Vinnige feite

  • Die geskiedenis van Guy Fawkes is vir die meeste Suid-Afrikaners onbekend, maar sommige mense skiet steeds vuurwerk op dié dag. Aktiviste probeer om hierdie gewoonte te keer of af te skaf, want diere word daardeur verskrik of beseer. Vuurwerk hou ook ʼn groot brandgevaar in vir ʼn waterskaars land soos Suid-Afrika.
  • In die vroeë 1980’s het daar ʼn Britse grafiese roman (boek wat in die vorm van ‘n strokiesprent geskryf is) met die naam van V for Vendetta verskyn. Dit het later ook ʼn film geword. Die roman het gehandel oor ʼn vigilante (gewone lid van die samelewing wat misdaad bestry sonder om noodwendig die wet te gehoorsaam) se optrede teen ʼn outoritêre (met absolute gesag) regering. Die illustreerder, David Lloyd, het vir hierdie vigilante ʼn masker geskep, en dié masker was die beeld van Guy Fawkes. 13
  • Sonder dat David Lloyd dit so bedoel het, het die masker die simbool geword van opstand teen tirannie (alleenseggenskap waar mense deur vrees gedwing word om dinge op ʼn sekere manier te doen) en outoritêre magte oral in die wêreld. Dit is waarom Anonymous, ʼn groep kuberkrakeraktiviste wat internasionaal as vigilante in verskeie kontekste optree, die masker gebruik wanneer hulle met die wêreld kommunikeer. 13

Het jy al ooit saam met jou vriende of familie op 5 November klappers of vuurwerk geskiet en toe gehoor hulle sê dit is Guy Fawkes-dag? Vir die meeste mense is dit sommer net ʼn lekker geleentheid om vuurwerk (klappers, vonkstokkies en vuurpyle wat helder en veelkleurige lig maak) te sien of dit self te skiet, maar daar is ʼn rede waarom die dag juis met vuurwerk herdenk word.

Hierdie dag verwys eintlik terug na 5 November in 1605 toe ʼn groep Katolieke (lidmate van die Rooms-Katolieke Kerk) probeer het om die Britse Hoërhuis, ook bekend as die House of Lords, op te blaas en die koning en die hele Britse parlement te vermoor. Hierdie artikel gaan oor een van die lede van hierdie groep, Guy Fawkes, en die sogenaamde Buskruitsameswering (“The Gunpowder Plot”).

Die oorsprong van die dag

Om te verstaan waaroor die Buskruitsameswering gaan, moet ʼn mens onthou dat daar in daardie tyd in Europa ʼn stryd tussen die Rooms-Katolieke en die Protestante (lede van die Christelike kerk wat uit die Hervorming van die 16de eeu ontstaan het) was. Die stryd was ook in Engeland sterk aan die gang.

Engeland was oorspronklik ook Katoliek totdat Hendrik VIII in 1534 van die Katolieke Kerk weggebreek het omdat hy van sy vrou wou skei en die pous (die hoof van die Katolieke Kerk) hom nie toestemming wou gee nie. Van daardie dag af was Engeland deel van die Reformasie of Hervorming en dus amptelik Protestants. 1

Hendrik VIII

Hendrik is deur sy dogter Maria die Bloedige opgevolg, wat Engeland weer Katoliek gemaak het, en toe deur ʼn ander dogter, Elisabeth I, wat Engeland weer Protestants gemaak het. (Lees ons artikel oor die Britse Koningshuis en die opvolging hier.)

Elisabeth het probeer om vrede te maak tussen die Protestante en Katolieke sodat Engeland ekonomiese voorspoed kon beleef, 2 maar gedurende haar bewind (regeringstydperk) het die spanning tussen die twee groepe opgebou. Katolieke is al hoe meer onderdruk. 3

ʼn Klein groep Katolieke ekstremiste (mense met opvattings wat baie ver weg is van wat almal glo) wou hê dat Engeland weer Katoliek moes wees. Een so ʼn persoon was ʼn jong Engelsman met die naam van Guy Fawkes.

Fawkes het as jong kind ʼn Katoliek geword, en hy was so ontevrede met Engeland se Protestantisme dat hy in 1593 weg is Nederland toe om daar teen die Protestante te gaan veg. 4 (Die Protestantse Nederland was toe in die Tagtigjarige Oorlog teen die Katolieke Spanje gewikkel.) 5

Toe Elisabeth I in 1603 dood is sonder dat sy ooit kinders gehad het, het haar neef, Jakobus I, haar opgevolg. Jakobus was reeds die koning van Skotland en hy was Maria die Bloedige se seun. Die Katolieke het gehoop hy gaan Engeland weer Katoliek maak, of dit ten minste net vir die Katolieke makliker maak. Maar Jakobus was ʼn Protestant en ʼn vredemaker, en hy het nie die vryhede vir Katolieke in Engeland gegee wat hulle wou gehad het nie. Om die waarheid te sê, hy het hom vir die Katolieke vererg (kwaad geword) nadat hy sameswerings (geheime planne) in 1603 en 1604 oopgevlek het om hom te vervang. 6

Elisabeth I

Teen hierdie agtergrond het ʼn klein groepie jong Katolieke uit die Britse Middellande besluit om teen Jakobus op te tree. Hul leier was ʼn charismatiese (sterk en oortuigende) jong Katoliek met die naam van Robert Catesby wat in 1604 voorgestel het dat hulle die koning en die Britse Hoër- en Laerhuis (“House of Commons”) tydens die parlementsopening moet opblaas. 7 Die ander samesweerders was Thomas en Robert Winter, Thomas Percy, John en Christopher Wright, Francis Tresham, Robert Keyes, John Grant, Thomas Bates, Ambrose Rookwood en Everard Digby. 8

Die samesweerders het Guy Fawkes spesifiek in Nederland gaan werf om deel te word van die sameswering omdat hy die reputasie gehad het dat hy ʼn plofstofdeskundige vir die Spanjaarde was. 9

Eers het die samesweerders ʼn huis langs die Britse Hoërhuis gehuur sodat hulle ʼn tonnel kon grawe tot onder die Hoërhuis en dan buskruit (‘n soort plofstof) onder die gebou kon plaas. Guy Fawkes het hom voorgedoen as John Johnson, ʼn bediende wat in die huis gewoon en gewerk het. Hy was deel van die groep wat die tonnel gegrawe het. Die samesweerders het uiteindelik besef hulle gaan nie die tonnel gegrawe kry nie.

In Maart 1605 het hulle ʼn kelder reg onder die Hoërhuis gehuur, en dit was in hierdie kelder dat hulle toe die buskruit kon plaas – 36 balies vol! 7 Die samesweerders het die balies toegepak onder hout sodat dit nie dadelik sigbaar sou wees nie. 9

Die opening van die parlement is ʼn paar keer uitgestel en toe uiteindelik vir 5 November 1605 belê. Guy Fawkes het die buskruit gekoop, en dit was sy werk om dit in die kelder op te pas totdat hulle die plan op 5 November kon uitvoer. Maar op 26 Oktober 1605 het ʼn lid van die Hoërhuis, lord Monteagle, ʼn brief ontvang waarin hy gewaarsku is om nie die parlementsopening by te woon nie. Monteagle was Katoliek. Niemand weet wie die brief gestuur het nie, maar dit was heel waarskynlik een van die samesweerders, Francis Tresham, wat Monteagle se swaer was. Lord Monteagle het die brief vir ʼn kollega in die Hoërhuis aangegee. Die kollega was Robert Cecil, die graaf van Salisbury en een van die koning se belangrikste ministers. Só het die regering van die sameswering uitgevind. 10

Die samesweerders het almal gevlug, maar Guy Fawkes is in die kelder by die buskruit gekry. Hy is in hegtenis geneem en ondervra. Eers wou hy geen inligting oor die sameswering gee nie, maar nadat hy gemartel (doelbewus en aanhoudend seergemaak om inligting uit iemand te kry of die persoon te straf) is, het hy die name van die ander samesweerders genoem.

Op 27 Januarie 1906 is hy verhoor en aan hoogverraad (verraad teen jou eie staat) skuldig bevind. 9 Hy sou op 31 Januarie gehang en daarna op ʼn baie wrede manier tereggestel (as straf doodgemaak) word, maar hy het vermoedelik self van die leer voor die galg afgespring en sy eie nek gebreek. 4

Guy Fawkes was dus nie die enigste of selfs die belangrikste samesweerder in die Buskruitsameswering nie, maar omdat hy gevang is, het sy naam sinoniem geraak met die plan om die Britse parlement op te blaas.

Viering

Die Britse parlement het in Januarie 1606 ʼn Dankbaarheidswet (“Thanksgiving Act”) deurgevoer. Hierdie wet het bepaal dat daar jaarliks op 5 November kerkdienste gehou sou word sodat die dag herdenk kon word waarop die koning en die parlement gespaar is. 11

Guy Fawkes-dag (ook “Bonfire Day” genoem) word vandag nog in Brittanje, en in dele van die wêreld wat deel was van die Britse Ryk, gevier as ʼn herdenking van die fnuiking (keer op ʼn slim manier) van die sameswering. Tradisioneel dra kinders strooipoppe van Guy Fawkes deur die strate terwyl hulle ʼn rympie opsê:

Remember, remember, the fifth of November

Gunpowder treason and plot

We see no reason

Why Gunpowder treason

Should ever be forgot.

Op 5 November word hierdie strooipoppe op ʼn hoop gegooi en verbrand. Die vuurwerk wat geskiet word, het te doen met die buskruit wat die samesweerders in die kelder versteek het. 12

Woordbank

bewind Regeringstydperk.
buskruit ‘n Soort plofstof.
charismatiese Sterk en oortuigend.
ekstremiste Mense met opvattings wat baie ver weg is van wat almal glo.
fnuiking Op ʼn slim manier keer.
grafiese roman Boek wat in die vorm van ‘n strokiesprent geskryf is.
hoogverraad Verraad teen jou eie staat.
Katolieke Lidmaat van die Rooms-Katolieke Kerk.
gemartel Doelbewus en aanhoudend seermaak om inligting uit iemand te kry of die persoon te straf.
opgevolg Die regeerder word nadat die vorige regeerder om een of ander rede ophou regeer.
outoritêre Met absolute gesag.
pous Hoof van die Katolieke Kerk.
sameswerings Geheime plan, gewoonlik negatief bedoel.
sinoniem Woord met min of meer dieselfde betekenis as ‘n ander woord.
tereggestel As straf doodmaak.
tirannie Alleenseggenskap waar mense deur vrees gedwing word om dinge op ʼn sekere manier te doen.
tradisioneel Volgens gewoonte.
vererg Kwaad word.
vigilante Gewone lid van die samelewing wat misdaad bestry sonder om noodwendig die wet te gehoorsaam.
vuurwerk Klappers, vonkstokkies en vuurpyle wat helder en veelkleurige lig maak.

Lees meer

Kyk ook hier

Hierdie twee video’s, wat deur die Britse parlement gemaak is, vertel die storie van die Buskruitsameswering

Deel 1

Deel 2

Foto: iStock
Gepubliseer op: 15 Mei 2023 | Bygewerk op 22 November 2023