Vinnige feite

  • Sir David Pieter de Villiers Graaff het ʼn groot passie vir die onderwys gehad, dalk omdat hy nie self die kans gehad het om skool te voltooi nie. Hy het baie geld vir onderwys geskenk en het onder meer ʼn skool op Villiersdorp laat bou. Die skool is ook na hom genoem. Graaff was ook betrokke by die transformasie van die South African College tot die volwaardige Universiteit van Kaapstad.
  • Toe die Eerste Wêreldoorlog beëindig is, was Graaff een van die Suid-Afrikaanse afgevaardigdes wat die vredesberaad by Versailles bygewoon het.
  • Die plaas De Grendel is vandag nog in die familie se besit en word, nes die baronetskap, deur die oudste manlike erfgenaam geërf.
  • Die titel van baronetskap dateer terug tot 1611, toe koning James I dit ingestel het om geld in te samel. ʼn Baronetskap is ʼn titel wat deur manlike erfgename geërf word.
  • Graaff en sy broer Jacobus het ná die Anglo-Boereoorlog baie geld geskenk vir die vroue en kinders wat die konsentrasiekampe oorleef het.
  • Graaff se oudste seun, sir De Villiers Graaff, was die tweede baronet. Hy was ʼn advokaat en het ook in die Tweede Wêreldoorlog geveg. Hy was ook vir ʼn ruk ʼn krygsgevangene in Tobruk in Noord-Afrika. Hy het in 1958 ʼn lid van die parlement geword en was vir 21 jaar die leier van die Verenigde Party (United Party). Hy was in sy hart ʼn boer en was vir groot vooruitgang op De Grendel verantwoordelik. Die vierde baronet, sir De Villiers Graaff, boer nou op De Grendel.
Foto: iStock

As ʼn mens van ʼn baron of markies of so iemand hoor, dink jy gewoonlik dit is iemand wat oorkant die waters bly, maar daar is al Suid-Afrikaners wat baronette geword het! Wat is ʼn baronet, vra jy. Dit is ʼn edelman tussen ʼn ridder en ʼn baron, en dit is die laagste oorerflike adellike titel wat ʼn mens kry.

Sir David Pieter de Villiers Graaff was die eerste baronet van Kaapstad, en die interessante ding van sy storie is dat hy as kind arm grootgeword het. Hy was ʼn sakeman, politikus en weldoener en het graag geld vir opheffing geskenk. 1

David Pieter de Villiers Graaff was die sesde van nege kinders en is op 30 Maart 1859 op ʼn plaas op Villiersdorp gebore. Sy ouers, Petrus Norbertus Johannes en Anna Elisabeth Graaff, het hom “Dawie” genoem, en hy het in ʼn ou waenhuis skoolgegaan. Dit was waarskynlik ʼn kerkskool wat Nederlandssprekendes in 1866 begin het omdat hulle nie wou hê dat hul kinders in ʼn Engelse skool moes skoolgaan nie. Hy was klaarblyklik ʼn slim seun, maar kon net tot standerd drie (graad 5) op die dorp skoolgaan. 2

Villiersdorp

Graaff het ʼn kop vir besigheid gehad, en het al as 18-jarige die onderneming Combrinck & Kie begin bestuur. In daardie stadium het nog van sy broers by hom aangesluit en saam met hom by Combrinck & Kie gewerk. Die broers het begin soek na nog plase om gereelde vleis vir die slaghuise te verseker en het in Mei 1882 hul eerste grond gekoop. Dit was ʼn deel van die plaas Bonne Esperance. Een van die broers, Jan Graaff, was ʼn dierkenner en hy het die veekoper geword. Hulle het sommer gou-gou nog aangrensende plase gekoop en die onderneming het flink uitgebrei.

Graaff was baie innoverend en het die onderneming verbeter en sodoende die vleisbedryf gemoderniseer. Hy het gesien dat daar oorsee nuwe metodes is om vleis te verkoel en vervoer en hy het dieselfde hier gedoen. Hy het ʼn groot verspreidingsnetwerk vir bevrore produkte opgestel. Hierdie produkte kon vir die eerste keer op yskastreintrokke op die spoorweg vervoer word. Hy was die eerste een wat dit gedoen het, en dit het vir hul onderneming ʼn fortuin verseker. Daar was groot vooruitgang, en hy is sommer gou-gou as ʼn pionier in die bedryf gesien.

Graaff was ʼn entrepreneur van formaat en het ook sy sakebelange na Europa, Suid-Amerika en Suid-Afrika se buurlande uitgebrei. Sy onderneming genaamd South African Cold Storage Company het uit Combrinck & Kie ontwikkel, en dit het selfs tydens die Anglo-Boereoorlog vleis vir die Britse troepe en by konsentrasiekampe afgelewer.

Gevangenis wat wag vir water

Sy sakebedrywighede was nie net tot die vleisbedryf beperk nie. Hy het die Graaffs Trust gestig om die Graaff-familie se belange te hanteer, en die maatskappy bestaan vandag nog. Die Graaff-familie se sakebelange het allerlei eiendomme en ondernemings ingesluit, en die trustmaatskappy is later ook uitgebrei om finansiële advies te verskaf.

Graaff het ook ʼn belangstelling in landbou gehad, en nadat hy oorsee was om te kyk hoe groot markte, slagpale en vleisverpakkingsondernemings daar werk, het hy in Argentinië die Argentynse Arabierperde gesien. Hy was so gek na hierdie perde dat hy terstond van hulle gekoop en na Kaapstad verskeep het. Hy het ook perde vanaf Sirië ingevoer. Hy het in die 1890’s die plaas De Grendel gekoop om die perde te huisves, en hy het pragtige stalle vir hulle laat bou. Hy het ook mettertyd ʼn stoet van Friesbeeste op die plaas gevestig. De Grendel het in latere jare begin wyn maak, en die plaas staan vandag as ʼn spogwynlandgoed bekend wat steeds in die Graaff-familie se besit is.

Sy politieke loopbaan

Combrinck, die familielid wat vir Graaff werk gegee het, het die politiek betree en lid van die Kaapse parlement geword. Graaff het self as jongman by die Afrikanerbond van Onze Jan Hofmeyr aangesluit en ’n lid van die Kaapse parlement geword.

Jan Hofmeyr

Graaff is as 23-jarige al as ʼn stadsraadslid van Kaapstad verkies. Hy het ook op 32 die burgemeester van die stad geword, danksy die grootskaalse verbeteringe wat hy geïmplementeer het. 1 Hy het byvoorbeeld ʼn groot rol daarin gespeel om elektrisiteit na Kaapstad te bring, en die eerste kragsentrale is na hom genoem. Graaff Electrical Lightning Works is vandag ʼn historiese monument langs die Molteno-reservoir in Oranjezicht. Hy het ook die stad se geldsake reggeruk, en dit het allerlei voordele vir die inwoners gehad, soos ʼn beter dreineringstelsel, nuwe plaveisel vir die strate, ʼn seepromenade en ʼn nuwe reservoir. 2

Hy het ná 15 jaar as stadsraadslid uitgetree en het eers kort voor Suid-Afrika ʼn unie in 1910 geword het, weer as parlementslid teruggekeer.

Graaff was vriende met die boeregeneraals Louis Botha en Jan Smuts. Smuts en Botha was albei oorlogshelde en het later premiers van Suid-Afrika geword. Botha en Smuts het in 1904 die politieke beweging Het Volk in Transvaal gestig. Graaff het teen 1907 tot aktiewe politiek teruggekeer en het homself verkiesbaar gestel as kandidaat van die Suid-Afrikaanse party. Toe Suid-Afrika  in 1910 ʼn unie geword het, het hy ʼn lid van generaal Louis Botha se eerste kabinet geword.

Graaff het as parlementslid goeie werk gedoen en is veral bekend vir sy onderhandelinge met Britse skeepsrederye. In daardie tyd het Britse skeepsrederye die skeepstariewe na Suid-Afrika beheer, en Graaff was nie gelukkig met die seeposkontrak tussen Suid-Afrika en Brittanje nie. Hy het met onderhandelinge begin en uiteindelik ʼn kontrak beding wat voordelig vir Suid-Afrika was.

Graaff het op 22 September 1913 weens swak gesondheid uit die kabinet bedank, maar was wel later weer die minister van finansies. Hy het uiteindelik in 1920 afgetree.

Die baronetskap

Die Britse koningshuis het in 1911 ʼn paar eretitels aan Suid-Afrikaners toegeken. 2 Dit was kort nadat die land ʼn unie geword het. Koning George V het ʼn Nuwejaarslys van eretitels uitgereik. Hy het dit aan die twee Boeregeneraals Botha en Smuts toegeken, maar hulle het die eretitels van die hand gewys. Graaff is ook genader om ʼn baronetskap te aanvaar vir sy bydrae tot Suid-Afrika se wetgewing. Graaff het ook aanvanklik die titel afgekeur, maar hy is later oorreed om dit wel te aanvaar. Graaff se benoeming is deur Botha en Smuts ondersteun. Graaff het op 6 Februarie 1911 ingevolge ʼn koninklike bevelskrif formeel ʼn baronet geword, sir David Pieter de Villiers Graaff, Bt., van Kaapstad.

Persoonlike lewe

Graaff het vir die eerste keer as 53-jarige getrou. Dit was met ʼn dominee se dogter, Eileen van Heerden, en sy was 30 jaar jonger as hy. Haar ma was aanvanklik teen die verhouding gekant omdat sy soveel jaar jonger as hy was, maar hulle is op 5 Februarie 1913 getroud. Die troue was klein, maar is deur talle hooggeplaastes bygewoon.

Ná sy uittrede in 1913 het Graaff se lewe baie verander. Kort ná sy bedanking uit die kabinet is hul eersteling, De Villiers, op 8 Desember 1913 in hul huis Ostende in Seepunt gebore. Generaal Louis Botha was die baba se peetpa.

Louis Botha

Graaff se gesondheid het in ʼn stadium verswak, en hy en sy gesin het na Europa gereis in die hoop dat hy daar gesonder sou word, maar die Eerste Wêreldoorlog het uitgebreek. Dit het dinge baie verander, en hy moes toe diens as hoë kommissaris in Londen doen. Met sy terugkeer na Suid-Afrika was hy die minister van finansies. Hy het uiteindelik finaal in 1920 uit die politiek getree. Graaff en sy vrou het nog twee seuns gehad, en ná sy uittrede het hulle op die plaas De Grendel gebly.

Die kinders het tweetalig grootgeword, en hulle het by ʼn privaat seunskool in Rondebosch, Kaapstad, skoolgegaan. Dit was by Diocesan College, beter bekend as Bishops.

Graaff is twee weke ná sy 72ste verjaardag, op 13 April 1931, aan ʼn beroerte oorlede. Sy vrou, Eileen, is op 21 Oktober 1950 oorlede.

Woordbank

afgevaardiges Mense wat ’n vergadering of ander geleentheid bywoon om die mening van ’n vereniging, groep of regering te stel.
baronet Dis ʼn edelman tussen ʼn ridder en ʼn baron, en dit is die laagste oorerflike adellike titel wat ʼn mens kry.
bevrore Gevriesde.
innoverend As iets wat gevestig is, verander word en nuwighede ingevoer word.
opheffing Dit is wanneer mense gehelp word om in beter omstandighede te lewe. Hul lewenspeil word verbeter.
pionier Iemand wat belangrik is in die eerste ontwikkeling van iets.
unie Die naam van ʼn verbond of vereniging. Suid-Afrika was van 1910 tot 1961 ʼn unie.
verlies Geld wat verloor word omdat die verkoopprys laer as die koopprys is; skade.
welvarend Welgesteld, ryk. 3

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 15 November 2022 | Bygewerk op 15 November 2023