Vinnige feite
- In 1963 het ‘n koordloper genaamd Horst Klein ontsnap toe hy ʼn stywe kabel as koord gebruik en oor die muur gestap het. 7
- Die laaste mens wat tydens ʼn ontsnappoging gesterf het, was ʼn jong Oos-Duitser. Hy het in 1989 met sy lugballon in kragdrade ingevlieg. 7
- Daar was meer as ʼn miljoen landmyne en sowat 3 000 uitgehongerde honde om te help om die muur te beskerm. 8
- Volgens die Sentrum vir Navorsing oor Kontemporêre Geskiedenis in Potsdam en die Berlynse Muur-gedenkterrein en -dokumentasiesentrum is minstens 138 mense doodgeskiet, noodlottig gewond of het selfdood gepleeg ná mislukte ontsnappings oor die Berlynse Muur. 9
- Die eerste slagoffer was Ida Siekmann, wat op 22 Augustus 1961 gesterf het nadat sy probeer het om uit haar Oos-Berlynse woonstelvenster op die vierde verdieping na ʼn Wes-Berlynse straat te spring.
Verbeel jou jy word een oggend wakker en iemand het ʼn reusagtige muur in die straat voor jou huis gebou. Hierdie muur verdeel jou hele dorp of stad in twee dele en sluit jou van alles en almal aan die ander kant af: jou familie, vriende, skool en selfs winkels. Vir die volgende 28 jaar mag jy nooit die ander kant van die muur besoek nie! Onthou, dit was die dae voor selfone, so jy kon nie eens met iemand aan die ander kant van die muur gepraat het nie!
Tussen 1961 en 1989 was dít die nare werklikheid vir die inwoners van Berlyn, die hoofstad van Duitsland. Tussen die ooste en die weste van die stad was daar ʼn muur. Dit was nie ʼn simboliese muur nie, maar ʼn regte muur wat byna oornag opgerig is uit doringdraad en later bakstene en sement. Daar was groot uitkyktorings waarin wagte (soldate) met gewere seker gemaak het niemand probeer ontsnap (oor die muur klim) nie. As jy dit sou waag, sou jy voor die voet geskiet word!
Die Berlynse Muur is een van die simbole, tekens of gevolge van die Koue Oorlog. Dit was ʼn onnatuurlike, gedwonge verdeling wat mense op grond van verskillende ideologiese en politieke idees geskei het.
Die verdeling van Duitsland
In die laaste maande van die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) is Duitsland van twee kante af ingeval: die Westerse magte, insluitende troepe van die Verenigde State van Amerika (VSA) uit die weste, en die Sowjetunie (vandag noem ons dit Rusland) uit die ooste. Hulle het mekaar êrens in die middel van Duitsland ontmoet en Duitsland het op 7 Mei 1945 oorgegee. Dit was die einde van Adolf Hitler se Naziparty se jare lange stryd om die wêreld te probeer oorheers.
Die seëvierende magte – die VSA, Sowjetunie, Brittanje, Frankryk – moes nou besluit wat om met Duitsland te doen. Dié vraag sou by die vredeskonferensies van Yalta en Potsdam beantwoord word. 1
Dit het gou duidelik geword dat die twee grootste magte (lande met die sterkste en grootste weermag) – die VSA en die Sowjetunie – verskillende idees gehad het oor hoe Duitsland regeer moes word. Die VSA wou ’n demokratiese, kapitalistiese Duitsland skep, terwyl die Sowjetunie ʼn kommunistiese Duitsland wou skep.
Toe hulle nie kon saamstem nie, het hulle Duitsland in vier sektore of dele opgedeel. Die Sowjetunie, VSA, Brittanje en Frankryk het elkeen ʼn sektor gekry om te beheer. Berlyn, die Duitse hoofstad, was binne die deel wat onder die Sowjetunie se beheer was. Daar is besluit dat dié stad, soos die res van Duitsland, in vier opgedeel word en dat die vier lande of moondhede saam die septer hiér sou swaai. 2
Die spanning bou op
Die vier lande het egter nie langs dieselfde vuur gesit nie en teen 1947 het die samewerking in duie gestort. Die drie Westerse sektore (VSA, Brittanje en Frankryk) het besluit om kragte saam te snoer en hul sektore in een te verenig. 3 Hulle het ʼn nuwe geldeenheid, die Deutsche Mark, geskep, wat die Sowjetunie rooi laat sien het. Die Sowjetunie onttrek aan die gesamentlike regering. 1 Berlyn was soos ’n kapitalistiese eiland binne-in Oos-Duitsland en dit was nie vir die leiers van die Sowjetunie aanvaarbaar nie. 4
Die Berlynse Blokkade en Lugbrug
In 1948 het die Sowjetunie die Westerse magte uit Berlyn probeer verdryf. Hulle het alle toegang tot die stad (paaie, riviere en kanale) gesluit in wat later as die Berlynse Blokkade bekend sou staan. Die doel was om die mense uit te honger en die Weste te dwing om uit Wes-Berlyn te onttrek. Die Westerse magte het ʼn slim plan beraam en ʼn lugbrug begin. Dié lugbrug was vliegtuie waarmee die Weste vir meer as ʼn jaar lank kos, brandstof en ander noodsaaklike produkte na Wes-Berlyn vervoer het. Die Sowjetunie het die blokkade in 1949 afgeskaf. 5
Twee Duitse state
Teen 1949 was Duitsland in twee state verdeel:
- Wes-Duitsland was ʼn demokratiese, kapitalistiese staat, deel van die Weste en bondgenoot van die VSA en Brittanje. 5 Dit is die Bondsrepubliek Duitsland (BRD) genoem. 3
- Oos-Duitsland was ʼn kommunistiese staat, deel van die Oosblok en onderworpe aan die Sowjetunie se gesag. 5 Dié deel is die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) genoem. 3 Oos-Duitsland is deur die Sozialistische Einheitspartei Deutschlands (Duitse Sosialistiese Eenheidsparty of die SED) regeer. 1
Verskille tussen Oos- en Wes-Duitsland
Die Oos- en Wes-Duitsers se leefwyse en omstandighede het gou soos dag en nag begin verskil. In Wes-Duitsland het die kapitalistiese ekonomie in die eerste paar jaar só sterk gegroei dat sommige mense daarna as ʼn “ekonomiese wonderwerk” verwys het. Wes-Duitsers het hoë lewenstandaarde, volop verbruikersprodukte en allerlei vryhede gehad, soos die reg om na ander lande te reis.
Oos-Duitsland was net mooi die teenoorgestelde. Die Sowjetunie het die land kaal gestroop van alles wat waardevol was. Fabrieke is baksteen vir baksteen afgebreek en na die Sowjetunie gestuur. 4 Kommunisme het die ekonomie verwoes en armoede het drasties toegeneem. Lae lone en hoë voedselspryse het tot stakings gelei wat Oos-Duitsland lamgelê het. Geskoolde werkers soos dokters, onderwysers en ingenieurs het in hul honderde en later duisende na Wes-Duitsland gevlug. Dit het gelei tot arbeidstekorte. 3 Mense se persoonlike vryheid is onderdruk, en hulle kon byvoorbeeld nie sonder toestemming (wat nie sommer toegestaan is) na ander lande reis nie. 4
Om te keer dat so baie geskoolde werkers die hasepad kies, het die SED die grens tussen die BRD en DDR in 1952 gesluit. Die grens in Berlyn het egter oopgebly. 2 In 1953 het die SED mense se werksure vermeerder én die pryse van produkte opgestoot. Dit het tot ʼn groot opstand gelei. Die Sowjetunie het die opstand met geweld onderdruk, maar die mense se ontevredenheid het net toegeneem. 1
Aanloop tot die krisis
Teen die einde van die 1950’s het die spanning internasionaal opgebou. Die Sowjetunie het in 1957 die wêreld se eerste satelliet gelanseer en sodoende die voortou in die sogenaamde ruimtewedloop geneem. Die Sowjetunie het gemeen dat hulle koning in die Koue Oorlog begin kraai.
Derduisende mense het van Oos-Duitsland na Berlyn gestroom om deur Wes-Berlyn na die Weste te ontsnap. 5 Tussen 1949 en 1961 het bykans 3 miljoen mense (uit ʼn Oos-Duitse bevolking van 8 miljoen) uit Oos-Duitsland gevlug. 4
Die getalle het bly toeneem. In Junie 1961 het 19 000 mense die DDR verlaat en in die volgende maand nog 30 000. In die eerste 11 dae van Augustus het 16 000 Oos-Duitsers die grens oorgesteek, en op 12 Augustus nog 2 400, die grootste getal in een dag. 5
Dié grootskaalse uittog het nie net beteken dat Oos-Duitsland minder werkers gehad het nie, maar dit was vir die Sowjetunie ’n vernedering. Hulle het wyd en syd verkondig dat lewe in die kommunistiese Oos-Duitsland beter as dié in Wes-Duitsland was. Die reuse-aantal vlugtelinge uit Oos-Duitsland het egter die teendeel bewys.
‘Niemand beplan om ’n muur te bou nie’
Walter Ulbricht, die leier van die DDR, het twee maande voor die Berlynse Muur opgerig is, gesê: “Niemand hat die Absicht eine Mauer zuerrichten.” Dit beteken: “Niemand het enige voorneme om ’n muur te bou nie.” Hy wou mense gerusstel, maar dit het die teenoorgestelde gevolg gehad: die vlugtelinge het vermeerder. Ná die aankondiging het daar gereeld gerugte versprei dat die grens tussen Oos- en Wes-Berlyn versterk sou word. Niemand het egter verwag dat die muur só vinnig opgerig sou word nie. 4
Die Berlynse Muur verrys
Op 12 Augustus het Nikita Kroestsjof, die leier van die Sowjetunie, die Oos-Duitse regering toestemming gegee om die vloei van vlugtelinge te keer deur die grens permanent te sluit. 5 Die Oos-Duitsers was slaggereed. Kort ná middernag op 13 Augustus het vragmotors vol soldate en konstruksiewerkers die strate begin gereed maak. Hulle het ʼn versperring met pale en doringdraad gebou. Telefoondrade en treinspore is geblok. 4 Die soldate het die afgesperde gebied, waar die muur eindelik opgerig sou word, gepatrolleer. 3
Om eenuur die oggend het die SED oor die radio aangekondig dat hulle ʼn vaste grens tussen Oos- en Wes-Berlyn sou oprig. Die grens sou slegs met spesiale toestemming oorgesteek kon word. 1
In die twee weke daarna het die Oos-Duitse polisie, weermag en vrywilligers ʼn tydelike muur met sementblokke begin bou. Die muur se doel was eenvoudig: sny die een kant van die stad heeltemal van die ander kant af. 5
Impak op mense in Oos-Duitsland
Skielik was die oop grens tussen Oos- en Wes-Berlyn gesluit. 4 Voor die muur opgerig is, kon mense vrylik in die stad rondbeweeg. Treine en busse het van oos na wes gery. Mense van die oostekant van die stad kon na winkels in die westekant gaan, rolprente gaan kyk, en operas en sportbyeenkomste bywoon. 5
Eensklaps kon mense glad nie meer aan die ander kant kom nie. Tussen 50 000 en 70 000 mense wat in ʼn ander sektor gewerk het as waar hulle gewoon het, kon nie by hul werk uitkom nie en moes ander werk soek. Families, vriende en paartjies is van mekaar geskei, sommige vir ewig. Die kant waar jy op 12 Augustus gaan slaap het, was nou jou permanente blyplek. 4
Oos-Duitse propaganda het natuurlik verkondig dat mense van die muur gehou het, maar in werklikheid is hulle onderdruk. Oos-Duitsers wat geprotesteer het, én soms hul families, is wreed behandel. 4
Die VSA was nie baie ingenome met die Sowjetunie nie. John F. Kennedy, in daardie stadium die Amerikaanse president, het egter gesê: “A wall is a hell of a lot better than a war.” Dit was ʼn erkenning dat die VSA nie die muur sou verwyder nie. 5
Wettige kruisings
Aanvanklik kon mense die muur of grens by drie kontrolepunte oorsteek, of van die Ooste na die Weste beweeg: Helmstedt (Checkpoint Alpha), Dreilinden (Checkpoint Bravo) en Friedrichstrasse (Checkpoint Charlie). Daar was uiteindelik 12 kontrolepunte. By elkeen het Oos-Duitse soldate mense ondervra wat die grens wou oorsteek. 5
Die bekendste was Checkpoint Charlie, ʼn ikoon van die Koue Oorlog, wat vandag nog deur duisende mense besoek word. Dit was die kontrolepunt wat deur Westerlinge gebruik is. 4 Mense wat wettig die grens kon oorsteek, was meestal diplomate en regeringsamptenare. Mense wat byvoorbeeld vir vakansie van die Ooste na die Weste wou reis, moes spesiale toestemming kry, en dit is slegs in uitsonderlike omstandighede toegestaan. 5
Hoe het die Berlynse Muur gelyk?
Met voltooiing het die Berlynse Muur oor ʼn afstand van 155 km gestrek en die hele Wes-Berlyn omring. Dit het die stad heeltemal van die res van Duitsland afgesny. Wes-Berlyn was nou werklik soos ʼn eiland in die middel van ʼn Oos-Duitse see. 4 Tussen die stedelike gebiede van Wes- en Oos-Berlyn was die muur ongeveer 45 km lank. 1
Die muur het in die 28 jaar van sy bestaan vier groot gedaanteverwisselings ondergaan:
- Op die oggend van 13 April 1961 is pale en doringdraadheinings opgerig. Daarna is geboue se vensters toegepleister en dreine gesluit, sodat mense nie daardeur kon ontsnap nie.
- Twee dae later is begin om die heining met sementblokke te vervang, en het die muur vorm begin aanneem. Doringdraad is bo-op die muur gesit. Geboue is gesloop om plek te maak vir die sogenaamde Todeslinie, oftewel die Doodslyn. Dit was ʼn breë, oop strook aan die oostekant van die muur wat dit vir die Oos-Duitse soldate makliker gemaak het om te sien as iemand probeer ontsnap. 4 Die soldate is beveel om enigeen dood te skiet wat durf probeer ontsnap het! 3
- In 1965 is die muur met staalbalke versterk.
- Tussen 1975 en 1989 is die muur groter, sterker en meer ingewikkeld gemaak. Eindelik was die muur 3,6 m hoog en 1,2 m wyd. Gladde pype en lemmetjiesdraad het gekeer dat mense maklik kon oorklim. Die Doodstrook was 91 m wyd, met nóg ʼn binnemuur aan die ander kant. Soldate het die gebied met honde gepatrolleer. Hierdie honde was gewelddadig en aggressief en is gebruik om enigiemand dood te maak wat probeer het om oor die muur te ontsnap. Die honde is in haglike omstandighede aangehou. Hulle is in die ysige koue teen die muur vasgebind en uitgehonger om seker te maak dat hulle altyd aggressief is en enige persoon wat hulle sien, aanval. 6 Daar was boonop spesiale loopgrawe om te keer dat motors deur die hekke jaag, elektriese heinings, reuseligte, 302 wagtorings, 20 bunkers, en selfs landmyne! 4
Ontsnappogings
Al dié veiligheidsmaatreëls het egter nie gekeer dat mense probeer ontsnap het nie. Tussen 1961 en 1989 het meer as 5 000 Oos-Duitsers, 600 wagte ingesluit, op allerlei maniere ontsnap. Hulle het deur vensters gespring, oor heinings geklim, met lugballonne gevlieg, deur dreineer- of selfs rioolpype gekruip, met motors deur die hekke gejaag of mense in motors versteek, 5 met vals paspoorte deur die kontrolepunte geglip en deur kanale geswem. Soos wat die muur sterker geword het, het ontsnappogings moeiliker geraak. Tonnels is byvoorbeeld gegrawe en 29 mense het op ʼn keer deur een tonnel ontsnap. 7
Die meeste ontsnappogings het egter misluk. In die eerste jaar is 12 mense doodgemaak. 4 Ten minste 171 mense het gesterf terwyl hulle oor, deur of onderdeur die muur probeer ontsnap het. 5
Waarskynlik die bekendste ontsnappoging het op 17 Augustus 1962 plaasgevind. Twee 18-jariges het na die muur gehardloop en begin klim. Die eerste een het daarin geslaag om oor die muur te kom, maar die tweede een, Peter Fechter, was nie suksesvol nie. Toe hy begin klim, is hy geskiet. Hy het aanhou klim, maar teruggeval net voor hy bo-oor kon kom. Die wagte het hom net daar gelos, waar hy vir ʼn uur gelê en skree het voordat hy gesterf het. Sy dood het ʼn simbool van die stryd om vryheid geword. 4
Aanloop tot die val van die Berlynse Muur
Teen 1989 was Oos-Duitsers keelvol vir die manier hoe hulle deur die SED onderdruk is. Daar was ’n reeks massabetogings vir demokrasie. In dieselfde tyd is die Sowjetunie deur ekonomiese probleme en politieke hervormings verswak. 3
Die Oos-Duitse regering het desperaat aan die muur vasgeklou. In Januarie 1989 het Erich Honecker, die Oos-Duitse leier, gesê dat die muur nog vir 50 of 100 jaar sou bestaan. Terwyl hy dit gesê het, was sy regering egter besig om onder te gaan. 1
Mikhail Gorbatsjof, toe die leier van die Sowjetunie, het dit duidelik gemaak dat hy nie geweld sou gebruik om beheer oor die Oosblok te behou nie. 4 In Oos-Duitsland het duisende mense betoog vir die reg om te reis, vryheid van spraak en uitdrukking, ekonomiese hervorming en ʼn multipartyregering. Die SED het die betogings onderdruk. 1 Die druk was egter só groot dat hulle begin het om reisbeperkings te verslap. 1 In September 1989 is die grens tussen Hongarye (deel van die Oosblok) en Oostenryk (deel van die Weste) amptelik oopgemaak. Baie mense het wes gevlug. Honecker is in Oktober gedwing om te bedank en sy Oos-Duitse opvolger, Egon Krenz, het hervormings beloof. 1
Die val van die Berlynse Muur
Op 9 November 1989 het Günter Schabowski, ʼn woordvoerder van die Oos-Duitse regering, ʼn perskonferensie gehou. Hy het aangekondig dat daar nuwe reëls vir reis tussen die Ooste en Weste sou wees. Toe die media hom vra wanneer die veranderings sou plaasvind, het hy geantwoord: “So ver ek weet, is dit onmiddellik.” Dit het verkeerdelik die indruk geskep dat die DDR sy grense oopgemaak het. 3 Koerante en radio’s in Oos-Berlyn het dit só aangekondig. 1
Oos-Berlyners het na die kontrolepunte gestroom, terwyl sommige “Tür auf!” (Maak oop die hek!) gesing het. 5 Die hekwagte was bang en oorweldig. 1 Binne ure het hulle begin om mense deur te laat. Wes-Berlyners het aan die ander kant die Oos-Berlyners met blomme en sjampanje ontmoet. 5 Daar was ʼn impromptu feesviering langs die muur, en mense het mekaar omhels, gelag en gejuig. 4
Meer as 2 miljoen Oos-Berlyners het in die eerste naweek vriende in Wes-Berlyn gaan besoek. Dit was, volgens een joernalis, “die grootste straatpartytjie in die wêreld”. 5
Mense het hamers, beitels en pikke gebruik om stukke van die muur af te breek. Hulle het as “Mauerspechte” of “muurspegte” bekend gestaan. Hyskrane en stootskrapers het ook begin om dele van die muur af te breek. 5
Politieke gevolge
Die DDR het ʼn maand later ineengestort. 3 Berlyn was vir die eerste keer sedert 1945 verenig. Die BRD en DDR is op 3 Oktober 1990, omtrent ʼn jaar ná die muur geval het, amptelik herenig. 5
Die regering het nywerheidstoerusting gebruik om wat van die muur oorgebly het, heeltemal te sloop. In teenstelling met die algemene opvatting, het die werklike sloping van die Berlynse Muur eers in die Europese somer van 1990 begin en is eers in 1992 heeltemal afgebreek en die rommel verwyder.
Vandag is daar ’n ry stene wat aandui waar die muur eens gestaan het. 3 Stukkies van die muur is vandag versamelstukke in mense se huise en museums. By die Bernauer Strasse (straat) in Berlyn is daar ʼn gedenkpark waar ʼn deel van die muur gesien kan word. 4
Woordbank
afgeskaf | Om van iets ontslae te raak. |
bestel | In hierdie geval beteken dit “bewind” of “regime”. |
betogings | Optogte/demonstrasies om ontevredenheid oor ʼn aangeleentheid te toon. |
bondgenoot | Iemand wat hom verbind om ʼn ander te help. |
bunkers | Sterk verdediging-, wegsteek- of skuilplek ondergronds of in ʼn berg. |
demokratiese | ’n Regering of land is demokraties wanneer daar onder meer vryheid van spraak is en die lede daarvan aan die regering mag deelneem. |
desperaat | Bereid om enigiets te doen om ’n slegte situatsie te verbeter, ten spyte van gevaar. |
die hasepad kies | Vlug. |
die septer hiér sou swaai | Regeer. (Dit verwys na ʼn koning wat ʼn septer in sy hand vashou.) |
diplomate | Verteenwoordigers van ʼn staat by/in ʼn ander staat, bv. ʼn ambassadeur/gesant. |
dreine | Groot ondergrondse afvoerpype wat afvalwater wegvoer. |
erkenning | Die handeling van iets aanvaar. |
gedaanteverwisselings | As iets van vorm of struktuur verander, met ander woorde anders lyk as vantevore. |
gedwonge | Wat gedwing word. |
gelanseer | Met ʼn groot spoed die lug ingestuur. |
gepatrolleer | Bespied, nagaan, ondersoek, verken, waghou. |
gerugte | Onseker/onbevestigde berigte/praatjies/stories. |
geskoolde werkers | Mense wat opgelei is en dus kennis en ervaring het. |
gesloop | Om iets heeltemal af te breek. |
hervormings | ʼn Stelsel/wet/organisasie/ens. verbeter deur baie veranderings daaraan aan te bring sodat dit doeltreffender/regverdiger funksioneer. |
ideologiese | Wat verwys na die idees en sienings wat die grondslag vorm van ʼn politieke en ekonomiese bestel. |
ikoon | Iets wat merkwaardig is. |
impromptu | Onvoorbereid. |
in duie gestort | Misluk. |
ingenieurs | Mense wat dinge ontwerp, bou en aan die gang hou. |
internasionaal | Wêreldwyd. |
kapitalistiese | ʼn Ekonomiese stelsel wat op private besit, belegging en mededinging gegrond is en waar die staat nie veel beheer het nie. Die geld en besittings is dus in private besit. |
keelvol | As jy genoeg gehad het van iets negatiefs: Moeg/siek en sat wees vir iemand of iets; vies, ontevrede. |
kommunistiese | ʼn Regeringstelsel waarin die staat die eienaar van al die belangrike nywerhede is en die volk se ekonomiese, maatskaplike en kulturele lewe beheer. |
kraai | (Koning kraai) Baas wees. |
koordloper | Waaghals wat met ʼn balanseerstok oor ʼn koord loop wat hoog bo die grond styf gespan is. |
Koue Oorlog | Toestand van uiterste vyandigheid tussen die VSA en USSR (die Sowjetunie; vandag Rusland) met hul onderskeie bondgenote; ongeveer 1947-1991. |
lamgelê | Om iets so erg te benadeel dat dit nie kan voortgaan met werk nie. |
lone | Salarisse. |
loopgrawe | Gang of sloot in die grond waar soldate kan wegkruip sonder om aan die vyand blootgestel te wees. |
lugbrug | Situasie waar jy mense en voorrade met vliegtuie van een plek na ʼn ander kan vervoer. |
muurspegte | ʼn Speg is ʼn voël wat met sy bek teen hout kap. ʼn Muurspeg is dus in hierdie konteks ’n verwysings na mense wat teen die Berlynse Muur gekap het. |
nie langs dieselfde vuur gesit nie | Wanneer mense verskil van mening, nie met mekaar oor die weg kom nie. |
onderworpe | Om iemand se gesag te erken, veral wanneer jy geen keuse het nie. |
Oosblok | Lande wat tussen 1945 en 1990 met die Sowjetunie vereenselwig het, insluitende Albanië, Bulgarye, Tsjeggo-Slowakye, Oos-Duitsland, Hongarye, Pole en Roemenië. |
perskonferensie | Vergadering waar inligting aan lede van die pers (media) gegee word en dan kan die media kans kry om vrae te vra. |
propaganda | Inligting wat vals is of net een kant van die storie vertel, gebruik deur ʼn regering of politieke groep om mense met hulle te laat saamstem. |
regeringsamptenare | Iemand wat ʼn openbare pos het in diens van die regering/staat. |
reisbeperkings | Om reëls te maak vir waar en wanneer mense mag reis. |
rooi laat sien | Baie kwaad maak. |
saam te snoer | Saamwerk, saamspan. |
satelliet | Kunsmatige, mensgemaakte byplaneet wat in ʼn baan om die aarde wentel. |
seëvierende | Wanneer jy ʼn oorwinning behaal het (in dié geval die lande wat Duitsland en sy bondgenote verslaan het). |
sektore | Afdelings of gebiede van iets. |
simboliese | Voorwerp/woord/teken/ens. (wat sintuiglik waarneembaar is) as voorstelling van ʼn bepaalde begrip. |
sintuiglik | Om iets te kan sien, hoor, voel, ruik of proe. |
slaggereed | Gereed vir aksie, oorgehaal wees om iets te doen. |
stakings | Tydelik ophou werk in ʼn poging om jou werkgewer oor te haal om aan jou eise te voldoen. |
toegepleister | As jy ʼn mengsel van water en sement gebruik om iets te bedek. |
troepe | Gewone soldate sonder enige rang; strydmag. |
verbruikersprodukte | Produkte wat mens nie nodig het nie, maar wat jou lewe makliker of geriefliker maak, soos wasmasjiene. |
vernedering | Iemand met minagtig behandel of belaglik/bespotlik laat lyk. |
versperring | Blokkeer, afsluit, toemaak; om toegang/deurgang/voortgang te keer of belet; ontoeganklik maak. |
voor die voet | Alles, sonder onderskeid/uitsondering; sommer net so. |
voorneme | Planne. |
vrywilligers | Iemand wat iets doen omdat hy of sy graag wil en nie gedwing word om dit te doen nie. |
wyd en syd | Orals. |
Lees dié artikels om meer te leer
- Die geskiedenis van Berlyn
- Vind meer uit oor die Berlynse Lugbrug en blokkade
- Suid-Afrika neem deel aan die Berlynse Lugbrug
- Interessante feite oor die Berlynse Muur
- Hoe het die Berlynse Muur families geraak?
Kyk dié video’s om meer te wete te kom van die verskrikking van die Berlynse Muur
Die oprigting van die Berlynse Muur (1961-1964)
Kort animasievideo oor die oprigting en val van die Berlynse Muur
Hoe het die Berlynse Muur gewerk?
Pogings om die Berlynse Muur oor te steek
Twee families, dié van Gunter Wetzel and Peter Strelzyk, ontsnap uit Oos-Duitsland met ʼn tuisgemaakte lugballon in 1978
Lokprent van die rolprent Balloon, gebaseer op die ware verhaal van die ontsnapping van Gunter Wetzel en Peter Strelzyk
In September 1983 het die Tsjeggo-Slowaakse fietsrykampioen, Robert Hutyra, sy vrou en twee kinders uit die kommunistiese Tsjeggo-Slowakye in ’n selfgemaakte lugballon na Oostenryk gevlieg.
Die “klein” ontsnapping
Die perskonferensie waar Günter Schabowski per ongeluk ʼn aankondiging gemaak het wat tot die val van die Berlynse Muur gelei het