Vinnige feite

  • Christopher Columbus was nie die eerste Europeër in Amerika nie. Die Viking, Leif Erikson, het reeds in die elfde eeu via Groenland na Newfoundland in Kanada geseil.
  • Marco Polo was ook nie die eerste persoon om met die Syroete na China te reis nie. Hy was wel een van die eerste Westerlinge om dit te doen.
  • Ibn Battuta het ook dié reis afgelê.
  • David Livingstone se reise deur Afrika het in Suid-Afrika begin. Hy het op 14 Maart 1841 in Kaapstad voet aan wal gesit.
  • In 1844 is hy in die Kalahari deur ’n leeu aangeval.
  • Livingstone is deur sy helpers langs sy bed dood aangetref, asof hy besig was om te bid. Hulle het sy liggaam in sand gepak om dit te bewaar. Dit is teruggeneem Brittanje toe, en hy is in Westminster-katedraal begrawe.
  • Henry Stanley het in die Amerikaanse Burgeroorlog geveg – vir albei kante!
  • Mary Kingsley is in 1900 in Simonstad oorlede terwyl sy siek Boerekrygsgevangenes verpleeg het.
  • Dit is vandag nog onduidelik presies waar die Nyl ontspring!
Foto: iStock

Kan jy glo daar was ’n tyd – lank, lank gelede – toe mense nie eens geweet het hoe die hele aardbol lyk nie? Hulle het nie teleskope of satelliete gehad waarmee hulle uit die ruimte na die aarde kon kyk nie, en niemand het al ’n wêreldkaart geteken met al die kontinente en oseane daarop nie. [Lees hier oor die teleskoop.] Die enigste manier vir mense om uit te vind hoe die wêreld lyk en om dit te karteer (’n kaart daarvan te teken), was om op ’n ontdekkingsreis te gaan en dan terug te gaan huis toe met inligting oor waar die plek is en wat ’n mens alles daar kan sien en doen.

Eintlik is dit nie korrek om te sê dat enige wêrelddeel “ontdek” is nie. Daar word veral wyd aanvaar dat Afrika die “wieg van die mensdom” is, met ander woorde dat die eerste mense op aarde in Afrika gewoon het. 1 Afrika was dus van die begin af bekend, mense het net weggetrek en oor baie eeue vergeet hoe Afrika lyk. As ons in hierdie artikel na “ontdekkingsreisigers” verwys, praat ons dus van mense wat uit kulture gekom het wat nie meer kennis van Afrika gehad het nie.

Die Antieke Era

Die Fenisiërs (’n volk wat al ’n millennium voor Christus geleef het) was goeie seevaarders en het toe al ’n kolonie met die naam van Kartage (Engels: Carthage) op die noordelike kus van Afrika gevestig. Daar word beweer dat hulle die eerste was om met ’n skip reg rondom Afrika te vaar, ’n reis wat ongeveer 600 v.C. sou plaasvind. Hulle het ook sterk handelsbande met die volke in die binneland van Afrika gehad. Navorsers vermoed hulle het die ooskus van Afrika tot by die Horing van Afrika (die huidige Somalië en Ethiopië) baie goed geken. 2

Afrika was ook deel van die Romeinse Ryk. Die Romeine het die gebiede suid van die Sahara verken om handelsbetrekkinge met die Afrika-koninkryke aan te knoop (te begin; te skep). Hulle het ook handelsroetes uit die binneland van Afrika na die Middellandse See geskep sodat goedere direk na die drie belangrike Romeinse handelsentrums op die Noord-Afrikaanse kus, Leptis Magna, Oea en Sabratha, vervoer kon word.

Die vyf Romeinse ekspedisies na Afrika se binneland is gelei deur die volgende ontdekkingsreisigers:

  • Cornelius Balbus (19 v.C.)
  • Suetonius Paulinus (41 n.C.)
  •  (50 n.C.)
  • Valerius Festus (70 n.C.)
  • Julius Maternus (90 n.C.) 3

Die Arabiere

Die Arabiere het tussen 600 en 700 n.C. die noordelike dele van Afrika (ook bekend as die Maghreb) binnegeval en oorgeneem. Van daar af het hulle in kontak gekom met Afrika-koninkryke.

Vir ongeveer 1 000 jaar was dit hoofsaaklik die Arabiere wat in Afrika se binneland handel gedryf en hul geloof (Islam) onder die Afrikane versprei het. Die Arabiere het goud, ivoor, wol, skulpe en was (in Engels wax) uit Afrika na Arabië geneem, maar die belangrikste handelsproduk wat hulle uit Afrika gekry het, was slawe. Baie navorsers glo vandag dat Afrikane hulle tot die Islam bekeer het om te verhoed dat hulle as slawe verkoop word. 4

Ibn Battuta

Oor die eeue heen was daar ’n hele paar belangrike Arabiese ontdekkingsreisigers, maar die bekendste een, wat veral vir sy reise in Afrika bekendheid verwerf het, was Ibn Battuta.

Hy is in Marokko gebore en het reeds in 1325, toe hy net 21 was, sy eerste reis onderneem – die tradisionele hadj (pelgrimstog) na Mekka.

Sy tweede reis was al met die ooskus van Afrika tot by die hedendaagse Tanzanië. Later in sy lewe het hy gereis tot by Mali in Wes-Afrika, ’n baie ryk en invloedryke koninkryk in daardie tyd.

Sy belangrikste nalatenskap was ’n geskrif met die naam van Rihla, waarin hy sy waarnemings oor Afrika opgeteken het. 5

Ibn Battuta

Die Europeërs

Die Era van Ontdekking

Nadat die Romeinse ryk in 5 n.C. tot ’n val gekom het, het die hele Europa in ’n donker tyd verval waarin daar min vooruitgang was en waarin kennis en die wetenskap min aandag gekry het. Hierdie tyd was bekend as die Middeleeue. [Lees hier oor die Middeleeue.] Eers met die Renaissance in die 1400’s was daar weer ’n opbloei (nuwe lewe; groei) in die kuns en die wetenskap. 6 [Lees hier oor die Renaissance.]

Die Renaissance het ook gelei tot ’n nuuskierigheid oor die wêreld waarin die Europeërs (inwoners van Europa) hulle bevind het. Konings en navorsers, sakemanne en seevaarders, filosowe (denkers) en avonturiers uit Europa het ontdekkingsreise onderneem om die wêreld te verken. Dit was ’n tydperk waarna ons vandag verwys as die Era van Ontdekking (in Engels: Age of Discovery; Age of Exploration; Age of Encounter). 7

Jy sal dalk bekende name uit hierdie era herken soos Christopher Columbus, Ferdinand Magellaan, Marco Polo, Ponce de Leon, Hernando de Soto, Amerigo Vespucci (na wie Amerika vernoem is), prins Hendrik die Seevaarder en sir Frances Drake. Hulle was almal óf self ontdekkingsreisigers, óf hulle het die ontdekkingsreise gefinansier (betaal). 8

Eers die seeroetes

Die Europeërs het darem geweet dat die hele wêreld nie net uit Europa bestaan nie. Die Syroete (in Engels: Silk Road) het byvoorbeeld al eeue lank bestaan. Dit was die roete waarlangs nie net sy nie, maar ook speserye, tee en porselein uit die Ooste na Europa vervoer is.

Die probleem met hierdie roete was dat dit meer as 6 000 km oor baie onherbergsame terrein gestrek het. Die enigste manier om die handelsware te vervoer, was met kamele. Dit het beteken enigiets wat Europa toe gegaan het, moes op ’n kameel se rug kon pas. Iemand moes die handelsware ook die hele tyd oppas anders het rowers dit gesteel. Handel op hierdie manier was nie net duur nie, maar ook gevaarlik en tydrowend. 9

Dit was vir die Europeërs noodsaaklik om ’n nuwe roete tussen Europa en die Ooste te kry waarmee handelsware vinniger en meer doeltreffend vervoer kon word. Die maklikste oplossing was om ’n seeroete te kry sodat hulle die handelsware met skepe kon vervoer. Die voor die hand liggendste roete was die een om Afrika. 10

Hendrik die Seevaarder, prins van Portugal, het in die 1400’s seereise teen die weskus van Afrika af begin finansier. Hy was geïnteresseerd in skeepvaart en navigasie, en hy het geglo dat die invloed van die Moslems op wêreldhandel beperk moet word. Met sy hulp het Portugese seevaarders die weskus van Afrika verken tot by die land wat ons vandag as Gambië ken.

Die volgende Portugese koning, Johannes II, het Hendrik se werk voortgesit. In 1488 het Bartolomeu Dias die suidpunt van die kontinent opgespoor, en in 1498 het Vasco da Gama om die Kaap tot in Indië gevaar.

Christopher Columbus het in 1492 probeer om ’n ander roete via die Atlantiese Oseaan tot by Indië te kry, maar hy het per ongeluk op Amerika afgekom. (Aanvanklik het hy gedink hy is in Indië, dis hoekom die eilande waar hy geland het as die Wes-Indiese Eilande bekend staan.) 11

Christopher Columbus-monument, Barcelona

Afrika se binneland

Die Europeërs het Afrika lank beskou as ’n hindernis waarom hulle moes vaar as hulle die Ooste wil bereik. Hulle het nooit regtig aan Afrika as ’n belangrike plek gedink nie. Die Sahara het dit moeilik gemaak om die binneland van Afrika uit Europa te bereik. Dit was net so moeilik om met ’n skip aan die kus van Afrika vas te meer en aan wal te gaan, want die see was rof en die winde woes. Die Europeërs was dus lank tevrede daarmee om ’n paar handelsposte rondom die kus van Afrika op te rig sodat hulle die skepe op die handelsroete na die Ooste kon ondersteun. 12

Eers in die 1700’s het die Europeërs Afrika se binneland begin verken omdat hulle nuwe handelsmoontlikhede wou ontgin. Dit was belangrik om Afrika se riviere te karteer, want handelsgoedere is hoofsaaklik met skepe op water vervoer. Onthou dat daar in daardie tye nog nie paaie of spoorlyne was waarlangs ’n mens goedere kon vervoer nie. 9

Hierdie nuwe belangstelling in Afrika het beteken dat Europeërs nou reise in Afrika begin onderneem het sodat hulle kon bepaal hoe die kontinent lyk en wat daar aangaan. Dis eintlik hierdie ekspedisies in Afrika waarna navorsers en geskiedenisboeke as “ontdekkingsreise” verwys, en die leiers van die ekspedisies is die “ontdekkingsreisigers”.

Ons bespreek die vernaamste ontdekkingsreisigers hier in chronologiese volgorde van hul reise deur Afrika.

James Bruce

James Bruce, ’n Skot, is in 1763 as die Britse konsul in Algerië aangestel. In 1768 het hy op ’n ekspedisie vertrek om die oorsprong van die Nylrivier te vind. Ten spyte van moeilike omstandighede en politieke onrus in Ethiopië, het hy die Tanameer, waar die Blou Nyl ontspring, in November 1770 bereik. Die terugreis was net so moeilik, maar hy het in 1774 weer in Londen aangekom, waar hy ’n boek, Travels to Discover the Source of the Nile, oor sy wedervaringe geskryf het. Mense wou hom aanvanklik nie glo nie, maar latere reisigers het bevestig dat sy vertellings korrek was. 13

James Bruce

Mungo Park

In 1788 is The African Association in Brittanje gestig. Die doel van hierdie organisasie was om ontdekkingsreise in Afrika aan te moedig. Die eerste inligting wat hulle wou hê, was oor die Nigerrivier, ’n groot rivier in Wes-Afrika. Hulle het van die rivier geweet, maar nie geweet waar hy ontspring, waar hy uitmond, of in watter rigting hy vloei nie. 9

Mungo Park, ʼn jong Skotse dokter, het in die Oos-Indies en in Sumatra naam gemaak as ʼn wetenskaplike. In 1795 het die African Association hom Afrika toe gestuur om die inligting oor die Niger te kry wat hulle wou hê.

Park se reis was nie maklik nie. Hy is amper dood aan koors, hy is beroof, die meeste van sy helpers het hom verlaat, en ’n Arabiese hoofman het hom vier maande lank gevange gehou. Maar hy het wel die Niger bereik, bepaal dat dit ooswaarts vloei, en toe in 1796 teruggekeer Brittanje toe om hierdie nuus met die Association te deel.

Sy boek Travels in the Interior Districts of Africa het hom beroemd gemaak. 14

Mungo Park

René-Auguste Caillié

Caillié was die eerste Europeër wat die stad Timboektoe bereik het en die reis oorleef het. Die gerugte (stories) in Europa was dat dié stad geheel en al van goud was, maar Caillié het die stad in 1827 bereik en bevind dit was ’n gewone stad met moddergeboue!

Hy het hom soos ’n Arabier vermom en met ’n karavaan (’n groep kamele) oor die Atlasgebergtes tot in Tangier gereis, en van daar af teruggevaar Frankryk toe. 15

René-Auguste Caillié

Heinrich Barth

Barth was ’n Duitser wat in 1850 saam met ’n Britse ekspedisie vanaf Tripoli deur die Sahara na die binneland van Afrika gereis het. Sy Britse medereisigers is langs die pad dood, en hy het die hoof van die ekspedisie geword. Hy het tot by die Tsjadmeer en die Benuerivier, en van daar af tot by Timboektoe gereis. Hy was die eerste Europeër wat die middelste gedeelte van die Nigerrivier behoorlik verken het. Die reis het uiteindelik meer as 16 000 km beslaan. Toe hy in 1855 teruggekeer het Europa toe, het hy vier (van vele) boeke oor dié gebied geskryf wat vandag nog ’n ryke skat van inligting bevat. 16

Heinrich Barth

Richard Francis Burton

Burton was ’n waaghalsige reisiger wat homself onder andere soos ’n Moslem vermom het sodat hy Mekka kon besoek – iets wat ’n nie-Moslem nie mag doen nie. In Somalië is hy met ’n spies in sy kaak gesteek. Dit het hom nie afgeskrik nie. In 1857 het hy en John Speke na die oorsprong van die Nyl begin soek. Ongelukkig het hy baie erge malaria gekry, en toe hulle uiteindelik by die Tanganjikameer aankom (aan die westekant van die huidige Tanzanië), was hy so siek dat hy moes teruggaan Engeland toe. 17 [Lees hier oor malaria.]

Richard Francis Burton

John Hanning Speke

John Speke het die reis saam met Burton aangepak. Toe Burton terug is Europa toe, het hy verder noord gereis tot hy by ’n groot meer aangekom het wat hy geglo het die oorsprong van die Wit Nyl was. Hy het die meer na koningin Victoria genoem.

Burton het Speke se bevindinge bevraagteken, maar toe Speke in 1862 weer terug is, het hy ’n uitvloei in die meer gevind wat hy geglo het bevestig dat die Wit Nyl in die meer ontspring. Hy het hierdie uitvloei Ripon-waterval genoem. 18

John Hanning Speke

Samuel White Baker

Samuel Baker het Speke se kaarte en aantekeninge gebruik in sy eie reis wat hy in 1863 aangepak het om ook die oorsprong van die Nyl te kry. In 1864 het hy op ’n meer afgekom (wat hy na Victoria se man, Albert, genoem het) wat hy geglo het die oorsprong was. Dié meer lê tussen die lande wat ons vandag as Uganda en die Kongo ken. 19

Samuel White Baker

David Livingstone

David Livingstone is waarskynlik die bekendste Britse ontdekkingsreisiger in Afrika. Hy het in Skotland grootgeword en is opgelei as ’n dokter en ’n sendeling. Hy was ook sterk gekant teen slawerny.

Sy eerste reis was van Suid-Afrika af tot in Luanda aan die weskus van Afrika. Sy primêre oogmerk met hierdie reis was om ’n handelsroete tot by die Atlantiese Oseaan te kry waardeur slawehandel ondermyn sou kon word.

In 1854 het hy Luanda bereik. Van daar af is hy terug na die binneland om die Zambezirivier te verken. Op 16 November 1855 het hy die enorme waterval bereik wat die plaaslike inwoners Mosi oa-Tunya (“die rook wat donder”) genoem het. Hy het dié waterval ook na koningin Victoria vernoem.

Sy laaste reis het hy in 1866 onderneem, ook om na die oorsprong van die Nyl te soek. Van sy helpers het gedros (weggeloop) en in Zanzibar gaan vertel dat hy vermoor is. Intussen het hy in ’n westelike rigting gereis tot by die Bangweulumeer en Nyangwe, die verste wes wat enige Europeër nog in daardie deel van Afrika was.

Teen 1871 was dit al ’n paar jaar sedert enigeen iets van hom gehoor het, en die Britse owerhede het begin bekommerd raak oor hom. Henry Stanley het hom uiteindelik by die Tanganjikameer opgespoor.

Livingstone het geweier om saam met Stanley terug te keer Engeland toe, en hy het verder na die oorsprong van die Nyl gesoek. In Mei 1873 is hy in Chitambo, in die noordelike deel van die huidige Zambië aan malaria oorlede. 20

David Livingstone

Henry Morton Stanley

Henry Stanley was ’n Wallieser van geboorte. Ná baie moeilike kinderjare in ’n weeshuis is hy Amerika toe.

Hy het eers deur die Amerikaanse Wilde Weste gereis en toe ’n joernalis by die New York Herald geword. Daar het hy opdrag gekry om “Livingstone op te spoor”. Dit was toe 1869 en reeds ’n jaar sedert enigeen iets van Livingstone gehoor het.

Op pad na die ooskus van Afrika, het hy eers in Egipte aangedoen om oor die opening van die Suezkanaal te berig. Daarna is hy na die ooskus van waar hy meer as ’n 1 000 kilometer ver die binneland in sou trek op soek na sy held.

Die reis het nie goed gegaan nie. Binne dae is sy perd dood, van die draers is weg met sy voorraad, en baie van sy mense het siek geword. Sy groep is aangeval, en hulle moes selfs op ’n keer vir mensvreters vlug!

Ten spyte van al hierdie terugslae het hy die Tanganjikameer op 10 November 1871 bereik, en daar het hy, uit pure senuweeagtigheid, sy beroemde woorde geuiter: “Doctor Livingstone, I presume?”

In 1874 is hy terug na Afrika toe om die Kongo-bekken (die groot stuk aarde waar die Kongorivier ontspring) te verken. Teen die tyd dat hy die Atlantiese Oseaan in 1877 bereik het, het hy meer as 10 000 kilometer oor Afrika getrek. Hierdie reise van Stanley en sy verslae oor die rykdom in die gebied het aanleiding gegee tot die Belgiese koning van daardie tyd, Leopold II, se uitbuiting van die Kongo. 21

Henry Morton Stanley

Mary Kingsley

Mary Kingsley was merkwaardig omdat sy op haar eie in Afrika gereis het, iets wat vroue daardie jare nie gedoen het nie. Haar ouers is oorlede, en sy het haar eerste reis in 1893 van Sierra Leone af tot by Luanda in Angola aangepak. Sy het by plaaslike inwoners gebly, en dikwels heeltemal alleen deur die Kongo, Angola, Gaboen en Kameroen gereis. Haar opleiding as verpleegster het haar in staat gestel om siekes te help.

Gedurende haar tweede reis in 1894 het sy Berg Kameroen uitgeklim.

Sy is terug Engeland toe waar sy saam met kundiges van die Britse Museum gewerk het om ’n nuwe spesie varswatervis te beskryf wat sy op haar reise teëgekom het. Die vissies is uiteindelik na haar vernoem. 22

Mary Kingsley

Woordbank

aangedoen Besoek; stop.
aan te knoop Begin; skep.
aanvanklik Eers.
bekendheid verwerf Bekend word.
bekken Gewoonlik die deel van die lyf tussen die heupe; ook die stuk aarde waarin ‘n klomp riviere ineenvloei om ‘n groot rivier te vorm.
beslaan Dek.
bevraagteken In twyfel trek.
chronologiese volgorde Die volgorde waarin ’n reeks gebeurtenisse in tyd plaasvind.
doeltreffend Op ‘n’n goeie manier.
gedros Sonder toestemming wegloop.
ekspedisies ‘n Reis, gewoonlik oor moeilike terrein.
era Tydperk.
Europeërs Inwoner van Europa.
filosowe Denker; iemand wat oor die betekenis van die lewe nadink.
gefinansier Geld gee sodat iets gemaak of ’n projek onderneem kan word.
gerugte Storie; onbevestigde berig
hadj Pelgrimstog na Mekka wat elke Moslem moet onderneem.
handelsbetrekkinge Samewerking sodat daar handel gedryf kan word.
handelsware Goedere wat ’n mens koop en verkoop.
kaak Die deel van ‘n mens se gesig waarin jou ondertande sit, en wat kan beweeg.
karavaan ‘n’n Groep kamele waarmee daar gereis word.
karteer ’n Kaart teken.
kontinente Vasteland; ‘n groot stuk aarde wat deur oseane omring word.
Maghreb Ou naam vir die noordelike strook van Afrika wat aan die Middellandse See grens.
malaria Siekte wat deur muskiete oorgedra word.
Middeleeue ‘n Era tussen die val van die Romeinse Ryk en die Renaissance waarin daar min wetenskaplike ontwikkeling in Europa plaasgevind het.
nalatenskap Erflating; dit wat ’n persoon ná die dood vir die nageslag agterlaat.
navigasie Om ‘n roete met behulp van ‘n kaart of plan te volg.
ondermyn Doelbewus iemand se werk belemmer
onherbergsame Gesê van ‘n’n landstreek met uiterste omstandighede waarin ‘n mens moeilik woon.
ontdekkingsreis ‘n’n Reis om nuwe plekke te verken.
opbloei Nuwe lewe; groei.
primêre Belangrikste
Renaissance Die herlewing van die kunste, wetenskaplike denke en ontwikkeling in Europa.
satelliete Stuk toerusting wat in die ruimte geplaas word waarmee ‘n mens goed op die aarde en in die ruimte kan bekyk.
spesie ‘n Klassifikasie vir diere en plante.
teleskope Apparaat waarmee ‘n mens baie ver kan sien.
tydrowend ‘n Lang tyd vat.
verhoed Keer.
voor die hand liggendste Die maklikste, eerste, logiesste.
waaghalsige Waag maklik kanse; loop risiko’s.
Wallieser Inwoner van Wallis.
wedervaringe Belewenisse; ietsdinge wat ervaar is.

Lees meer

Kyk ook hier

Hierdie video gaan oor Ibn Battuta se reise

Hierdie video handel oor die verspreiding van die Islam in Afrika en die legende van Timboektoe

Kyk hier na ’n dokumentêr oor David Livingstone en Henry Stanley

Christopher Columbus (Dokumentêr)

Die majestueuse Victoria-waterval

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 25 Augustus 2023 | Bygewerk op 26 Februarie 2024