Franse Revolusie
Jy het dalk al van Marie Antoinette gehoor? Sy was baie lank gelede ’n koningin in Frankryk en het vreeslik baie geld spandeer terwyl baie mense in die land arm was. Daar is beweer dat sy gesê het die mense moet koek eet toe sy hoor dat hulle nie geld vir brood het nie! Dis egter net ’n legende en dit is glad nie seker of sy dit wel gesê het of nie.
Die Franse Revolusie word as ’n waterskeidingsoomblik in die geskiedenis gesien, want dit het ’n groot impak op Frankryk en die res van die wêreld gehad.
’n Revolusie is ’n groot en belangrike ontwikkeling wat heeltemal anders is as enigiets wat dit voorafgegaan het. In hierdie geval beteken dit ook dat die mense van ’n land baklei om die bestaande regering met ’n regering van hul keuse te vervang. 1
As ons van hierdie revolusie praat, word daar algemeen aanvaar dat dit op 14 Julie 1789 in Frankryk begin het. Die ontevrede Franse het die Bastille-tronk in Parys bestorm. Slegs vier jaar later is die Franse koning en koningin onthoof en die land het ’n republiek geword. Die mense het tydens die revolusie “vryheid, gelykheid en broederskap” geëis. 2
Die revolusie het ’n paar jaar geduur, maar Frankryk het nooit weer ’n ongelyke samelewing geword nie. Die idees van die revolusie het boonop na ander lande versprei.
Agtergrond
In die 1780’s was daar baie groepe in Frankryk wat ongelukkig met die stand van sake was; hulle wou graag ’n verandering in die samelewing sien. Een van die groepe is die bourgeoisie genoem. Dit was ’n nuwe klas van welvarende stedelinge wat meer mag wou hê. Die gewone man op straat wou egter ook verandering sien en so ook die plaaswerkers wat moeg was om sonder betaling vir die adellikes of ryk grondeienaars te werk.
Gewone werkers moes boonop baie hoë belasting betaal, wat die adellikes nie hoef te betaal het nie. Daar was ook Franse filosowe wat gevra het vir ’n nuwe vorm van samelewing en regering. 3
Die Franse regering se geldsake was in daardie stadium beroerd en die staatskoffers was leeg. Hulle het hopeloos te veel geld aan oorloë spandeer, soos in die Amerikaanse Revolusie waar Frankryk die koloniste gehelp het om die Britte te oorwin. 3
Ten spyte daarvan dat die land op die rand van bankrotskap was, was die Franse koning Lodewyk XVI en koningin Marie-Antoinette steeds baie spandabelrig. Hulle het onnodig geld uitgegee op dinge wat hulle nie nodig gehad het nie.
Daar was boonop twee dekades van swak oeste, droogte, dieresiektes en hoë broodpryse wat die gewone mense baie kwaad gemaak het. Hulle was desperaat en het die koningshuis verwyt omdat hulle glad nie hul burgers gehelp het nie en net swaar belastings gehef het. 4
Ons kan dus sê dat ’n teelaarde vir groot moeilikheid geskep is.
Die revolusie begin
Die Franse burgers het hul ongelukkigheid gewys deur te staak, te betoog en plekke te plunder.
Charles Alexandre de Calonne, een van die koning se amptenare, het in 1786 ’n finansiële hervormingspakket voorgestel wat ’n grondbelasting sou instel. Dit sou beteken dat die ryk klas, die adellikes, vir die eerste keer ook belasting sou betaal. 4
Die koning wou ondersteuning vir hierdie nuwe regulasies kry en het die landgoedgeneraal (les états généraux) byeengeroep om die verskillende klasse van Frankryk te verteenwoordig. Dié vergadering in 1789 was die eerste ontmoeting sedert 1614 tussen die drie landgoedere van prerevolusionêre Frankryk: die kerklui, adelstand en gewone burgers. 5
Die vergadering is vir 5 Mei 1789 gereël en intussen sou afgevaardigdes van die drie groepe ’n lys van hul griewe maak om vir die koning te gee. 4
Nie almal in hierdie raad was gelukkig oor die stand van sake nie. Die middel- en laerklas was vies omdat die adellikes steeds vetoreg gehad het. Dit beteken dat hul stem die finale sê was. Al sou die middelklas byvoorbeeld vir iets stem, kon hulle net sê, “Nee, ons weier/aanvaar dit nie”.
Die mense wat nie deel van die adelstand was nie, het 98% van die bevolking uitgemaak. Al was hulle so baie, kon hulle steeds deur die ander twee groepe uitgestem word. Hierdie mense het ondersteuning vir gelyke verteenwoordiging begin soek. Hulle wou dus gehad het dat almal moes stem en dat die stemmery nie deur status bepaal moes word nie. Almal se stem moes dus dieselfde gewig dra. Die adellikes wou niks weet nie, want hulle wou natuurlik nie hul voorregte prysgee nie.
Teen die tyd wat die groep vir die Versailles-samesprekings bymekaargekom het, was daar groot vyandigheid tussen die groepe en samesprekings het op ’n dooie punt uitgeloop. Dit beteken dat niemand kon ooreenstem nie. 4
Die groep wat wel saamgestaan het, was die sogenaamde Derde Stand. Dit het uit die lae- en middelklas bestaan en hulle het alleen vergader en hulself as die Nasionale Vergadering verklaar. Hulle het drie dae later ook by ’n tennisbaan byeengekom en die sogenaamde Tennisbaan-eed (Le serment du Jeu de paume) afgelê om grondwetlike hervorming te laat plaasvind. 3
Binne ’n week het daar wel adellikes en verskeie geestelikes by hulle aangesluit op 27 Junie moes die koning dit maar aanvaar. 4
Bestorming van die Bastille
Op 12 Junie was die Nasionale Vergadering nog aan die werk aan ’n nuwe grondwet en het by Versailles vergader. Intussen was daar talle voorvalle van geweld in Parys en mense het begin vrees dat ’n staatsgreep sou plaasvind. 4
Die dae van spanning en betogings het uiteindelik daartoe gelei dat betogers op 14 Julie 1789 ’n ou gevangenis, genaamd die Bastille, bestorm het. Hulle wou wapens en buskruit hê en dit word allerweë as die begin van die Franse Revolusie gesien. 3 Daar was ook 10 soldate gevange gehou. Hulle was deel van die Franse Wag wat besluit het om nie aan opdragte gehoor te gee nie. 6
Hierdie onrus het gou na ander gedeeltes van Frankryk versprei en die arbeiders het begin rebelleer. Belastingbetalers en grondeienaars se huise is afgebrand en die adelstand se kastele is vernietig. Ná hierdie voorval het baie van die adelstand besluit om hul voorregte vrywillig op te gee. Hierdie tyd het as die Groot Vrees (la Grande peur) bekendgestaan en baie adellikes het uit die land gevlug. Dit het ook as motivering gedien om feodalisme af te skaf. 3
Feodalisme was die oorheersende maatskaplike stelsel van die Middeleeue in Europa waarvolgens leenhere grond aan mense in ruil vir dienste geleen het. 7
Die Nasionale Vergadering het op Augustus 1789 ’n deklarasie aanvaar wat bepaal het dat alle mense vry gebore word en gelyke regte het. Die Nasionale Vergadering het baie veranderings gemaak wat die bevolking sou raak en daarvolgens is feodalisme afgeskaf. Arbeiders hoef nie meer op die adelstand se plase sonder betaling te gewerk het nie. Die Vergadering het ook baie eiendom van die Roomse Katolieke Kerk gevat en die meeste manlike burgers stemreg gegee.
Dit was egter ’n gesukkel om ’n amptelike grondwet op te stel en die Nasionale Vergadering het vir lank gewroeg oor hoe Frankryk se nuwe politieke landskap moet lyk en wat van die koning en sy rol moes word. 4
Frankryk se eerste geskrewe grondwet is op 3 September 1791 aanvaar en ’n grondwetlike monargie is gestig waarin die koning wel vetoreg gehad het.
Sekere mense het niks daarvan gehou nie. Die voorbokke van hierdie groep was Maximilien de Robespierre, Camille Desmoulins en Georges Danton. Hulle het hulle begin beywer vir ’n republiek en vir die verhoor van die koning.
In April 1792 het die nuut verkose volksraad oorlog teen Oostenryk en Pruise verklaar, want hulle het geglo dat daar Franse bly, wat alliansies teen hulle bou om hulle omver te werp. Daar was ook nóg ’n krisis in Frankryk self met die radikale groep die Jakobyne wat die koninklike woning in Parys aangeval en die koning op 10 Augustus 1792 gevange geneem het.
In die maand wat gevolg het, was daar ’n golf van geweld en baie mense is doodgemaak. Die volksraad is in dié tyd met ’n Nasionale Konvensie vervang, wat die einde van die monargie en die stigting van die Franse Republiek beteken het.
Koning Lodewyk XVI is op 21 Januarie 1793 op aanklagte van hoogverraad en misdaad teen die staat gevonnis en ter dood veroordeel. Hy is na die guillotine gestuur. Sy vrou, Marie-Antoinette, is nege maande later ook onthoof.
Die Jakobyne het met ’n skrikbewind begin en groot vrees onder die mense gesaai. Omdat hulle bang was dat daar nie genoeg mense was wat hul revolusie wou steun nie, het hulle begin om talle mense in hegtenis te neem en dood te maak. Hulle het selfs ’n nuwe kalender ingestel en probeer om Christenskap in die land uit te wis. Kerke is nie eens meer kerke genoem nie.
Uiteindelik is meer as 300 000 mense in hegtenis geneem en meer as 17 000 doodgemaak. Baie van hulle was slagoffers van die guillotine. Uiteindelik is daar ’n einde aan die Jakobyne se skrikbewind gemaak toe ander lede van die Konvensie in Julie 1794 hul leiers in hegtenis geneem het. Hierdie Jakobynse leiers is toe ook na die guillotine gestuur.
Einde van die revolusie
Nadat die Jakobyne se bloedbad verby was, het die parlement die sogenaamde Directoire aangestel. Dit was ’n raad van vyf lede en die uitvoerende mag van die land was in hul hande. Daar was ook opposisie teen hulle, maar die weermag is deur ’n jong en suksesvolle generaal, wat vinnig teen hulle opgetree het, gelei. Dié generaal se naam was Napoleon Bonaparte.
Die nuwe raad het vir vier jaar geregeer, maar daar was opnuut probleme soos geldkrisisse, korrupsie en algemene ontevredenheid onder die bevolking.
Napoleon Bonaparte het vervolgens ’n staatsgreep of coup d’état uitgevoer en homself as Frankryk se eerste konsul aangestel.
Dit het ’n einde aan die Franse Revolusie gebring en was die begin van die Napoleontiese era. In hierdie tydperk het Frankryk kontinentale Europa gedomineer.
Napoleon het toenemend mag gekry en in 1804 het hy homself as Napoleon I verklaar, die keiser van Frankryk. Die land is daarna vir die bykans 70 jaar deur keisers en konings geregeer totdat Frankryk uiteindelik in 1871 weer ’n republiek geword het.
Woordbank
adellikes | Mense wat aan die hoogste stand behoort. |
afgevaardigdes | Iemand wat met ‘n bepaalde opdrag gestuur word om ander te verteenwoordig. |
allerweë | Oral, in alle opsigte. |
alliansies | Verdrag deur state aangegaan om mekaar onder sekere omstandighede te steun, veral met wapengeweld; bondgenootskap; verbond. |
bankrotskap | Wanneer ’n mens nie meer geld het om jou skuld te betaal nie. |
belasting | ’n Gedeelte van jou maandelikse salaris wat aan die staat vir openbare dienste betaal word. |
beroerd | Ellendig, sleg, swak. |
bloedbad | Om verskeie mense wreed om die lewe te bring. |
bourgeoisie | Die middelklas of burgerstand. |
feodalisme | Feodalisme was die oorheersende maatskaplike stelsel van die Middeleeue in Europa waarvolgens leenhere grond aan mense in ruil vir dienste geleen het. |
guillotine | ’n Toestel waarmee mense onthoof is en wat uit ’n swaar, vlymskerp lem bestaan wat in twee oorlangse groewe in die regop styl van ’n kosynagtige konstruksie gly. Dit word ook ’n valbyl genoem. |
hervormingspakket | Verandering. |
konsul | ’n Verteenwoordiger van een land of volk in ‘n ander land om sy eie volksgenote te beskerm en om handelsbetrekkings te bevorder. |
korrupsie | Oneerlike optrede om jouself of ‘n ander te bevoordeel; die gebruikmaak van omkoping of die meedoen daaraan. |
legende | ’n Verhaal wat nie op die waarheid berus nie, maar op stories wat deur die eeue deur mense oorvertel word. |
menagerie | Versameling van diere in hokke, klein dieretuin. |
Middeleeue | Tydvak tussen die oud en nuwe tyd, ongeveer tussen die jaar 476 tot 1492. |
monargie | Alleenheerskappy. |
omver te werp | Om iets te laat misluk. |
pakket | Aanbod van ‘n som geld (in hierdie geval wat belasting insluit). |
prerevolusionêre | Voor ’n revolusie. |
republiek | ’n Regeringsvorm of staat waarin die oppergesag berus by stemgeregtigde burgers en hul verteenwoordigers. |
revolusie | ’n Revolusie is ’n groot en belangrike ontwikkeling wat heeltemal anders is as enigiets wat dit voorafgegaan het. In hierdie geval het dit met geweld gepaardgegaan. |
spandabelrig | Wanneer iemand links en regs geld uitgee. |
staatsgreep | Wanneer ’n land se regering gewelddadig deur ander inwoners van die land oorgeneem word. |
staatskoffers | Die staat se geld, kapitaal (ook staatskas genoem). |
teelaarde | Broeiplek, begin, beweegrede. |
vetoreg | Die reg om iets te verbied, te weier, af te keur of te verwerp. |
voorbokke | Leier, voorloper, aanvoerder. |
waterskeidingsoomblik | ‘n Gebeurtenis wat ‘n duidelike verdeling of verandering veroorsaak. |
Lees dié artikels om meer te leer
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Wat was die Franse Revolusie?
Feite oor die Franse Revolusie
Wat het die Franse Revolusie veroorsaak?
Só word Bastilledag jaarliks in Franschhoek gevier