Vinnige feite
- Deur die jare is Moshoeshoe se naam al op verskeie maniere geskryf: Mosjwesjwe, Masoes, Mosjesj, Moshesh, Mshweshwe, Moshweshwe, Moshoeshwe. 3 Sy naam is gewoonlik as Moshesh uitgespreek, behalwe by seremoniële geleenthede as hulle sy volle naam gebruik het. 4
- Volgens oorlewering kom die naam baSotho van die minagtende Zoeloe-term vir hulle: baShunto, die stertriemdraers. 3
- Thaba Bosiu beteken “berg van die nag”, 1 en het die naam gekry omdat Moshoeshoe en sy mense in die nag daar aangekom het. 7
- Daar is ’n standbeeld van Moshoeshoe buite Maseru (hoofstad van Lesotho). Dit is deur sy nakomeling, Moshoeshoe II, op 3 Oktober 1966, ten tyde van die onafhanklikheidswording van Lesotho, onthul. 3
- Sy agter-agter kleinseun was Aardbiskop Emmanuel ’Mbathoana, die eerste swart biskop van die Rooms-Katolieke Kerk in Suidelike Afrika. ’n Ander agter-agter kleinseun was Moshoeshoe II, die koning van Lesotho ná onafhanklikheid. 5
Moshoeshoe (1786-1870) was die stigter en eerste opperhoof van die Basotho’ (deel van die Sotho’s) en die grondlegger van die Lesotho-staat (vroeër bekend as Basoetoeland). Hy was een van die suksesvolste Afrika-leiers van die 19de eeu. Hy het dit reggekry om in ’n tyd van erge ontwrigting en aanvalle van die Tlokwa-stam, die Zoeloes, die Matebeles (deel van die Ndebeles), die Britte én die Boere vir sy mense ’n tuiste te verseker. 1
Vroeë jare
Moshoeshoe is in ongeveer 1786 gebore. 2 Sy pa was Mokhachane en sy ma Kholu. Mokhachane was die hoofman van die Bamokoteli, een van die vele klein stamme wat in die gebied waar Lesotho vandag is, gewoon het. 3 Hul hoofstat was Menkhoaneng, en dis waar Moshoeshoe gebore is en saam met sy ouer suster en twee jonger broers grootgeword het. 2
Moshoeshoe het deur sy lewe verskillende name gehad. By geboorte is hy Lepoqo, wat “moeilikheid” beteken, genoem omrede hy gedurende ’n droogte gebore is en dit vir die stam moeilik was om nog ’n mond te moet voer. 4 Ná sy inisiasie het hy die naam Letlama gekry, wat “binder” beteken. 1 Die naam Moshoeshoe het hy gekry ná ’n suksesvolle strooptog, toe daar ’n liedjie oor hom geskryf is met die woorde: “Ek is Moshoeshoe, die barbier van Kali, die skeerder wat die baard van Ramonabeng afgeskeer het.” 4 Die naam “Moshoeshoe” is die geluid wat ’n mes maak wanneer dit iemand se hare of baard afskeer. 1
Ontmoeting met Mohlomi
As jong man het Moshoeshoe vir Mohlomi ontmoet, ’n bekende filosoof in die gebied. Mohlomi was ’n hervormer wat gekant was teen geweld en die praktyke van toordokters. 3 Mohlomi het vir Moshoeshoe gewaarsku dat hy nooit iemand weens toordery moes doodmaak nie, en dat indien Moshoeshoe sy invloed wou uitbrei, hy met baie vroue moes trou, armes red, en nie reisigers lastig val nie. 3
Moshoeshoe het hierdie woorde ter harte geneem. Hy sou inderdaad beroemdheid verwerf as iemand wat sy bondgenote én sy vyande vrygewig behandel. 1
Moshoeshoe brei sy mag uit
Ná 1820 het Moshoeshoe by sy pa oorgeneem, en planne gemaak om die stam op te bou. 5 Hy het begin om die ander stamme in die omgewing een vir een in te lyf deur ’n kombinasie van diplomasie, stropery en aanvalle. 4
In die eerste twintig jaar van die 1800’s het daar in die Suid-Afrikaanse binneland wanorde geheers. Die Mfecane (ook genoem Difaqane of Lifaqane) het gedwonge migrasie, ontwrigting van families en stamme, en verwoesting van boerdery veroorsaak. 1 Moshoeshoe het vir die vlugtelinge van die Mfecane skuiling gebied. 1
In 1822 het hy gehoor dat die Tlokwa, ’n sterk stam onder leierskap van die hoofvrou Mantatisi, en haar seun, Sekonyela, 4 beplan om hom aan te val. Omdat Menkhoaneng nie maklik was om te verdedig nie, het Moshoeshoe sy mense laat trek na Butha-Buthe, ’n koppie in die Maluti-bergreeks. Hier kon hulle makliker ’n aanval afweer: hulle kon onder meer rotse teen die steil berghange op aanvallers afrol. 6 Die Basotho’s (soos wat sy mense begin bekend staan het) het daar ’n bergvesting gebou. 1
Thaba Bosiu
In 1824 is die Basotho-volksgroep by Butha-Buthe deur die Tlokwa-stam aangeval. 3 Toe die Tlokwa-stam hulle nie kon oorwin nie, het hulle besluit om die Basotho’s te probeer uithonger. 4 Te midde van die beleëring het Moshoeshoe besluit om na Thaba Bosiu te vlug. 6
Thaba Bosiu is ’n berg suid van Butha-Buthe, in die noordweste van die huidige Lesotho. 6 Dis ’n berg met ’n plat kruin wat net bereik kan word deur een van vyf poorte. In oorlogstyd kan hierdie poorte met rotsblokke toegepak word. Op die kruin kan mielies en koring gesaai word, en daar is fonteine en drinkplekke vir vee. Dit is dus ’n plek waar ’n groep mense vir ’n onbepaalde tyd teen ’n aanval kon uithou. 3
Thaba Bosiu is onafskeidbaar verbonde aan Moshoeshoe. 3 Die Basotho’s is nooit daar oorwin nie. Dit is die wieg van die Basotho-koninkryk. 7
Moshoeshoe konsolideer sy mag
In die volgende 40 jaar is die Basotho’s aangeval deur die Tlokwa-, Khoi- en Nguni-stamme, die Britte en die Boere. 7
Moshoeshoe het allerlei metodes gebruik om te oorleef. Hy het sy veetroppe opgebou deur strooptogte op die plaaslike Temboe en Xhosa-groepe uit te voer. 1 Waar die ander stamme sterker as hy was, het hy soms bondgenootskappe met hulle aangegaan, soos met hoofman Sekwati van die Pedi-stam en hoofman Phuting van die Mokuone-stam. Ander kere het hy onderhorigheid getoon deur skatplig te betaal, soos aan Shaka, die koning van ’n nuwe sterk stam in Natal, die Zoeloes. Moshoeshoe se beleid om onderhorigheid aan sterker groepe te toon, was baie suksesvol en het derhalwe daarvoor bekend geword. 4
Op ’n stadium het ’n nabye groep, die amaNgwane, vir hom ’n groot bedreiging geword, en hy het slim gewerk om hulle uit die weg te ruim. Hy het aan Shaka geskenke van beeste en kraanvoëlvere gestuur, wat Shaka gebruik het vir sy indoenas se uitrustings. Moshoeshoe het aspris opgehou om die geskenke te stuur. Toe Shaka navraag doen oor waarom die geskenke opgedroog het, het Moshoeshoe vir Shaka laat weet dat hy deur die amaNgwane verhinder is. Shaka het onmiddelik ’n mag gestuur om die amaNgwane te onderwerp, en só is een van Moshoeshoe se grootste vyande uit die weg geruim. 3
Soos sy mag gegroei het, het al hoe meer mense by hom aangesluit. Volgens die mafisa-stelsel het hy aan verarmde mense beeste geleen wat hulle kon gebruik om hulself op te bou. Nabye leiers wat hy onderwerp het, is toegelaat om in hul eie dorpies hul eie tradisies en reëls te behou, solank hulle vir Moshoeshoe gehelp het wanneer hy hulle nodig gehad het. 6 Hulle moes ook aanvaar dat hy grond beskou het as stambesit: mense het gebruiks- of woonreg op die grond gehad, dus kon hulle die grond gebruik, maar nie besitreg hê nie – dit het steeds aan die stam behoort. 3
In 1831 het die Ndebeles van Mzilikazi, wat vroeër die Matebeles genoem is, van Shaka af weggevlug en ’n mislukte aanval op Thaba Bosiu aangevoor. 3 Moshoeshoe het Mzilikazi vernietigend verslaan, maar kort daarna ’n groterige trop beeste agterna gestuur as ’n vredesgebaar, en ’n boodskap waar hy die Ndebele sy “broers” genoem het. Hulle het hom nooit weer aangeval nie. 7
Kontak met nuwe mense
Teen die 1830’s het die Basotho’s uit ’n mengelmoes van verskillende tale en kulture bestaan. 6 Buiten vir die Bamokoteli-volksgroep was daar Zoeloes, Xhosas, Tswanas, en vele meer. Moshoeshoe was die hoofman van die heuwels en valleie rondom Thaba Bosiu, en die mense, beeste en plase tot anderkant die Caledonrivier en Thaba Nchu – meer as 80km wes van Thaba Bosiu. 6 Daar was egter nie duidelike grense nie – die Basotho’s het nie die idee van ’n grenslyn geken nie. 4
Tot op hierdie stadium was almal met wie Moshoeshoe in kontak gekom het swart groepe. 3 Die eerste nie-swart groep was die Kora, ’n nomadiese Khoi-Khoi-groep wat die Basotho’s se veetroppe begin stroop het. 6 Die Kora was Moshoeshoe se eerste vyand wat met perde en gewere aangeval het. Hulle was ook die eerste sterker groep wat nie sy skatplig aanvaar het nie. 3
Moshoeshoe het besef dat die Basotho’s se wapens te swak was om die Kora te keer. 3 Hy het uitgevind dat wit mense beter wapens gehad het, 6 en ’n jagter, Adam Krotz, het voorgestel dat hy sendelinge na Thaba Bosiu moes nooi. 3
Die aankoms van die sendelinge
Die sendelinge wat op 28 Junie 1833 by Thaba Bosiu aangekom het, het die einde van Moshoeshoe se isolasie van die buitewêreld beteken, en ’n nuwe fase in die geskiedenis van die Basotho-volk ingelui. 3
Eugène Casalis, Thomas Arbousset en Constant Gosselin was van die Paryse Sendinggenootskap. 3 Moshoeshoe het hulle toegelaat om by Morija, net suid van Thaba Bosiu, te vestig. Hy het twee van sy seuns gestuur om by hulle te gaan woon om hulle beter te verstaan. Toe hy hulle begin vertrou het, het hy vir Casalis genooi om sy permanente raadgewer in Thaba Bosiu te word. Die sendelinge het hom baie selfvertroue en hulp gegee in sy handelinge met wit mense. 6
Die sendelinge en die Basotho’s
Moshoeshoe het die sendelinge aangemoedig om hul sendingwerk te beoefen, 2 en sy mense aangemoedig om na die sendelinge te luister. 3 Veral in die eerste tien jaar het die sendelinge baie vordering gemaak. Opvoeding is aangemoedig, Christelike begrafnisse is toegelaat, die doodmaak van vroue wat aangekla is van heksery is verbied, die magte van toordokters is verminder, en vir ’n rukkie is selfs inisiasieskole gestop. 2 Hy het ook wit handelaars in sy gebied toegelaat, en Britse drostersoldate gebruik omdat hulle kennis van wapens gehad het. 3
Moshoeshoe het die dienste van wit mense gebruik om vir hom ’n moderne kliphuis te bou waarin hy besoekers, soos die sendelinge, volgens Westerse gewoontes onthaal. Hy het een van sy vroue spesiaal opgelei om op ’n Westerse wyse te onthaal. 3
Nie al die Basotho’s was gelukkig oor die sendelinge nie, en Moshoeshoe moes versigtig te werk gaan om nie sy eie mense te vervreem nie. Hy het dus nie self sy tradisionele leefwyse laat vaar nie en by die ou stamgebruike gebly. 3
Tussen 1848 en 1854 het konflik tussen die sendelinge en sommige Basotho’s egter opgevlam. Van die bekeerde Basotho’s het teruggekeer na hul tradisionele godsdiens, en alle wit mense én sendelinge is uit die koninkryk gesit. Moshoeshoe het met nóg vroue getrou om aan sy mense te bewys dat hy nie soos die Christene geword het nie. 3
Nuwe intrekkers bedreig Moshoeshoe se mag
In die laat 1830’s tot 1840’s was Moshoeshoe die heerser oor ’n groot volk wat meestal in vrede en voorspoed geleef het. Sy volgelinge het ver verspreid gebly. 3
In die 1830’s het wit groepe die Kaapkolonie verlaat in ’n beweging wat die Groot Trek genoem word. Die impak van die Groot Trek was aanvanklik positief vir die Basotho’s. Die Voortrekkers het twee van Moshoeshoe se groot mededingers, Mzilikazi se Ndebeles in 1837 en toe Dingaan se Zoeloes in 1838 verslaan. 3
Moshoeshoe het van die trekboere toegelaat om sy grond te bewoon, maar soos sy gewoonte was, het hy bedoel hulle kry gebruiksreg, maar nie besitreg nie. Hy het egter gou besef dat wit mense eiendomsreg anders gesien het, en dat hulle nie sy gesag wou erken nie. Vir die volgende 30 jaar sou hulle veg oor grond en grense. 3
Moshoeshoe het geweet dat daar verskillende wit groepe was (Boere en Britte), en het besef hy kon dit uitbuit. 1 Casalis was vir 23 jaar lank Moshoeshoe se raadgewer, en is deur Moshoeshoe self sy “oog, hand en voet” genoem is. 3 Hy was ’n belangrike tussenganger tussen Moshoeshoe, die Boere, en die Britte. 1 Anders as sendelinge in ander dele van die land, het Casalis en die ander werklik Moshoeshoe se beste belange op die hart gedra. Hulle het gunstige verslae oor die Basotho’s en Moshoeshoe geskryf, en was openlik gekant teen wit indringing op Basotho-grond. 6
Pogings om grense vas te stel
Die Boere en die Basotho’s het getwis oor weiveld en jagregte. Teen 1842 was daar te veel Boere na Moshoeshoe se sin. Hy het toe besluit om by die Britte beskerming te soek, 4 en het ’n brief aan die Kaapse regering gestuur met ’n versoek om in te gryp. 2
Die gevolg was die Napier-verdrag van 1843. Hiervolgens is Moshoeshoe se mag oor die grond tussen die Caledon- en Oranjerivier, en ’n strook grond wes van die Caledonrivier, bevestig, 8 en die grense is vasgestel. Die verdrag het niemand tevrede gestel nie (Moshoeshoe het gevoel hy gee té veel land weg, en die Boere het gereken hy hou te veel 4 en die konflik het voortgeduur. 8
In 1848 het die Britte die Oranjeriviersoewereiniteit (die Vrystaat) geannekseer. Die Britte het nóg ’n poging aangewend om die grensgeskil op te los en vrede te bring, met die Warden-lyn van 1 Oktober 1849. Dit was vir Moshoeshoe baie ongunstig: die grense van Basoetoeland het baie verklein. Moshoeshoe wou nie, maar deur bullebakkery het die Britte hom gedwing om dit te aanvaar. 8
Oorlog met die Britte
Daar was nou nie genoeg grond naby Thaba Bosiu om al die Basotho’s te huisves en boerdery voort te sit nie. Moshoeshoe het met die Britte gebots oor grond wat die Britte geannekseer het waarop hy aanspraak gemaak het. 9
Die Britte het toe besluit om vir Moshoeshoe ’n les te leer. Hulle het ’n mag na Thaba Bosiu toe gestuur, maar dié mag, bestaande uit Rolong- en Kora-troepe, was oorgerus en nie goed voorbereid nie. 1 Op 30 Junie 1851 is hulle by die Slag van Viervoet verpletterend deur die Basotho’s verslaan. Die volgende jaar is nóg ’n Britse mag deur die Basotho’s by die Slag van Berea op 20 Desember 1852 verneder. 3
Ná die laaste oorwinning het Moshoeshoe onmiddelik ’n brief aan die Britse aanvoerder, sir George Cathcart, geskryf waarin hy gesê het dat hy nie meer ’n vyand van die Britte wou wees nie. 7 Die Basotho’s se oorwinnings het die Britse regering laat besef dat dit nutteloos was om met die Basotho’s te veg. Dit het húlle ook oortuig om hul rug op die gebied te begin draai. 8
Ten spyte van Moshoeshoe se oorwinnings het die grens egter gebly waar dit was volgens die Warden-lyn. 9 Daar is vandag steeds mense in Lesotho wat aanspraak maak op die grond wat hiér verloor is. 8
Konflik met die Boere
In 1854 was Moshoeshoe op die kruin van sy mag. Daar was ten minste 70 000 Basotho’s. Hulle het genoeg kos gehad. Hulle het as oorwinnaars uit die stryd teen die Britte getree. Die ander groepe in die gebied was nie teen Moshoeshoe opgewasse nie: in 1852 het hy die Tlokwa van Sekonyela, en die Kora onder Gert Taaibosch oorwin. 3
In 1854 het die Britte aan die Boere onafhanklikheid gegee, en die Boere het die Republiek van die Oranje-Vrystaat (OVS) gestig. 9 Die konflik tussen die Basotho’s en die Boere het voortgeduur: die Vrystaters wou die vrugbare grond langs die Caledonrivier hê, en die Basotho’s het strooptogte op wit boere se veestapels uitgevoer. 4
Moshoeshoe het ’n goeie verhouding met Josias Hoffman, die eerste president van die Oranje-Vrystaat, gehad. Hoffman het onder andere vir Moshoeshoe Bloemfontein toe genooi en hom op ’n staatsbanket getrakteer 9 en Hoffman het Thaba Bosiu besoek. Maar tydens hierdie besoek het Hoffman ’n fout gemaak deur vir Moshoeshoe ’n vaatjie buskruit as geskenk te gee. Daar was soveel teenstand hierteen onder die Vrystaters, wat nie wou gehad het dat swart mense Westerse wapens in die hande kry nie, dat Hoffman in 1855 moes bedank. 10
Hoffman is opgevolg deur president Jacobus Boshoff. Die verhouding tussen die twee groepe het versleg, 9 en in 1858 het die Vrystaat oorlog teen die Basotho’s verklaar. 4 Die Vrystaters se kommando’s het opgetrek na Thaba Bosiu, maar kon dit nie oorwin nie. Die Basotho’s het terselfdertyd tot diep in Vrystaatse gebied ingedring en begin stroop. Boshof moes die kommando’s van Thaba Bosiu af terugroep om die Basotho’s te stop. 9
Die Kaapse goewerneur, sir George Grey, is ingeroep om as bemiddelaar tussen die groepe op te tree. 9 Dít het gelei tot die Verdrag van Aliwal-Noord, waarvolgens die Basotho’s land aan beide kante van die Caledonrivier gekry het. Dit is sekerlik een van die beste oomblikke van swart uitbreiding teenoor wit vyande in die geskiedenis van suider-Afrika. 1
Dié verdrag het egter steeds nie die grensprobleem opgelos nie. Die Boere was ontevrede, 8 en Moshoeshoe was nou vol selfvertroue omdat hulle die Vrystaters gedwing het om toegewings te maak. 4
Vir die volgende agt jaar was daar amptelik vrede. Maar die Basotho-bevolking het aanhou groei en daar was gou weer ’n gebrek aan grond. In 1866 het nóg ’n oorlog uitgebreek, 9 wat soms die Seqiti-oorlog genoem word. Hierdie keer was die Vrystaters, nou onder president Jan Brand, beter voorberei. 8 Hulle was militêr sterker en het hulp gehad van Transvaalse kommando’s. Boonop was Moshoeshoe nou al oor die 70 jaar oud, en sy seuns was nie sulke sterk leiers soos hy nie. Die Vrystaters kon steeds nie Thaba Bosiu oorwin nie, maar het probeer om die Basotho’s tot oorgawe te dwing deur Thaba Bosiu te beleër en die Basotho’s se lande en kosvoorrade te vernietig. 9
Die Basotho’s het gevra vir vrede, en op 26 Maart 1866 is Moshoeshoe gedwing om die Verdrag van Thaba Bosiu te teken. Hiervolgens moes hy twee derdes van sy landbougrond asook duisende beeste en skape aan die Vrystaat afstaan. 8 Dit het omtrent alles ingesluit wat hy by die Verdrag van Aliwal-Noord gekry het. 1 Basotho-land (of Basoetoeland) se grens het hierna grootliks gelyk soos Lesotho s’n vandag.
Die Boere het nou die hef in die hand gehad, en in die volgende jaar was Basotho-nasie op die rand van ineenstorting. 1 Moshoeshoe het besluit om by die Britte te pleit vir ingryping. Op 26 Maart 1868 het die Kaapse goewerneur, Philip Wodehouse, die amptelike anneksasie van Moshoeshoe se gebied aangekondig. Die gebied, wat sou bekend staan as Basoetoland, sou ’n amptelike Britse protektoraat wees, bedoelende Brittanje sou die regering beheer, 8 en die mense sou onderdane van die Britse koningin Victoria wees. 4
Die lot van Basoetoeland
Hierdie anneksasie het die behoud van Moshoeshoe se Basotho’s verseker, maar hulle het hul onafhanklikheid verloor. 9 Die anneksasie was ’n kompromie: Britse beskerming in ruil vir beperkte beheer oor hul eie gebied. Dit was in elk geval vir die Basotho’s beter as om by die Vrystaat ingelyf te word. 8
Die grense van Basoetoland is deur die tweede Traktaat van Thaba Bosiu vasgestel. 9 Ten spyte van die protektoraat was daar in die volgende paar jaar nie regtig tekens van Britse regering nie. 3 In 1871 het die Britse regering beheer oor Basoetoland aan die Kaapkolonie gegee, wat dit deel van die Kaap gemaak het. Teen 1884 het dit weer ’n aparte kolonie van Brittanje geword. Dit het dié status behou tot in 1966, toe dit die onafhanklike staat Lesotho geword het. 1
Moshoeshoe se laaste jare en dood
Moshoeshoe het as gevolg van swakheid weens ouderdom nie in die laaste jare so ʼn groot rol gespeel nie. Gesag is verdeel tussen sy drie seuns, Letsie, Molapo en Masupha, wat elkeen sy eie volgelinge beheer het. 3
Teen sy dood was die Basotho-koninkryk ongeveer 150 000 mense sterk. 11
Moshoeshoe het op 11 Maart 1870 in Thaba Bosiu gesterf, 1 en hy is daar begrawe. Die berg was sy woonplek en is nooit verower nie. 3
Persoonlike lewe
Die sendelinge het groot respek vir Moshoeshoe gehad en baie oor hom geskryf. Volgens hulle het hy bo ander mense uitgestyg in insig en intelligensie. Hy was fisiek sterk en gesond, en het nooit sterk drank of tabak gebruik nie. Hy het ’n goeie sin vir humor gehad, was openhartig, met ’n gevoel vir geregtigheid, en het ander mense vertrou. 3
Soos die gebruik was, het hy baie vroue gehad, 4 moontlik tussen 30 en 40! 2 Sy eerste vrou was Mamohato, ’n Fokeng-vrou. Sy eerste seun was Letsie, Mamohato se seun. 4
Moshoeshoe het hom moontlik heel aan die einde van sy lewe tot Christenskap bekeer. 5 Die sendeling Eugène Casalis se dogter het vertel dat hy kort voor sy dood vir haar gesê het dat hy hom bekeer het. Die datum vir sy openbare doop is aangekondig, maar hy is die aand voor die doopplegtigheid oorlede. 2
Evaluering
Moshoeshoe was een van die mees suksesvolle leiers in die geskiedenis van Suider-Afrika.
Hy kon goed aanpas by omstandighede: vroeg in sy lewe was hy ’n kryger, later ’n man van vrede, en ’n diplomaat wanneer dit nodig was. 6
Dit is merkwaardig dat hy deur soveel sterk groepe wat Suid-Afrika al gehad het – die Zoeloes, Britte en Boere, om maar drie te noem – aangeval is en oorleef het. 6 In sy verhoudings met die Boere en die Britte het hy met dieselfde wysheid opgetree as met sy Afrika-bure. Hy het die integriteit van die toekomstige Lesotho bewaar, uiteindelik besef Britse beskerming is die beste van die slegte opsies, en dit reggekry om wit grondbesit in sy land, én deel word van Suid-Afrika, teen te staan. 2
Hy was die leier gedurende een van die periodes van die meeste ontwrigting in Suid-Afrika se geskiedenis: die gevolge van die Mfecane, nuwe beskawings in die vorm van Boere en Britte, nuwe regeringsmetodes soos demokrasie, sendelinge met nuwe gelowe en tradisies. 3 Dit is ’n besondere prestasie dat die Basotho-volksgroep (of Sotho’s, soos die mense vandag bekendstaan) tot vandag kon oorleef as mense met ’n eie staat, ten spyte van al die uitdagings wat hulle in die gesig gestaar het. 8 Dit is alles te danke aan een man: Moshoeshoe.
Woordbank
barbier | Haarkapper. |
bekeerde | Iemand in jou God laat glo; iemand van godsdiens laat verander. |
beleg | Om ’n vyand te omsingel om hulle te dwing om oor te gee. |
beleid | ’n Program vir die bestuur van iets. |
bergvesting | ʼn Fort of versterkte woonplek. |
bullebakkery | Iemand wat sy/haar krag of mag gebruik om ander mense bang te maak. |
buskruit | ’n Mengsel wat in bomme en vuurwerk gebruik word en kan ontplof. |
diplomasie | Om met mense te onderhandel sonder om hulle te ontstel. |
drostersoldate | Soldate wat sonder toestemming uit die weermag wegloop. |
geannekseer | Om besit van ʼn gebied te neem. |
hef in die hand | In beheer wees. |
hervormer | Iemand wat ’n stelsel wil verbeter deur baie veranderings daaraan aan te bring sodat dit beter kan werk. |
indoenas | Raadgewers van ’n opperhoof. |
inisiasie | Proses van iemand opneem in of toelaat tot ’n gemeenskap. |
insig | Die vermoë om te begryp/verstaan hoe iemand/iets regtig is. |
integriteit | Eerbaarheid, eerlikheid. |
In te lyf | Iemand ʼn lid van ʼn groep of iets deel te maak. |
intelligensie | Die vermoë om te leer, te verstaan en oor dinge te dink. |
isolasie | Wanneer een mens/groep/ding van ander geskei is. |
kruin | Die boonste deel van ’n berg. |
kryger | Soldaat. |
migrasie | Die proses van ’n plek verlaat en na ’n ander plek trek. |
nomadiese | Rondtrekkende. |
onafhanklikheid | Die reg om jouself te regeer. |
onafskeidbaar | Wat jy nie van mekaar kan skei nie. |
onderwerp | Om iemand se gesag te erken, veral wanneer jy geen keuse het nie. |
ontwrigting | Probleme veroorsaak en verhinder dat iets op die gewone manier gebeur/voortgaan; deurmekaar maak. |
opperhoof | Heerser oor ’n uitgebreide swart groep. |
poorte | Deurgange deur die berge. |
protektoraat | ’n Gebied wat ’n sterk staat onder sy beskerming plaas sonder om dit te annekseer of die inwoners daarvan onderdane te maak, maar waaroor die beskermheer tog alle staatsmagte uitoefen. |
raadgewer | Iemand wat raad gee. |
skatplig | ’n Deel van jou inkomste wat jy aan iemand anders moet betaal. |
staatsbanket | Deftige onthaal vir mense in hoë posisies. |
strooptog | Roof of plunder. |
teenstand | Verset. |
ter harte geneem | In ag neem; erns maak; iets as belangrik beskou. |
tradisionele | Sekere gebruike, opvattings en gevoelens wat van geslag tot geslag oorgedra en in stand gehou word. |
getrakteer | Iemand feestelik onthaal. |
uitbuit | Om onregverdig en selfsugtig soveel moontlik voordeel uit iemand of iets te put. |
uit die weg te ruim | Wegdoen; ontslae raak. |
vaatjie | ’n Houer van hout waarin iets bewaar word. |
verpletterend | Vernietigend, verwoestend. |
vervreem | Iets doen sodat iemand nie meer van jou/iets hou nie. |
vredesgebaar | Vredeoffer/soenoffer; iets weer goed maak met ʼn geskenk, ens. |
vrugbare | In staat om (baie) vrugte te lewer. |
wieg | Die plek waar iets ontstaan/begin het. |
Artikels oor Moshoeshoe
- Daar is elke jaar ‘n staptog tussen Menkhoaneng en Thaba Bosiu om Moshoeshoe se bydrae tot Lesotho se geskiedenis te vier
- Lesotho
- Die Basotho-mense van Suid-Afrika
Interessante video’s om nog meer te leer oor Moshoeshoe
Dinge wat jy nie oor Lesotho geweet het nie
Ontdek Lesotho: 10 interessante feite oor Lesotho
Moshoeshoe, die tradisionele Lesotho-leier wat kolonialisme beveg het