Vinnige feite

  • Die Maria Kloppers Kampus (so word die kinderhuis vandag genoem) is geleë op ʼn heuwel in die woongebied Observatory in Johannesburg. Daar is vier woonhuise waarin die kinders woon en daar is ook ’n eenheid (plek) vir babas. Daar is plek vir 50 kinders en ook vir 12 babas. 8
  • Maria Kloppers was die eerste vrou in Suid-Afrika wat ’n banklening aangegaan het en sy het hierdie geld gebruik om haar kinderhawe op te rig. 1
  • ’n Man met die van Ferreira was die eerste persoon wat sy tent op Langlaagte opgeslaan het om na goud te soek. Honderde mense het sy voorbeeld gevolg en die kamp is toe sommer “Ferreira se kamp” genoem. 1
  • Die saal van die Maria Kloppers Kinderhawe is deur Gerard Moerdijk ontwerp. 1 Hy was ’n baie bekende argitek en het ook die Voortrekkermonument ontwerp. Sy van word soms ook “Moerdyk” gespel.
  • In die eerste 100 jaar van die Langlaagte Kinderhuis se bestaan, het 13 000 kinders daar versorging ontvang. Baie het ál hul kinderjare daar deurgebring. Vir duisende kinders is hierdie die enigste huis wat hulle ooit geken het. 1
  • Maria se broer, Rial Kloppers, was ʼn briljante man. Hy was ʼn lid van die Provinsiale Raad en ook ʼn direkteur van die KWV. 1
  • In 1993 het die Abraham Kriel Kinderhuis en die Maria Kloppers Kinderhuis saamgesmelt. 4

Die meeste van ons kan by ons eie ouers grootword en saam met ons eie broers en susters ons ouers se onvoorwaardelike liefde en sorg geniet. Maar soms gebeur dit nie, en dan is daardie baba of ouer kind wees. Dit beteken dat so ʼn kind geen heenkome of sorg het nie en uitgelewer is aan die barmhartigheid – of die gevoelloosheid – van ander mense. Sou hierdie kind nie die regte sorg en liefde ontvang nie, kan dit tot latere wangedrag lei. Die ongelukkiges wat so iets oorkom, wend hulle dikwels tot dwelms en ander verkeerde maniere om die pyn van ouerloosheid en die gebrek aan liefde en selfwaarde te verdoof.

Tog, gelukkig was en is daar steeds vroue wat ander mammas – wat om die een of ander goeie rede nie hul eie kind/kinders kan grootmaak nie – se kinders aanneem en grootmaak en vir hulle die liefde van ’n eie ouerhuis gee. Hierdie aanneemouers is gewoonlik getroude paartjies wat nie hul eie kinders kan hê nie. Deur ʼn weeskind aan te neem, help hulle dus nie slegs die kind nie, maar vul terselfdertyd ook die leemte in hul hart en huis en kan op dié manier hul ingebore ouerskap uitleef.

Maar daar is ook kinders wat nooit aangeneem word nie en hul hele skoolloopbaan in ʼn kinderhawe deurbring. ’n Mens sal dink sulke kinders is baie ongelukkig en hartseer om nie ʼn nuwe ouerhuis te vind nie. Maar gelukkig is dit nie waar nie – daar is soveel suksesverhale van kinders wat juis as gevolg van die liefdevolle versorging en aandag wat hulle in ʼn kinderhuis ontvang, kan uitstyg bo hul verlede en hul volle potensiaal as jong volwassenes bereik. Die storie van Maria wat in die Langlaagte Kinderhuis grootgeword en daar gematrikuleer het, is ʼn sprekende voorbeeld hiervan. Kyk gerus na die video oor haar onderaan die artikel.

So is duisende kinders deur die jare oor die hele wêreld gehelp en word hulle vandag steeds gehelp.

Maria Kloppers – ʼn formidabele vrou wat hierdie groot nood reeds in ons eie land raakgesien het – was van jongs af ʼn omgeemens en het graag ander gehelp, en het veral baie omgegee vir babas wat hulp en sorg nodig gehad het.

Niemand het tóé geweet hoeveel sy later vir soveel kinders sou beteken nie.

Maria Kloppers voor sy die Kaap verlaat het vir die Witwatersrand

Die saadjie word gesaai

Maria Kloppers is op 1 Januarie 1868 in Ladismith in die westelike deel van die Klein-Karoo gebore. Haar volle doopname was Maria Helena Marsophina. 1

Sy was as kind sieklik en tingerig. Sy het waarskynlik na haar ma geaard, wat ook nie baie gesond en sterk was nie.

Maria was maar net 10 jaar oud toe haar drie jongste sibbe aan masels dood is. Maria het op Robertson in die Wes-Kaap begin skoolgaan, maar sy moes die skool verlaat om vir haar ma te gaan sorg omdat sy te siek was om op die plaas waar hulle gebly het, vir haarself te sorg. 2

Toe sy 18 jaar oud was, het sy vir die eerste keer met die Heilsleër te doen gekry. Sy wou baie graag by die Heilsleër aansluit, maar sy het geweet sy kon nie omdat haar ma in daardie stadium so swak was dat sy niks meer kon doen nie. Maria was dus daarvoor verantwoordelik om die huishouding aan die gang te hou.

Sy wou steeds baie graag geestelike werk doen. Sy het daarmee begin deur Sondae ná kerk die boodskap van die oggendpreek aan die plaaswerkers oor te dra.

Een dag, heelwat later, kom ds. Andrew Murray vir spesiale kerkdienste na Robertson en uiteindelik help hy haar om by die Hugenote Seminarium in Wellington in die Boland in te skryf en Bybellesings by mej. Ferguson by te woon. 1

Andrew Murray

In ongeveer dieselfde tyd het ds. A. P. (Abraham) Kriel vanaf Kimberley (Noord-Kaap) na die gemeente in Langlaagte, Johannesburg (Gauteng) gegaan. Hy het ’n sendingwerker in Fordsburg (ʼn ander voorstad van Johannesburg) nodig gehad en Maria het daarvan te hore gekom. Dit was vir haar baie moeilik om ’n besluit te neem oor wat sy moes doen, maar uiteindelik het sy die werk in Johannesburg aanvaar. Tog was dit vir haar moeilik om van haar siek ma afskeid te neem. 1

Abraham Kriel

Aanvoorwerk

In 1889 is die Die Kaaplandse Vrouesendingbond (VSB) op Wellington gestig om vroue uit te stuur om sending- en opheffingswerk te doen. In 1893 kon die VSB sy eerste werksters, onder wie mej. Maria Kloppers, na Johannesburg en na Fordsburg stuur. 3

Om met die mense aan die Rand te werk, was baie moeilik, veral in die baksteengroewe (“Brickfields” of “Brickyards”) – die area waar daar bakstene gemaak is. Hier het baie Afrikaanssprekendes in die allertreurigste omstandighede gewoon. Die werksters moes dikwels eers die woonplekke van hierdie mense skoonmaak voordat hulle met geestelike opheffing kon begin. 3

Mej. Ferguson besoek die werksters in 1895 (toe daar reeds vyf was) in Johannesburg en Fordsburg en kom agter hoe selfopofferend en veeleisend die werk is wat hulle daar doen. Behalwe huisbesoek, bidure, Sondagskool en kinderkrans hou, moes hulle gedurig siekes verpleeg, elke dag die siekes en armes van kos voorsien en boonop ’n werk vir baie soek. 3

Fordsburg was die middelpunt van die werkkring, want hier het die meeste van die arbeiders gewoon en hul huise het gestrek tot by die baksteengroewe, waar die armste en mees verwaarloosde Afrikaners gewoon het. Die lone was klein en die lewensmiddele vir hierdie mense onbetaalbaar duur. Dis ook in hierdie agterbuurtes van Johannesburg waar die Armblankevraagstuk gebore is. 3 [Lees hier oor die Armblankevraagstuk.]

Armblanke gesin voor sinkhuisie

Brickfields was ook bekend as Johannesburg se eerste krotbuurt (in Engels: slum). Dit was een van die mees siekte-geteisterde dele van Fordsburg, waarskynlik as gevolg van oop putte en afvaltoilette wat altyd halfvol met “water” gevul was. 3

Maria het alles in haar vermoë gedoen om die verval te keer, maar die nood was te groot en die werkers te min. Boonop het die gesinne wat in die diepste ellende verkeer het, steeds aangegroei. 3

Ontploffing lei tot Sendinghuis in Fordsburg

Op ’n Woensdagmiddag, 19 Februarie 1896, het treinwaens vol dinamiet op die Braamfonteinstasie ontplof en huise op Vrededorp, Fordsburg en Langlaagte is in puin gelê of erg beskadig. Van die stasie het net ’n gat van vier verdiepings diep oorgebly. Ds. Kriel het tydens die eerste begrafnisdag so veel as 127 mense begrawe. 1

Die nuwe kerk op Fordsburg is ook byna heeltemal in die ontploffing vernietig en Maria self was tydens die ontploffing in die kerkgebou. Sy is gelukkig nie beseer nie. 1

Vier en twintig uur ná die ontploffing is ʼn tweejarige dogtertjie met die naam Francina in ʼn holte onder die puin van hul huis gevind. Sy het daar met ʼn emmertjie gesit en speel en het geen beserings van die ontploffing opgedoen nie.

Ná die ontploffing in Fordsburg, het ds. Kriel ʼn huis gekoop vir die Vrouesendingbond van Kaapland. Daar is verbeterings aangebring en hier het Maria met ʼn personeel van vyf gewoon. Dit was nie lank nie, toe arriveer daar ’n baba wie se moeder in ʼn oop treintrok uit Johannesburg gevlug het, en hom eenvoudig agtergelaat het. Daarna het al hoe meer verlate kinders by die sendinghuis aangekom en vir wie sy telkens goeie ouers kon kry.

Francina was die eerste van 13 weeskinders wat na die Vrouesendingbond se sendinghuis gebring is. Die kinderhawe in Observatory het later uit hierdie sendinghuis ontstaan. 1

Die Langlaagte Kinderhuis

Toe die Anglo-Boereoorlog in 1902 verby is, is die kerk waarmee ds. Kriel in Witwatersrand-Wes begin het, klaar gebou. Daar is toe ook besluit om ’n kinderhuis, oftewel ʼn weeshuis, in Langlaagte te bou vir die kinders wie se ouers in die oorlog dood is of in die konsentrasiekampe gesterf het. [Lees hier oor konsentrasiekampe en verskroeideaardebeleid.]

Weeskindertjies

Hierdie kinderhuis het op 4 September 1902 met sewe kinders begin. Voor die einde van 1902 was daar al 92 kinders en toe die kinderhuis een jaar oud was, was daar reeds 245 kinders. 4

Hierdie kinderhuis is bestuur as ’n spanpoging deur ds. Kriel en Maria. Ook met die uitbreiding van die kinderhuis en die latere aankoop van plase, het Maria ’n belangrike rol gespeel.

Aan die einde van 1902 is daar ook kinderhuise op Boksburg en Middelburg gestig. Hierdie kinderhuise is later by die Langlaagte Kinderhuis ingelyf. 1

Die behoefte aan ʼn veilige hawe vir weeskinders het gegroei. Daar is meer erwe en huise gekoop om die kinderhuis groter te maak. In 1907 is die hoeksteen vir ’n groot gebou vir meisies gelê (dit beteken dat die bouwerk aan die gebou begin het). In 1913 is twee plase vir die kinderhuis gekoop om dit verder te vergroot. Daar is ook begin om vir die kinders onderrig in verskillende vakke te gee. 1

Die kinderhuis het egter nie ’n vaste inkomste gehad nie, maar kon tog altyd voortgaan met die werk om die kinders te versorg.

Ds. Kriel het die kinders van die begin af nie net in die gewone skoolvakke laat onderrig nie, maar ook in ambagte soos steenwerk, kleremaak, skrynwerk (houtwerk) en loodgieterswerk. Kinders is op die kinderhuis se plase Moria, Hartbeestfontein en Vierling ook in boerdery opgelei. 5

Die eerste vier dogters van die Langlaagte Kinderhuis

Maria Kloppers Kinderhawe

Maria het deur haar hele lewe graag met kinders gewerk en sy het veral baie vir babas omgegee. Aan die begin van die 1900’s is daar baie babas in Johannesburg gebore en baie van hierdie babas se ma’s was brandarm en dikwels ook ongetroud. In daardie tyd was die lewe vir ’n ongetroude ma baie moeilik, omdat die gemeenskap haar dikwels nie wou aanvaar nie. Hulle het alle jong meisies wat buite die huwelik swanger geword het, as sondaars beskou en hul kinders as skandekinders beskou. Maria was vasbeslote om vir hierdie kinders ’n veilige hawe (tuiste) te gee. 6

In 1908 het sy ’n tydelike huis vir weggooibabas in Melville (Johannesburg) begin. In 1915 het sy ’n stuk grond aan die buitewyke van Johannesburg gekoop en die kinderhuis met haar naam – Maria Kloppers Kinderhawe – is daar gebou.

Op die hoeksteen van die nuwe kinderhawe het daar gestaan:

Kinderhaven der
Ned. Herv. of Geref. Kerk van Z.A.
Hoeksteen
Gelegd door
Mej. M. Kloppers
op 15 September 1915

Matt. 18:14:                      “Alzoo is de wil niet uws Vaders dat een van deze kleinen verloren ga.”

J.B. Burg. Arg.                                                                                                                F. Corbischley. Cont.

Hierdie gedeelte word vandag Observatory genoem en die kinderhuis is steeds daar. Die naam daarvan is vandag Maria Kloppers Kampus, maar daar word ook in bronne daarna verwys as die Abraham Kriel Maria Kloppers Kinderhuis. 3 Ongelukkig is die oorspronklike, pragtige gebou intussen gesloop.

Maria het van die begin af belowe dat hierdie plek nooit onpersoonlik sal lyk of voel nie. Daardie belofte het sy gehou en die kinderhuis in Observatory het steeds ’n atmosfeer wat huislik is en wat die kinders wat daar woon, koester. 1

Kleuters speel in die nuwe saal

Maria en haar vennoot, die onderwyseres Johanna Malan, het finansieel baie swaar gekry, maar hulle het vasgebyt (voortgegaan). Die Groot Griep van 1918 het veroorsaak dat daar toe nóg meer weeskinders was omdat hul ouers aan die griep dood is.

Maria het haar personeel geleer wat die waarde daarvan is wanneer kinders met liefde versorg word, selfs wanneer hulle nie die nodige medisyne gehad het nie.

Vriendelike hande by die voordeur

Die Kalkoenfonds

In Desember 1952, drie weke voor Kersfees, koop ene mnr. Verseput twee lewende kalkoene met die idee dat hy die tweede een aan die Kinderhawe wil skenk. Die Kinderhawe ontvang die kalkoen met ope arms, en begin hom vet voer. Maar kort voor lank word die kalkoen gesteel.

Net daarna kom besoek mev. M.M. Roux die Kinderhawe en hoor van die verlies. Sy vertel aan haar vriende die storie en die sikspense begin inrol om weer ʼn kalkoen te koop. Later is daar genoeg sikspense vir ʼn hele skaap, en so begin die fonds groei.

ʼn Paar dae voor Kersfees klop mev. Roux en die predikant aan die deur van die kinderhawe: “Mej. Kloppers, vir Kersfees kry u tog ʼn kalkoen en ʼn skaap, en hier is die geldjies vir wat julle nog by wil kry – ₤8! ”

So het die Kalkoenfonds oor die jare gegroei (1925-1948)

Maar net ʼn dag of twee later, kom ʼn kalkoen ewe haastig na die kinderhawe aangestap. En raai wat? Natuurlik was dit die gesteelde kalkoen!

Maar die storie hou nie hier op nie. Die Kalkoenfonds het daarna ʼn jaarlikse instelling geword en buiten geskenkies en lekkergoed, is daar ook geld geskenk. Die opbrengs van die fonds was een van die belangrikste bronne van inkomste vir die kinderhawe.

Ander gemeentes het betrokke geraak en met behulp van die Kalkoenfonds kon geld opsy gesit word vir die aanbou van ʼn saal. 1

Vandag word dié jaarlikse geldinsamelingsprojek – wat in 1952 as die Kalkoenfonds sy ontstaan gehad het – die Kalkoenfees genoem en word gewoonlik in Maart gehou.

Inwyding van die Maria Kloppers Kinderhawe

Maria se Christelike geloof

In die boek Brandhout uit die vuur wat deur Lassie Hofmeyr geskryf is en die storie van die Maria Kloppers Kinderhawe vertel, word baie ware verhale vertel:

Op ʼn dag het ’n vrou vir Maria gebel en gevra of die kinderhawe haar tienerdogter se baba kan aanneem. Maria het ingestem om te help, maar wou eers self met die dogter gesels. Sy het die geleentheid gebruik om oor geestelike sake met die jong meisie te gesels. Daarna was Maria deurentyd in die lewe van die meisie en haar baba betrokke en sy het haar raad gegee oor belangrike besluite in haar lewe, soos oor die man met wie sy wou trou. Ook vir die klein dogtertjie het Maria van Jesus geleer en toe sy terug in haar ma se sorg geplaas is nadat die ma getroud is, was die twee jong ouers baie bewus van Maria se invloed, ook in hul dogtertjie se lewe. 7

Ander verhale ruk jou aan die hart. Tog was dit Maria se onwrikbare geloof wat kinders soos Frieda ʼn kans op oorlewing én liefde gegee het.

Klein Frieda, wat nog nie eens twee uur oud was nie, se oupa het haar een oggend voor ontbyt in ʼn mandjie na die kinderhuis gebring en gesmeek dat Maria haar moet neem en versorg. Volgens die oupa was sy ʼn skandekind wat weggesteek moes word sodat niemand kon uitvind dat ’n jong, ongetroude lid van die familie ʼn baba gekry het nie. Daardie spesifieke oggend was die kinderhawe reeds vol, maar Maria se liefde en geloof het gesorg dat die babadogtertjie met liefde ontvang is. Frieda was met haar aankoms in slegs ʼn vuil voorskoot en stuk bruinpapier toegedraai. 1

Klein Frieda

Interessante staaltjie

Maria se broer, Rial Kloppers, was die stigter van die Clairvaux-wynplaas in die Robertsonvallei. Maar voor daar ’n wynplaas was, was dit eers ’n melkery. Toe Maria een keer die plaas besoek het, het sy haar broer gevra of hy sy stamboekkoei, Blommie, aan die kinderhuis kan skenk. Hy het eers teengestribbel, maar uiteindelik toegegee en die koei geskenk. Maria én Blommie is toe op dieselfde trein terug Johannesburg toe! 1

Maria sterf

Maria Kloppers het in 56 jaar meer as 2 000 weggooibabas grootgemaak! 1 Sy het by die kinderhuis betrokke gebly tot haar dood in 1951. 3

Woordbank

aanneem Tot jou eie maak.
allertreurigste Die slegste wat dit kan wees; allerslegste.
ambagte ’n Soort werk wat mens leer om te doen en wat beteken dat stowwe (leer, hout, ens.) verwerk word.
Armblankevraagstuk Aan die begin van die 20ste eeu was daar verskriklik baie arm wit mense wat nie in staat was om sonder hulp vir hul gesinne te kan sorg nie. Hulle het as die “armblankes” bekendgestaan. Die toestand van hierdie mense het vir die regering ’n groot probleem (vraagstuk) geword.
barmhartigheid Jy is barmhartig (simpatiek/liefdevol) wanneer jy vir ander mense wat in nood verkeer, omgee.
brandarm Verskriklik arm.
briljante Baie slim.
buitewyke Aan die rand van/net buite ʼn dorp/stad.
dwelms ʼn Verdowingsmiddel (soos tik en heroïen) wat jou vreemde goed laat sien en beleef. Die kanse op verslawing is uiters hoog.      
deurentyd Die hele tyd.
ellende Groot nood of gebrek aan nodige lewensmiddele.
formidabele Indrukwekkend, buitengewoon.
gevoelloosheid Sonder liefde of empatie; iemand wat nie omgee vir ander nie.
hawe ʼn Skuiling, toevlugsoord; ʼn plek waar jy veilig voel.
heenkome Woonplek, beskutting.
Heilsleër ’n Christelike beweging wat gestig is om op geestelike en maatskaplike gebied opheffing onder mense te doen.
hoeksteen Wanneer daar met bouwerk begin word; wanneer die eerste steen tydens ʼn seremonie gelê word.
ingelyf Deel word van iets.
in puin gelê Heeltemal vernietig.
Kinderkrans Groep kinders bymekaar vir Bybelonderrig en geestelike opvoeding.
koester Met liefde versorg/naby jou hou omdat iets of iemand vir jou kosbaar is.
konsentrasiekampe Gedurende die Anglo-Boereoorlog het die Britte vroue en kinders gevange geneem en in kampe (waar die lewensomstandighede haglik was) gesit. Baie kinders was wees ná die oorlog omdat hul ouers óf in die oorlog óf in die konsentrasie kampe gesterf het.
leemte ʼn Gebrek, tekortkoming; gemis.
lewensmiddele Dit wat mens nodig het om te oorleef, soos water, kos, blyplek en klere, ens.
lone Salaris
onpersoonlik Sonder liefde en warmte.
onvoorwaardelike Volkome, onbeperk; sonder om vrae te stel.
opheffingswerk Bystand, ondersteuning; barmhartigheidsdiens (soos siekebesoek, versorging, ens.)
Rand Die Witwatersrand.
selfopofferend Onbaatsugtig; sonder om aan jouself te dink en jou lewe, tyd en selfs besittings vir ander (of ʼn goeie saak) te gee.
Seminarium Instansie waar predikante studeer, die sinoniem wat ook gebruik word, is “seminarie”.
sikspense Ou geldstuk wat ses pennies werd was. Om jou ʼn idee te gee wat ʼn sikspens in die 1950’s werd was: jy kon 20 toffies daarmee koop!
skande Iets wat skaamte of vernedering veroorsaak.
stamboekkoei Wanneer mens by diere van ’n “stamboek” praat, is dit diere wat spesiaal deur ’n boer geteel is en waarvan daar ’n geslagsregister gehou word om seker te maak dat diere met goeie eienskappe geteel word.
teengestribbel Wanneer jy/iemand iets nie wil doen nie; om beswaar te maak of “nee” te sê.
terselfdertyd Gelyktydig.
tingerig Iemand wat klein of fyn gebou is.
uitgelewer Weerloos; van ander afhanklik.
veeleisend Dit verg baie van jou tyd en energie.
vennoot Iemand wat lid is van ’n vennootskap of maatskappy, dit wil sê mense wat saamwerk binne ’n maatskappy en wat die maatskappy se belange bevorder.
verdoof Iets (gewoonlik pyn) minder maak.
verval Verarm, verwaarloos; agteruitgaan.
wees ʼn Kind wat nie ouers het nie, is wees;  ʼn weeskind.
weggooibabas ʼn Babas wie se ouers nie vir hom/haar kon of wou sorg nie.

Video’s

Kyk hoe lekker dans ons saam!

Rachel en ma Esther se storie

Maria se suksesverhaal

 

 

 

Gepubliseer op: 1 Augustus 2023 | Bygewerk op 30 November 2023