Vinnige feite
- Bismarck se bynaam was die Ysterkanselier, vir sy beleid van realpolitiek en sy gebruik van “bloed en yster” om sy doel te bereik. 6
- Die kroning van Wilhelm I as keiser het die sogenaamde Tweede Ryk (in Duits: Zweites Reich) geskep. Die Eerste Ryk (in Duits: Erstes Reich) was Karel die Grote se Heilige Romeinse Ryk. Die Derde Ryk (in Duits: Drittes Reich) sou in die 1930’s deur Adolf Hitler geskep word. 4
- Die oorwinning oor Oostenryk het so vinnig gebeur, dat die oorlog die bynaam die Seweweekse Oorlog gekry het. 4
Dit is moeilik om te glo, maar in 1870 was daar nie ’n plek genaamd Duitsland nie. Die staat wat ons vandag as Duitsland ken, het eers op 18 Januarie 1871 tot stand gekom.
So wat was dié stuk land en sy mense dan voor 1871? Die mense wat daar gewoon het, was wel Duitsers, maar hulle was opgedeel in klein koninkryke, republieke en stadstate, elk met sy eie heersers en wette.
Die proses van unifikasie het geskied as gevolg van die opkoms van nasionalisme, drie oorloë en die invloed van Otto von Bismarck, een van die grootste staatsmanne van alle tye.
Geskiedenis voor die 19de eeu
Sedert die bewind van die beroemde keiser Karel die Grote (ook bekend as Charlemagne) in die jaar 800, was die land wat vandag as Duitsland bekendstaan, deel van die Heilige Romeinse Ryk. 1 Die Heilige Romeinse Ryk klink soos een groot land, maar dit was eintlik ’n versameling van honderde onafhanklike state en stede, en elkeen het homself in werklikheid geregeer. 2 En alhoewel die mense almal Germane was, het hulle nie juis ʼn gevoel van nasionale identiteit gehad nie.
Die Franse keiser Napoleon Bonaparte het dié gebied aan die begin van die 19de eeu verower en aan sy gesag onderwerp. Hy het die Heilige Romeinse Ryk ontbind. Om die klomp kleiner Duitse state (met ander woorde nie Oostenryk en Pruise nie) makliker te kan beheer, het Napoleon hulle in ’n Rynbond in verenig. 1
Elke staat van die Rynbond het sy eie heersers behou, wat onder toesig van die Franse regeer het. Dit was dus nie politieke unifikasie nie. Maar dit hét begin om grense tussen die Duitse state af te breek, en so bygedra tot die latere unifikasie. 3
Die Duitse Bond
Teen 1815 het die koningryk van Pruise – een van die twee groot Duitse state – as een van die magtigste state in Europa ontluik. Pruise het ’n sleutelrol in die finale oorwinning oor Napoleon gespeel. 1
Ná Napoleon verslaan is, is die Kongres van Wene in 1815 byeengeroep. Dié vergadering moes Europa se grense ná Napoleon se nederlaag van vooraf optrek. Daar is besluit om die Duitse Bond te stig, ’n statebond van 39 Duitse state, wat hierdie keer Pruise en Oostenryk ingesluit het. 1 Oostenryk was aanvanklik die magtigste staat in die Duitse Bond. 4
Dit was weer eens nie ’n politieke vereniging nie. Elkeen van die 39 state het onafhanklik gebly. 1
Die opkoms van nasionalisme
Die negentiende eeu was die era van die opkoms van nasionalisme in Europa. Terwyl Napoleon se Franse hul land beset het, het baie Duitsers begin besef hulle het ’n Duitse identiteit – wat anders was as die Franse identiteit van die mense wat oor hulle geheers het.
Mense het begin besef dat daar iets soos ’n Duitse mens was, teenoor ’n Franse mens of ’n Engelse mens. Duitse mense het ’n taal en tuisland in Sentraal-Europa gedeel, asook kuns, kultuur, tradisies en geskiedenis. Skrywers soos die beroemde Grimm-broers het stories oor hul antieke Duitse kultuur geskryf. Nasionaliste, met ander woorde daardie mense wat unifikasie wou hê, het onder meer letterkunde gebruik om ’n passie vir ’n verenigde Duitse nasie te skep. 2
Groot Duitsland of Klein Duitsland?
Die idee van ’n verenigde Duitsland het dus stadig maar seker onder Duitsers posgevat. Een van die groot vrae was egter of dit vir Oostenryk sou insluit.
Voorstanders van ’n Groter Duitse oplossing (in Engels: Greater German Solution) het aangevoer dat Oostenryk wél moes deel wees. Hulle was etnies en taalkundig aan Duitsers verwant. Die probleem was dat Oostenryk deel van die groot Oostenryk-Hongaarse Ryk was. Daardie ryk het mense van allerhande ander nasionaliteite in Suidoos-Europa ingesluit.
Daarom was daar diegene wat ’n Klein Duitse oplossing (in Engels: Lesser German Solution) oplossing wou hê, wat Oostenryk sou uitsluit. Dit is wat Pruise verkies het. As Oostenryk uit die weg geruim kon word, sou Pruise die dominante staat in ’n verenigde Duitsland wees. 1
Zollverein
In 1834 is die Zollverein of Duitse Doeane-unie (of Tolbond) geskep. Dit was ’n handelsooreenkoms tussen Pruise en ’n klomp ander Duitse state. Die doel was om handel te vergemaklik deur invoerbelastings tussen die state af te skaf. Oostenryk was nie deel van die Zollverein nie.
Die Zollverein het sy doel bereik: handel het gegroei en sodoende die ekonomiese integrasie van die state bevorder. 1 Dit was dus ’n soort ekonomiese unifikasie en ’n belangrike stap in die rigting van politieke unifikasie. Friedrich Wilhelm IV
1848: die jaar van die revolusie
In 1848 het daar liberale revolusies dwarsoor Europa uitgebreek. In ’n stadium het liberale leiers die koningskap van ’n verenigde Duitsland aan Friedrich Wilhelm IV, die koning van Pruise, aangebied.
Dit het egter nie uitgewerk nie. Die konserwatiewe leiers van Pruise was teen die liberales se demokratiese idees gekant. Oostenryk het dit ook ondermyn omdat dit húlle invloed bedreig het. Die droom om Duitsland in 1848 te verenig, het dus misluk. 1
Die situasie in die 1860’s
Pruise het intussen ekonomies gebloei. Die Zollverein het handel vergemaklik en winste opgestoot. Terselfdertyd het Oostenryk se ekonomie en industrieë agteruitgeboer. Pruise het nou meer steenkool en yster as Oostenryk geproduseer en meer treinspore gehad.
Oostenryk het ook buitelandse probleme ondervind. Hul bondgenootskap met Rusland was tot niet omdat hulle nie tydens die Krimoorlog (1854-’56) hulp aan Rusland verleen het nie. Oostenryk het ook beheer oor die noordelike deel van Italië verloor ná die unifikasie van Italië, wat teen 1861 tot ’n groot mate afgehandel was. 3
Die unifikasie van Italië het nóg ’n gevolg gehad: dit het nasionalisme in Duitsland, wat sedert 1848 gesluimer het, skielik laat ontwaak. Politici, die media en gewone mense het begin dink en praat oor unifikasie. 5 Meeste Duitsers – liberaal én konserwatief – was nasionalisties en het ’n verenigde Duitsland nagestreef. Die vraag was hoe dit tot stand sou kom. 2
Die aanstelling van Bismarck
Die argitek van Duitse unifikasie was Otto von Bismarck, ’n konserwatiewe politikus.
Toe Friedrich Wilhelm IV se broer en opvolger, Wilhelm I, in 1861 die Pruisiese troon bestyg het, wou hy Pruise moderniseer, dit ’n magtige moondheid maak, 1 die Duitse state onder Pruisiese beheer verenig en Oostenryk oorwin. 2
Om dit te kon doen, moes hy Pruise se weermag vergroot. Die Pruisiese parlement het egter geweier om vir hom fondse hiervoor te gee.
Om die parlement te help uitoorlê, het hy Bismarck as eerste minister aangestel. 6
Bismarck se plan was eenvoudig: ignoreer die parlement. Hy het volstoom begin om Pruise se militêre mag op te bou. 2
Bismarck en Pruise se rol in unifikasie
Bismarck was ’n voorstander van realpolitik. Dit was ’n politiese uitkyk wat idealisme verwerp het, en gesê het mens moet eerder mik vir praktiese doelwitte. Dit het ook basies beteken dat Bismarck bereid was om te doen wat ook al nodig was om sy doelwitte te bereik. 4
Bismarck het in 1862 ’n toespraak oor unifikasie gehou. In dié toespraak het hy gesê dat die unifikasie onder leiding van Pruise moes geskied. In sy eie woorde: “Duitsers kyk op na Pruise se mag. Pruise moet sy mag konsolideer en versterk tot die geskikte oomblik hom voordoen. Die belangrikste kwessies van ons tyd gaan deur yster en bloed beslis word.” 1
Daar is debat onder historici of Bismarck die proses van unifikasie fyn uitgewerk het, en of hy maar net geleenthede wat hulself voorgedoen het, aangegryp het. Ongeag van watter een waar is, oor die volgende tien jaar het hy Duitsland met ’n reeks oorloë en slim diplomasie na unifikasie onder Pruisiese leierskap gelei, net soos hy in sy toespraak van 1861 gesê het hy gaan doen. 1
Die oorloë van Duitse unifikasie
Unifikasie is deur ’n reeks oorloë wat in 1864 begin het, voltooi.
Duits-Deense oorlog van 1863-1864
Die eerste oorlog het ontstaan oor die kwessie van Sleeswyk-Holstein (in Duits: Schleswig-Holstein), twee verenigde hertogdomme wat tussen Duitsland en Denemarke geleë was. 1 Die hertogdomme is deur die Deense koning regeer, maar die mense was meestal Duits. 5
Bismarck het die Deense regering daarvan beskuldig dat hulle die Duitsers in Sleeswyk-Holstein mishandel het. 1 Hy het ’n alliansie met Oostenryk gesluit en oorlog verklaar. 5
Dit het gelei tot die baie kort Duits-Deense Oorlog. Die alliansie het maklik geseëvier. Die Vredesverdrag van Wene van 30 Oktober 1864 het die twee hertogdomme onder die gesamentlike beheer van Pruise en Oostenryk geplaas.
Nie Pruise óf Oostenryk was tevrede nie, en konflik tussen hulle het onafwendbaar gelyk. In 1865 is Sleeswyk onder Duitse beheer en Holstein onder Oostenrykse beheer geplaas, maar dit was net ’n tydelike oplossing. 5
Oostenryk-Pruisiese Oorlog van 1866
Buiten Sleeswyk-Holstein was daar ook die groter kwessie van heerskappy oor Duitsland. 5
Bismarck het geweet oorlog kom. Hy het Pruise se weermag opgebou. Hy het ook Oostenryk verswak deur te verseker dat moontlike bondgenote, soos Rusland, Frankryk en Italië, uit die stryd bly. 3
Oorlog het in 1866 uitgebreek. Pruise het in ’n kwessie van sewe weke, tussen Junie en Augustus 1866, ’n oortuigende oorwinning behaal. 5
Die oorlog het ’n paar belangrike gevolge gehad:
- Die Vredesverdrag van Praag het die Noord-Duitse Konfederasie geskep. Dit was ’n federasie van Noord-Duitse state onder Pruisiese leierskap. Die suidelike state was nie deel daarvan nie. 3
- Die kwessie van leierskap van ’n verenigde Duitsland is beslis. Pruise het geseëvier en Oostenryk het beloof om uit Duitse sake te bly. Klein Duitsland het gewen. Duitsland sou onder Pruisiese, nie Oostenrykse, leierskap verenig. 1
- Nasionalisme in Pruise en die ander Duitse state het gebloei. Selfs Bismarck se vyande, die liberale parlement, was so uitgelate oor hul militêre sukses, dat hulle beloof het om Bismarck te ondersteun. 2
Om te keer dat die Oostenrykers wrewelrig sou wees, het Bismarck aangedring op ’n eerbare vrede. 5 Die vredesbepalings was baie toegeeflik. 6
Aanloop tot die stryd met Frankryk
Die finale unifikasie het nog een oorlog nodig gehad.
Sommige suidelike en westelike Duitse state, soos Bavaria, het tot op hierdie punt Pruisiese oorheersing weerstaan. Bismarck het gehoop dat hy hulle deur oorlog met Frankryk kon oortuig om ’n alliansie te vorm. Dit sou hom in staat stel om Duitsland as een groot nasie te verenig. 1
Die Franse was ontvanklik vir oorlog. Napoleon III, die keiser van Frankryk, het gehoop dat die Oostenryk-Pruisiese Oorlog albei lande sou verswak. Pruise het egter sterker geword. Pruise was ’n bedreiging vir Frankryk en moes volgens Napoleon III ’n les geleer word. 5
Bismarck het, soos met Oostenryk, seker gemaak dat Frankryk nie ander bondgenote kon kry nie. Hy het Rusland en Italië oortuig om uit enige konflik te bly en was korrek in sy raaiskoot dat Brittanje uit die stryd sou bly. 3
Vir Bismarck se plan om te werk, moes Frankryk die aggressor in die oorlog wees. Dit sou lei tot die opwelling van Duitse nasionalisme – iets wat hy nodig gehad het om die ander Duitse state by Pruise in te lyf. 1
Die Ems-telegram
In 1870 is die onbesette Spaanse troon aan ’n Duitse prins aangebied. Frankryk was bekommerd oor ’n moontlike bondgenootskap tussen Spanje en Duitsland. 6 Die Franse ambassadeur het vir Wilhelm I by ’n oord in die dorpie Ems ontmoet. 5
Wilhelm het ’n verslag van die ontmoeting aan Bismarck gestuur. Bismarck het die verslag verkort, maar op só ’n manier dat dit gelyk het of Wilhelm en die Franse ambassadeur mekaar beledig het. Hy het sy verkorte weergawe, wat later as die sogenaamde “Ems-telegram” bekend sou staan, vir die koerante gegee. 7
Toe dit gepubliseer is, was die Franse publiek verontwaardig. Bismarck se wens het waar geword. 1 Frankryk het die telegram as voorwendsel gebruik om op 19 Julie 1870 oorlog te verklaar. 6
Napoleon III het gehoop dat ander Europese nasies by hom sou aansluit. Bismarck se werk agter die skerms, en die indruk dat Frankryk die aggressor was, het hulle egter uit die stryd gehou. Dit was dus slegs Frankryk teen Pruise. 2
Frans-Pruisiese Oorlog van 1870-1871
Die oorlog was vir Frankryk ’n ramp. Die goed georganiseerde Pruisiese weermag het die Franse magte oordonder. Napoleon III is binne ses weke gevange geneem.
Hierna het die Franse ’n republiek verklaar. Pruise het Parys beleër, en Frankryk het op 28 Januarie 1871 oorgegee. 6
Die Frans-Pruisiese Oorlog het amptelik met die Vredesverdrag van Frankfurt op 10 Mei 1871 geëindig. Elsas-Lotaringe, twee Franse provinsies, is aan Duitsland afgestaan. Frankryk moes ’n reusebedrag in herstelkoste betaal. 3
Unifikasie word voltooi
Hierna het nasionalisme en die blydskap van oorwinning die laaste deel van die unifikasie vinnig laat geskied. 5
Soos Bismarck gehoop het, het die oorblywende Duitse state tydens die oorlog by Pruise aangesluit. 1 Hy het met hulle oor unifikasie begin onderhandel. 5
Op 18 Januarie, terwyl die beleg van Parys aan die gang was, is Wilhelm I in die Spieëlkamer van die paleis van Versailles as Duitse keiser gekroon. 1 Die suidelike state en die Noord-Duitse Konfederasie het verenig. 5 Bismarck het sy doel bereik. ’n Verenigde Duitse ryk, gelei deur Pruise, is geskep. 6
Die impak van Duitse unifikasie
Duitsland was nou ’n magtige, nasionalistiese, verenigde Duitse Ryk. 5 Hierdie staat het Frankryk en Brittanje se status as leidende Europese moondhede uitgedaag.
Dit het geweldige gevolge vir Europa gehad.
- Die magsbalans in Europa wat sedert die Weense Kongres van 1815 geskep is, was vernietig.
- Bismarck was bang dat Frankryk sou wraak neem ná die vernedering van die oorlog en die verlies van Elsas en Lotaringe. Daarom het hy ’n reeks alliansies met ander Europese state geskep om Duitsland veilig en Frankryk geïsoleerd te hou. 1 Die probleem was dat die alliansiestelsel wat Bismarck geskep het, vir Bismarck nodig gehad het. Toe ’n nuwe keiser, Wilhelm II, vir Bismarck in 1890 ontslaan het, het die stelsel inmekaar begin stort. 2 Spanning het daarna opgebou.
- Oostenryk se loesing in 1866 het die agteruitgang van die Oostenryk-Hongaarse Ryk versnel. Dit het tot spanning in die Balkan, ’n gebied wat deur daardie ryk beheer is, gelei. 1 Dit was juis in die Balkan waar die Eerste Wêreldoorlog van 1914 sou uitbreek.
Woordbank
af te skaf | Om met iets weg te doen of daarvan ontslae te raak. |
aggressor | Iemand wat eerste aanval. |
agter die skerms | Dit wat gebeur wat die publiek nie sien nie. |
agteruitgeboer | Om nie sukses te hê nie, misluk. |
alliansie | Vereniging/verbond tussen mense/volke; bondgenootskap. |
ambassadeur | Die hoofverteenwoordiger van ’n staat by/in ’n ander staat. |
antieke | Ou Griekse of Romeinse tyd. |
argitek | Die persoon wat iets ontwerp (idees/planne). |
Balkan | Die gebied in die suidooste van Europa. |
beledig | Aanmerking of optrede wat iemand aanstoot gee en sy of haar eer aantas. |
beleër | Met ʼn leër omsingel met die doel om tot oorgawe te dwing. |
beset | Met geweld oorneem/inneem; in besit neem. |
beslis | Bepaal; uitspraak gee. |
bewind | Dis die bestuur of regering. |
bondgenootskap | Vereniging of verbond tussen mense/volke. |
debat | Bespreking op ’n vergadering van die voor- of nadele van ’n saak; gedagtewisseling of ’n rede, bv. in ’n parlement. |
diplomasie | Wanneer jy op taktvolle wyse met iemand kan onderhandel. |
dominante | Wat die meeste gesag afdwing. |
eenvoudig | Maklik om te verstaan. |
ekonomiese | Wat te doen het met die stelsel waarin die handel, produksie, ens. van ’n land verkeer. |
era | ’n Tydperk in die geskiedenis. |
etnies | Wat met die mense van ’n bepaalde volk/nasie/stam/ens. en hul gewoontes en tradisies verband hou. |
federasie | Bond van samewerkende regerings. |
gebloei | Goed ontwikkel en kragtig/suksesvol word. |
geïsoleerd | Toestand om afgesonderd te wees. |
gepubliseer | Inligting, ʼn verhaal, gedigte, ens. in ʼn boek/tydskrif/ens. laat druk sodat mense dit kan lees. |
Germane | Oorspronklike bewoners van Germanië (tussen die Ryn- en Elberivier); Lede van die Germaanse ras (Nore, Swede, Nederlanders, Engelse, ens.); Duitsers. |
geseëvier | ’n Oorwinning behaal. |
gesluimer | Om nie wakker te wees nie. |
heerskappy | Tydperk waartydens iemand of iets heers. |
Heilige Romeinse Ryk | Groot ryk in die middel van Europa wat bestaan het vanaf die Middeleeue tot die begin van die negentiende eeu. |
herstelkoste | Skadevergoeding (gewoonlik geld) wat deur ’n oorwonne land aan die oorwinnaar betaal word. |
hertogdomme | ’n Stuk land wat deur ’n hertog (’n adellike of iemand van die hoogste stand) beheer word. |
idealisme | Die idee dat jy volgens hoë standaarde en beginsels moet leef. |
in te lyf | Om as deel van ʼn groep of gemeenskap opgeneem te word. |
industrieë | Gesamentlike bedrywe wat grondstowwe of halfverwerkte stowwe tot gebruiksgoedere verwerk; nywerheid; vervaardigingsbedryf. |
integrasie | Wanneer ’n groep mense deel van ’n ander groep word en die twee groepe mekaar aanvaar. |
invoerbelastings | Wanneer jy belasting betaal as jy goedere van ’n ander land na jou land toe laat kom. |
keiser | ’n Man (hoër as ’n koning) wat oor ’n hele groep lande regeer. |
konflik | Stryd/botsing/rusie tussen mense/groepe/partye/lande. |
konserwatiewe | Wat nie hou van verandering of nuwe idees nie; behoudend. |
konsolideer | Om iets te versterk deur dit byeen te bring. |
Krimoorlog | Die oorlog wat in 1853 tussen die Turkse Ryk en Rusland uitgebreek het. |
kultuur | Mense se manier van leef, en die dinge wat hulle elke dag doen en dink. |
letterkunde | Kuns in geskrewe vorm, wat poësie, prosa en drama insluit. |
liberale | Vrydenkend. ’n Liberalis is iemand wat oop is vir ander/nuwe idees. |
magsbalans | Wanneer lande almal omtrent ewe sterk is. |
media | Al die verskillende vorms (koerante, tydskrifte, radio, televisie, die internet ensovoorts) waardeur nuus en inligting versprei word. |
moondheid | Onafhanklike, dikwels invloedryke, welvarende land. |
nasionale identiteit | Dis die gevoel van ’n nasie as ’n samehangende geheel, soos verteenwoordig deur eiesoortige tradisies, kultuur en taal. |
nasionalisme | Liefde vir jou eie volk of nasie. |
nasionaliteite | Die land waaraan jy behoort. |
onafhanklik | Vry, selfstandig, om nie onderdanig te wees nie – wanneer ʼn land sy eie besluite kan neem. |
onafwendbaar | Iets wat nie gekeer of vermy kan word nie. |
onbesette | Waar daar nie iemand is nie; leë. |
ondermyn | Heimlik iemand of iets se posisie verswak. |
onderwerp | Om iemand/ʼn regering se gesag te erken, veral wanneer jy geen keuse het nie. |
ontbind | Ophou om te bestaan. |
ontluik | Ontwikkel, te voorskyn kom. |
ontslaan | Om iemand van sy posisie te ontneem. |
ontvanklik | Om oop en vatbaar te wees vir nuwe goed. |
oord | ’n Plek waarheen mense gaan om vakansie te hou. |
oordonder | Om baie sterker as iemand anders te wees. |
opwelling | Opkoms van ʼn gedagte; opbruising. |
parlement | Dis ’n liggaam in ’n demokratiese bestel, wat dikwels uit twee huise bestaan. Dit is die liggaam wat verantwoordelik is daarvoor om wette te maak. |
politieke | Dit verwys na die bedrywighede waardeur mag in die openbare lewe verkry word. |
politikus | Iemand wat hom/haar met politiek bemoei of dit as beroep beoefen; staatsman, staatkundige. |
posgevat | Wortelgeskiet, gegroei, inslag gevind. |
praktiese | Wat te doen het met die werklike situasie. |
publiek | Al die mense saam wat ʼn gemeenskap vorm. |
realpolitik | As jy jou politieke beleid op die werklikheid, eerder as ideale, berus. |
republieke | ’n Regeringsvorm waarby die oppergesag by stemgeregtigde burgers berus. |
revolusies | ʼn Groot en belangrike ontwikkeling wat heeltemal anders is as enigiets wat dit voorafgegaan het. |
Rynbond | Alliansie/bondgenootskap van verskeie Duitse state. |
sleutelrol | Hoofrol, baie belangrike rol. |
Spieëlkamer van Versailles | ’n Groot en beroemde saal in die voormalige Franse koninklike woning en sentrum van die regering, nou ’n nasionale landmerk. |
staatsmanne | Politici. |
stadstate | State wat uit een stad bestaan. |
statebond | Vereniging van state tot ʼn bond van so ʼn aard dat elke staat grotendeels selfstandig bly; federasie; gemenebes. |
status | Plek/posisie/stand. |
toegeeflik | Iemand wat bereid is om ander tegemoet te kom en te help. |
tot stand gekom | Iets verrig, uitvoer, regkry, volvoer, begin. |
tradisies | Oorgelewerde sedes, gewoontes, kultuurwaardes van ’n volk. |
troon | Setel van ’n vors of vorstin. |
uitoorlê | Om iemand op ʼn slim of slinkse manier te klop. |
unifikasie | Samevoeging in ’n unie. |
uitgelate | Vrolik, opgewek. |
verontwaardig | Ergernis; ontevredenheid; misnoeë. |
volstoom | Kliphard, ywerig, een stryk deur, sonder ophou, kragdadig, toegewyd |
voorstander | Iemand wat iets voorstaan; pleitbesorger; verdediger; beskermer; aanhanger. |
voorwendsel | ’n Vals ekskuus, gebruik om die ware rede vir iets weg te steek. |
weerstaan | Om teen iets te veg. |
wrewelrig | Ergernis, ontevredenheid. |
yster en bloed | Dit beteken dat krag en sterk militêre mag die belangrikste faktor in iets is. |
Ysterkanselier | Bismarck se bynaam wat aan hom gegee is omdat hy so sterk (soos yster) opgetree het. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die unifikasie van Duitsland
- Die unifikasie van Duitsland het ’n nuwe Duitse staat geskep. Lees meer oor Duitsland
- Otto von Bismarck was bekend as die Ysterkanselier
- Die unifikasie van Duitsland
Kyk hierdie video’s om nog meer te weet
Hoe het die Heilige Romeinse Ryk opgebreek?
Wie was Otto von Bismarck?
Die unifikasie van Duitsland en Italië