Vinnige feite
Een van die mees tragiese en omstrede gebeurtenisse in Suid-Afrika se geskiedenis is die Xhosa-beesuitwissing van 1856 en 1857. Om en by ’n kwart van alle Xhosas in Suid-Afrika het in minder as twee jaar gesterf.
Nongqawuse se profesie
Een oggend in April of Mei 1856 was twee Xhosa-meisies, die 15-jarige Nongqawuse (soms gespel Nongquase) en haar niggie, 1 Nombanda, 2 in die veld langs die Gxarha-rivier, naby die Wildekus in vandag se Oos-Kaap. 1
Hulle was in die landerye om die voëls uit hul mielies te verwilder. 3
Skielik het twee mans aan Nongqawuse verskyn. Hulle het anders gelyk as enigiemand wat sy al ooit vantevore gesien het. Die mans het vir haar gesê dat die voorvadergeeste ontevrede was met die Xhosa-mense weens hul mislukking om tradisionele reëls en gebruike na te kom. Hulle het haar opdrag gegee om die mense te vertel om al hul vee dood te maak – omdat hulle deur besoedelde hande (dit is mense wat heksery bedryf) grootgemaak is – en hul oeste te vernietig. Niks moet gesaai word nie, maar graankuile moet gegrawe word, en nuwe huise en veekrale moet gebou word. In ruil daarvoor sou die geeste die dooies laat herleef, die land suiwer van die Britse koloniseerders en ’n era van voorspoed en geluk vir die Xhosa-mense inlei. 3
Napakade of Sifuba-Sibanzi was ’n sentrale figuur in die profesie wat deur Nongqawuse oorgedra is. Sy rol was om as ’n simboliese of spirituele leier op te tree in die vervulling van die beloftes wat in die profesie vervat was. 3
Nongqawuse en Mhlakaza
Nongqawuse was ’n weesmeisie wat by haar oom, Mhlakaza, gewoon het. Sy is huis toe en het vir Mhlakaza en andere vertel wat sy gesien het.
Mhlakaza het hoë aansien in die gemeenskap gehad, as siener en raadgewer van die Xhosa-opperhoof Sarhili. 1
Hy het haar nie aanvanklik geglo nie. Hy het egter besluit om na die plek toe te gaan waar die mans aan Nongqawuse verskyn het. 4 Die mans het aan hom ook verskyn, en was tot sy verbasing vergesel deur sy broer. 1
Die twee mans het vir Mhlakaza vertel dat hulle Russe was, en dus aartsvyande van Brittanje. (In daardie tyd het Brittanje en Rusland mekaar in die Krimoorlog die stryd aangesê.) Hulle het van slagvelde ver oor die see gekom om hul onoorwinlike kragte vir die Xhosas aan te bied.
Mhlakaza moes as tussenganger tussen hulle en die Xhosa-hoofmanne optree. Hy moes hul opdragte, wat aan Nongqawuse oorgedra is, aan die hoofmanne oordra. Wanneer die opdrag uitgevoer is, sou die beloofde hulp kom.
Wat presies het Mhlakaza en Nongqawuse verkondig?
Die Xhosas moes die volgende doen:
- hul beeste doodmaak, oeste vernietig en niks nuuts plant nie
- nuwe graanputte grawe, en nuwe onbesmette huise en beeskrale bou
- nuwe melksakke maak
- toordery, bloedskande en owerspel opgee 1
Indien hulle dit sou doen, sou die volgende gebeur:
- Daar sou ’n Nuwe Wêreld vir die gesuiwerde Xhosas kom.
- In die Nuwe Wêreld sou blindes sien, kreupeles loop en die hele Xhosa-nasie sou uit die dood opstaan.
- Dit sou ’n nuwe era inlui, sonder siekte, dood of teëspoed. 4
- Hul graanputte sou met nuwe graan gevul word.
- Hul krale sou met nuwe, mooi en gesonde beeste gevul word.
- Die voorvadergeeste sou die Britse setlaars in die see in dryf. 1
Opperhoof Sarhili se reaksie
Ander hoofmanne, en inderdaad die meeste Xhosas, wou aanvanklik nie die opdragte uitvoer nie. 3
Sarhili, die Xhosa-opperhoof, wou dit ook nie glo nie. Hy het egter sy broers en neefs na die plek waar die profesie gemaak is, gestuur om ondersoek in te stel. Hulle het teruggekom en vertel dat die profesie waar was. 5
Daarna het Sarhili die profesie aanvaar. Die slagting het toe op groot skaal begin. 3 Sarhili het boodskappers na die ander hoofmanne gestuur om hul oor die opdragte van die voorvaders in te lig. Hy het hulle beveel om die opdragte nougeset te gehoorsaam. 1
Kontak met koloniale owerhede
Om te verstaan hoe iets soos die beesuitwissing kon gebeur, en hoekom hulle die profesie aanvaar het, moet ’n mens die konteks van die tyd en die Xhosas se leefwêreld verstaan. Teen die 1850’s was die Xhosas al vir amper ’n driekwarteeu lank in sporadiese botsings met die Britse koloniale owerhede gewikkel.
Die Britte het telkens die oorhand gekry, en Xhosas is stadigaan uit hul woongebied verdryf. Die laaste van die botsings was die Agtste Grensoorlog (1850-1853).
In 1847 het die Britte ’n groot deel van die Xhosa-gebied, tussen die Keiskamma- en Keirivier, geannekseer en dit na Brits-Kaffrarië herdoop. Xhosa-hoofmanne se magte is aan Britse koloniale amptenare oorgedra. 1
Die Xhosas was teen die 1850’s desperaat vir hulp of uitkoms. 6
Die beesuitwissing was dus ’n poging om ’n volk te herbou wat verpletter is deur die mislukking van hul weerstand in agt grensoorloë, en deur die bedreiging van die Europeërs. 7 Dit was ’n proaktiewe poging wat hulle aangewend het om die indringing van die wit mense teen te staan. 8
Longsiekte
In die vroeë 1850’s het ’n kwaai longsiekte onder die Xhosas se beeste uitgebreek en verwoesting gesaai.
Vir die Xhosas was beeste nie net ’n voedselbron nie. Dit was ook hul vernaamste simbool van welvaart. Beeste was ook gebruik om lobola te betaal. Sonder beeste het hulle sosiale orde dus inmekaargestort. 1
Die longsiekte is versprei deur beeste wat op die oog af gesond gelyk het, maar dan ander aangesteek het. Dit het dus nie eers gehelp om hul vee te kwarantyn nie. Longsiekte het geloofwaardigheid aan die hoofidee agter die profesie – dat iets verrot was en dus gesuiwer moes word – gegee.
Daar kon net suiwer beeste kom as al die besmette diere van die aarde af verdwyn het, anders sou hulle net weer die nuwe beeste aansteek. 3
Profesieë deur meisies en vroue
In die Xhosa-tradisie was visioene en profesieë wat aan vroue en meisies verskyn het, ’n normale verskynsel. 4 Daar was boonop voor 1856 ander profete wat profesieë soortgelyk aan Nongqawuse s’n versprei het. 5
Godsdiens
Siekte en onreinheid in die Xhosas se kultuur is gereeld met heksery en towerkuns geassosieer. Sommige mense het geglo dat die longsiekte versprei het omdat heksery toegelaat is. Dit het dus sin gemaak om heksery uit te wis. 4
Die Christelike geloof het ook ’n invloed gehad. Mhlakaza, wat die sterkste dryfkrag agter die beesuitwissingsbeweging was, was ’n Christen. In sy kop, en dié van ander aanhangers van Nongqawuse se profesieë, het die Christelike idee van die opstanding van dooies vermeng geraak met die idee dat die voorvaders uit hul grafte sou opstaan. 4
Die beesuitwissing begin
Die Xhosas wat die profesieë aanvaar het, die sogenaamde Gelowiges, het hul beeste met ywer geslag. Die sogenaamde Ongelowiges het egter geweier. 4
Nongqawuse het telkens die dag waarop die Nuwe Wêreld sou kom, uitgestel, omdat daar te veel Ongelowiges was. 3 Die Gelowiges het iemand nodig gehad om te blameer en het die skuld op die Ongelowiges gepak. 4
Soos wat die honger ingeskop het, het woede teenoor die Ongelowiges toegeneem. 4 Diegene wat geweier het, is in talle gevalle deur die ander gedwing om hul beeste te slag. Soms het Gelowiges andere se landerye bestorm en vertrap en hul woonplekke aangeval. In enkele gevalle is mense selfs doodgemaak en hul beeste weggevoer. 1
Teen Februarie 1857 was daar wydverspreide verhongering en nood. 4
Nuwe Wêreld
Sarhili is na die Gxarha-rivier om met Nongqawuse en Mhlakaza te praat. 4
Ná sy terugkeer het hy aangekondig dat die Nuwe Wêreld oor agt dae sou begin. Op die agtste dag, 18 Februarie 1857, sou die son bloedrooi opkom. Dan sou daar ’n swaar donderstorm uitsak met ’n woeste stormwind, waarna die dooies sou opstaan.
In die week voor 18 Februarie het die slagting van beeste sy hoogtepunt bereik.
Nonkosi, nog ’n jeugdige profetes, het intussen ’n soortgelyke voorspelling as Nongqawuse gemaak.
Duisende mense het die nag voor die wondere sou plaasvind in gespanne opwinding deurgebring. 1
Die Xhosa-historikus Gqoba het vertel wat hierna gebeur het: “Die son het op die agtste dag net soos enige ander son opgekom. Die Gelowiges het in hul huise in verdwyn, die deure dig gesluit, en elke nou en dan uit gate in die mure geloer tot die son verdwyn het.” 4
Van al die voorspellings het niks gekom nie.
Die Britse reaksie
Die Britse owerhede was eers agterdogtig. Sommige Britse amptenare het (sonder bewyse) vermoed dat Sarhili die onrus aangeblaas het as ’n rookskerm vir sy planne om die Kaapkolonie aan te val.
Hulle het dus gereed gemaak om ’n inval van verhongerde Xhosas, wat moontlik plase kon plunder en selfs oorlog kon maak, af te slaan.
Dit was egter gou duidelik dat daar geen komplot was nie. 1
Impak
Verwoestende hongersnood het gevolg. Teen die winter van 1857 was daar niks meer kos nie; mense het vir elke stukkie kos geveg. Melksakke van beesvel is oopgesny en saam met boomwortels gekook vir sop.
Soms het uitgebreide gesinne bloot onder bome gaan sit en saam gesterf. In enkele gevalle het die hongerlyers vleis van gestorwenes gekook en geëet.
Baie hongerlyers het na nabygeleë dorpies, sendingstasies en forte gevlug. Hier het die mense hulle probeer help, maar kos was oral beperk. Honderde mense het byvoorbeeld in die strate van King William’s Town doodgegaan. Hierdie lyke is in ’n massagraf gegooi.
Die Xhosa-bevolking in die gebied het van om en by 105 000 tot minder as 27 000 gedaal. Daarvan het omtrent 40 000 gesterf, en die res het uit die gebied gestroom. 1
Grey se reaksie
Sir George Grey, die goewerneur van die Kaapkolonie, het op ’n genadelose wyse voordeel uit die situasie getrek.
Hy het besluit dat die duisende Xhosas wat in die Kaapkolonie ingestroom het, ’n geleentheid was om werkers vir die Kaapkolonie te werf. Magistrate is aangesê om slegs aan Xhosas wat ’n werkskontrak sou teken, kos en steun te gee. Dié wat geteken het moes beloof dat hulle enige plek in die Kaapkolonie teen enige loon sou werk. 4 Duisende Xhosas is dus as plaaswerkers oor die Kaapkolonie verstrooi. 1
Grey het ook die Xhosas se swakheid gebruik om hul land te steel en van hul hoofmanne in die tronk te gooi. 3
Nongqawuse se lot
Nongqawuse se bedoelings en rol sal seker altyd ’n raaisel bly.
Niemand is seker wat haar gedryf het, hoe groot haar invloed was, of wat haar uiteindelike lot was nie.
Dit is moontlik dat sy heeltemal op haar eie opgetree het. Sy wou moontlik immoraliteit uitroei, daarom die verbod op bloedskande en toordery. In daardie tyd het slegs vroue op landery gewerk. Sy het dus moontlik probeer om landerye te vernietig om vroue se lewens te vergemaklik.
Aan die ander kant is dit moontlik dat sy deur haar oom, Mhlakaza, gemanipuleer is. Sy het die profesie ontvang omdat sy jonk en dus rein was. Sy het egter nie die gesag gehad om die boodskap oor te dra nie, en dus moes haar oom dit doen. Haar rol was slegs om boodskappe aan haar oom te gee. 2 Sy was, wetend of onwetend, ’n handlanger van Mhlakaza. 8
Hoe dit ook al sy, volgens sommige bronne het sy, ná haar voorspellings nie waar geword het nie, die skuld op haar volgelinge gepak omdat hulle nie haar voorskrifte stiptelik nagekom het nie. Later het hulle teen haar gedraai, en sy moes vlug.
’n Xhosa-hoofman het haar aan die Britte uitgelewer. 1 Sy en Nonkosi was vir ’n tyd aangehou by ’n Britse majoor. Dit is dié se vrou wat die beroemde foto van hulle geneem het. 3
Later het die Britse owerhede haar vir ’n tyd na Robbeneiland gestuur, sodat sy veilig kon wees tot die haat onder die Xhosas bedaar het. 8
Dit is nie duidelik wat hierna met haar gebeur het nie. Sy was in Oktober 1858 vlugtig in Kaapstad. 2 Sy het waarskynlik later op ’n plaas in Alexandrië in die Oos-Kaap gaan woon, 1 moontlik onder ’n skuilnaam. 8
Sy het in 1898 gesterf en is in Alexandrië begrawe. 1
Evaluasie
Die Xhosa-beesuitwissing is die grootste mensgemaakte ramp in Suid-Afrika se geskiedenis wat nie met oorlogvoering verband hou nie.
Wat ook al die rede daarvoor was, dit het die Xhosas onherroeplik verdoem. Dit het hulle ekonomie vernietig en hul tradisionele gemeenskapstrukture verpletter. 1
Dit was dan ook die einde van grootskaalse Xhosa-weerstand teen koloniale uitbreiding. 3
Woordbank
aansien | Hoë rang/stand. |
af te slaan | Om met geweld iemand terug te dryf. |
agterdogtig | ’n Gebrek aan vertroue teenoor iemand/iets. |
besmet | Siektekieme oorbring; aansteek. |
besoedelde | Iets wat vuil is. |
bloedskande | ’n Seksuele verhouding tussen mense wat bloedverwant is. |
die oorhand gekry | Wanneer jy aan die wenkant is of meer mag as die vyand het. |
dryfkrag | Die vernaamste krag of middel wat iets aandryf. |
geannekseer | Om besit van ’n gebied te neem. |
geloofwaardigheid | Wat klink asof jy hom/haar/dit kan glo. |
gemanipuleer | Iemand laat dink en optree presies soos jy wil hê deur hom/haar om die bos te lei of te beïnvloed. |
genadelose | Om onvriendelik op te tree en nie om te gee om mense seer te maak of te laat ly nie. |
graankuile | ’n Gat in die grond waarin graan bewaar word. |
handlanger | Iemand wat iemand anders help, gewoonlik om iets verkeerds of boos te doen. |
heksery | Om buitengewone goed te doen met behulp van bonatuurlike kragte. |
immoraliteit | Moreel onaanvaarbaar; nie eerbaar nie. |
koloniale amptenare | Persoon wat vir die regering van ’n kolonie werk. |
komplot | Geheime plan met ’n slegte doel. |
konteks | Situasie/gebeure/inligting/ens. wat met iets verband hou en jou help om dit beter te verstaan. |
Krimoorlog | Die oorlog wat in 1853 tussen die Turkse Ryk en Rusland uitgebreek het, waarby Brittanje betrokke was. |
kwarantyn | Om iets met dwang weg te hou van iets anders af. |
lobola | Soort trougeskenk wat deur ’n man gegee word aan die familie van die vrou met wie hy gaan trou. |
lot | Dit wat met jou gaan gebeur. |
magistrate | Vroeëre benaming vir ’n landdros, ’n tipe regter. |
nougeset | Noukeurig, stiptelik, presies. |
omstrede | Waaroor baie gestry word; betwisbaar, aanvegbaar; iets wat bevraagteken word. |
opperhoof | Heerser oor ’n uitgebreide swart groep/stam. |
owerspel | Egbreuk. ’n Vrywillige verhouding met iemand wat met iemand anders getroud is. |
proaktiewe | Om ’n situasie te probeer hanteer deur op te tree om iets te laat gebeur eerder as om te reageer. |
profesie | ’n Voorspelling van iets wat in die toekoms gaan gebeur. |
raadgewer | Iemand wat raad gee; iemand by wie om raad aangeklop word. |
rookskerm | Iets wat iemand sê om hulle eintlik planne weg te steek. |
setlaars | Iemand wat van ’n ander gebied af kom om in ’n bepaalde gebied te kom woon. |
siener | Iemand wat visioene sien of die toekoms kan voorspel. |
simbool | Voorwerp/woord/teken/ens. (wat sintuiglik waarneembaar is) as voorstelling van ʼn bepaalde begrip. |
sosiale orde | Die manier hoe ’n gemeenskap georganiseer word. |
sporadiese | Plek-plek, hier en daar, dan en wan, ongereeld, met tussenposes. |
tradisionele | Die manier hoe dinge in ’n gemeenskap deur baie jare gedoen is. |
verdoem | Om iemand te vervloek en tot ’n helse straf veroordeel. |
visioene | ’n Droomgesig, droombeeld, toekomsblik. |
voordeel | Om by iets te baat. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die Xhosa-beesuitwissing
Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die Xhosa-beesuitwissing
Oorsig oor die Xhosa-beesuitwissing
Wie was die Xhosas?
Die grensoorloë tussen die Xhosas en die Britte