Wynverbouing in Suid-Afrika
As jy al ooit in die Kaap was, het jy dalk die mooi wynplase met hul lappe en lappe wingerde gesien. En moontlik het jy al gesien hoe ’n kelder lyk en hoe die wynmakers wyn maak. Die Suid-Afrikaanse wynbedryf lewer ’n groot bydrae tot Suid-Afrika se ekonomie.
Dit dra ongeveer R55 miljard tot die plaaslike ekonomie by en gee werk aan ongeveer 269 000 mense. 1
Suid-Afrika voer ongeveer 50% van sy wyn uit en produseer ongeveer 3,4% van die wêreld se wyn. Suid-Afrika verkoop jaarliks 55% van sy produksie aan die mark in die binneland en voer 45% na meer as 120 lande uit.
Die wynbedryf lewer ’n groot bydrae tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) – omtrent 9% van die land se totale BBP. Die BBP is die waarde van al die goedere en dienste wat die land se mense binne-in sy grense maak.
Die wynbedryf se bydrae tot die BBP sluit wyn- en wyntoerisme in. Wyntoerisme is ’n bedryf wat sterk groei. Dit is wanneer buitelandse besoekers na Suid-Afrika kom om ons wynkultuur te ervaar. Hulle besoek die wynlandgoedere en gaan vir wynproeë. 2
Statistiek
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het in 2020 ongeveer 319 miljoen liter wyn uitgevoer. Meer as 2 778 boere het wingerde op ongeveer 92 005 hektaar landbougrond vir wynbou geplant.
Die jaarlikse wyndruifoes in 2019 het 1 247 522 ton gelewer (973,6 miljoen liter), waarvan 86% vir wyn gebruik is. Die jaarlikse oes in 2020 het 1 342 109 ton (1 042,0 miljoen liter) gelewer, waarvan 86% vir wyn gebruik is. 3
Italië is die land wat die meeste wyn in die wêreld produseer. Hulle produseer 18,3% van die totale oes. Frankryk is tweede met 17%, Spanje is derde met 13,2% en Suid-Afrika is agste met 4,0% (2020-syfers).
Frankryk was teen November 2023 die land wat die meeste wyn in die wêreld geproduseer het. Hulle word deur Italië en Spanje gevolg. Suid-Afrika is in die sesde plek.
Suid-Afrika voer die meeste wyn na die Verenigde Koninkryk toe uit, gevolg deur Duitsland, die VSA, Kanada en Afrika. Uitvoer na China neem ook sterk toe. 4
Die ontstaan
Waar en hoe het die Suid-Afrikaanse bedryf begin? Dis te danke aan Jan van Riebeeck dat die eerste bottel wyn in Suid-Afrika gemaak is.
Dié Nederlander het na die Kaap gekom om hier ’n verversingspos vir die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) te vestig sodat hul handelskepe op pad na Indië en ander ver lande vir vars kos en water in die Kaapse hawe kon aandoen. Die stigting van ’n eenvoudige handelspos het egter tot groot dinge gelei, soos die totstandkoming van ’n land en ook natuurlik die wynbedryf. 5
Jan van Riebeeck het in 1655 die eerste wingerd aangeplant en op 2 Februarie 1659 is die eerste wyn van daai einste druiwe gemaak. Dit het tot die plant van al hoe meer wingerde gelei. Dit was in die Roschheuvel-omgewing wat vandag as Bishopscourt, Wynberg, bekendstaan.
Van Riebeeck het boere aangemoedig om wingerde aan te plant, maar omdat hulle dit nie geken het nie, was hulle huiwerig en het vele terugslae beleef.
Dinge het beter geraak toe Simon van der Stel in 1679 Van Riebeeck as goewerneur opgevolg het.
‘n Voormalige goewerneur van Ceylon en raadslid van Indië het die Kaap besoek en aan die beheerliggaam van die VOC aanbeveel dat grond aan Simon van der Stel toegestaan moet word omdat Van der Stel wynmaak geken het en entoesiasties was oor die aanplant van nog wingerde om wyn te maak.
Ná ‘n besoek van hoë kommissaris Hendrik Adriaan van Rheede het Van der Stel op 13 Julie 1685 die titelakte vir 891 morg grond (ongeveer 763 hektaar) ontvang. Daarop is die plaas Groot Constantia aangelê en selfs sy eerste wingerde het reeds uitstekende wyn geproduseer. Dit was só goed dat dit selfs in aanvraag by koninklikes was. Hierdie wynplaas is vandag die oudste in die land en steeds baie bekend. 6
Die Nederlanders self het nie eintlik ’n geskiedenis en tradisie van wynmaak nie, maar die Franse wel. Met die koms van die Franse Hugenote na die Kaap tussen 1680 en 1690 het die wynbedryf begin floreer.
Al hoe meer boere het begin wynmaak, maar ’n wingerdluis het groot probleme in die 1880’s veroorsaak. Nie net in ons land nie, maar ook wêreldwyd. Die Phylloxera-luis het omtrent al die wingerde se wortels in die land vernietig en die wynbedryf het ineengestort. ’n Oplossing is eers dekades later gevind en die wynbedryf kon weer voortgaan. 7
Baie wynprodusente het egter in daardie tyd hul plase verloor. Dit het tot die vorming van koöperatiewe (samewerkende) maatskappye soos die KWV gelei. Hierdie korporasies het die bedryf vir baie jare oorheers en die pryse en standaarde vir die wynbedryf vasgestel. Sedert die jare negentig het die fokus van die wynbedryf begin verskuif en al hoe meer kleiner wynprodusente het ontstaan.
Wynlande
Die Kaapse wynlande strek van die berge en hange van die kusgebied na die vlaktes van die Klein-Karoo waar wyn in die valleie gemaak word. Die meeste wingerde word in die Wes-Kaap naby die kus gevind. Die Kaapse wynlande het grotendeels ’n Mediterreense klimaat (Middellandse Seeklimaat) en die berghange en valleie vorm die ideale habitat vir die wyndruif Vitis vinifera. Die Kaap het lang, sonnige somers en gematigde, nat winters en dit maak dit die ideale klimaat vir wynbou.
Ongeveer 92 005 hektaar wingerde produseer wyndruiwe in ’n gebied wat oor meer as 800 km strek.
Die Wyn van Oorsprong-skema verdeel die Kaapse wynlande in geografiese eenhede en gebiede. Daar is vyf gebiede in die Wes-Kaap: die Breederiviervallei, die Kaapse Suidkus, die Kusgebied, die Klein-Karoo en Olifantsrivier. Nog vyf geografiese gebiede bestaan, naamlik die Oos-Kaap, Vrystaat, KwaZulu-Natal, Limpopo en Noord-Kaap. Die Suid-Afrikaanse wynlande sluit 30 distrikte en 97 kleiner wyke in. 8
Die Stellenbosch-gebied lei die res van die land met die meeste wingerde. Sy wingerde staan op 16,4% van die totale wingerde. Dit word gevolg deur Paarl, Robertson, Swartland, Breedekloof, Olifantsrivier, Worcester, Kaapse Suidkus, Noord-Kaap en Klein-Karoo.
Die Breedekloof-gebied produseer die meeste wyn in die land. Dié gebied lewer 20,5% van die totale wynopbrengs en word gevolg deur Robertson (15,6%), Olifantsrivier (14,2%), Worcester (12,9%), Paarl (11,0%), Stellenbosch (10,3%), die Noord-Kaap (6,4%), Swartland (6,5%), Klein-Karoo (1,8 %) en die Kaapse Suidkus (0,7%).
Suid-Afrikaanse wyne
Daar is baie faktore wat wynmaak beïnvloed, soos klimaat, grond en die topografie (natuurlike kenmerke).
Wynmakers gebruik die begrip terroir om die omgewingsfaktore te beskryf. Wyn se terroir word beïnvloed deur al die elemente in die omgewing, soos die ligging van die wingerd, die klimaat, die nabyheid van die see, die blootstelling aan son en wind, en dies meer.
Elke wynmaakgebied spesialiseer in druiwe wat in sy omgewing pas.
Die Stellenbosch-gebied is byvoorbeeld warm en droog met grond waar graniet en sandsteen voorkom. Daar is heuwels, valleie en genoeg reënval in die winter. Daarom is dit die ideale plek vir rooidruiwe soos cabernet sauvignon, merlot, pinotage en shiraz. Hierdie druifvariëteite groei ook in ander omgewings, maar hul terroir veroorsaak dat die druiwe op ander plekke anders proe!
Die Klein-Karoo is weer droër en die klimaat is weer goed vir portwyn en muskadel.
In die gebiede wat koeler is soos Hermanus, Stanford en Kaap Agulhas, waar die seelug die wingerde afkoel, floreer wyndruiwe soos sauvignon blanc, pinot noir en chardonnay.
Chenin blanc word die meeste in Suid-Afrika aangeplant en beslaan ongeveer 18% van wingerde. Dit word gevolg deur pinotage, shiraz, cabernet sauvignon, merlot, chardonnay en sauvignon blanc. Pinotage is ’n Suid-Afrikaanse variëteit (soort wyn) en is in 1924 geskep toe hermitage (cinsaut) suksesvol saam met pinot noir versny is. 6
Soorte wynprodusente
Landgoedwynmakerye kan slegs wyn maak van die druiwe wat op hul eie grond groei.
Produsentkelders (koöperatiewe) werk weer op ’n gemeenskapgrondslag en maak van hul lede (boere) se druiwe wyn. Hierdie koöperasies het grootskaals in produksietoerusting belê en lewer ongeveer 80% van Suid-Afrika se totale wynoes.
Onafhanklike kelders en ’n aantal groothandelaars koop druiwe en wyn aan en bottel dit onder hul eie handelsmerke. Hulle maak ook self wyn van druiwe op hul eie plase. 3
Woordbank
dessertwyne | Soetwyn wat gewoonlik ná ete bedien word. |
ekonomie | Die manier waarop ’n land geld bestee en maak en goedere maak en verkoop. |
habitat | Natuurlike omgewing van ‘n plant of dier. |
hupstoot | Nuwe krag of dryfkrag gee/verleen; aanmoediging. |
ineengestort | Tot niet gaan. |
koöperatiewe | Mense/maatskappye wat saamwerk. |
kultivar | Die soort druif wat vir sekere eienskappe gekweek word. |
Mediterreense | Wat op die Middellandse See betrekking het. |
monster | Proef, proefstuk, voorbeeld, eksemplaar. |
produksie | Die lewering of vervaardiging van ’n produk. |
produktiwiteit | Die hoeveelheid van produkte wat in ’n sekere tyd vervaardig word. |
terroir | Kombinasie van die helling en hoogte bo seespieël waarteen en die soort grond en weersomstandighede waarin ’n wingerd geplant word. |
topografie | Plekbeskrywing; noukeurige voorstelling van ‘n plek of landstreek. |
variëteit | ’n Sekere soort. |
versny | Kombineer, vermeng. |
wingerde | ’n Stuk grond waar druiwe gekweek word om wyn van te maak. |
wynkelder | Die plek waar wyn gemaak word. |
wynlandgoed | ’n Plaas waar druiwe gekweek en wyn gemaak word. |
Lees dié artikels om meer te leer
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Die storie van Suid-Afrikaanse wyne
Wyn en wynplase se geskiedenis
Ons wynlande