Franz Schubert

Franz Peter Schubert (31 Januarie 1797 – 19 November 1828) was ’n Oostenrykse komponis. Hy is baie jonk oorlede – hy was maar 31 jaar oud toe hy dood is – maar hy was in sy leeftyd uiters produktief, en het honderde stukke musiek gekomponeer. 1

Hy word in die musiekwêreld as een van die grootste komponiste van die Laat Klassieke Tydperk en Vroeë Romantiese Tydperk beskou, en latere komponiste soos Felix Mendelssohn, Robert Schumann, Franz Liszt, Johannes Brahms en ander 19de-eeuse komponiste is sterk deur sy komposisies beïnvloed. 1

Vroeë lewe

Schubert is in die Himmelpfortgrund, ’n klein voorstad van die stad Wene in Oostenryk, gebore. Sy pa was ’n onderwyser en sy ma het voor haar troue as ’n kok vir ryk mense gewerk. Tien van Schubert se vyftien sibbe is as kinders dood. 2

Schubert se pa was ’n goeie musikant, en op vyf het die jong Schubert by sy pa begin musieklesse neem. Op ses is hy na sy pa se skool toe, waar hy van die gelukkigste jare van sy lewe deurgebring het. Sy pa het hom leer viool speel en sy broer Ignaz het hom leer klavier speel. Op sewe het hy by Michael Holzer, die kapelmeester van die Lichtenthal-kerk, begin studeer. 2

In 1808 het hy ’n beurs gewen waarmee hy ’n lid van die keiserlike hof se kapelkoor geword het. Daar het hy by baie goeie leermeesters les gehad, onder andere die komponis Antonio Salieri. Schubert het viool in die orkes gespeel, en hy het vinnig die konsertmeester geword. Soms het hy selfs die orkes gedirigeer. Hy het ook kooroefeninge bygewoon en saam met sy medeleerlinge kamermusiek gespeel. 3

Voltyds in die musiek

In 1818 het hy die onderwys verlaat om van musiek ’n loopbaan te maak. Een van sy werke, die Italiaanse ouverture in C majeur, is op 1 Maart 1818 in Wene uitgevoer en dit was ’n groot sukses.

Dit het hom aangemoedig om nog musiek te skryf. Een van die stukke was die operette Die Zwillingsbrüder (Die Tweelingbroers), wat in Junie 1820 opgevoer is. 4

Schubert se werk het aandag getrek, en hy het al hoe gewilder geword. Sy komposisies sou vir die volgende dekade Oostenryk se musiekkonserte oorheers. 4

Bekendste komposisies

Schubert het ’n hele paar operas geskryf, maar hy kon nooit met dié genre vreeslike groot sukses behaal nie. Hy het wel as die skrywer van lieder en kamermusiek uitgeblink. 4

Jy kan by die skakels hier onder na uittreksels van sy bekendste werke gaan luister.

Die Forel

In die uittreksel hier onder kan jy kyk na die wonderlike pianis Evgeny Kissin se uitvoering van die werk.

https://www.youtube.com/watch?v=HkGcNt3ohog&ab_channel=medici.tv

Die Elwekoning

Hierdie lied is ’n toonsetting van ’n gedig van Goethe. Dis dieselfde gedig wat S.J. du Toit in Afrikaans vertaal het en die storie vertel van die Elwekoning wat ’n jong seuntjie se dood veroorsaak. In die video kan jy luister na Dietrich Fisher-Dieskau se vertolking van die lied. Luister hoe verander hy sy stem as die verskillende karakters praat.

https://www.youtube.com/watch?v=nSVf0ZvoiCM&ab_channel=Dr.Ludwig

Ave Maria

Hierdie lied word gereeld in Rooms-Katolieke kerke gesing. In die uitvoering hier onder sing ’n seunsopraan van die Weense Seunskoor die bekende musiek.

https://www.youtube.com/watch?v=CS-odKIr-Ho&ab_channel=TrebleFan

Serenade

Die wêreldbekende violis Itzhak Perlman speel in hierdie opname.

https://www.youtube.com/watch?v=widDAQKdlUA&ab_channel=arshtcenter

Impromptu No. 3 in G-mol majeur, Op. 90, D. 899 (Andante)

https://www.youtube.com/watch?v=LUp2u9wI1fY&ab_channel=KhatiaBuniatishVEVO

Arpeggione Sonata in A minor, D. 821

https://www.youtube.com/watch?v=jNBDP0OMnXs&ab_channel=PakasitChanvinij

Latere lewe

Ten spyte van sy sukses as komponis, het dit nie altyd met hom goed gegaan nie. Hy was nooit regtig finansieel goed daaraan toe nie, en toe hy teen 1822 begin siek word, het hy van sy vriende begin verloor. 3

Hy het nog gekomponeer, en baie van sy musiek was dadelik suksesvol. Maar hy was nie ’n goeie bemarker van sy eie werke nie, en hy het nooit regtig in sy leeftyd die sukses behaal wat hy verdien het nie. 2

In 1828 het hy tifus opgedoen van besmette drinkwater, en hy is later in dieselfde jaar daaraan oorlede. 3

Schubert se bril

Nalatenskap

Schubert het in sy kort leeftyd meer as 1 500 stukke musiek gekomponeer.

Sy lieder is van die beste wat ooit geskryf is. Dit is alles toonsettings van Duitse gedigte en Schubert het sy lieder baie spesiaal gemaak deur die klavierbegeleidings die aksie van die lieder op baie verskillende maniere te laat beskryf. Sy kamermusiek en simfonieë is ook vandag nog geliefd en gewild. 5

In die musiekgeskiedenis staan Schubert ​​tussen die Klassieke en Romantiese Tydperke. Hy kan egter as die laaste van die groot Klassieke komponiste beskou word. Sy musiek is subjektief emosioneel soos Romantiese musiek, maar dit is steeds in dieselfde formaat geskryf as wat Klassieke komponiste soos Haydn, Beethoven en Mozart gebruik het. 3

Woordbank

fakkeldraer Iemand wat ’n fakkel gedra het as deel van ’n begrafnisstoet.
kamermusiek ’n Musiekgenre wat uitgevoer word deur ’n klein groepe musikante.
kapelmeester Die hoof van musiek by ’n kerk.
komponis Iemand wat musiek skryf.
konsertmeester Die leier van ’n orkes. Dit is gewoonlik die eerste violis.
lieder ’n Duitse woord waarmee ons na kunsliedere verwys. Dis meestal toonsettings van gedigte.
operas ’n Musikale drama waarin die arias (die sologedeeltes) en die resitatiewe (die dele waarin die storie vertel word) gesing word.
operette ’n Musikale drama waarvan die arias (die sologedeeltes) gesing word en die resitatiewe (die dele waarin die storie vertel word) gepraat word.
sibbe Broers en susters.
simfonie ’n Stuk musiek met drie of vier dele wat deur ’n simfonieorkes uitgevoer word.
tifus ’n Aansteeklike siekte wat deur water oorgedra word.
toonsetting Musiek wat geskryf word vir ’n bestaande teks soos ’n gedig.

Verbreed jou kennis met hierdie artikels

Kyk ook hierdie video oor Schubert se lewe