Vinnige feite

Marie Antoinette en Mozart
  • Marie Antoinette was al die onderwerp van menige boeke, flieks en musiek. ’n Voorbeeld is die 2006-fliek Marie Antoinette met Kirsten Dunst in die titelrol.
  • Marie Antoinette was volgens almal wat haar geken het, beeldskoon. Sy is beskryf as delikaat, met grysblou oë en silwerblonde hare. 1
  • Die Marie Antoinette-sindroom is wanneer jou hare skielik, gewoonlik oornag, grys word. Dokters reken dit word deur stres veroorsaak, maar niemand is seker nie. 1
  • Sy het op sewejarige ouderdom vir Wolfgang Amadeus Mozart, die beroemde Oostenrykse komponis, ontmoet. Hy was ook sewe. Dit was rondom hierdie tyd dat sy haar liefde vir musiek ontdek het. 2
Foto: iStock

Marie Antoinette is een van die bekendste vroue in die geskiedenis. Sy was die laaste koningin van Frankryk en haar lewe het tot ‘n bloedige einde gekom toe sy in 1793 tereggestel is.

Grootwordjare

Marie Antoinette is op 2 November 1755 in Wene, Oostenryk, gebore. Haar geboortenaam was Maria Antonia Josepha Joanna. 1 Sy was ‘n aartshertogin, 2 die 15de en tweede laaste kind van Maria Theresa, die keiserin van Oostenryk, en haar man, Francis I, die keiser van die Heilige Romeinse Ryk. 1

Maria het gelukkige kinderjare gehad. Haar beste vriendin was haar suster, Maria Karolina, die toekomstige koningin van Italië. 2

Haar opvoeding was tipies vir ʼn 16de eeuse adellike meisie. Dit het op godsdiens en moraliteit gefokus (teenoor haar broers, wat akademiese vakke soos wiskunde en taal gehad het). 1

Huwelik

In Frankryk het die dauphin van Frankryk gesterf. Lodewyk XV, die Franse koning, se kleinseun, Lodewyk-Augustus, is as die nuwe troonopvolger aangewys. Maria het in 1765 aan Lodewyk-Augustus verloof geraak. Sy was 10 en hy 11 jaar oud. 1

Die doel van die huwelik was om bande tussen Oostenryk en Frankryk te versterk. 1 Dit was nodig, want die twee lande was kort tevore nog in oorlog gewikkel. Baie mense was egter ongelukkig oor die voorgenome huwelik. 2

Toe sy 14 was, het koning Lodewyk XV ’n tutor na Maria toe gestuur om haar gereed te maak vir koninginskap. Die tutor het aan Lodewyk berig dat sy intelligent was, maar ook ligsinnig en lui. 1

Lodewyk XV

Maria en Lodewyk is in 1770 met die handskoen getroud, wat beteken hulle was in verskillende lande en Maria is deur ‘n gevolmagtigde verteenwoordig. Hulle was nou onderskeidelik 15 en 16 en het nog nooit ontmoet nie. 3

Kort daarna het sy na Frankryk gereis waar sy op 16 Mei 1770 in persoon met Lodewyk getroud is. 1 Dit was ‘n oordadige troue wat deur meer as 5 000 gaste bygewoon is. 3

Ná haar troue het sy begin om die Franse weergawe van haar naam, Marie Antoinette, te gebruik. 2

Getroude lewe en eerste jare in Frankryk

Marie Antoinette was nie reg om te trou nie, het dit nie geniet nie, en het verskriklik huis toe verlang. 1

Alles in Frankryk was vreemd. Die tradisies van die Franse hof was uiters beperkend, iets waaraan sy nie gewoond was nie. Haar hele dag was vooruitbeplan en sy het min privaatheid gehad. 2 Daar was byvoorbeeld ’n wakkerword-seremonie. Sy moes elke oggend voor dosyne howelinge haar grimering aansit, 1 en het al haar etes in die openbaar voor skares geëet!

Hierdie beperkings is een van die redes waarom sy later so baie moeite gedoen het om dele van haar lewe privaat te hou. 4

Lodewyk en Marie Antoinette was totaal verskillend. Hy was ’n skaam introvert wat daarvan gehou het om op sy eie te wees. Sy was lewenslustig en uitgaande. Sy het graag tot laat gekuier en haar man het graag vroeg opgestaan. 1

Koningin van Frankryk

Lodewyk XV het in 1774 gesterf. Lodewyk-Augustus is in Mei 1774 as koning Lodewyk XVI gekroon. 1

Marie Antoinette, op 19-jarige ouderdom, was nou koningin van Frankryk en in beheer van die koninklike hof. 4

Lodewyk XVI

Marie Antoinette se hof by Versailles

Marie Antoinette het gehou van ’n lewendige hof. Sy het graag partytjies gehou. 1 Sy was mal oor vermaaklikhede en het balle en opvoerings gereël. 4

Sy het van kuns gehou, en as beskermheer vir haar gunstelingkunstenaars opgetree. Een só ʼn kunstenaar was Élisabeth Vigée Le Brun, wat meer as 30 portrette van Marie en haar familie geskilder het. 4

Marie het van musiek gehou en was self ’n musikant. Sy kon harp, klavesimbel en fluit speel. 4 Sy was ’n uitstaande danser en het ook graag gesing. 2

Een van Marie se groot passies was mode. Hofdames was gewoonlik verantwoordelik vir die koningin se klere en haarstyle. Sy het hulle egter geïgnoreer en haar eie uitrustings gekies. 4 Sy het bekend geword vir haar uitspattige haarstyle. Van haar pruike was meer as ’n meter hoog, en eenkeer was haar pruik ’n perfekte replika van ’n Franse oorlogskip! 5

Marie se persoonlike sosiale kringe

Marie het haar eie sosiale kring by die hof geskep. Hulle het in haar privaat kamers gekuier, waar hulle kaart en biljart gespeel en graag gedobbel het. Die bedrae wat hulle gewen en verloor het was só reusagtig dat die koning noodgedwonge moes intree om die ergste te probeer keer. 4

Sy het ook ’n modelplaas laat bou. Hier het sy en haar hofdames soos melkmeisies en herderinne aangetrek en gemaak of hulle op die plaas werk. 5

Reputasie

Toe Marie Antoinette aanvanklik in Frankryk aangekom het, het sy ’n sensasie veroorsaak. Toe sy die eerste keer in Parys verskyn het, het ’n skare van 50 000 mense saamgedrom om haar te sien. 6

Haar gewildheid het egter gou verdwyn. Sy het gesukkel om by die vreemde Franse gebruike aan te pas. Sy het soms onbewustelik sosiale flaters begaan. Dit het haar reputasie skade gedoen.

Baie Franse was boonop bevooroordeeld omdat sy van Oostenryk af gekom het. Hulle het vir haar die neerhalende bynaam “die Oostenryker” gegee. 4

In 1785 was sy by die berugte diamanthangertjie-skandaal ingesleep. Sy is beskuldig daarvan dat sy ’n diamanthangertjie uit Frankryk uit gesmokkel het. Sy was onskuldig. Dit het egter nie saak gemaak nie – baie Franse het geglo dat sy skuldig was. 1

Die berugte diamanthangertjie

As gevolg van haar obsessie met mode het sommige mense vir haar die neerhalende bynaam “minister van mode” gegee. 4

Teen die laat 1780’s was die Franse regering basies bankrot. Marie Antoinette se spandabelrige leefstyl het haar die gramskap van al hoe meer Franse op die hals gehaal. Pamflette is versprei waarin sy van onkunde en geldverkwisting aangekla was. Haar bynaam hiervoor was “Mevrou Tekort” (in Engels: Madame Deficit). 1

‘Laat hulle koek eet’

Die ding waarvoor Marie Antoinette moontlik meer as enigiets anders bekend is, is vir die volgende verhaal: Toe sy gedurende die Franse Revolusie gehoor het dat die Franse mense nie brood gehad het om te eet nie, was haar reaksie: “Qu’ils mangent de la brioche”, wat verkeerdelik vertaal is as: “Laat hulle dan koek eet.” (brioche is ’n tipe brood, nie koek nie). 1

Daar is geen bewyse dat hierdie verhaal waar is nie. Mense wat haar geken het én historici reken dat dit buite haar aard sou wees. 1 Dit was ’n storie wat jare voor die revolusie reeds oor ’n ander koningin vertel is. Boonop is die verhaal nie in haar lewe nie, maar eers 50 jaar ná haar dood, aan Marie Antoinette gekoppel. 7

Marie se leefstyl

Dit staan buite alle twyfel dat Marie Antoinette ’n uitspattige leefstyl gehad het. Haar spandabelrigheid is egter waarskynlik oordryf. 4

Baie van haar foute was uit onkunde gemaak en nie kwaadwillig bedoel nie. 3 Sy het wel vir die Franse mense omgegee en was deernisvol. Sy het behoeftige kinders aangeneem en geld aan liefdadigheid geskenk. 2

Op die ou end het dit nie saak gemaak nie. Dit het mode geword om haar vir al Frankryk se probleme te blameer. 3 Teen die uitbreek van die Revolusie was sy só ongewild dat sy nie meer in die openbaar verskyn het nie. 2

Marie Antoinette se kamer

Buite-egtelike verhouding

Baie bronne stem saam dat Marie Antoinette waarskynlik ’n buite-egtelike verhouding met Axel von Fersen, ’n Sweedse diplomaat, gehad het. Sy het hom in 1774 by ’n bal by Versailles ontmoet. Hulle was definitief geheg aan mekaar. Daar is egter geen definitiewe bewyse was dat hulle wel ’n verhouding gehad het nie. 1

Axel von Fersen

Uitbreek van die Franse Revolusie

Die Franse Revolusie het in Mei 1789 uitgebreek. Op 5 Oktober 1789, so vyf maande daarna, het daar ’n skare van so 10 000 mense, waarvan baie vroue was, na die paleis van Versailles, ’n entjie buite Parys, gemars. 1 Sommige mense het die paleis binnegedring, vasbeslote om die koningin te vind en dood te maak. Marie Antoinette het deur die doolhof van slaapkamers gevlug en só ontsnap. 6

Die skare het die familie gedwing om na Parys te gaan. Dáár is hulle in die Tuileries-paleis aangehou. 3

Louis XVI het aan verlammende besluiteloosheid gely en Marie Antoinette het in sy plek begin besluite maak. Sy het vergaderings met raadgewers gehou. Sy het ook briewe aan die konings van buurlande, soos Oostenryk, gestuur waarin sy om hulp gesmeek het. 1

Tuileries-paleis

Vlug na Varennes

In 1791 het Marie Antoinette gereël dat sy en haar familie uit Frankryk ontsnap. 3 Sommige van haar raadgewers het voorgestel dat sy alleen ontsnap, maar sy het geweier om sonder Louis en haar kinders te gaan. 8

Die familie was vermom, maar hulle is by die dorpie Varennes herken en teruggebring Parys toe. 1

Hierdie vlugtog was vir baie Franse die finale bewys dat die koninklike familie verraaiers was. Van toe af is hulle soos misdadigers aangehou en behandel. 3

Inhegtenisname

Teen die middel van 1792 was Frankryk in oorloë met Oostenryk en Pruise (rofweg vandag se Duitsland) gewikkel. Baie Franse het daarop begin aandring dat die koning moet abdikeer. In September 1792 het die nuwe regering die monargie afgeskaf, ’n republiek gestig, en die voormalige koning en koningin van verraad aangekla. 1

Hulle is van Augustus af in die Tempel, ’n soort fort in Parys, aangehou. 4

In Januarie 1793 is Louis XVI skuldig bevind aan verraad. Hy is op 21 Januarie 1793 tereggestel. 1

Marie Antoinette op pad na haar tergegstelling

Dood

Ná die koning se dood is Marie Antoinette na die Conciergerie, ’n koninklike woning wat as tronk gebruik is, oorgeplaas. 4

In Julie 1793 het sy toesig oor Lodewyk-Karel, haar 8-jarige seun, verloor. Hy is hierna gemartel en gedwing om haar van bloedskande aan te kla. Hierdie bewerings was totaal ongegrond. 3

In Oktober is sy amptelik van hoogverraad, diefstal en seksuele mishandeling aangekla. 1 Sy is skuldig bevind en na die guillotine gestuur. 3

Die aand voor haar teregstelling het sy aan haar skoonsuster geskryf: “Ek is kalm, soos iemand wie se gewete skoon is.” 1

Marie Antoinette is op 16 Oktober 1793, op 37-jarige ouderdom, tereggestel.

Oomblikke voor haar teregstelling het die priester vir haar gesê sy moet dapper wees. Marie Antoinette se reaksie was: “Dapper? Die oomblik wanneer my moeilikhede tot ’n einde gaan kom, is nie die oomblik wanneer my dapperheid gaan verdwyn nie.”

Die laaste woorde wat sy ooit geuiter het, was aan die laksman, nadat sy per ongeluk op sy voet getrap het: “Verskoon my, meneer. Ek het dit nie aspris gedoen nie.” 1

Sy is onmiddellik ná die teregstelling in ’n gewone graf begrawe. 6 In 1815 is haar en haar man se lyke na die Kerk van Saint-Denis geskuif en in ’n grafkelder tot ruste gelê. 4

‘n Replika van die laaste skoen wat deur Marie Antoinette gedra is

Kinders

Marie Antoinette en Lodewyk se eerste kind is eers 8 jaar ná hul troudag gebore. Hulle het vier kinders gehad. Almal se lewens het tragies geëindig:

  • Mari-Thérèse-Charlotte, hul oudste dogter, is in 1778 gebore. 1 Sy was die enigste kind wat tot volwassenheid geleef het. Sy is soos die res van die familie tydens die revolusie aangehou, maar is ná die revolusie vrygelaat en na Oostenryk verban. Teen hierdie tyd was die res van haar gesin almal dood. Daar het sy op 72-jarige ouderdom in ballingskap gesterf. 1
  • Die tweede kind, Lodewyk-Josef, is in 1781 gebore. Hy het in Junie 1789 op 7-jarige ouderdom, kort ná die uitbreek van die Revolusie, aan siekte gesterf. 1
  • Die derde kind was Lodewyk-Karel, wat in 1785 gebore is. Van almal was sy lewe moontlik die tragiesste. Toe die familie aangehou is, en veral ná sy pa se teregstelling, is hy van sy ma en suster weggehou. In 1793 is hy by sy ma weggeneem en gedwing om haar van seksuele mishandeling te beskuldig. Hy het twee jaar later, op 10-jarige ouderdom, aan aanranding en mishandeling in die tronk gesterf. 1
  • Sophie Béatrice is in 1786 gebore, en het 11 maande ná haar geboorte gesterf. 2

Marie Antoinette was ’n toegewyde, liefdevolle ma. Die reëls van die hof het haar gekeer om by haar kinders se daaglike lewens betrokke te wees. 1 Soos haar man, was sy baie geheg aan die kinders. Die dood van haar twee kinders aan siekte en Lodewyk-Karel se latere lot, het haar diep getref. 4

Evaluasie

Vir die revolusionêres in Frankryk was Marie Antoinette die simbool van die boosheid van die monargie. Volgens hulle het sy voeling met die Franse mense verloor en was ’n selfsugtige verraaier. Dit het nie saak gemaak of hierdie dinge waar was nie. Die beeld wat mense van haar gehad het, was belangriker as hoe sy werklik was. 3

Vir historici en geskiedenisliefhebbers is sy vandag nog die toppunt van mode en skoonheid. Sedert haar dood het duisende mense al navorsing gedoen oor haar klere, juweliersware en verhoudings. 1

Sy is ’n tragiese figuur, ’n slagoffer van haar tyd en omstandighede. Die leuens wat oor haar versprei is, het haar reputasie só vernietig dat daar vandag nog mense is wat dinge oor haar glo wat eenvoudig nie waar is nie. 2

Woordbank

aartshertogin

Prinses.
abdikeer Van die troon (koningskap) afstand doen.
adellike Die groep mense (edelmanne en edelvroue) wat in sommige lande tot die hoogste sosiale stand behoort.
balle Groot en deftige danspartye.
ballingskap Iemand wat in ballingskap is, word gedwing om sy/haar land te verlaat.
berugte Ongunstig bekend; met ’n slegte reputasie.
beskermheer Iemand wat sorg vir die belange van ʼn vereniging of organisasie.
bevooroordeeld Dit is om ’n vooropgesette mening oor iets of iemand te hê. Met ander woorde, jy het vooraf besluit hoe die persoon gaan optree.
biljart ’n Spel soortgelyk aan snoeker, waar opponente op ’n tafel balle met lang stokke in sakkies aan die hoeke en kante van die tafel probeer inslaan.
bloedskande Seks tussen mense in dieselfde familie.
buite haar aard Wanneer iemand optree soos wat hulle nie gewoonlik sal optree nie.
dauphin Die Franse troonopvolger.
deernisvol Om jammer te voel oor iemand anders se swaarkry; diep meegevoel en simpatie.
delikaat Fyn en aantreklik.
diplomaat Verteenwoordiger van ʼn staat by/in ʼn ander staat, bv. ʼn ambassadeur/gesant.
doolhof ’n Plek met paadjies en roetes waardeur dit moeilik is om jou pad te vind.
geldverkwisting Om geld te mors.
gemars Georganiseerde beweging in ’n rigting met ’n sekere doel.
gemartel Iemand moedswillig baie seer maak.
gevolmagtigde Iemand wat namens iemand anders optree in ’n regsaak.
gewete Die deel van jou verstand wat oor goed en sleg dink.
gramskap Woede.
guillotine ’n Toestel waarmee mense onthoof is en wat uit ’n swaar, vlymskerp lem bestaan wat in twee oorlangse groewe in die regop styl van ’n kosynagtige konstruksie gly. Dit word ook ’n valbyl genoem.
Heilige Romeinse Ryk Staat wat in die Middeleeue in Europa bestaan het. Die kern daarvan was die teenswoordige Duitsland.
herderinne Vroue wat skape oppas.
hof Die plek waar die koningshuis woon en werk.
hofdames Adellike vroue wat deel is van ’n koning(in) se huishouding.
howelinge Lid van die koning of koningin se huishouding.
introvert ʼn Teruggetrokke, skaam persoon.
keiserin ’n Vrou (hoër as ’n koning) wat oor ’n hele groep lande regeer.
klavesimbel ’n Ouderwetse klavier waarvan die snare liggies getokkel word om effens metaalagtige klanke voort te bring.
komponis Iemand wat musiek skryf of ʼn skepper van musiekstukke.
kwaadwillig Met ’n slegte gesindheid; of as jy iemand aspris kwaad wil aandoen.
laksman Iemand wat die doodsvonnis uitvoer; die misdadigers aan ʼn galg laat hang.
liefdadigheid Die handeling van steun/geld/goed/ens. te gee aan mense wat arm/siek/ens. is en hulp nodig het.
ligsinnig Laf/verspot wees; nie ernstig oor jou dade nadink nie.
lot Jou lewe, veral as dit baie sleg gaan.
met die handskoen getroud Om te trou wanneer die bruid of bruidegom afwesig is.
minister ʼn Politikus wat aan die hoof staan van een van die departemente van ʼn land se regering.
mode Iets wat op ’n bepaalde tydstip gewild is.
modelplaas ’n Voorbeeld van iets wat ’n nabootsing is van ’n werklike een.
monargie Staat of regeringsvorm met ‘n monarg (soos ‘n koning of keiser) aan die hoof.
moraliteit Wat te doen het met iets goeds of slegs.
neerhalende As jy iemand beledig of klein laat voel.
obsessie Beheptheid met iets, om gedurig daaraan te dink; kwel- of dwanggedagtes.
onbewustelik As jy iets doen waarvan jy nie weet jy mag of mag nie doen nie.
ongegrond Sonder goeie redes.
onkunde Gebrek aan kennis en ervaring.
oordadige Meer as wat nodig is.
oordryf Meer van iets doen as wat behoorlik of natuurlik is.
op die hals gehaal Deur jou eie toedoen in die moeilikheid kom.
replika Namaaksel van die oorspronklike.
republiek ’n Regeringsvorm sonder ’n koningshuis waarby die oppergesag berus by stemgeregtigde burgers.
seremonie ’n Formele openbare of godsdienstige gebeurtenis of plegtigheid.
simbool Iets wat sintuiglik waarneembaar is, in hierdie geval ’n mens, wat as voorstelling van iets anders gebruik word.
slagoffer Iemand wat swaarkry as gevolg van iets buite hulle beheer.
sosiale flaters Om foute te maak wat slegs in sekere sosiale situasies as foute gesien sal word.
sosiale kring Daardie mense waarmee jy jou vrye tyd wil spandeer.
spandabelrige Wanneer iemand links en regs geld uitgee.
tekort Iets waarvan daar te min is.
tereggestel Om iemand met die dood te straf.
toppunt Die hoogste punt waartoe ’n mens kan styg.
tot ruste gelê Begrawe.
tradisies Oorgelewerde sedes, gewoontes, kultuurwaardes van ’n volk.
tutor Privaat leermeester/onderwyser.
uitgaande Ekstrovert.
uitrustings Die klere wat jy op ’n gegewe dag aantrek.
uitspattige Oordrewe.
verban Verplig om ʼn land/plek vir goed te verlaat; in ballingskap die land uitstuur; uitstoot; verdryf.
vermaaklikhede Iets wat plesier verskaf.
vermom Om iemand se voorkoms so te verander dat hulle nie herken word nie.
verraaiers Iemand wat inligting wat geheim moes bly, bekend maak.
vertaal Om iets uit een taal in ’n ander taal te verander.
verteenwoordig Om namens iemand op te tree.
voeling Om in kontak met iets te wees.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Marie Antoinette

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Marie Antoinette

Marie Antoinette se lewe voor die Revolusie

Oorsig oor die Franse Revolusie

Die lewe van Marie Antoinette se kinders

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 30 Julie 2024 | Bygewerk op 31 Julie 2024