Vinnige feite
- Die VOC het in daardie tyd al aandele uitgereik en het dikwels soveel as 40% dividende VOC-aandeelhouers kon hul aandele verkoop het, en dit was dus die eerste aandeleverhandelings.
- Die VOC het ook die wêreld se eerste aandelemark in Amsterdam ontwikkel met beheerde beleggingskemas en duursame bates.
- Die handelsroetes is nie net vir speserye gebruik nie. Skepe het ook edelmetale, soos goud en silwer, vervoer. Daar is daarom ’n aantal handelsposte in Oos-Indië gebou. 7
- Die VOC was die eerste openbare aandeleverhandelingsmaatskappy ter wêreld.
- Dit was ook die eerste maatskappy met beperkte aanspreeklikheid in die wêreld. Dit is ’n sakestruktuur wat die eienaars van die onderneming beskerm teen sy skuld of laste.
- Dit was ook die wêreld se eerste multinasionale maatskappy wat handel in verskeie lande gedryf het.
- Baie matrose het op die VOC-skepe aan siektes soos disenterie, longontsteking, skeurbuik en tifus Daar was byvoorbeeld in 1762 tien VOC-skepe wat met 2 653 mense vertrek het. Nagenoeg 45% (1 095 mense) het op pad na die Kaap van Goeie Hoop gesterf.
- Daar was eens op ’n tyd ’n sosiale klub in Kaapstad, wat Klub Here Sewentien genoem is.
Jul speseryrak in die kombuis is tien teen een vol speserye, maar eens op ’n tyd was baie van dié speserye skaars en baie waardevol. Lande het met mekaar meegeding en geveg om beheer oor die handelsroetes wat speserye na Europa geneem het, te verkry. Die handelaars, wat die speseryroetes beheer het, het baie geld gemaak.
Een van die handelaars wat sulke roetes beheer het, was die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC). Die Here XVII was die bestuursraad van dié handelsorganisasie wat Nederland se handelsbelange in sy kolonies in die Ooste beskerm en bevorder het. Dié organisasie se geskiedenis is ook deel van Suid-Afrika se geskiedenis, want dit is die Here XVII wat gesorg het dat Jan van Riebeeck na die Kaap gestuur is.
Stigting van die VOC
Die Portugese het tydens die 16de eeu die speseryehandelsroetes beheer. Hulle het egter teen die einde van die 16de eeu gesukkel om aan die vraag na speserye te voldoen. Die Portugese was ook bondgenote van Spanje en Holland, en Spanje was in ’n oorlog gewikkel. Dit is juis daarom dat die Hollandse Republiek (vandag Nederland) besluit het om met speserye handel te begin dryf. Die Hollanders het dus in 1598 begin om handelskepe uit te stuur om te sien watter roetes hulle kon volg. Die Hollander Jacob van Neck se vloot was die eerste van die skepe om in 1599 by Indonesië uit te kom.
Teen 1600 het talle klein Nederlandse handelskompanjies met Oos-Indiese gebiede handelsake gedryf, maar hul onderlinge kompetisie en verdeeldheid het hulle ondoeltreffend gemaak teenoor die gevestigde Portugese en Engelse magte in die gebied. Elkeen het die ander as kapers en mededingers beskou en probeer om mekaar uit te oorlê deur onder meer pryse op te stoot.
Die owerhede het die wenslikheid van groter samewerking ingesien. Ná verskeie onsuksesvolle pogings het Johan van Oldenbarnevelt, die landsadvokaat van Holland, uiteindelik daarin geslaag om die verskillende belange bymekaar te bring. Dit het op 20 Maart 1602 gelei tot die stigting van die Verenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) om die Hollandse Republiek se handelsbelange in die Indiese Oseaan te beskerm. 1
Die oktrooi (in Engels: charter) het ’n handelsmonopolie aan die VOC verleen vir handel oos van die Kaap tot by die Straat van Magellaan (’n seestraat op die suidpunt van die Suid-Amerikaanse vasteland wat die Atlantiese Oseaan in die ooste met die Stille Oseaan in die weste verbind). Dit is toegelaat om kolonies te vestig, verdrae aan te gaan en troepe te werf, met amptenare wat ’n eed van trou moes aflê. 2
Die eerste permanente Hollandse handelspos is in 1603 in Banten, Wes-Java, in Indonesië gestig. Hulle het later klomp ander nedersettings gestig.
Die VOC het die monopolie oor handel in die waters tussen die Kaap van Goeie Hoop en die Staat van Magellaan tussen die Atlantiese en die Stille Oseane gevoer. Die VOC het sekere magte gehad, wat gewoonlik net deur regerings besit word. Hulle kon byvoorbeeld gewapende magte aanstel, kolonies begin, forte bou, met plaaslike leiers onderhandel en selfs mense aankla en vonnis. Hulle het ook verskeie administratiewe funksies gehad.
Die onderneming het groot suksesse onder die leiding van goewerneurs-generaal Jan Pieterszoon Coen (1618-1623) en Anthony van Diemen (1636-1645) behaal. Hulle het onder meer die Britse vloot verslaan en die Portugese uit Oos-Indië verdryf.
Die onderneming het in 1619 Jakatra (in Engels: Jayakarta) na Batavia herdoop, ’n naam wat die stad in die Hollandse tydperk tot 1942 gedra het. Hulle het dit as basis gebruik om ander eilande oor te neem. Dit word vandag Djakarta genoem en is die hoofstad van en die grootste stad in die eilandgroep Indonesië. Djakarta is op die Java-eiland geleë.
Die VOC was teen 1669 die rykste onderneming ter wêreld. 3
Teen die laat 17de eeu het dinge egter nie meer so rooskleurig gelyk nie, en hul mag het gekrimp. Daar was voorvalle van korrupsie, en hulle het baie skuld gehad. Teen die jaar 1799 het die Hollandse regering ingegryp deur die onderneming tot niet te maak en beheer oor hul skuld en bates te neem. 1
Die bestuursraad
Die Here XVII is ook bekend as die Heeren XVII, Raad van 17, of Kamer van 17. In Engels word daar ook na hulle verwys as Lords Seventeen, Chamber of Seventeen, Council of Seventeen of Assembly of Seventeen. Vandag sou ons die raad ’n direksie noem.
Die VOC se funksies en verantwoordelikhede is deur ses kamers gedeel. Dit was “kamers” genoem, maar dit was eintlik ses ondernemings binne-in die groter onderneming. Hierdie ondernemings was in Hollandse stede gevestig. Elkeen het ook ’n groot skeepsbouwerf gehad, waar hulle skepe gebou en reggemaak het. Die grootste “kamer” was die een in Amsterdam. Amsterdam se skeepsbouwerf het vir die grootste gedeelte van die 18de eeu jaarliks drie skepe gebou.
Die Here XVII was die bestuursraad van die VOC wat uit 17 raadslede bestaan het. Hul hoofkantoor was in Amsterdam. Hulle het gewoonlik twee keer per jaar vergader, maar dit het later na drie keer per jaar verander. Hulle het ook meestal in Amsterdam vergader en nou en dan Middelburg. 4
Die Here XVII is saamgestel uit die kamers se bestuurslede. Agt van hulle is uit die Amsterdamse kamer gekies, vier uit Middelburg, en een elk uit elke ander kamer. Aan die begin was die bestuurslede se salaris gekoppel aan die onderneming se winste, maar teen 1647 is daar besluit om ’n vaste salaris aan hulle te betaal. Dit was immers moontlik om groot wins te maak, maar daar was ook die gevaar van oorlog met ander nasies, seerowers, siektes, skepe wat in storms vergaan het of op die rotse geloop het en ook ’n verminderde vraag na produkte en wanadministrasie. Die VOC se goewerneurs-generaal en ander rade moes almal aan die Here XVII gerapporteer het. Die Here XVII moes besluit oor die VOC se beleid en die verdeling van take. Hulle moes kyk na watter take watter kamers moes uitvoer en watter skepe waarnatoe moes gaan. Hulle het ook besluit waar nedersettings gevorm moes word en wie daar moes bly. Hulle het dus groot mag gehad. 5
Hoekom het Jan van Riebeeck na Suid-Afrika gekom?
Die handelsroetes wat die handelaars gebruik het om van Europa by die Ooste uit te kom, het om die suidpunt van Afrika (waar Kaapstad nou is) geloop. Daar was nie toe vliegtuie nie, en skepe moes nog met seile gereis het. Dit het ’n baie lang en gevaarlike reis beteken, en daarom het die VOC besluit om ’n verversingspos (’n plek waar skepe kos en water kon inneem) aan die Kaap te vestig. Jan van Riebeeck is as die eerste bevelvoerder aangestel, en hy het in 1652 in die Kaap aangekom. Die Here XVII se opdrag aan Jan van Riebeeck was om ’n fort en hospitaal te bou, vrugte- en groentetuine aan te lê, koringlande voor te berei om graan aan die skepe te voorsien, en beeste deur ruilhandel met die Khoi in die omgewing van die nedersetting te verkry. Hy het ’n gevolglik ’n nedersetting hier gevestig. Die Here XVII het beslis baie mag gehad, want dit is ook hulle wat teen 1700 besluit het om geen verdere immigrasie na die Kaap te steun nie.
Daar word gesê dat daar baie meer Afrikaanse mense hier sou wees as hulle toegelaat het dat meer Hollanders hulle hier kom vestig het. 6
Woordbank
bates | Besittings wat iemand of ’n maatskappy voordelig kan aanwend; nut, voordeel, wins. |
bondgenote | Mense wat hulself verbind om mekaar te help. |
direksie | Mense op ’n raad wat ’n onderneming beheer. |
disenterie | ’n Ontsteking van die ingewande. |
dividende | Wins van aandele. |
forte | Versterkte militêre bouwerke/vestings; skanse. |
handelsroetes | Roete/weg waarlangs die handelsverkeer van ’n land of tussen verskillende lande plaasvind, oor land, op riviere, oor die see of deur die lug. |
kolonies | Gebiede wat aan ’n ander staat/moondheid onderhorig en daarvan afhanklik is. |
monopolie | Die uitsluitlike besit of beheer van iets. |
nedersettings | Woonplekke, kolonies; vestigings. |
skeurbuik | Siekte gekenmerk deur aandoening van die tandvleis en derms, veral onder matrose, as gevolg van ’n gebrek aan vars voedsel; gebrek aan vitamien C. |
tifus | Benaming vir verskillende besmetlike siektes wat met hoë koors, bewussynsverlies en delirium gepaardgaan; luiskoors; rotkoors. |
verversingspos | ʼn Verversingspos of verversingstasie moes water en vars groente en vrugte aan die verbyvarende skepe voorsien. |
vloot | Versameling van ’n aantal skepe wat saam vaar, bymekaarhoort. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die Here XVII
Kyk na hierdie video’s om bog meer te leer oor die Here XVII
Vind meer uit oor die VOC
Hoe invloedryk was die VOC?
Die maatskappy wat meer as R8 biljoen sterk was