Vinnige feite

  • Smit se voorgeslagte het voor 1688 uit Nederland gekom en in die Kaap kom woon. 1
  • Nicolaas Smit het geen formele skoolopleiding gehad nie.
  • Daar is ʼn laerskool met die naam Laerskool Generaal Nicolaas Smit in die woongebied Hercules in Pretoria.
  • Met die Slag van Majuba waarin hy geveg het, is 92 van die Engelse soldate dood en slegs een van die Boere. 2
  • Die Engelse generaal Colley sterf in die geveg by Majuba. 5
Foto: iStock

Soos dit dikwels gebeur het in die tyd toe Nicolaas Smit geleef het, moes hy reeds as jong seun help om oorlog te maak. Kinders moes in sy tyd baie vroeër die werk van volwassenes help doen as wat vandag algemeen verwag word. Ons sal sien dat Nicolaas reeds toe hy net 15 jaar oud was, aan militêre optredes moes deelneem.

Hy het op baie terreine van die lewe uitgeblink: Hy was ʼn groot patriot, ʼn dapper soldaat, ʼn baie goeie bevelvoerder en ook ʼn goeie spreker.

Nicolaas Smit se kinderjare en gesin

Nicolaas Jacobus Smit is op 30 Mei 1837 in die distrik Graaff-Reinet gebore. Sy pa was ook Nicolaas Jacobus Smit, en sy ma was Elizabeth Magdalene van der Merwe. Hy was hulle oudste kind. Sy pa het in 1840 met sy gesin na Natal verhuis en later na die provinsie wat toe Wes-Transvaal genoem is en vandag Noordwes is. Hier het hy in 1846 die plaas Leliefontein in die distrik Venstersdorp ontwikkel.

Nicolaas Smit trou op 1 April 1861 met Hendrika Stephina Pretorius. Hulle het drie seuns en twee dogters gehad. Sy sterf op 18 Augustus 1894, en hy trou daarna op 30 Mei 1895 met die weduwee Susanna Maria Preller. 1

Veg. genl. N.J. Smit 1880/1881

Hy maak reeds as kind oorlog

Hy was reeds as kind ʼn goeie perderuiter, en hy kon toe ook reeds goed met ʼn geweer skiet. Vandat hy vyftien jaar oud was, het hy aan strafekspedisies teen van die swart stamme deelgeneem. Hierdie optredes het onder meer in 1852, 1854 en 1858 plaasgevind. Op 14 April 1858 is hy tydens een van die gevegte in sy linkeroor gewond. Sy oordrom het gebars, en dit het veroorsaak dat hy later blind geword het in sy linkeroog. 1

Wat doen hy in die eerste Anglo-Boereoorlog?

In 1864 word hy verkies as veldkornet van die wyk Mooirivier by Potchefstroom. In 1867 word hy luitenant-generaal, en hy was toe tweede in bevel onder president T.F. Burgers. Hy het in 1873 ʼn plaas met die naam Goedehoop in die distrik Ermelo gekoop, en vir ʼn ruk het hy sy aandag op die boerdery gevestig.

Toe sir Theophilus Shepstone Transvaal in 1877 annekseer, het Smit saam met onder andere Paul Kruger oorgegaan tot lydelike verset daarteen.

Slag van Majuba

In die eerste Anglo-Boereoorlog (1880-1881) het Smit gewys dat hy ʼn dapper leier en slim krygsman is. Hy het op 8 Februarie 1881 met ʼn klein groepie burgers generaal Pomeroy Colley se groot groep Engelse soldate by Schuinshoogte verslaan (gewen). 1

George P. Colley

Generaal Smit was ook deel van die geveg by die Slag van Majuba op 26 Februarie 1881 waar ongeveer 200 Boere ongeveer 600 Engelse soldate verslaan het. Toe kommandant-generaal Piet Joubert hom beveel om die Engelse van die berg af te haal, het hy volgens oorlewering uitgeroep: “Die wat nie lafaards is nie, volg my!” 2

Smit se taktiek was grootliks verantwoordelik vir die Boere se sukses. Hy het onder meer gebruik gemaak van “dooie grond”, dit wil sê plekke waar die vyand jou nie kan sien nie. Daarmee saam het hy kruisvuur gebruik. Hy het die ouer Boere wat goeie skuts was, opdrag gegee om elke keer wanneer hulle Britse soldate bo-op die berg sien afloer of beweeg, dadelik te skiet. Daardeur was dit vir die res van die Boere moontlik om teen die berg op te beweeg sonder dat die Britse soldate hulle kon sien. Hulle het van struik tot struik en van rots tot rots teen die berg op beweeg totdat hulle ná ongeveer ses uur bo was. 3

Majuba

Politieke loopbaan

Ná hierdie oorlog het Smit se politieke loopbaan begin toe hy op 9 Mei 1882 Volksraadslid vir Middelburg geword het.

Op 18 September 1883 vertrek Smit saam met president Paul Kruger en S.J. du Toit na Europa. Hulle wou die Britse regering oorreed om ʼn paar dinge te doen, soos om die susereiniteit oor Transvaal te beëindig en om toestemming te gee om ʼn spoorlyn tussen Pretoria en die Portugese grens te bou. Hierdie eise is toegestaan met die ondertekening van die Londense Konvensie op 27 Februarie 1884. Nadat hulle ʼn aantal ander lande in Europa besoek het, het hulle op 15 Julie 1884 teruggekeer, en hulle is met feesvieringe in Pretoria ontvang.

Afgevaardigdes van die Zuid-Afrikaanse Republiek na die Londense Konvensie (1884).

Hierdie groep leiers het reeds in September 1883 na die buiteland vertrek en keer eers in Julie die volgende jaar na die land terug. Ons moet onthou dat hulle in daardie tyd met ʼn boot na die buiteland moes reis en nie met ʼn vliegtuig nie. Dit het dus maande geneem vir so ʼn reis na Europa en terug.

In 1885 was Smit eers tydelike voorsitter en later permanente voorsitter van die Volksraad, terwyl hy steeds Volksraadslid vir Ermelo was. Hy was steeds in hierdie pos toe hy op 4 April 1896 in sy huis in Pretoria oorlede is. Hy was net 58 jaar oud toe hy gesterf het.

S.J. du Toit

Hy is op 5 April 1896 tydens ʼn staatsbegrafnis in Pretoria begrawe, en sy graf is in die Heldeakker van die begraafplaas langs die destydse Kerkstraat-Wes. 1

Belangrike persone uit die geskiedenis van Suid-Afrika is in die Heldeakker begrawe. Die begraafplaas is in 1867 geopen, en dit is ook ʼn erfenisterrein. 4

Heldeakker, Pretoria

Belangrike kommissies en ander prestasies

Smit het in ʼn aantal belangrike regeringskommissies diens gedoen, onder meer dié oor:

  • Die Barbertonse Goudvelde (1886)
  • Opleidingsregulasies vir Aptekers (1887)
  • Die inlywing van De Nieuwe Republiek Vryheid, Natal, by die Zuid-Afrikaansche Republiek (1888)
  • Die Delagoabaai-Pretoria-spoorlyn

Ander belangrike mylpale waarby Smit betrokke was, is soos volg:

  • Hy was in 1892 die stigter van die eerste Landbouvereniging van Pretoria.
  • Hy het die grond by Bereapark gekry vir die Bereapark-rugbyveld in Pretoria.
  • Hy was ʼn kurator van die Staatsgimnasium wat in 1892 in Pretoria opgerig is. 1

Buitelandse toekennings

Smit het verskeie toekennings van regerings in die buiteland gekry, soos:

  • Pruise: Ridder van die Rooi Adelaar
  • Nederland: Kommandeur van die Orde van die Nederlandse Leeu
  • Portugal: Kommandeur van die Orde van die Onbevlekte Ontvangenis 1

Woordbank

annekseer Wanneer een land ʼn gebied of ander land inlyf, dit wil sê vir hulself vat.
erfenisterrein ʼn Belangrike plek in die geskiedenis van Suid-Afrika.
lydelike verset Om teen iets gekant te wees sonder om protes aan te teken of op te tree.
kurator Iemand wat toesig hou oor ʼn plek of inrigting.
oorlewering Mondelinge oorvertelling van iets wat gewoonlik baie lank gelede gebeur het. 6
patriot Iemand wat baie lief is vir sy of haar vaderland.
Pruise Pruise was ʼn Duitse staat aan die kus van die Baltiese See. Die Duitse Ryk wat in 1871 tot stand gekom het, het onder beheer van Pruise gestaan. Die Ryk het in 1947 ophou bestaan. 7
strafekspedisies ʼn Lang reis wat goed beplan word, veral na ʼn onbekende en gevaarlike plek, is ʼn ekspedisie. In hierdie geval was die ekspedisies na plekke waar oorlog gemaak is. ʼn Strafekspedisie het gebeur wanneer ʼn stam of volk iets verkeerds gedoen het, soos om vee te steel. Die strafekspedisie was dan om hulle te straf en die gesteelde vee terug te kry.
susereiniteit Die opperheerskappy van een staat oor ʼn ander staat wat net gedeeltelik onafhanklik is.
taktiek Oorlogsplan, krygsplan, aanvalsplan; die kuns om soldate in ʼn geveg op die beste manier te rangskik en te gebruik.
veldkornet Hierdie titel is veral in die 19de eeu gebruik. Dit was ʼn amptenaar wat met die bestuur van plaaslike sake gehelp het en wat ondergeskik was aan die landdros.
volksraad Die liggaam wat die wette in ʼn land maak. Die lede van die volksraad word verkies deur die inwoners van die land.

Kyk, lees en leer meer

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 15 November 2022 | Bygewerk op 10 November 2023