Vinnige feite

Hoofgebou van die Universiteit van Stellenbosch
  • Vader Kestell was ’n groot kenner van Grieks, hy het Hebreeus geken en kon ook Frans lees. 1
  • Kestell het geld ingesamel om Ons Kinderhuis vir weeskinders in Bloemfontein te stig. 1
  • Vanaf 1920 tot 1927 was hy rektor aan die Grey-Universiteitskollege wat vandag die Universiteit van die Vrystaat is. 1
  • Vanaf 1939 tot met sy dood in 1941 was hy kanselier van die Universiteit Stellenbosch. 2
  • Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns bevorder Afrikaans in die wetenskappe en kunste. 11
  • Hy was vir ’n jaar lank redakteur van Die Kerkbode, die mondstuk van die Nederduits Gereformeerde Kerk. 7
  • Hy het ’n baie belangrike rol gespeel in die vertaling van die Bybel in Afrikaans. 12
Foto: iStock

Deur die geskiedenis het daar in Suid-Afrika baie mense geleef wat hul land en mense op verskillende terreine gedien het. Onder hierdie mense kan ons beslis vir J.D. Kestell of Vader Kestell insluit. Hy was ’n predikant, skrywer, akademikus, Bybelvertaler en iemand wat ook liefdadigheidswerk gedoen het. Boonop was hy ’n baie dapper man.

Kestell se gesin en sy jong jare

John Daniël Kestell se pa was Charles Kestell wat oorspronklik saam met sy ouers en die 1820-setlaars uit Engeland na Suid-Afrika gekom het. Hulle het eers in die Kaapkolonie gewoon en in 1845 het die gesin na Natal verhuis. Hier is Charles met ’n Afrikaanse meisie, Dorothea Louise Weyer, getroud en sy was die ma van hul seun John Daniël wat op 15 Februarie 1854 in Pietermaritzburg gebore is.

Charles was diep gelowig en het in Pietermaritzburg aan die NG gemeente behoort waar hy eers diaken en later ouderling was.

Kimberley markplein 1888

John Daniël is in 1871 met ’n ossewa saam met sy pa na die diamantvelde wat pas by Kimberley ontdek is. Daar het hulle vir twee jaar lank gedelf (in die grond vir diamante gesoek). 1

J.D. Kestell en sy gesin

Sy loopbaan as predikant

Op 20 Februarie 1873 het Kestell met sy hoërskoolloopbaan by die Stellenbosch Gimnasium begin. Ná skool het hy aan die teologiese kweekskool in Stellenbosch gestudeer en in September 1880 het hy vir ’n jaar lank teologie in Utrecht in Nederland bestudeer.

Hy is geïnspireer om predikant te word deur predikante en geestelike leiers soos, onder andere, Sarel Cilliers, Erasmus Smit en J.N. Boshoff. 2

Erasmus Smit

Met sy terugkeer na Suid-Afrika is hy in 1881 as predikant gelegitimeer (amptelik as predikant aanvaar). Sy eerste pos as predikant was op Du Toitspan naby Kimberley waar hy ’n hulppredikant was en in 1882 het hy ’n beroep na Kimberley aangeneem. Hy is in dieselfde tyd ook getroud met Geertruida Anna Hofmeyr en hulle het twee seuns en twee dogters gehad.

In 1891 het Kestell die Newton-tehuis vir hawelose kinders (kinders wat nie huise gehad het nie) in Kimberley opgerig (laat ontstaan en laat bou). Daar was in hierdie jare baie arm en verwaarloosde mense in Kimberley omdat soveel duisende mense daarheen gekom het om na diamante te soek en nie almal was gelukkig genoeg om wel diamante te kry nie. Daarom het baie van hierdie mense arm geword en het boonop ook nie werk gehad nie.

In Januarie 1894 het Kestell as predikant na Harrismith in die Vrystaat verhuis. Hy was ook predikant in Ficksburg en in Bloemfontein. 1

Hy was algemeen bekend as Vader Kestell.

Hy is drie keer agtereenvolgens tot moderator (voorsitter en leier) van die NG Kerk van die Oranje-Vrystaat verkies – in 1909, 1912 en 1916. 1

NG Kerk, Ficksburg

Vader Kestell en die Anglo-Boereoorlog

Toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 begin het, het Kestell saam met die Harrismith-kommando uitgetrek as veldprediker (predikant wat gedurende ’n oorlog saam met soldate rondbeweeg). Hy het tydens die oorlog ’n raadgewer vir president M.T. Steyn en generaal Christiaan de Wet geword.

Adviseurs van die 1933-vertaling van die Afrikaanse Bybel. Boonste ry: di. J.P.H. Steyn, C.F. Kees, G.D. Malan, W.J.W. Naudé, A.S.E. Yssel, W. de Vos. Middel: Di. C.W.M. du Toit (Totius se broer), H.J. Otto, proff. J.A. du Plessis, C.J.H. de Wet, dr. H.D. van Broekhuizen, di. Dirk Postma, P.J.J. Boshoff en H.J. Pienaar. Voor: prof. B.B. Keet, Totius, ds. J.D. Kestell, proff. E.E. van Rooyen en H.C.M. Fourie. Hulle het amptelik bekendgestaan as die Kommissie vir Afrikaanse Bybelvertalers..

Daar word baie verhale vertel oor hoe onverskrokke hy was tydens die oorlog. Mense vertel ook oor sy moed, sy uithouvermoë en oor hoe blymoedig hy was, al het dit hoe moeilik gegaan. Hy het ook hulp aan siek en gewonde mense gegee.

Vader Kestell, president Steyn en generaal de Wet het as die Vrystaatse Driemanskap bekendgestaan. Hulle was tot aan die einde van die oorlog saam in die veld en president Steyn het op ’n keer gesê dat Vader Kestell vir hom meer werd was as ’n hele kommando.

President M.T. Steyn
Generaal Christiaan de Wet

Toe die vrede gesluit is aan die einde van die oorlog, was Vader Kestell een van die mense wat tydens die vergaderings notule gehou het. 1

Taalstryder

Kestell was baie betrokke by die stryd om Afrikaans te bevorder. Daarvoor het hy op talle maniere erkenning gekry deur eredoktorsgrade wat hy van die Universiteit van Suid-Afrika, die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van Pretoria gekry het. In 1938 het die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) ’n groot kultuurfees ter ere van hom in Bloemfontein gereël. 3

Hy was een van die stigters van die Zuid-Afrikaansche Akademie voor Taal, Letterkunde en Kunst. Hierdie organisasie bestaan steeds en word vandag die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns genoem. 1

Reddingsdaadbond (RDB)

Kestell het reeds in 1938 begin pleit (dringend vra) vir ’n organisasie soos die Reddingsdaadbond. 4

In Oktober 1939 is ’n Volkskongres in Bloemfontein gehou. Die Broederbond het die FAK gevra om die kongres te reël en mense het van oral in die land gekom om dit by te woon. Ds. William Nicol was die voorsitter en Kestell was die beskermheer. Op hierdie kongres het hy onder meer gesê dat die klein boerevolk in Suid-Afrika diegene met wie dit sleg gaan, moet help om hulself te help. En bygevoeg dat die hele volk homself ook sal moet help. 5

Volgens Kestell was daar 300 000 Afrikaners is wat in groot armoede geleef het en dat die hele volk sal ondergaan as die armes nie gehelp word nie. 6

Op 8 Desember 1939 is die RDB gestig met dr. N. Diederichs as die eerste hoofleier. 4

Ds. William Nicol Administrateur van Transvaal van 1948 tot 1958 en predikant van die Duitse Hervormde Kerk

Die RDB is spesifiek gestig om Afrikaners wat baie arm was, te help om selfversorgend te wees. Die belangrikste en eerste stap was dus om die mense te help om werk te kry. 4

Die Reddingsdaadbond was soos ’n monument wat Kestell nagelaat het, hy was ’n groot dryfkrag agter die stigting van hierdie belangrike organisasie. 7

Kestell, die skrywer

In 1881 het hy ’n toneelstuk met die titel Die stryd om Vryheid geskryf en het die skuilnaam Leinad gebruik as sy skrywersnaam. Dit was natuurlik sy eie naam, Daniël, wat agterstevoor geskryf is! 8

Hy het ook boeke oor die geskiedenis en die plattelandse lewe geskryf, soos Die Voortrekkers: ’n geskiedverhaal (1917) en Modderrivier (1928).

Enkele ander boeke wat hy geskryf het, was Through Shot and Flame (1903) asook ’n boek oor die Vredesonderhandelinge tussen Brittanje en die twee Boererepublieke wat hy saam met D.E. van Velden geskryf het. 9

Die eerste Afrikaanse Bybels (1933-vertaling) kom uit Londen in Kaapstad aan. Dié vertaling van die Bybel is deur J.D. du Toit, E.E. van Rooyen, J.D. Kestell, H.C.M. Fourie en B.B. Keet in opdrag van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap gedoen.

Die laaste groot eer

Vader Kestell is op 9 Februarie 1941 in Bloemfontein oorlede.

Om te wys hoeveel respek die land gehad het vir hierdie man wat soveel vir sy mense gedoen het, is hy aan die voet van die Vrouemonument in Bloemfontein begrawe. Voor hom is die ander twee lede van die Vrystaatse Driemanskap – president Steyn en generaal de Wet – ook daar begrawe. 1

Nasionale Vrouemonument, Bloemfontein

In die Oorlogsmuseum wat naby die Vrouemonument in Bloemfontein is, is daar ’n borsbeeld van Kestell wat op versoek van die NG Kerk deur Laurika Postma gemaak is. 10

Die dorp Kestell in die Vrystaat is na hom vernoem.

J.D. Kestell se begrafnis

Woordbank

akademikus Word meesal gebruik vir ’n persoon wat klas gee aan ’n universiteit.
beroep aanneem Wanneer ’n gemeente ’n predikant vra om hul predikant te word en hy instem om daarheen te gaan, sê mens dat hy ‘die beroep aangeneem het’.
beskermheer ’n Eretitel vir ’n man onder wie se sorg ’n organisasie funksioneer.
blymoedig Iemand wat altyd vrolik en bly is.
Broederbond Die organisasie word ook Afrikaner-Broederbond genome. Dit is in 1918 gestig vir slegs manlike lede en die doel was om om kulturele en ekonomiese belange van Afrikaners te bevorder.
diaken Amptenaar van ’n kerk wat onder andere dankoffers insamel en vir armes sorg.
dryfkrag Iets wat ’n persoon aanmoedig /die krag gee om iets te doen.
eredoktorsgrade ’n Graad wat toegeken word vir uitsonderlike prestasies sonder dat die persoon eksamen hoef af te lê.
kommando ’n Gewapende groep soldate, gewoonlik ’n klein groep wat opgelei is om vinnig teen die vyand op te tree en dan weer terug te trek.
kongres Byeenkoms van afgevaardigdes van state of organisasies wat wetenskaplike of ander onderwerpe bespreek.
kweekskool Plek waar predikante opgelei word.
moderator Voorsitter van ’n sinode (liggaam wat oor kerksake besluite neem).
notule ’n Skriftelike verslag wat vir mens vertel wat tydens ’n vergadering gebeur het en besluit is.
onverskrokke onverskrokke
ouderling Lid van ’n kerkraad wat saam met die predikant toesig hou oor die gemeente.
skuilnaam Die naam wat ’n skrywer gebruik in plaas van sy of haar eie naam.
teologie Die bestudering van godsdiens en geloofsoortuigings. 13

Lees hier meer

Video’s

Die lewe van Vader Kestell

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 7 November 2022 | Bygewerk op 28 Mei 2024