Vinnige feite

  • Koopmans-De Wet het Europa twee keer besoek en het daar baie belangrike mense ontmoet. Sy is selfs aan die hof van koning Willem II van Nederland ontvang. 4
  • Die Koopmans-De Wet-huis was ’n bymekaarkomplek vir baie bekende mense. Haar huis is die Strandstraatse salon gedoop. Cecil John Rhodes was glo gereeld daar en Koopmans-De Wet het staatsmanne soos sir Bartle Frere, J.H. (Onze Jan) Hofmeyr, F.S. Malan en president Jan Brand, F.W. Reitz, Paul Kruger en M.T. Steyn geken. 4
  • Sy was lid van die hoofbestuur van die Suid-Afrikaanse Taalbond en het ook boekpryse aan Suid-Afrikaanse kolleges gestuur.
  • Koopmans-De Wet het haar vir die behoud van volksbesit, die bewaring van oudhede en die beskerming van inheemse flora beywer. Sy het ook die stigting van die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging ondersteun, maar haar onttrek toe dit nie alle Christengroepe, soos Rooms-Katolieke, insluit nie. 4
  • Sy het selfs ’n petisie met 16 750 handtekeninge opgestel om aan koningin Victoria te stuur om die Anglo-Boereoorlog stop te sit. 4
  • Sy het twee vrouevergaderings georganiseer om teen die verskroeideaardebeleid te protesteer. 4

 

As jy weer in Kaapstad kom, moet jy die grootmense vra of julle die Koopmans-de Wet-museum in Strandstraat kan besoek, want daar sal jy sien hoe mense baie jare gelede geleef het en jy sal nóg meer inligting oor die interessante Maria Koopmans-De Wet kry. Hierdie museum is die oudste huismuseum in die land. [Lees meer hier oor museums.]

As jong vrou by die ateljee van Lawrence Brothers in Caledonstraat, Kaapstad

Interessant was hierdie vrou beslis, want selfs die Brit Cecil John Rhodes het haar as die gevaarlikste vrou in die Kaapkolonie beskryf! Cecil John Rhodes was in daardie tyd die eerste minister van die Kaapkolonie. Hoekom het hy haar so beskryf? Wel, sy het ’n baie sterk persoonlikheid gehad en het g’n nonsens gevat nie en sy het dinge reggekry. Kom ons kyk waar als begin het.

Cecil John Rhodes

Persoonlike lewe

Maria de Wet (beter bekend as Marie) is in 1834 in die Kaapkolonie gebore. 1 Haar gesin was baie bekend in die Kaap en hulle was welgestelde mense wat graag onthaal het. Haar pa se naam was Johannes de Wet en hy was ’n vooraanstaande advokaat en boonop met tye ’n waarnemende president van die Kaapse wetgewende raad. Haar ma se naam was Adriana Horak.

Maria de Wet is op sewejarige ouderdom skool toe en sy en haar suster, Margaretha, het baie goeie skoolopleiding ontvang. Haar pa het groot waarde aan die kennis van ander tale geheg en hulle is ook in Duits, Frans en Italiaans onderrig. Die meisies het ook musiekopleiding ontvang en skilderlesse en naaldwerkklasse geneem. 2

Saam met familie

Maria is in 1864 op 30-jarige ouderdom met Johan Christoffel Koopmans getroud. Hy was ook goed met tale en kon ses Europese tale praat. Hy het met die Brits-Duitse Legioen as lid van die personeel van Baron von Stutterheim na die Kaap gekom. Hy het later by die hoofposkantoor in Kaapstad gewerk en die paartjie het ná hul troue in Waalstraat gebly. Hulle het geen kinders gehad nie en toe Maria se ma siek word, het hulle na haar ouerhuis in Strandstraat getrek.

F.S. Malan was een van die gesiene figure wat gereeld by Koopmans-De Wet en haar suster gaan kuier het

Johan Koopmans is in 1879 aan ’n nierkwaal oorlede. Sy vrou kon nie sy dood verwerk nie en het vir die res van haar lewe swart klere gedra ter nagedagtenis aan hom. Maria Koopmans-De Wet is op 2 Augustus 1906 in die ouderdom van 72 oorlede en haar suster is op 18 Oktober 1911 in die ouderdom van 73 dood. Hul huis is ná hul afsterwe aan die staat bemaak en gevolglik in 1914 as ’n museum verklaar.

’n Kampvegter vir ander mense

Emily Hobhouse

Koopmans-De Wet het bekendheid verwerf omdat sy baie vir ander mense gedoen het.

Sy was, byvoorbeeld, baie lief vir kuns en argitektuur en het haar beywer vir die bewaring van Kaapse geboue en kuns. Sy was ’n beskermvrou van die kunste, maar het selfs van haar laat hoor as mense ou bome wou verwyder!

Blykbaar het die destydse eerste minister Cecil John Rhodes planne gehad om ’n stuk van die Kasteel die Goeie Hoop plat te slaan omdat dit in die pad van ’n spoorlyn was. Daar was ’n bastion in die pad en volgens oorlewering het hy glo gesê dat dit mos net ’n klein gedeelte van die kasteel was en daarom kon hulle dit maar afbreek. Maria Koopmans-De Wet was baie ontevrede met hierdie opmerking en het glo gesê: “Sy neus is ook maar net ’n klein deeltjie van sy gesig. Laat hy dit afsny en in die spieël kyk om te sien hoe dit lyk!”

Rhodes moes uiteindelik ’n nuwe roete vir sy spoorlyn vind en daardie bastion is gered.

Koopmans-De Wet het tydens die Anglo-Boereoorlog geleef. Dit was die oorlog wat tussen die Britte en die Boererepublieke van die Oranje-Vrystaat en die Zuid-Afrikaansche Republiek gewoed het. Die oorlog word ook die Suid-Afrikaanse Vryheidsoorlog genoem.

Vroue en kinders is in daardie tyd in konsentrasiekampe geplaas en plase is verbrand sodat die Boere nie kos en ander voorrade op die plase kon kry nie.

Koopmans-De Wet was baie geskok toe sy hoor hoe sleg die vroue en kinders in die konsentrasiekampe behandel is. Sy het petisies opgetrek om te kla oor die slegte behandeling en sy het ook protesvergaderings gereël sodat mense bewus kon raak van wat in die res van die land aangaan. Sy was sterk gekant teen die verskroeideaardebeleid. Hierdie beleid het bepaal dat boere se plase afgebrand is. Sy was ook teen die deportasie van krygsgevangenes na die St. Helena- en Ceylon-eilande (vandag Sri Lanka). Die Britte het haar selfs in ’n stadium in huisarres geplaas omdat sy die Boererepublieke ondersteun het en daarom het die militêre polisie haar huis deursoek.

Hulle het haar ’n Kaapse rebel en selfs “Queen of the rebel ladies” genoem. 1

Sy het haar bes gedoen om die vroue en kinders in konsentrasiekampe te help. Sy het gehelp om duisende pakkies in te samel om na konsentrasiekampe te stuur en het sommer self kos, medisyne en klere by haar huis verpak. Haar huis se grondvloer se vertrekke is as pakhuis gebruik en sy het hard gewerk om pakkies weg te stuur. Koopmans-De Wet het glo ’n noue band met die bekende Britse vrou, Emily Hobhouse, gehad, wat ook baie vir mense in die konsentrasiekampe beteken het. 2

Meer oor die museum

Die Koopmans-De Wet-museum is ’n nasionale gedenkwaardigheid. Hierdie besonderse museum is die oudste huismuseum in die land en gee vir ons ’n goeie idee van hoe welvarende mense in die 18de eeu in die Kaapkolonie geleef het. 3

Koopmans-De Wet-huis 2015

Dit bevat pragtige ou Kaapse meubels, besonderse silwerware en ’n versameling van keramiekware. Die huis het sy deure in 1914 as ’n museum oopgemaak. Daar is slegs ’n paar huise uit die 18de eeu wat nog in Kaapstad behoue gebly het.

Hierdie argitektoniese tekening van die Koopmans-de Wet House-fasade is die eerste keer in 1933 gepubliseer deur G. E. Pearse, medewerker van die Royal Institute of British Architects, Emeritus Professor in Argitektuur, Universiteit van die Witwatersrand

Die huis is in 1699 deur die eerste eienaar Reynier Smedinga gebou en is oor die volgende eeu verander en vergroot. Die laaste private inwoners van die huis was Marie Koopmans-De Wet en haar suster, Margaretha. Baie van die museum se huidige versameling het aan die De Wet-familie behoort, maar ander ware is deur die jare deur mense geskenk. Die museum is in Strandstraat 35, Kaapstad, geleë. 3

Koopmand-De Wet-huis in 1920

Woordbank

advokaat Dis ’n regsgeleerde wat mense in die hof verdedig en wat mense in regsake raad gee. 5
bastion ’n Gedeelte wat op ’n kasteelmuur uitstaan 6
deportasie As iemand uit sy land verban word 5
konsentrasiekampe Plekke waar burgerlikes en soldate tydens oorloë in baie swak omstandighede aangehou is 5
museum Plek waar kosbare en interessante ou voorwerpe uitgestal word.
petisies Versoekskrif aan ’n owerheid. 6
welgestelde Baie ryk; mense wat geld het. 5
vooraanstaande Iemand wat as ’n leier op sy of haar gebied beskou word. 5

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Wie was Marie Koopmans-De Wet?

Die Koopmans-De Wet-museum

Meer oor Emily Hobhouse

Gepubliseer op: 30 Mei 2022 | Bygewerk op 20 Maart 2024