Cecil John Rhodes
Baie mense meen hy was ʼn magsugtige man wat meer vyande as vriende gemaak het; ʼn gedrewe politikus wat die Britse Ryk se voetspoor en vastrapplek ten alle koste en so wyd as moontlik wou uitbrei. Cecil John Rhodes was egter baie meer as net ʼn windmakerige imperialis.
Dié voormalige eerste minister van die destydse Kaapkolonie was eerstens ʼn entrepreneur in eie reg. Anders as talle meningsvormers (“influencers”) en miljoenêrs van vandag, het niks sommerso in Cecil se skoot geval nie. Hy het baie hard gewerk en in net drie dekades reusespronge gegee van sieklike seun tot suksesvolle sakeman; sy belange uitgebrei van ys verkoop op Kimberley se bloedig warm diamantvelde tot die vestiging van die wêreld se grootste diamantgroep.
Deur Rhodes se reis van niemand tot iemand het hy waarlik ʼn wesenlike kleim in die wêreldgeskiedenis afgesteek.
Van asmalyer tot in Afrika
Cecil John Rhodes is op 5 Julie 1853 in Bishop’s Stortford, ʼn klein dorpie in Engeland, gebore as die vyfde seun van Francis William Rhodes en sy tweede vrou, Louisa Peacock. Saam met sy halfboeties en -sussies uit sy pa se eerste huwelik, het hy altesaam nege broers en twee susters gehad. Hulle was dus twaalf kinders! 1
Dié middelklasfamilie was redelik ryk en Cecil se pa het twee van sy seuns universiteit toe en drie weermag toe gestuur. Cecil het van kleins af aan asma gely. Hy woon wel die plaaslike skool by, maar sy ouers besluit om hom later weens sy swak gesondheid uit die skool te haal. 2
Pleks daarvan om ná skool universiteit toe te gaan (soos baie welgestelde mense in daardie tyd gedoen het), besluit Cecil se ouers dat dit beter vir sy gesondheid sou wees as hy na sy broer Herbert in die destydse Natal (vandag staan dit as KwaZulu-Natal bekend) in Suid-Afrika reis. Hulle het gemeen die Suid-Afrikaanse weerstoestande sou beter vir sy longe wees en boonop was die moontlikhede om sakeondernemings hier op te bou en sakke vol geld te maak, legio (baie of oneindigend). 1
Die 17-jarige Cecil klim sak en pak op ʼn skip in Engeland en kom eindelik ná ʼn seereis van 72 dae op 1 September 1870 in die Durbanse hawe aan. 3 Hy land allermins platsak in Suid-Afrika. Hy het £3 000 by hom gehad wat hy by sy tannie geleen het. 1 Vandag sou dié £3 000 ongeveer £295 000 (nagenoeg R6,6 miljoen) werd gewees het! 4
Herbert het op ʼn katoenplaas in die Umkomaas-vallei in Natal geboer, maar toe Cecil op die plaas aankom, vind hy uit dat sy broer besluit het om aan die diamantstormloop in Kimberley deel te neem. Cecil rol sy moue op en begin saam met die plaaswerkers boer.
Hoewel Cecil se gesondheid beslis verbeter het danksy die warm weer, was die Natalse klimaat (weerstoestande van ʼn plek oor ʼn bepaalde tydperk) nie ideaal vir die verbouing van katoen nie. Selfs nadat Herbert van Kimberley af teruggekeer het om vir ʼn jaar lank op die plaas hand by te sit, kon hulle nie die katoenwa deur die drif trek nie. Die boerdery misluk en die Rhodes-broers besluit om die plaashekke vir goed toe te trek. 2
Van katoen tot diamantkleims
In 1871 sluit Cecil by Herbert in Kimberley aan om te kyk of hulle nie dalk ʼn groter diamant- as katoenoes kon oplewer nie. Die twee broers se kleims (die spesifieke gedeelte waar ʼn persoon mag myn of delf) het uitstekend gedoen. Herbert het in 1873 besluit om Kimberley te verlaat. Cecil se vasberadenheid en sakebelange hou hom egter in Kimberley vir die volgende paar jaar.
Met die agtienjarige Cecil aan die stuur van die Rhodes-kleims, begin hy om saam met Charles Dunell Rudd te werk. Dié twee vennote voer in 1872 onder meer ʼn ysmasjien uit Engeland in om ys aan die delwers in die bloedige Kimberley-son te verkoop. 3 Soos wafferse entrepreneurs gebruik hulle dié geld om ander delwers se kleims te koop. 5
Rhodes en Rudd se beursies raak nóg vetter toe hulle ʼn kontrak bekom om water uit drie myne te pomp. Hul groeiende sakeryk lei uiteindelik tot die stigting van De Beers Consolidated Mines Ltd. 1
In dieselfde tyd het nog ʼn Britse burger genaamd Barney Barnato op die bedrywige diamantvelde in Rhodes-hulle se slaai begin krap. Barnato en sy broer stig in 1873 óók ʼn maatskappy wat met diamante handel dryf. Stadig maar seker raak die mededinging (kompetisie) tussen Rhodes en Barnato al feller (meer of hewiger) soos hulle die kleims van die omliggende myne een vir een begin opraap (koop). Die mededinging veroorsaak egter dat só baie diamante beskikbaar raak, dat dié blink klippies se prys begin tuimel (skerp daal). 6
In 1889 neem De Beers die Kimberley Central Diamond Mining Company van Barney Barnato oor om ʼn wêrelddiamantreus sonder gelyke te vorm. En die bedrag wat Rhodes in 1889 vir Barnato se maatskappy moes opdok? ʼn Astronomiese £5 338 650. In vandag se geldwaarde is dit meer as £480 miljoen (of bykans R11 miljard!) Die transaksie was elke sent werd, want teen 1891 het De Beers Consolidated Mines Ltd. ongeveer 90% van die wêreld se diamantproduksie (of ontginning) beheer. 7
Rhodes kry later ook beheer oor Suid-Afrika se goudmyne toe hy die maatskappy Gold Fields of South Africa in 1887 stig. 2
Van studerende sakeman tot magsoeker
Terwyl Rhodes gewoeker het om sy sakebelange (ondernemings) in Suid-Afrika uit te brei, het hy tussendeur aan die Universiteit van Oxford in Engeland studeer. In 1873 vertrek hy vir die eerste keer na Engeland, terwyl Rudd ʼn ogie oor sake in Kimberley hou. Rhodes bly egter net vir een semester (amper soos ʼn kwartaal) in Engeland voordat hy na Suid-Afrika terugkeer. Hy voltooi sy eerstejaarstudie eers in 1876. 1
Dit neem hom uiteindelik agt jaar om ʼn BA-graad te voltooi waarvoor hy self betaal het! Op universiteit het die ander studente hom effens vreemd gevind vanweë sy eksentrieke gewoontes, hoë giggellaggie, lang monoloë (gesprekke waar iemand met hom- of haarself praat) en sy idees oor imperialisme en die mag van die Britse Ryk. 2
Imperialisme is die politieke beleid (plan) van ʼn regering om sy land se grondgebied uit te brei deur ander lande oor te neem en te regeer. 8 Hierdie lande word nie net oorgeneem nie, maar die inwoners word soms gedwing om die moondheid se taal aan te leer, of sy manier van leef en werk na te volg. Hierdie proses word kolonialisering genoem. Die land wat oorgeneem word, word ʼn kolonie genoem. 9 ʼn Kolonie kan in die omliggende gebied (nabye omgewing) van die koloniale mag (die land wat ʼn ander oorneem) wees of duisende kilometers ver weg wees (soos byvoorbeeld Indië en Suid-Afrika wat deel van die Britse Ryk was). 8
Imperialistiese moondhede (lande) wou nie net hul grondgebied uitbrei nie, maar wou natuurlik ook ryker word. Dié moondhede het daarom hul visier op lande gerig wat met natuurlike hulpbronne gespog het. Natuurlike hulpbronne sluit in landbouprodukte soos tabak, of minerale en edelgesteentes soos goud of diamante. Die kolonies sou dikwels met geweld (oorlog) oorgeneem word indien hulle nie vrywilliglik (uit eie keuse) deel van die groter land wou word nie. Hoewel sommige kolonies ʼn plaaslike leier soos ʼn eerste minister of goewerneur gehad het, was die land onder die duim (gesag en beheer) van die imperiale moondheid. 8
Rhodes het geglo dat die mense van Engeland beter (meerderwaardig) as die mense van ander lande was. Hy het onder meer gesê: “I contend that we are the first race in the world, and that the more of the world we inhabit, the better it is for the human race.” 10
Rhodes was ʼn sakeman in murg en been (en een van die rykste mense ter wêreld!) toe hy die politiek betree het. Sy imperialistiese droom het egter nie oor geld gegaan nie, maar oor mag. Hy wou graag ʼn treinspoor vanaf Kaapstad in Suid-Afrika tot in Kaïro in Egipte bou. Al die lande waardeur die treinspoor sou loop, moes deel van die Britse Ryk wees. Hy wou die Boere en die Britte in Suid-Afrika in een Britse kolonie verenig en daarna noordwaarts uitbrei na wat vandag as Zimbabwe en Zambië bekendstaan. 2
Van politikus tot grond inpalm
Met sy toetrede tot die politiek in 1881, bevind Rhodes hom midde-in die sogenaamde “wedloop vir Afrika”. Dié wedloop (of stryd om grondgebied in te palm) bereik tussen 1881 en 1902 ʼn hoogtepunt toe dit bekend word dat baie Afrikalande se hulpbronskatkis propvol goud en diamante was.
Benewens lande soos Nederland en Portugal het ander Europese lande aanvanklik nie baie in Afrika belanggestel nie. Die ontdekking van goud en diamante het alles egter verander. Lande soos Frankryk, België en Duitsland het saam met Brittanje om grondgebied in Afrika meegeding. Brittanje het die vinnigste en die meeste lande gekolonialiseer. Teen die vroeë 1900’s was groot dele van Afrika, insluitend Egipte, Kenia, Nigerië en dele van suidelike Afrika, onder Britse beheer. 9
Rhodes het op die lande in suidelike Afrika gekonsentreer (gefokus) tydens die wedloop vir Afrika. Hy het wel die geld gehad, maar moes toestemming kry om namens Brittanje in ʼn ander land op te tree. In 1888 stig hy die British South African Company (BSAC) en in 1889 ontvang hy ʼn charter (ʼn handves of toestemmingsdokument) van die Britse regering. Dié handves of oorkonde was soos ʼn brief wat aan die BSAC regte en voorregte verleen het om namens Brittanje op te tree. Die maatskappy het selfs ʼn polisiemag gekry om, indien nodig, die inwoners van lande met geweld oor te neem. Dit het Rhodes die mag gegee om suidelike Afrika namens die Britse Ryk oor te neem. 11
Die BSAC maak in 1890 die eerste keer van die charter gebruik toe hulle Mashonaland (vandag ʼn noordelike gedeelte van Zimbabwe) geannekseer (oorgeneem) het in die hoop om goud te bekom. Teen daardie tyd was die meeste van die goud in daardie omgewing reeds ontgin. Met Rhodes se onttrekking uit hierdie gebied, bly van die Europese mense wat die BSAC gehelp het, agter om te boer. Die Matabele- en Mashona-mense wat hier gewoon het, was baie ontevrede omdat hulle nie wou gehad het Europeërs moet in hul land bly nie. ʼn Opstand breek uit, maar word gou deur die BSAC se militêre magte in die kiem gesmoor. Hierdie streke word na Rhodes vernoem as Noord- en Suid-Rhodesië. Vandag staan dit as Zambië en Zimbabwe bekend. 11
As ʼn mens na die oorname van grond in Afrika kyk, is dit ongeveer 724 000 km2 wat Rhodes op sy eie op ons vasteland geannekseer het! 12
Toe Rhodes in 1890 die eerste minister van die Kaapkolonie word, het hy reeds mag oor groot gedeeltes van suidelike Afrika gehad. Oor die Boererepubliek van Transvaal, waar groot ontdekkings van goud aan die Witwatersrand gemaak is, het hy egter geen invloed gehad nie. In 1895 was hy verantwoordelik vir sy eie ondergang toe hy saam met Leander Jameson, ’n ou vriend van hom, ’n inval in Johannesburg reël. Met dié aanval, wat later as die Jameson-inval bekend sou staan, het hy gehoop om Transvaal vir Engeland oor te neem. Dit was ʼn volslae mislukking en die Afrikaners met wie hy oor die jare vriende gemaak het, keer hom die rug toe omdat hulle verraai gevoel het. Rhodes word gevolglik gedwing om in 1896 as eerste minister van die Kaapkolonie te bedank. 1
Latere lewe en nalatenskap
Hierna konsentreer Rhodes al hoe meer op die ontwikkeling van Rhodesië asook sy droom om ʼn treinspoor vanaf Kaapstad tot in Kaïro in Egipte te vestig. Sy gesondheid verswak egter by die dag. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899, vertrek Rhodes na Kimberley om met die verdediging van die dorp te help. 1
Nadat die Britse magte uiteindelik inspring om die dorp te beskerm, reis hy na Europa. Hy spandeer ʼn tyd lank daar en keer in Februarie 1902 terug na die Kaap. Op 26 Maart 1902 sterf hy aan ʼn hartsiekte in Muizenberg in vandag se Wes-Kaap. Ondanks die reusesakeryk wat hy opgebou het én die drastiese uitbreiding van die Britse Ryk se voetspoor, was Rhodes se laaste woorde glo: “So little done, so much to do.” 1
Rhodes is nooit getroud nie en het ook nie kinders gehad nie. Sy hele fortuin (die geld of rykdom wat hy oor die jare bymekaar gemaak het) van £6 miljoen (meer as £500 miljoen in vandag se geldwaarde, of sowat meer as R11 miljard) is in sy testament bemaak (geskenk) om studente in staat te stel om met ʼn Rhodes-beurs aan die Universiteit van Oxford in Engeland te kan studeer. 1
Woordbank
geannekseer | Besit neem van; ʼn gebied inlyf. |
asma | Siekte gekenmerk deur kortasemrigheid en aamborstigheid; benoudebors. |
bloedige | Wreedwarm (son); snikheet, versengende hitte. |
burger | Lid of inwoner van ʼn stad/staat. |
charter | Handves/oorkonde waardeur amptelik regte en voorregte toegeken word. |
delwers | Persoon wat na minerale (veral diamante) soek/grawe. |
eksentrieke | Anders as die gewone; sonderling; eienaardig. |
entrepreneur | Oprigter van ʼn sakeonderneming; ondernemer wat iets organiseer en bestuur of ʼn nuwe rigting inslaan. |
hulpbronne | Enigiets wat tot nut van die mens is. |
imperialis | Voorstander van die imperialisme. |
imperialisme | Politieke beleid van ʼn staat om ander gebiede onder sy mag en invloed te bring. |
kleim | Stuk grond waarin moontlik waardevolle edelstene kan wees, deur ʼn delwer afgesteek sodat hy/sy daarin kan delf. |
klimaat | Die algemene lug- en weerstoestande van bepaalde ʼn plek/streek. |
kolonialisme | Ekonomiese, politieke en maatskaplike beleid waardeur ʼn groot moondheid sy kontrole/beheer oor ander landstreke en volke handhaaf of uitbrei. |
kolonialisering | Gebied wat deur ʼn ander land oorheers word; nedersetting. |
kontrak | Formele ooreenkoms tussen twee of meer partye, waarin neergeskryf word wat elkeen moet doen. |
maatskappy | Groep mense wat saam ʼn sakeonderneming stig/vorm. |
magsug | Oordrewe begeerte na mag; magswellus. |
meerderwaardig | Van groter waarde; van beter gehalte; superieur. |
meningsvormers | Ook bekend as ʼn “influencer”. Iemand wat oor genoeg invloed beskik om ander se sienswyses/opvattings te beïnvloed. |
monoloog | Alleenspraak; pratery deur een persoon. |
moondhede | Onafhanklike, dikwels invloedryke, welvarende land. |
produksie | Die maak of vervaardiging van goedere/produkte. |
Romeinse Ryk | Die Romeinse Ryk was die grootste ryk van die antieke (ou) wêreld. Die hoofstad was in Rome en die Romeine het veral lande rondom die Mediterreense See beheer. Die Romeinse Ryk se oorheersing het van 27 v.C. (voor Christus) tot 476 geduur. 19 |
wafferse | Danige, watwonderse, besonderse, buitengewone. |
welgestelde | Vermoënd; welaf. 18 |
Lees hierdie om meer oor Cecil John Rhodes te leer
- Dit is hoe Brittanje die Britse Ryk uitgebrei het.
- Dalk kan jy eendag aan die Universiteit van Oxford in Engeland gaan studeer!
- Speel hierdie speletjie om te verstaan hoe kolonialisme werk.
Kyk hierdie video’s om meer te wete te kom
Só het die hele wêreld uit Afrika probeer muntslaan
ʼn Kort reis deur Rhodes se lewe
Só lyk Rhodes se laaste rusplek
Nie almal was mal oor Cecil John Rhodes nie
Wat presies is imperialisme?