Vinnige feite

  • Daar was in 1922 ses groot mynkorporasies in Suid-Afrika wat werk aan 200 000 werkers gegee het. Ongeveer 20 000 van hulle was wit mense. 10
  • Die Kamer van Mynwese is in 1887 gestig en dit was die gesamentlike stem vir die mynmaatskappye.
  • In Desember 1921 was die Kamer van Mynwese van plan om die wit werksmag met ongeveer die helfte te verminder. Hulle het op 3 Januarie 1922 grootskaalse afleggings van wit mynwerkers aangekondig. Die mynwerkers het oor ’n staking gestem en tussen 12 000 en 13 000 was ten gunste van ’n staking en 1 336 daarteen.
  • Voordat bomme uit vliegtuie tydens die staking laat val is, het vliegtuie eers kennisgewings laat val om burgers te versoek om uit die omgewing te beweeg. Die bomme het ook geboue getref wat nie deur stakers beset was nie.
  • Die Cape Times-koerant se hoofopskrif tydens die Maart 1922-onluste was: “Civil war on the Rand”.
  • Daar was mynwerkers wat steeds tydens die 1922-staking wou werk. Hulle is as “onderkruipers” uitgejou en van hulle is selfs aangeval. Daar was ’n aantal moorde tydens die staking op swart mense, polisielede en ander mense wat daarteen gekant was.
  • Die staking het tot ’n wetgewing gelei wat stakings vir noodsaaklike dienste onwettig gemaak het. Dit het die grondslag vir arbitrasieprosedures gelê in die geval van ’n geskil tussen werkgewers en werknemers. 9
  • In die vroeë 1900’s was mynbou ’n baie gevaarlike werk. In die dekade ná 1902 het ongeveer 50 000 swart mynwerkers in ongelukke gesterf. Duisende mense is ook beseer en/of het siektes in myne opgedoen. 7
  • Het jy geweet dat stakings deur werkers niks nuuts is nie? Daar was al stakings in antieke Egipte. Daar is ook bewyse van stakings tydens die Middeleeue.
  • Die grootste staking in wêreldgeskiedenis het op 8 Januarie 2020 plaasgevind toe ongeveer 250 miljoen mense in Indië gestaak het. Die staking wat 24 uur geduur het, het nywerhede en die bank-, vervoer- kleinhandel-, konstruksiesektore lamgelê. 8

Soms raak werkers vies vir hul werkgewers en dan weier hulle om te werk totdat daar aan hul versoeke gehoor gegee word. Gewoonlik vra die werkers vir ’n groter salaris of beter werksomstandighede. ’n Mens noem dit ’n staking.

’n Staking is dus wanneer werkers weier om met hul werk voort te gaan, veral om beter diensvoorwaardes te probeer verkry.

Baie lank gelede was daar ’n grootskaalse staking in Suid-Afrika en dit was so erg dat dit ’n groot krisis in die land veroorsaak het. Dit was die 1922-mynstaking wat ook die Randrebellie genoem word. In Engels praat hulle van die Rand Rebellion, die Rand Revolt of die Red Revolt.

Hierdie staking het ’n groot impak (uitwerking) gehad, want dit is as ’n kleinskaalse burgeroorlog beskryf toe nagenoeg 10 000 wit mynwerkers op polisiekantore, spoorlyne en myngeboue in en om Johannesburg toegesak en dit begin vernietig het. Die regering moes magte na Johannesburg en omgewing stuur om die situasie te ontlont. 1

’n Kruitvat ontplof

Die wêreld het baie moeilike ekonomiese tye ná die Eerste Wêreldoorlog beleef en Suid-Afrika was nie daarvan kwytgeskeld nie. Die Anglo-Boereoorlog se nagevolge was ook nog daar en duisende mense moes van die platteland na die stede en dorpe trek. Baie Afrikaanse boere het hul plase verloor en moes sonder enige kwalifikasies werk soek. Hulle moes by myne met swart werkers vir dieselfde werk meeding en dit het groot konflik veroorsaak.

Die werksomstandighede op die myne was boonop swak en mense is min betaal. Afrikaners het ook gevoel asof hulle altyd aan die agterspeen suig, want al die mynbase en owerhede was Engels en daar was ná die oorloë nog ’n groot bitterheid teenoor die Britte. Ons kan dus sê dat daar ’n teelaarde vir konflik bestaan het.

Daar was ook in die vroeë 1900’s verskeie stakings wat die grondslag vir die groot 1922-staking gelê het.

Wit mynwerkers het reeds in 1913 al gestaak omdat hul vakbonde nie erken is nie. [Lees oor vakbondwese.] Daar was toe al chaos, want brandstigting en plundertogte het voorgekom en die polisie en die weermag het gesukkel om die onluste te onderdruk.

Daar was net vir ’n rukkie vrede, want slegs ’n jaar later was daar weer ’n staking op die steenkoolmyne. Kort voor lank het werkers by die spoorweë en hawens ook begin staak en het dit in ’n algemene staking ontaard. 1

Dit was egter nie die ergste staking nie, want die gewelddadigste staking deur wit mynwerkers was net om die draai. Dié staking het in Januarie 1922 begin en met tussenposes tot Maart geduur.

Die jare twintig was moeilike tye in Suid-Afrika. Daar het tussen 1917 en 1920 ’n weghol-inflasie geheers – alles het vinnig baie duur geword. Dit was so erg dat basiese produkte soos brood en melk se pryse met 50% gestyg het. Daar is beraam dat daar ongeveer 3 000 gesinne op die rand van hongersnood in Johannesburg was.

’n Erge droogte het die sukkelende ekonomie vererger en die land was nog besig om te herstel ná die 1918-grieppandemie (ook bekend as die Spaanse Griep), waartydens ongeveer 300 000 mense dood is. 2

Tussen Februarie en Desember 1920 het die goudprys van 130 sjielings (₤6,5) na 95 sjielings (₤4,75) 3 per ons geval. In daardie tyd was 20 sjielings gelyk aan een pond. 1920 se 130 sjielings of ₤6,5 gelyk aan sowat ₤371,70, oftewel R8 794 in 2024. 4

Die mynowerhede het besef dat hulle dringend produksiekoste moes sny om nie ’n groot verlies te ly nie. Hulle het besluit om ongeveer 10 000 wit myners en duisende swart mense te laat gaan. Die Kamer van Mynwese het ook besluit om arbeidskoste te sny deur meer swart werkers in diens te neem. Dit was in daardie jare ’n diskriminerende bestel en alle rasse is nie dieselfde behandel nie. Dit was byvoorbeeld goedkoper vir die myne om swart werkers te gebruik, want wit werkers se lone was hoër. 5

Wit mynwerkers was baie kwaad en onderhandelings tussen hul vakbond en die Kamer van Mynwese het geen vrugte afgewerp nie. Sogenaamde staakkommando’s is georganiseer deur komitees wat hoofsaaklik uit Afrikaners bestaan het.

Op ’n massavergadering vroeg in Februarie 1922 is daar selfs besluit om die regering met geweld omver te werp en ’n republiek uit te roep.

Dit was ook nie net wit mynwerkers wat ’n nuwe bestel gesoek het nie. Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party was ’n nuut gestigte party en die kommuniste het die staking probeer oorneem.

’n Donker dag in die geskiedenis

In Maart 1920 het emosies begin oorkook en op 6 Maart 1922 is daar ’n algemene staking uitgeroep. Teen daardie tyd het die steenkoolwerkers in die Laeveld reeds 65 dae gestaak, terwyl mynwerkers aan die Witwatersrand vir 55 dae gestaak het.

Johannesburg was in daardie stadium die hart van die goudproduksie in die land en die stad is in chaos gedompel toe geweld uitgebreek het. Mense is in die strate aangerand en swart mynwerkers is aangeval. Sabotasie en vandalisme het plaasgevind. Telefoondrade is afgesny, motors is omgegooi, ’n spoorlyn is opgeblaas en selfs polisiestasies is deur stakers omsingel.

Die eerste minister van die Unie van Suid-Afrika was in daardie stadium Jan Smuts en hy is wyd gekritiseer vir die manier hoe hy die situasie hanteer het. Hy het op 10 Maart ’n krygswet afgekondig en regeringsmagte ontplooi. Die stakers het spottenderwys na die krygswet as Martjie Louw (Martial Law) verwys. 6

Jan Smuts

As ’n krygswet afgekondig word, beteken dit dat gewone wette nie meer geld nie. Die militêre owerhede mag dan oortreders na goeddunke in hegtenis neem en straf. Die krygswet het ook nie net in Johannesburg en omgewing gegeld nie, maar is ook in Pretoria, Klerksdorp, Potchefstroom, Bethal, Ermelo, Heidelberg (in Gauteng, vroeër Transvaal) en Standerton afgekondig.

Daar was hewige gevegte tussen die stakers en die owerhede. Die regering het tenks en vliegtuie gestuur en stakers is gebombardeer. Die oproer het eers op 14 Maart ten einde gekom. Twee kommunistiese leiers, Percy Fisher en Henry Spendiff, wou hulself nie oorgee nie – hulle het in Fordsburg (in Johannesburg) selfdood gepleeg. 7

Die staking is uiteindelik deur die vakbonde op 17 Maart 1922 afgelas, maar die verliese was toe al enorm. Daar is 43 lede van die leër dood, 29 polisiebeamptes en 81 burgerlikes met meer as 650 mense wat beseer is. Daar is aanklagte teen 853 mense aanhangig gemaak – 46 mense is van moord aangekla en 18 mense is ter dood veroordeel. Daar was egter groot ontevredenheid daaroor en uiteindelik is vier mense, C.C. Stassen, S.A. Long, H.K. Hull en J.D. Lewis, gehang. 1

Die staking het nie beteken dat die werkers beter daaraan toe was nie; inteendeel, die lone van werkers is verminder en wit werkers is vinnig deur swart werkers vervang. Dit was ook sleg vir swart mense, want hulle sou in die komende jare in swak werkomstandighede met swak lone vasgevang wees.

Tussen 1918 en 1921 was daar agt swart mense teenoor een wit mens in die myne, terwyl daar tien swart mense vir elke wit mens vanaf 1923 tot 1926 was.

’n Politieke nederlaag

Genl. Jan Smuts was die leier van die Suid-Afrikaanse party (die Sappe) en het in 1919 die eerste minister van die land geword. Hy was ’n baie gewilde staatsman, maar hierdie gewildheid het gou afgeneem met die staking. Baie van die stakers was Afrikaans en hulle is deur Boerekommando’s bygestaan en daarom is Smuts se hantering van die saak gesien as verraad teen sy eie mense. Die leier van die Nasionale Party, J.B.M. Hertzog, het gesê “Smuts se voetstappe het van bloed gedrup”.

Smuts se hantering van die staking het uiteindelik gelei tot ’n mislukte verkiesing vir sy party en gevolglik was die verkiesing op 19 Junie 1924 ’n ramp. Die Nasionale Party het saam met die Arbeidersparty ’n meerderheid van 29 setels behaal en dit het ’n oorwinning beteken.

Hertzog het die nuwe eerste minister van die land geword. 7

J.B.M. Hertzog

Woordbank

aan die agterspeen suig  Aan die kortste end trek; nie die nodige aandag kry nie.
arbitrasie Die beslissing van ’n geskil deur onpartydige mense.
bestel   Die politieke stelsel wat op ‘n sekere tyd gebruik word; regeringsbeleid.
burgeroorlog     Oorlog tussen burgers van dieselfde staat.
geskil ’n Twis of onenigheid.
Kommunisme ’n Ekonomiese of politieke stelsel waarin die staat alle eiendom, industrieë en ekonomiese instellings besit en beheer, en probeer om alle mense gelyk te behandel.
krygswet Wanneer gewone wette nie meer geld nie. Die militêre owerhede mag oortreders na goeddunke in hegtenis neem en straf.
onluste Voorvalle van burgerlike onrus of oproer.
ontlont Wanneer ’n dreigende of gevaarlike situasie voorkom/gekeer word of spanning verminder of wegneem.
sabotasie Opsetlike versteuring van arbeidstoestande of arbeidsverhoudinge deur die beskadiging of vernieling van masjinerie of gereedskap by werkstaking; vernietiging, verwoesting.
staking Wanneer werkers weier om met hul werk voort te gaan, veral om beter diensvoorwaardes te probeer verkry.
teelaarde Die regte omgewing word vir iets geskep.
vakbonde ’n Vereniging van mense wat die belange van hul lede behartig.
vandalisme Woeste, barbaarse vernietiging; vernielsug.
vrugte afgewerp  Van nut wees; voordelig; suksesvol. 11

Lees hierdie artikels om meer oor die staking te leer

Kyk hierdie video’s om meer te leer

Wat is vakbonde?

Uit die argief – Die onluste van 1922

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 20 Februarie 2023 | Bygewerk op 23 Januarie 2024