Louw Wepener
Dapper soldate het gewoonlik respek onder hul eie mense, maar sommige soldate is so dapper dat selfs hul vyande ook respek vir hulle het. Louw Wepener was só ʼn man – die Basotho teen wie hy in verskillende oorloë geveg het, het groot respek vir hom gehad.
Die jong Louw Wepener
Louw Wepener se volle name was Lourens Jacobus Wepener. Hy was sy ouers se vierde kind, en hy is op 21 Julie 1812 in Graaff-Reinet gebore. Sy ouers was Frederik Jacobus en Johanna Maria Wepener. 1 Sy ouers is albei oorlede terwyl hy nog ʼn jong seun was, en hy het by sy oom, Lourens Erasmus, grootgeword.
Hy was ʼn slim skolier. Sy onderwyser William Robertson en ook ds. Andrew Murray (ʼn bekende predikant in hierdie tyd) wou graag hê dat hy ʼn predikant moes word, maar sy oom wou nie hê dat hy na Skotland gaan vir sy studies nie.
Hy het toe ʼn timmerman geword en later in die Somersetdistrik begin boer. Hy het in 1850 na die Aliwaldistrik getrek en op die plaas De Nek geboer. Hierdie plaas was tussen Aliwal-Noord en Dordrecht in die Oos-Kaap. 2
In 1840 trou hy met Hester Susanna Nel. Ongelukkig is sy net drie maande nadat hulle seun Frederik Daniel Jacobus in November 1840 gebore is, oorlede. In 1843 trou hy met Hilletjie Maria Levina Durand. Sy was ʼn weduwee wat vier kinders gehad het. Wepener en Hilletje het drie seuns en drie dogters saam gehad. 1
Louw Wepener kry die bynaam die “Swartmaanhaar”
Die Basotho het vir Wepener die bynaam “Swartmaanhaar” gegee. Die wrywing oor grond tussen die Republiek van die Oranje-Vrystaat en Basotholand het uiteindelik oorlog veroorsaak. Wepener was toe ʼn waarnemende kommandant en het self op kommando gegaan. Hy het gou die bevelvoerder van al die Boere se suidelike magte geword en het talle gevegte gewen. In hierdie tyd het die Basotho hom “Swartmaanhaar” begin noem as gevolg van sy groot, swart baard en omdat hy soos ʼn leeumannetjie vroeg die oggend op sy prooi spring nog voordat die grysbok se lam aan haar drink. Hulle het hom as ʼn baie dapper man beskou. 3
Wepener neem deel aan oorloë
Wepener het nie soos sy broers saam met die Groot Trek uit die Kaapkolonie vertrek nie.
Hy het tussen 1834 en 1853 aan drie grensoorloë teen die Xhosas deelgeneem – die Sesde, Sewende en Agtste Grensoorlog. Hy was eers ʼn veldkornet en het later kommandant geword. Hy was bekend as ʼn dapper soldaat en goeie leier. Hy was ook in die gewone lewe ʼn goeie leier en is deur die burgers tot vrederegter verkies. Omdat hy nie tevrede was met die optrede van die Britse regering nie, wou hy nie langer in die Kaapkolonie bly nie.
Toe die Eerste Basotho-oorlog in 1858 in die Vrystaat begin, het Wepener dadelik daarheen gegaan om in die oorlog te veg. Ná die oorlog het hy in die Republiek van die Oranje-Vrystaat gebly. Hier het hy in 1862 vir hom twee plase in die Bethulie-distrik gekoop met die name Constantia en Moordenaarspoort.
In die Tweede Basotho-oorlog in 1865 het Wepener kommandant geword. Hy het ʼn slim plan gehad wat tydens hierdie oorlog baie goed gewerk het. Sy soldate het met ʼn kanon na die Basotho se statte (tradisionele Afrikadorp met hutte) geskiet en dan het die soldate te voet nadergestorm terwyl die kanon die Basotho se aandag aftrek. 2
Sy heel laaste geveg
Al het die Boere ʼn hele klomp gevegte teen die Basotho gewen, was hulle nog glad nie verslaan nie.
Koning Mosjesj het sy hoofstat bo-op die berg Thaba Bosigo gemaak. Dit was ʼn baie goeie vesting. Bo-op die berg was ʼn groot stuk grond waar daar ook ʼn fontein was. Dit was dus moontlik dat baie mense en ook beeste daar bo kon bly. Reg rondom was baie steil en hoë kranse sodat dit baie moeilik was om op die berg te kom.
Die Vrystaatse magte het hulle laer (‘n klompie waens wat teen mekaar getrek is) aan die voet van hierdie berg gemaak.
Dinge het skeef geloop met die planne om die Basotho op die berg aan te val. Die offisiere wat onder leiding van die hoofkommandant, generaal Fick, was, kon nie besluit wat om te doen nie. Toe hulle uiteindelik vir kommandant Wepener die opdrag gee om die berg aan te val, het te veel tyd verbygegaan. Die Boere was ook nie almal gewillig om aan die aanval deel te neem nie. 3
Uiteindelik het Wepener en ʼn klein groepie vrywilligers teen die berg opgeklim terwyl die Basotho van bo af op hulle geskiet het. Die Basotho het ook groot klippe van die berg af op die Boere afgerol. Wepener en die klein groep burgers saam met hom het naderhand net met hulle pistole teen ʼn paar duisend Basotho geveg.
Wepener is teen die berg doodgeskiet toe hy en ʼn paar Boere naby die kruin was. Dit was 15 Augustus 1865. 2 Wepener is op die kruin van die berg begrawe. Later het sy seun hom op sy plaas Constantia herbegrawe.
Sy seun was later Volksraadslid vir Wepener in die Vrystaatse volksraad. Hy was ook ʼn landdros op Zeerust en op Heidelberg in die destydse Transvaal. 2
Louw Wepener se nalatenskap
Louw Wepener word onder meer deur die volgende gedenkbare onthou:
- Die dorp Wepener is in 1867 gestig en na hom genoem.
- In die dorp Wepener is daar ʼn skool met die naam Louw Wepener Gekombineerde Skool.
- ʼn Bronsbeeld van Wepener is in 1965 op Wepener opgerig.
- Daar is strate met die naam Louw Wepener in onder meer Bloemfontein, Alberton, Sedgefield, Vanderbijlpark en die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit.
- In Bethulie is ʼn monument ter ere van Wepener – hierdie borsbeeld is deur die bekende beeldhouer Coert Steynberg.
- F.W. Reitz het ʼn gedig geskryf met die titel “Ter nagedagtenis aan kommandant Louw Wepener”.
- In 1941 is daar ʼn monument op sy graf naby Bethulie opgerig.
- Op sy plaas De Nek is daar ʼn monument vir hom.
- ʼn Bronsbeeld van Wepener is in 1965 op Wepener opgerig.
Louw Wepener is ook in die Weermag vereer:
- Van 1952 tot 1975 is die Louw Wepener-toekenning vir buitengewone heldemoed aan soldate gegee.
- Van 1967 tot 1975 is die Louw Wepener-medalje vir dapperheid by die redding van lewens toegeken.
- Daar was vir ʼn aantal jaar ʼn weermageenheid wat die Louw Wepener-regiment genoem is. 2
Woordbank
kommando | Klein groep soldate wat opgelei is om vinnig teen die vyand se soldate op te tree. |
kruin | Die boonste rand van ʼn berg. |
laer | ‘n Aantal waens wat teen mekaar getrek is in die veld om mense en diere teen ‘n vyand te beskerm. |
statte | Tradisionele Afrikadorp wat bestaan uit hutte, dikwels volgens ’n bepaalde patroon gerangskik. |
timmerman | Iemand wat met hout werk en onder meer meubels maak. |
vesting | ʼn Woonplek wat versterk is om dit veilig te maak en waar die ondersteuners of onderdane van ʼn leier woon. |
vrederegter | ʼn Persoon met beperkte regterlike mag. Wanneer daar nie ʼn landdros is nie, kan ʼn vrederegter onder meer lasbriewe uitreik om iemand gevange te laat neem. |
wrywing | Onenigheid; meningsverskille oor ʼn saak kan byvoorbeeld wrywing tussen verskillende groepe veroorsaak. 5 |