Vinnige feite
- Meer as 3 miljoen Amerikaanse mans het in die Burgeroorlog geveg.
- Meer as 620 000 manskappe – meer as 2% van die totale bevolking – is in die Burgeroorlog dood. Dit is meer as die dodetal vir al die ander oorloë saam waarin die VSA betrokke was. So baie manskappe het in die oorlog gesterf dat ’n stelsel van regeringsbegraafplase gevestig moes word om die dooies te begrawe. 14
- Die Amerikaanse Burgeroorlog was die eerste oorlog waarin lugverkenning met behulp van ballonne, sistematiese mediese versorging van gewondes, uitbring van stemme van soldate in die veld, en moderne oorlogsproduksie van wapentuig plaasgevind het. 9
- Die Amerikaanse Burgeroorlog was ook een van die eerste oorloë wat op film vasgelê is. 9
Die Amerikaanse Burgeroorlog (1861-1865) was ’n burgeroorlog wat in die Verenigde State van Amerika (VSA) gewoed het. Die oorlog het uitgebreek omdat elf Suidelike State van die Verenigde State van Amerika wou wegbreek. Hulle het die Konfederale State van Amerika gevorm, of kortweg “die Konfederasie” (in Engels: the Confederacy). Die Amerikaanse regering en die state wat oorgebly het, is “die Unie” (in Engels: the Union). Een van die grootste redes waarom die Konfederasie uit die VSA wou wegbreek, was die kwessie van slawerny. Die Noordelike State wou dit dwarsoor die VSA verbied; die Suidelike State wou slawe aanhou om op plase te werk. 1
Let wel: Hierdie artikel handel oor die oorlog tussen die Amerikaanse state. As jy meer wil leer oor die oorlog waarin die koloniste in Amerika teen Britse beheer in opstand gekom het en ’n onafhanklike staat uitgeroep het, kan jy ons artikel oor die Amerikaanse Vryheidsoorlog lees.
Burgeroorlog – ʼn oorlog tussen broers
Jy sal in ons artikel oor die Russiese Burgeroorlog ook hierdie term “burgeroorlog” opmerk. Ons verduidelik hier wat dit beteken en hoekom dit so verwoestend is.
’n Gewone oorlog vind tussen state plaas. Die mense wat in die veldslae betrokke is, is meestal soldate wat deur die onderskeie state opgelei is, en die deelnemers aan so ’n oorlog is dus meestal mense wat gekies het om betrokke te wees. 2
’n Burgeroorlog vind plaas tussen burgers van dieselfde land. Dit is in die meeste gevalle ’n konflik tussen ’n staat (die regering) en een of meer georganiseerde groepe in die staat.
Die staat se gewapende magte, wat eintlik daardie staat se mense moet beskerm, maak dus oorlog teen sy eie burgers. Dit kan in ’n burgeroorlog gebeur dat lede van een familie of selfs een gesin aan verskillende kante van die oorlog veg, en dus mekaar se vyande is. 3
’n Burgeroorlog vind ook plaas binne die grondgebied van die staat. ’n Burgeroorlog verwoes ’n land van binne, en wie ook al die burgeroorlog wen, moet die land van voor af opbou. Om dieselfde rede is ’n burgeroorlog ook baie meer verwoestend vir gewone mense – omdat die konflik in die staat self plaasvind, is mense wat nie soldate is nie, dikwels ook slagoffers van die geweld. 3
Agtergrond
Toe die VSA in 1776 gestig is, was slawerny nog iets wat almal geken en aanvaar het. Die meeste state in die nuwe land het slawerny toegelaat. Maar in die dekades wat gevolg het, het mense dwarsoor die wêreld begin besef dat slawerny ’n onding is wat afgeskaf moet word. 4 (Jy kan in ons artikels oor slawerny in Suid-Afrika en oor William Wilberforce meer lees oor die afskaffing van slawerny.)
Ook in Amerika het die openbare mening oor slawerny begin verander. Die Noordelike State het die afskaffing van slawerny ondersteun, en dit is in daardie deel van die VSA verbied. Die Suidelike State het slawerny wettig gehou. Grondeienaars het veral katoen in daardie state gekweek, wat baie geld gemaak het. Hulle het slawe uit Afrika gebruik om die katoen te oes.
Mettertyd het die VSA al hoe meer verdeeld geraak oor die kwessie. Namate die VSA na die weste van die kontinent uitgebrei het, was inwoners verdeeld oor of slawerny in die nuwe state in die weste toegelaat moet word. Die Suidelike State wou slawerny ook daar vestig, terwyl die inwoners van die Noordelike State werksgeleenthede in die nuwe gebiede vir Amerikaners wou beskerm. 5
In 1854 het daar ’n oorlog uitgebreek in Kansas, een van hierdie nuwe gebiede, tussen mense wat slawerny in Kansas wou toelaat en mense wat dit verban wou hê. Hierdie oorlog het die naam “Bleeding Kansas” gekry. Hoewel die gebeure in Kansas nie deel was van die Amerikaanse Burgeroorlog nie, was dit ’n aanduiding van hoe erg die verdeeldheid onder Amerikaners was. Dit was ook ’n waarskuwing dat die verskillende groepe bereid was om oorlog te maak oor die kwessie. 6
Aanloop tot die Amerikaanse Burgeroorlog
In 1860 het Abraham Lincoln van die Republikeinse Party die Amerikaanse presidentsverkiesing gewen, ten spyte van die feit dat hy nie een enkele Suidelike Kieskollege (in Engels: electoral college) se steun gehad het nie. Dit was vir die Suidelike State ’n teken dat hulle geen invloed in die federale regering gehad het nie, en dat hul belange nie verteenwoordig word nie. 5
Lincoln het geweet dat die kwessie van slawerny groot verdeeldheid in die VSA sou veroorsaak. Maar hy was persoonlik daarteen gekant, en dit was die beleid van die Republikeinse Party om nie slawerny te ondersteun nie. Dit was veral die Republikeine se oogmerk om te keer dat slawerny na die nuwe state in die weste van die VSA versprei. 7
Toe Lincoln op 4 Maart 1861 as president van die VSA ingehuldig is, het sewe Suidelike State reeds ’n maand vantevore – op 4 Februarie 1861 – hul onafhanklikheid van die Unie verklaar. Die Konfederale State van Amerika is gestig, hulle het ’n grondwet opgestel en Jefferson Davis as hul president verkies. Die uittredende Amerikaanse president, James Buchanan, het verklaar dat hierdie wegbreek van die state teen die wet is, maar het niks gedoen om hulle te keer nie. Lincoln en sy Republikeinse Party het die Konfederasie as ’n rebellie beskou. 8
Die eerste sewe state wat by die Konfederasie aangesluit het, was Suid-Carolina, Mississippi, Florida, Alabama, Georgia, Louisiana en Texas. Vier ander het later aangesluit: Virginië, Arkansas, Tennessee en Noord-Carolina. Die Konfederasie het beweer dat Kentucky en Missouri ook aan hulle behoort, maar hierdie state het nooit by die Konfederasie aangesluit nie. Kentucky, Missouri, Maryland en Delaware het in die Unie gebly ondanks die feit dat dit slawestate was. Die westelike dele van Virginië het ook verkies om in die Unie te bly, wat ’n nuwe staat genaamd Wes-Virginië tot stand gebring het. 8
Verloop van die Amerikaanse Burgeroorlog
Die Burgeroorlog is op verskeie fronte geveg, en heelwat skermutselings, veldslae en veldtogte het in die oorlog plaasgevind. Ons noem hier die belangrikstes:
- Fort Sumter: Die eerste aanval in die Burgeroorlog het in Charleston, Suid-Carolina, plaasgevind toe die Konfederale leër op 12 April 1861 op Fort Sumter geskiet het. Fort Sumter was ’n weermagbasis van die Unie, en ’n aanval op hierdie weermagbasis was ’n direkte aanval op die Unie.
- Die Eerste Slag van Bull Run: Op 21 Julie 1861 het die Konfederale magte hul opponente in die Eerste Slag van Bull Run, naby Manassas in die noorde van Virginië, verslaan. Die nederlaag het die Unie geskok en almal het besef dat die oorlog lank sou duur.
- Die geveg by Shiloh: In ’n hewige geveg op 6-7 April 1862 by Shiloh, in die suidweste van Tennessee, het die Unie-magte byna-byna ’n nederlaag gely, maar toe tog daarin geslaag om die Konfederale leër terug te dryf. Albei leërs het swaar verliese gely – meer as 13 000 aan die Unie-kant en meer as 11 000 aan die Konfederale kant.
- Generaal Robert E. Lee: In 1862 het generaal Robert E. Lee die bevelvoerder van die Konfederale leër geword. Onder sy leiding het die Konfederale magte oorwinnings behaal in die Sewe Dae Gevegte (in Engels: Seven Days Battles) (Junie-Julie 1862), in die Slag van Fredericksburg (Desember 1862) en in die Slag van Chancellorsville (April-Mei 1863).
- Antietam: Die geveg by Antietam, Maryland, op 17 September 1862 was ’n oorwinning vir die Unie, maar dit was ook die bloedigste enkele dag van die oorlog. Die Suidelike State het 10 316 troepe in dié geveg verloor, en die Noordelike State se lewensverlies was 12 401.
- Die Emansipasie-proklamasie: Op 1 Januarie 1863 het Lincoln die Emansipasie–proklamasie Ingevolge hierdie bevel was die slawe in die Konfederale State vry, maar dit het ook ’n beduidende invloed op die oorlog gehad: Die proklamasie het buitelandse menings beïnvloed en die Britte en Franse oorreed om nie aan die Konfederasie diplomatieke erkenning of militêre hulp te bied nie. Die proklamasie het die Unie ook in staat gestel om swart soldate te werf. Teen die einde van die oorlog het ongeveer 180 000 swart Amerikaners by die weermag aangesluit – ongeveer 10% van die manskappe – en nog 20 000 het in die vloot gedien.
- Die Slag van Gettysburg: Ná die Konfederale oorwinning by Chancellorsville, Virginië, het Lee die Noordelike State binnegeval. In Julie 1863 het die twee magte by die Slag van Gettysburg slaags geraak, en hierdie keer het die Unie die oorhand gekry. Lee is teruggedryf na Virginië en moes van toe af verdedig.
- Die Gettysburg-toespraak: Ses maande ná die slag, op 19 November 1863, is ’n oorlogsbegraafplaas by Gettysburg onthul. President Lincoln het by dié geleentheid sy beroemde Gettysburg-toespraak gelewer. Die hoofspreker vir die geleentheid was Edward Everett, ’n voormalige hoof van Harvard-Universiteit, en een van die bekendste sprekers van sy dag. Hy het twee uur lank gepraat. Lincoln se boodskap was twee minute lank. (Onder aan die artikel is ’n skakel na die toespraak.)
- Die Vicksburg-veldtog onder Ulysses S. Grant: Die oorlog het in die Weste ’n keerpunt bereik met Ulysses S. Grant se sukses in die Vicksburg-veldtog (1862-’63), wat die hele Mississippi-rivier onder die Unie se beheer gebring het. Dit het ook die grondgebied van die Konfederasie in twee gedeel. In Maart 1864 het Grant die opperbevelvoerder van die Unie-leërs geword. Grant het ’n strategie van uitputting gevolg en, ten spyte van swaar verliese vir die Unie het hy die oorhand oor Lee se troepe begin kry.
- Verwoesting van Georgia onder William T. Sherman: Majoor-generaal William T. Sherman van die Unie het Atlanta, Georgia, in September 1864 binnegeval en afgebrand. Daarna het hy dieselfde met Savannah, nog ’n stad in Georgia, gedoen. Sy strategie van “totale oorlog” het ’n spoor van byna totale vernietiging deur Georgia en die Carolinas agtergelaat, maar dit het logistieke ondersteuning vir die Konfederale leër ernstig geknou.
- Lee gee oor: Grant het Richmond, Virginië, op 3 April 1865 ingeneem. Op 9 April 1865 het Lee by die Appomattox-hofgebou in Virginië oorgegee.
- Lincoln word vermoor: Op 14 April 1865 is president Lincoln in die Ford-teater in Washington D.C. deur John Wilkes Booth, ’n simpatiseerder met die Konfederasie, doodgeskiet. Lincoln is die volgende dag, op 15 April 1865, oorlede. Adjunkpresident Andrew Johnson het in sy plek president geword, maar Lincoln se dood het versoening tussen die Noordelike en Suidelike State beduidend moeiliker gemaak.
- Die res van die Konfederale leërs gee oor: Op 26 April 1865 het Sherman die oorgawe van Joseph E. Johnston in Noord-Carolina ontvang. In Louisiana het Konfederale troepe onder Kirby Smith op 26 Mei oorgegee. Texas het op 2 Junie aan Unie-magte oorgegee. Die grootste oorlog op Amerikaanse bodem was verby.
Ten spyte van ’n reeks vroeë Konfederale oorwinnings, het die Unie-magte uiteindelik in die oorlog geseëvier. Die Noordelike State se oorwinning was te danke aan sy beter toegeruste leër en aan sy industriële en finansiële hulpbronne, maar baie geskiedkundiges glo die oorwinning was grotendeels te danke aan Lincoln se staatsmanskap. Hy word beskryf as ’n meesterlike politieke en oorlogsleier, en ’n diplomaat wat geweet het om die wêreld se steun vir sy saak te kry. 9
Ná die Burgeroorlog
Die Rekonstruksie
Die Suidelike State is deur die oorlog verwoes. Ná die oorlog is die Konfederale State geleidelik weer tot die Verenigde State toegelaat, en die VSA het hard gewerk om die politieke, sosiale en ekonomiese probleme wat met hierdie hertoelating gekom het, op te los. Hierdie tydperk in die Amerikaanse geskiedenis staan bekend as die Rekonstruksie (in Engels: Reconstruction) (1865-77). 10
Die Dertiende Wysiging aan die Grondwet
Kort voor die einde van die oorlog, op 31 Januarie 1865, het die Amerikaanse Kongres die Dertiende Wysiging (in Engels: Thirteenth Amendment) aan die Amerikaanse Grondwet aanvaar. Hierdie wysiging het slawerny dwarsdeur die VSA onwettig gemaak. Die Wysiging is op 6 Desember bekragtig. 11
Die Veertiende Wysiging aan die Grondwet
Die Veertiende Wysiging, wat op 9 Julie 1968 bekragtig is, het burgerskap toegestaan aan “alle persone wat in die Verenigde State gebore of genaturaliseer is”. Dit het beteken mense wat vantevore slawe was en geen regte gehad het nie, was nou burgers van die land. Dié wysiging het verder bepaal dat “geen staat enige persoon van lewe, vryheid of eiendom [sal] ontneem sonder ’n behoorlike regsproses nie” en “ook nie enige persoon binne sy jurisdiksie die gelyke beskerming van die wet” mag ontneem nie. Hierdie bepalings was nou van toepassing op beide die federale en staatsregerings. 12
Die Vyftiende Wysiging aan die Grondwet
Die Vyftiende Wysiging, wat aan alle swart Amerikaanse mans stemreg gegee het (vroue het toe nog nêrens anders in ’n selfregerende staat stemreg gehad nie) is op 3 Februarie 1870 bekragtig. 13
Hoewel die Amerikaanse Kongres met hierdie drie wysigings probeer het om die ongeregtigheid van slawerny – wat aanleiding gegee het tot die Burgeroorlog – om te keer, was dit nie die einde van die stryd nie. In die vroeë 1890’s het die Suidelike state weer stappe gedoen om die regte van swart Amerikaners te beperk. Geletterdheidstoetse is ingestel voordat stemming toegeken is, en ’n sosiale stelsel van segregasie is ingestel waarvolgens swart Amerikaners nie toegang gehad het tot dieselfde skole, universiteite, kerke en woongebiede as wit Amerikaners nie. Dit sou nog ’n honderd jaar wees, met die opkoms van die Burgerregtebeweging (in Engels: Civil Rights Movement), voor die kwessies wat die Burgeroorlog veroorsaak het, uiteindelik behoorlik aandag gekry het. 13
Woordbank
Amerikaanse Kongres | Die Laerhuis in die Amerikaanse regering. |
burgeroorlog | ’n Oorlog in ’n land tussen die land se regering en sekere groepe in die land. |
die oorhand gekry | Vaste uitdrukking wat beteken “die ander party begin wen”. |
diplomatieke erkenning | Die openbare erkenning deur een soewereine (oppermagtige) en onafhanklike staat van die bestaan van ’n ander soewereine en onafhanklike staat. |
emansipasie | Vrystelling van iemand wat onder iemand anders se beheer is. |
federale regering | In die VSA die sentrale, nasionale regering wat dié wette opstel wat vir alle state geld. |
genaturaliseer | Burgerskap gegee. |
geseëvier | Gewen. |
industriële en finansiële hulpbronne | Fabrieke en geld. |
jurisdiksie | Gebied waarin sy gesag geld. |
keerpunt | Die punt in ’n verloop van gebeure waarop dinge begin verander. |
kieskollege | In die VSA ’n groep mense wat die state verteenwoordig en die president en adjunkpresident verkies. |
konflik | Stryd/botsing/rusie tussen mense/groepe/partye/lande. |
kontinent | Vasteland. |
logistieke ondersteuning | Ondersteuning met betrekking tot toerusting, kos, blyplek en ander noodsaaklikhede. |
lugverkenning | Waarneming uit die lug van wat aangaan, veral in ’n oorlogsituasie. |
nederlaag | Wat ’n leër ly as hulle ’n veldslag verloor. |
op film vasgelê | Vaste uitdrukking wat beteken “met ’n kamera afgeneem”. |
proklamasie | ’n Amptelike aankondiging. |
rebellie | Gewapende opstand teen die regering. |
Republikeinse Party | Een van die twee groot partye in die VSA; die ander is die Demokratiese Party. |
segregasie | ’n Beleid van aparte sosiale ontwikkeling waar mense gewoonlik op grond van ras geskei word. |
simpatiseerder | Ondersteuner van die saak. |
skermutselings | Gewapende konflik op ’n klein skaal. |
slaags geraak | Begin baklei. |
slawestate | State in die VSA waar slawerny wettig was. |
staatsmanskap | Vaardighede wat van ’n belangrike staatsleier vereis word. |
strategie van uitputting | Herhaalde aanvalle totdat die teenstanders soveel manskappe, wapens, ammunisie en toerusting verloor het dat hulle net nie meer verder kan veg nie. |
troepe | Soldate. |
uitbring van stemme | Deelname van kiesers aan ’n verkiesing. |
veldslae | Gewapende konflik op ’n groot skaal. |
veldtogte | ’n Reeks veldslae. |
wapentuig | Wapentoerusting soos kanonne, gewere, dolke en bajonette. |
Verbreed jou kennis met hierdie artikels
Lees hierdie artikels oor persone wat ’n belangrike rol gespeel het in die geskiedenis tydens die Amerikaanse Burgeroorlog:
- Abraham Lincoln
- Ulysses S. Grant
- Jefferson Davis
- Robert E. Lee
- ’n Baie volledige artikel oor die Amerikaanse Burgeroorlog
- ’n Volledige artikel in vraag-en-antwoord-formaat
Kyk ook hier
’n Vinnige oorsig oor die Amerikaanse Burgeroorlog met goeie beeldmateriaal
’n Voordrag van die Gettysburg-toespraak