Johannes Calvyn
Daar word dikwels gesê dat jy nie sommer godsdiens en politiek met enigeen moet bespreek nie, want mense kan baie daaroor stry. Godsdiens is inderdaad een van die onderwerpe wat al groot onenigheid tussen mense veroorsaak het, soos toe baie mense weg van die Rooms-Katolieke kerk gebreek het. Hierdie beweging is die Hervorming genoem, en vandag is baie kerke op dié idees geskoei, soos die NG kerk in Suid-Afrika.
Johannes Calvyn was ʼn Fransman en een van die leiers van die Hervorming. Die Hervorming was ʼn godsdienstige beweging in die 1500’s in Europa. Die leiers van die Hervorming het nie saam met die Rooms-Katolieke kerk oor sekere kwessies gestem nie. Hulle was ook baie gekant teen die kerk se groot mag en welvaart, want hierdie kerk het omtrent alles beheer. Hulle het dus van die Katolieke kerk weggebreek en verskeie Protestantse kerke gestig. Soos die Hervorming uitgekring het, het dit ook bewegings vir politieke en sosiale veranderinge ingelei. 1
Calvyn se kinderdae
Calvyn is op 10 Julie 1509 as Jehan Cauvin in Noyon, Frankryk, gebore. Sy pa se naam was Gérard, en sy ma se naam was Jeanne. Sy ma is oorlede toe hy nog baie jonk was. Sy gesin was in die Rooms-Katolieke kerk en baie gelowig. Sy pa het juis as ʼn administrateur by die dorp se katedraal gewerk, en hy wou hê dat sy seuns eendag Rooms-Katolieke priesters moes word.
Calvyn het al as 14-jarige Parys toe gegaan om daar aan die College de Marche te leer ter voorbereiding van sy universiteitstudies. Teen die einde van 1523 het hy aan die College Montaigu gaan studeer en daar het hy sy naam na die Latynse vorm “Ioannis Calvinus” verander. Dit was algemene gebruik in daardie dae om die Latynse vorm van jou naam te gebruik. Sy naam het gevolglik in Frans “Jean Calvin” geword en in Afrikaans praat ons van “Johannes Calvyn”.
Die Hervorming se invloed op sy lewe
Calvyn het vriende gemaak met mense wat aanhangers van die Hervorming was, en hy het al hoe meer bewus geraak van dinge wat nie reg in die Rooms-Katolieke kerk was nie. Die kerk het byvoorbeeld mense aangemoedig om sekere rituele en goeie dade te doen om in die hemel te kom. Die Hervormers het gemeen dat slegs God kan besluit wie hemel toe gaan.
Dit was hierdie Hervormingsidees wat hom laat besluit het om eerder regte as teologie te studeer. Hy het gevolglik in 1528 na Orleans gegaan om daar regte te studeer en het sy studies in 1532 voltooi. Hy het ook toe sy eerste boek gepubliseer. Hierdie boek was kommentaar op die Romeinse filosoof Seneca se boek De Clementia. 2 Hy het toe vervolgens by die Hervormingbeweging betrokke geraak.
Calvyn moes Parys verlaat as gevolg van sy bande met mense wat teen die Rooms-Katolieke kerk gekant was. Hy het die volgende drie jaar in verskeie plekke buite Frankryk gebly en begin werk aan die eerste uitgawe van sy bekende boek Institutes of the Christian Religion (later vertaal na Institusie van die Christelike godsdiens in Afrikaans). Dié boek het van hom ʼn bekende naam gemaak en baie vinnig versprei.
Calvyn verhuis
Calvyn het hom in 1536 van die Rooms-Katolieke kerk gedistansieer. Hy het planne gemaak om Frankryk permanent te verlaat en is na Genève (vandag in Switserland).
Farel, ʼn Hervormer van Genève, was die een wat hom genooi het om daarheen te gaan. Daar was hy ʼn dosent en ʼn leraar en het meer en meer oor godsdiens geleer. Hy was ʼn groot ondersteuner van die idees van ʼn Duitse priester genaamd Martin Luther (waarop Lutheranisme gegrond is). Hy is egter in 1538 gevra om die stad te verlaat as gevolg van die konflik tussen die godsdiensleiers.
Calvyn het in 1541 na Strasbourg gereis en was ʼn pastoor vir Franse vlugtelinge. Hy was so gelukkig daar dat hy glo nie eintlik na Genève wou terugkeer nie, maar die stadsraad het hom gevra om terug te keer. Hy het toe so gemaak en het selfs die leiers van die stadstaat oortuig om sy idees oor die regering te volg, aangesien hy geglo het dat regerings wette op grond van godsdienstige oortuigings moes maak.
Calvyn se belangrikste bydraes
Die eerste saak waaraan Calvyn aandag gegee het nadat hy na na Genève teruggekeer het, was ’n kerkorde. ‘n Kerkorde is die reëls en riglyne waarvolgens ’n kerk dinge doen. Die kerkorde wat Calvyn opgestel het, Ordonnances ecclesiastiques, is op 20 November 1541 in die gemeente voorgelees en deur die kerkraad, die gemeente en die burgerlike owerheid aanvaar. Die basiese vertrekpunt van Calvyn se kerkorde was die soewereiniteit (om jou eie sake te bestuur) van die kerk in geestelike sake.
Calvyn het vier ampte geïdentifiseer: ouderlinge, diakens, predikante en doktore. Elke gemeente moes ’n kerkraad hê wat verantwoordelik was om die gemeente volgens Bybelse riglyne te regeer en tug toe te pas.
Die kerkorde het dit ook duidelik gestel dat die burgerlike owerheid (soos vandag se regering) alles in sy vermoë moes doen om die kerk te ondersteun om haar roeping in die wêreld na te kom. In 1542 het die stadsraad van Genève die wette van die stad so verander dat dit in ooreenstemming was met Calvyn se kerkorde.
Die kern van sy idees was dat net God mense kan red en hemel toe stuur en dat die Bybel die waarheid is.
Calvyn het in Genève gebly tot en met sy dood op 27 Mei 1564.
Sy idees het ná sy dood wyd oor Europa versprei, en in die 1600’s het Calvinisme ook na Noord-Amerika oorgespoel. Vandag beskou baie mense Calvyn as die vader van verskeie Protestantse kerke, onder meer die Hervormde en Presbiteriaanse kerke.
Woordbank
aanhangers | Volgeling of ondersteuner. |
Calvinisme | Protestantse geloofsleer volgens die Hervormer Johannes Calvyn. |
diakens | Ampsdraer van bepaalde kerkgenootskappe wat onder meer dankoffers insamel en vir die armes sorg. |
doktore | Iemand wat soveel kennis van iets (soos geloof) gehad het dat hy as bevoeg beskou is om daarin onderrig te gee. |
Hervorming | ʼn Tydperk van godsdienstige veranderings in die 16de eeu in Europa wat die Protestantse kerke tot stand laat kom het. |
kerkraad | Die dominee(s), ouderlinge en diakens van ’n kerk wat verantwoordelik is vir die gemeente se bestuur. |
leraar | ʼn Dominee of predikant in sekere Christelike kerke. |
Lutheranisme | Die geloof of praktyke van die Protestantse kerkvertakking, gegrond op die leerstellings van Martin Luther, veral die geloof dat verlossing deur geloof alleen bewerkstelling kan word. |
onenigheid | Rusie, tweedrag of twis. |
ouderlinge | Lid van ’n kerkraad wat saam met die predikant toesig hou oor ’n gemeente en onder meer moet waak oor die suiwerheid van die leer. |
predikante | Leraar of herder van ’n gemeente; dominee. |
Protestantse kerke | ʼn Christelike kerk wat uit die Hervorming van die 16de eeu ontstaan het. |
soewereiniteit | Die opperste en onbeperkte mag of heerskappy van ‘n staat of instelling, soos die kerk. |
stadstaat | Staat wat uit een stad bestaan. |
teologie | Bestudering van godsdiens en geloofsoortuigings. |
tug | Om te dissiplineer, gesag toe te pas of iemand te straf. |
Lees dié artikels om meer te leer
- Biografie van Johannes Calvyn
- Meer inligting oor die Hervorming
- Hoe het die Protestantse kerk begin?
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Calvyn en die Hervorming
Biografie van Calvyn
Die Hervorming