die vroue in die beweging (1:20:18)

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 September 2023 | Bygewerk op 10 Januarie 2024