Vinnige feite
- Cleopatra was glo baie mooi en daar word gesê dat sy in donkiemelk gebad het. Daar was glo tot 700 donkies se melk per dag vir haar bad gebruik!
- Die fliek, Cleopatra, wat in 1963 verfilm is, was een van die duurste flieks wat nog gemaak is. Die Amerikaanse akteur Elizabeth Taylor het die rol van Cleopatra vertolk. Die begroting vir die fliek was aanvanklik $2 miljoen, maar dit het tot ’n allemintige $44 miljoen geklim. Blykbaar het Taylor se kostuums alleen $200 000 gekos!
- Cleopatra het graag na haarself as die reïnkarnasie van die godin Isis verwys en het ook soos die godin aangetrek.
- Sy het daarvan gehou om mense te beïndruk, en soos die Engelse sê ’n “entrance” te maak! Sy het byvoorbeeld toe sy Antonius ontmoet het, met ’n spoggerige boot aangekom, terwyl slawe haar met palmtakke koel gewaai het!
- Terwyl Cleopatra in Rome gebly het, het haar haarstyle en pêreljuwele ’n modeneiging geword. Baie Romeinse vroue wou die Cleopatra-voorkoms hê.
Sy was glo baie slim, baie mooi, het in donkiemelk gebad en selfdood gepleeg deur aspris deur ’n giftige slang gebyt te word!
Dit is Cleopatra, koningin van Antieke Egipte wat die laaste farao was. Haar lewe was vol drama en fassineer mense al duisende jare lank. Dis geen wonder dat daar al baie verhale, toneelstukke en gedigte oor haar geskryf is en dat daar al soveel TV-reekse en flieks oor haar lewe was nie.
Dit was Cleopatra se droom om haar land magtiger en ryker te maak en om self te regeer. Om dit te verwesenlik, het sy twee leiers van Antieke Rome gekry om haar daarmee te help. Dit was Julius Caesar en Marcus Antonius. Sy het ook liefdesverhoudings met die twee Romeine aangeknoop. Dit was egter ook ’n Romeinse leier Augustus wat haar op die einde verslaan het …
Agtergrond
Cleopatra VII Thea Philopator is in die jaar 70 of 69 v.C. gebore en, anders as wat ’n mens sou dink, was sy nie van Egiptiese nie, maar wel van Griekse afkoms. Sy was deel van die Ptolemeus-dinastie wat Egipte regeer het ná die oorwinning van Alexander die Grote oor die gebied. Haar familie was oorspronklik van Masedonië (wat ons vandag as Europa ken), maar het teen daardie tyd Egipte al meer as 200 jaar lank regeer!
Cleopatra was glo baie intelligent en was die eerste van die Ptolemeus-regeerders wat Egipties kon praat en het glo meer as ’n dosyn tale gepraat! Sy is ook in wiskunde, filosofie, en astronomie onderrig. 1
Haar pa se naam was Ptolemeus XII Auletes en hy het besluit dat Cleopatra en sy oudste seun, Ptolemeus XIII, ná sy dood Egipte saam moes regeer. Cleopatra se pa is 51 v.C. oorlede toe sy slegs 18 jaar oud was en Ptolemeus XIII omtrent tien jaar oud was.
Cleopatra was dus die hoofheerser, maar sy het ook vyande gehad en daar was mense wat wou gehad het dat haar broer alleen moes regeer. Hulle het haar uit die land gedryf en sy is gedwing om in ballingskap te gaan. 2
Cleopatra en Julius Caesar
Cleopatra het besluit om vir die Romeinse leier Julius Caesar om hulp te vra om weer aan bewind te kom. Caesar was ’n baie magtige Romeinse generaal en staatsman wat in daardie stadium in Egipte was. Caesar het ingestem om haar te help en hy het haar broer se ondersteuners teen 47 v.C. verslaan. Haar broer het ook gesterf en Cleopatra het weer haar troon bestyg. In daardie jare was dit nie vreemd vir adellikes om te trou om sodoende die familie aan bewind te hou nie en sy en haar jongste broer, Ptolemeus XIV, het getrou om mederegeerders te word.
Cleopatra en Caesar het ’n liefdesverhouding gehad en sy het ’n seun, Ptolemeus Caesar, gehad wat mense glo Caesar se seun was. Die paartjie het nooit getrou nie.
Cleopatra het saam met Caesar na Rome gegaan en daar gebly tot hy in 44 v.C. gesterf het. Hy is op 15 Maart van daardie jaar vermoor toe 60 senators saamgesweer het om hom te vermoor. (Die dag staan as die Ides van Maart of Onheilsdag bekend.)
Verdere drama het afgespeel toe Ptolemeus XIV in dieselfde jaar gesterf het. Daar is boonop vermoed dat Cleopatra hom laat vergiftig het … 3
Cleopatra en Marcus Antonius
Nadat Caesar dood is, het Marcus Antonius (beter bekend as Mark Antony) een van die drie leiers van Rome geword. Cleopatra was baie slim en het besef dat hy haar kon help om meer mag te kry. Sy en Marcus Antonius het in 41 v.C. ’n liefdesverhouding aangeknoop ten spyte daarvan dat hy toe met ’n vrou, Octavia, getroud was. Dit was ’n groot skandaal toe hy saam met Cleopatra in Egipte gaan bly het.
Dit het Octavia se broer Octavian baie kwaad gemaak (hy het later die keiser Augustus geword en het kort daarna oorlog teen Antonius en Cleopatra verklaar.
Hy het hulle ook toe in 31 v.C. in die Veldslag van Actium verslaan en die paartjie moes noodgedwonge na Alexandrië vlug.
Groot drama het gevolg, want Octavian het Antonius omtrent tien maande later opgespoor. Dit was in die somer van die jaar 31 v.C. Cleopatra het in daardie stadium skuilplek gevind, maar Antonius het blykbaar gehoor dat sy gesterf het en het besluit om selfdood te pleeg deur op sy swaard te val. Net daarna het ’n boodskapper laat weet dat Cleopatra nog leef en Antonius, wat toe nog geleef het, het glo in haar arms gesterf.
Daar word gesê dat Cleopatra besluit het om ook selfdood te pleeg en sy het dit glo gedoen deur die byt van ’n giftige slang. Daar is egter geskiedkundiges wat beweer dat sy gif gedrink het. Die paartjie het gevra om saam begrawe te word … Ná Cleopatra se dood, het Egipte deel van die Romeinse Ryk geword. 4
Cleopatra se kinders
Julius Caesar en Cleopatra se seun, Caesarion, het Egipte vir ’n kort tydperk regeer voor hy deur Octavian vermoor is. Caesarion was slegs 17 jaar oud toe hy op 23 Augustus 30 v.C. dood is. Cleopatra en Antonius het saam drie kinders gehad, die tweeling Cleopatra Selene en Alexander Helios, en hul jonger broer, Ptolemeus Philadelphos. Ons weet nie vandag wat van die seuns geword het nie, en daar word vermoed dat hulle reeds as kinders gesterf het. Cleopatra Selene het ’n Afrika-koningin geword toe sy met Koning Juba van Mauritanië (in die gebied van Algerië en Marokko) getrou het. 5
Woordbank
aangeknoop | Begin; skep. |
adellikes | Mense wat tot die hoogste sosiale stand behoort. |
antieke | Ou Griekse of Romeinse tyd. |
astronomie | Sterrekunde. |
ballingskap | Iemand wat in ballingskap is, het sy of haar land verlaat om vervolging deur die regering te voorkom. |
bewind | Regeer, die mag hê; aan die hoof wees van ’n land/sake. |
dinastie | Regerende stamhuis; vorstehuis. |
farao | Titel van die ou Egiptiese konings; regeerder van Egipte. |
fassineer | Mense se aandag word behou. |
filosofie | Wetenskap wat die betekenis van die lewe ondersoek. |
noodgedwonge | Deur omstandighede genoodsaak. |
reïnkarnasie | Ná die dood van iemand, leef hy/sy in ’n ander gedaante voort op aarde. |
saamgesweer | ’n Geheime plan word bedink, gewoonlik iets negatiefs. |
senators | Lid van ’n regering se senaat. |
skandaal | Wanneer ’n openbare figuur of bekende persoon hom-/haarself swak gedra en mense skok |
troon bestyg | ’n Figuurlike uitdrukking wat beteken “die monarg word”. |
verslaan | In ’n oorlog oorwin. |
Lees die volgende artikels om nog meer oor Cleopatra te leer
Kyk na hierdie video’s oor Cleopatra
Wie was Cleopatra?
Cleopatra se interessante storie
Animasievideo oor Cleopatra
Tien fassinerende feite oor Cleopatra
Lokprent van die fliek Cleopatra