Anton Rupert
Een van die bekendste (en rykste!) sakemanne wat Suid-Afrika nog opgelewer het, is dr. Anton Rupert (1916-2006). Sy verhaal is werklik merkwaardig, want eens op ʼn tyd was hy ʼn doodgewone seun van die Karoo, maar vandag ken mense oraloor sy naam en weet van sy besonderse nalatenskap.
Hy het ʼn onderneming met slegs 10 pond begin, en dit het toe tot ʼn massiewe groep van maatskappye uitgebrei met takke reg oor die wêreld. Die Rembrandt-groep is wêreldbekend met handelsmerke soos Cartier, Dunhill en Montblanc. 1
Die Ruperts verskyn op die saketydskrif Forbes se lys van die wêreld se 500 rykste mense. Dis miljardêrs met bates van meer as 1 000 miljoen Amerikaanse dollar. Naas die Ruperts is daar net een ander familie uit Suid-Afrika wat op hierdie lys verskyn, en dit is die Oppenheimers. 1
Rupert is egter nie net bekend omdat hy ʼn goeie entrepreneur was nie, maar ook as iemand wat baie vir die kunswêreld en kultuur- en natuurbewaring gedoen het. 1
Grootwordjare
Anton Rupert is op 4 Oktober 1916 te midde van die Eerste Wêreldoorlog op die dorp Graaff-Reinet gebore. 1
Sy pa se naam was John Peter Rupert, ʼn prokureur, en sy ma was Hester Rupert. Sy ouers het ʼn groot invloed op hom gehad en het baie lewenslesse met hom gedeel. Hy was die oudste van drie seuns, en sy broers was heelwat jonger as hy. Jan (John Peter) en Koos (Jacobus Albertus) is onderskeidelik in 1922 en 1929 gebore. 1
Hy is op sesjarige ouderdom skool toe en het die eerste twee standerds, sub A en B, in een jaar voltooi. Hy was linkshandig, maar terwyl baie ander kinders van sy era gedwing is om regshandig te skryf, het sy onderwysers hom darem nie gedwing nie. Hy was van kleins af baie lief vir lees en was baie nuuskierig oor die wêreld. 1
Anton is na sy oupa aan vaderskant, Anthony Edward, genoem, maar is as kind en tiener “Boetie” genoem. Hy is eers op universiteit Anton genoem. 1
Hy het aan Hoërskool Volkskool op Graaff-Reinet gematrikuleer en het die beste van al die ander matrieks gevaar. Hy het drie onderskeidings behaal: in Engels, wiskunde en natuur-en-skeikunde. 1
Hy wou graag medies studeer, maar ongelukkig het die Groot Depressie aangebreek, en sy pa kon nie sy mediese studies bekostig nie. Die Groot Depressie was ʼn baie moeilike tyd in die wêreldgeskiedenis: Aandelemarkte het geval, banke het toegemaak, en baie mense het al hul geld en werk verloor. Armoede en hongersnood was aan die orde van die dag, en dit het ook na die res van die wêreld oorgespoel. 1
Daar was destyds net twee universiteite in ons land waar ʼn mens vir ʼn dokter kon leer. Dit was die Universiteite van Kaapstad en die Witwatersrand, en albei sou te duur vir sy pa gewees het om te betaal. Sy pa se jaarlikse inkomste het in daardie tyd van 3 000 pond tot 120 pond per jaar gedaal. Almal het swaargekry, en Anton het besluit om chemie te studeer.
Hy was as eerstejaarstudent een van slegs twee studente wat gekeur was om verder medies te studeer, maar dit was steeds net te duur. Hy het in 1936 sy B.Sc.-graad behaal en begin werk terwyl hy vir sy meestersgraad geleer het. Hy het op 20 by ʼn tegniese kollege begin klasgee en is later as ʼn dosent by die departement chemie aan die Universiteit van Pretoria aangestel. Hy het teen 1939 sy meestersgraad in toegepaste chemie behaal. Hy het daarna regs- en handelsvakke aan die Universiteit van Suid-Afrika studeer, terwyl hy terselfdertyd ook met ʼn doktorsgraad in spektroskopie aan die Universiteit van Pretoria begin het.
Rupert as sakeman
Hoewel Anton chemie studeer het, het hy van jongs af ʼn kop vir besigheid gehad. Hy het latere jare vertel dat hy reeds op 16-jarige ouderdom sy eerste saketransaksie beklink het.
Rupert se eerste onderneming was ʼn droogskoonmaakonderneming wat hy saam met twee vriende begin het. Die gevoel in daardie jare was dat te min Afrikaanssprekendes in die sakebedryf was – want dit is deur Engelssprekendes beheer – en hulle was gretig om hierdie bedryf te betree. Sy eerste onderneming het goed gedoen, maar was ook nie ʼn wegholsukses nie. Dit het hom wel baie lesse vir die toekoms geleer. 1
Rupert se nuwe idee vir ʼn onderneming het ontstaan toe hy besef het dat nie eens die swaarkryjare mense kon keer om tabak en alkohol te koop nie. Hy het terwyl hy as dosent gewerk het, begin om los tabak en snuif in sy motorhuis in Pretoria te maak en te verpak. Tabak is die gedroogde bruin blare van die tabakplant wat tipies in sigarette gebruik word. Rupert het sy eerste tabakonderneming Voorbrand genoem, maar het die naam later na Rembrandt verander. 2
Hy het sy onderneming verder in 1953 uitgebrei deur Rothmans vir 750 000 pond te koop. Hy het net 50 000 pond gehad en moes lenings aangaan om die res te kan betaal. Van daar af het sy maatskappy behoorlik vlamgevat en baie vinnig gegroei. Dit het so groot geword dat dit in verskillende sektore verdeel is, soos Remgro – ʼn beleggingsmaatskappy met belange in finansies, mynbou en nywerhede – en Richemont (in Switserland), wat luukse handelsmerke insluit. 3
Hulle besit ondernemings soos Cartier, Alfred Dunhill, Sulka, Seeger, Piaget, Baume & Mercier, Vacheron Constantin en Montblanc. 4
Persoonlike lewe
Rupert was op universiteit in die Afrikaans-Nasionale studentebond en het daar sy toekomstige vrou ontmoet nadat sy vriende hom van haar vertel het. Haar naam was Huberte Goote, en sy het vir ʼn B.A.-graad en ʼn diploma in biblioteekwese studeer. Hulle is in 1941 getroud. Hy het later jare gesê dat Huberte sy getrouste en lojaalste ondersteuner en ook sy grootste kritikus was. 1
Hoewel Rupert en sy vrou baie geld gehad het, het hulle vir 55 jaar in dieselfde huis op Stellenbosch gebly. 2 Hulle het drie kinders gehad: Antonij, Johann en Hanneli. Hul seun Antonij is in 2001 in ʼn motorongeluk oorlede. Hul tweede oudste seun, Johann, is nou aan die hoof van die Ruperts se sakebelange. Hul dogter, Hanneli Rupert, was ʼn mezzosopraan en besit vandag onder meer die La Motte-wynlandgoed. 5
Anton is op 89-jarige ouderdom op 18 Januarie 2006 in sy slaap oorlede. Nelson Mandela het Rupert beskryf as ʼn vriend wat ʼn vol lewe gelei het, waarin hy sy land, die wêreld en die mensdom gedien het. “Hy het vrygewig gegee vir die ontwikkeling van ander en die samelewing as ʼn geheel. Hy was bekend vir sy benadering om ander te help om hulself te help.” 2
Woordbank
entrepreneur | Iemand wat planne maak om nuwe ondernemings te begin 7 |
kanselier | ʼn Bekende persoon wat nie ʼn vaste werk by ʼn universiteit het nie, maar wat die universiteit op sekere formele geleenthede verteenwoordig 1 |
meestersgraad | Dit is die graad wat ʼn mens ná ʼn baccalaureus- of honneursgraad doen 7 |
nalatenskap | Dit wat jy ná jou dood agterlaat 7 |
onderneming | Sake-onderneming of besigheid 7 |
politiek | Bedrywighede waardeur mag in die openbare lewe verkry word 7 |
pond | Die geldeenheid van Brittanje wat ook eens op ʼn tyd in Suid-Afrika gebruik is 7 |
spektroskopie | Bestudering van die toestel wat lig ontleed 8 |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Anton Rupert
Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Anton Rupert
Huberte Rupert gesels met Sandra Prinsloo oor hul lewe
Die Rupert-museum
Die vredesparke